Betekenisvolle winde van verandering soos geprofeteer begin onheilspellend oor die wêreld waai. Die eens magtige Brittanje, wat op ’n stadium die grootste Ryk was wat die wêreld nog ooit gesien het, is besig om die Europese Unie te verlaat en staan nou alleen met ’n finansiële krisis as ’n toenemend onbeduidende eilandnasie. Amerika wat steeds die wêreld se enigste supermoondheid is, het biljoene dollars skuld, verskeur deur interne verdelings, bekommerd oor opkomende bedreigings van die buiteland en oënskynlik van plan om van sy bondgenote te vervreem.
Wat het gelei tot hierdie dramatiese omverwerping en wat hou die toekoms in vir twee nasies wat saam met hulle verwante lande, die wêreld vir twee eeue oorheers het? Nader ons ’n ander kritieke keerpunt in die wêreldgeskiedenis? Terwyl geleerdes die betekenis van hierdie belangrike veranderings debatteer, besef min mense vandag dat Bybelse profesieë lankal reeds voorspel het dat hierdie opvallende gebeure sal plaasvind. Die Bybel openbaar ook waarom hierdie merkwaardige verskuiwings plaasvind en wat voorlê vir die lande wat sommige mense die Anglosfeer noem – die Engelssprekende nasies regoor die wêreld.
Stygende koor van waarskuwings
Gedurende die afgelope paar dekades het ’n toenemende aantal waarnemers gefokus op die ontstellende tekens van verval wat oor die Westerse wêreld, veral in die Engelssprekende nasies, versprei het. Meer as 20 jaar gelede het Regter Robert Bork ’n “boek oor die verval van Amerika”, Slouching Towards Gomorrah uitgegee, wat Amerika beskryf het as ’n nasie op ’n “afwaartse baan” en “op die pad na ’n kulturele ramp”. Regter Bork het as universiteitsprofessor in die 1960’s die idees gesien van politieke radikaliste wat die Amerikaanse samelewing deurdrenk het en ’n teelaarde geskep het vir rassespanning, onwettige geboortes, wydverspreide dwelmmisbruik, die afstootlike vertoon van seksualiteit en toenemende gewelddadige vermaak. Sy gevolgtrekking was: “Gomorra is ons waarskynlike bestemming” (bl. 343), verwysende na die antieke Bybelse stad wat bekend gestaan het as ’n sentrum van losbandigheid, wat deur God saam met die stad Sodom vernietig is (Génesis 19:24-25).
’n Paar jaar later het die Engelse joernalis, Peter Hitchens, The Abolition of Britain gepubliseer, waarin hy die pogings van liberale politici beskryf om kulturele tradisies in Brittanje omver te werp deur die grondslag van die huwelik en gesin te ondermyn en om pornografie, prostitusie en homoseksualiteit aanvaarbaar te maak. Hierdie dinge, het hy geglo, sal “’n groot beskawing ... op die rand van uitwissing” plaas (bl. xi). Sy bekommernisse is ’n dekade later herhaal deur Melanie Phillips, ’n bekroonde rubriekskryfster vir Londen se Daily Mail, in haar boek, The World Turned Upside Down: The Global Battle over God, Truth and Power. Me. Phillips het beskryf hoe die verspreiding van sekulêre humanisme, saam met morele en kulturele relativisme, die opkoms gefasiliteer het van die New Age kultusse en die terugkeer na heidendom, heksery en astrologie “in Brittanje se multikulturele geluksaligheid” en hoe die moderne liberale aanval op die tradisionele Judeo-Christelike waardes – wat die grondslag vir die Westerse beskawing was – niks anders as ’n “Sekulêre Inkwisisie” en “Kulturele Totalitarisme” (bll. 97-98) is nie. Gesamentlik het hierdie ingrypende veranderings bygedra tot wat in haar boek beskryf word as “Brittanje se na-oorlogse kulturele selfmoord” (bl. xi).
In Amerika het die geleerde ekonoom en sosiale teoretikus Thomas Sowell, Dismantling America gepubliseer waarin hy die feit betreur het dat baie mense vandag blind is vir die lesse van die geskiedenis en in gebreke bly om die ooreenkomste tussen die agteruitgang en verval van die Romeinse Ryk en dit wat gebeur in Amerika en die Weste, in te sien. Volgens Sowell kyk ons na die “degenerasie van ons kultuur” (bl. viii). Patrick Buchanan, ’n adviseur van drie presidente, het dieselfde onderwerp aangespreek in Suicide of a Superpower toe hy geskryf het: “Amerika is besig om uitmekaar te val ... Ons nasie is besig om te verbrokkel, etnies, kultureel, moreel, polities ... Wat ons eens verenig het, is besig om uitmekaar te val. Dit geld vir die Westerse beskawing” (bll. 2, 7). Hy noem die toenemende bedreiging van skuld wat handuit geruk het, die tragiese dood van ’n hoofsaaklik Judeo-Christelike kultuur in Amerika en die verdeeldheid wat voortspruit uit die aanbidding van diversiteit. Buchanan kom tot die gevolgtrekking: “Amerika het die kenmerke van ’n dekadente samelewing en van ’n nasie op ’n afdraande pad aangeneem” (bl. vii). As gevolg van die kultuuroorloë van die 1960’s, is Amerika “’n huis wat onderling verdeeld is” (bl. 408 ) wat uiteindelik sal val (sien Matthéüs 12:25).
Die vooruitsig van die pad vorentoe vir ander Anglosfeer-nasies is ewe veelseggend. Die BBC-korrespondent Nick Bryant wys daarop dat as gevolg van die “onsekerheid in Westminster en iets na-aan chaos in Washington ... kan nie Brittanje of Amerika met sterk en stabiele regerings spog nie” (BBC.com, “The end of the Anglo-American order?,” 9 Junie 2017). Hy skryf: “Hierdie Engelssprekende nasies praat nie meer luidkeels [soos Churchill] nie en die res van die wêreld slaan nie meer daarop ag nie”. In sy boek The Rise and Fall of Australia, merk Bryant op dat kortsigtige leierskap deur politici wat hulleself bevoordeel, baie geleenthede vir die “land daar onder” vermors het. ’n Artikel in die Brussels Journal, met die titel “The Decline of the English-Speaking World”, sê “die Engelssprekende wêreld lei tot die disintegrasie van die Weste, ideologies en demografies. Die hele Weste is siek, maar die Anglosfeer is sieker as die meeste”.
Oorsaak en gevolg – Die Bybelse perspektief
Wat het die afname van die Anglosfeer-nasies egter met die Bybel te doen en waarom gebeur dit juis nou? Baie mense het vandag vergeet dat God die verloop van die geskiedenis lei (Daniël 4:17, 25, 32) en Hy alleen kan laat plaasvind wat Hy voorspel het (Jesaja 46:8-11). Moses het opgeteken dat die verbond wat God met die antieke Israeliete aangegaan het seëninge geprofeteer het vir gehoorsaamheid en gevolge vir ongehoorsaamheid aan Sy Wette (sien Levitikus 26 en Deuteronómium 28). Net soos die antieke Israeliete hulle rug op God gedraai het ... so het ook die moderne afstammelinge van Israel wat in die nasies van die Anglosfeer woon. God profeteer van die Israelitiese nasies dat, omdat hulle hul rug op God en Sy weë gedraai het, sal hulle “verderflik handel ... sodat die onheil julle aan die einde van dae sal teëkom” (Deuteronómium 31:27-29), wat akkuraat beskryf wat deesdae gebeur. As gevolg van ongehoorsaamheid aan God word aan ons verduidelik: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim, en jy sal laer en laer afsak ... hy sal die kop en jy die stert wees ... totdat jy verdelg is” (Deuteronómium 28:43-45).
Jesaja het eeue gelede geprofeteer dat die sondige nasie van Israel God verlaat het en hulle was van kop tot tone siek (Jesaja 1:3-6). Hierdie woorde beskryf die moderne Anglosfeer-nasies van vandag. Die profeet verkondig: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg” (Jesaja 5:20) en die profeet Jeremia het herhaaldelik gesê dat die antieke Israeliete gestraf sal word omdat hulle God vergeet het en Sy weë verlaat en afvallig geword het (bv. Jeremia 2:13; 3:21). Die Russiese romanskrywer, historikus en sosiale kritikus, Alexander Solzhenitsyn, het dieselfde woorde gebruik toe hy in sy 1983 Templeton-toespraak gesê het dat die ongekende euwels van die twintigste eeu te danke is aan ’n eenvoudige feit: “Die mens het God vergeet en dit is waarom dit alles gebeur het”. Die profeet Hosea het ’n tyd vooruitgesien wanneer die Israelitiese nasies die Wette van God as iets “vreemd” sou beskou (Hoséa 8:12). Vandag, in die Anglosfeer-nasies word die Bybelse konsep van die huwelik en Bybelgebaseerde gebooie, soos dié teen owerspel, hoerery, vloek en homoseksualiteit as outydse en onderdrukkende wette beskou wat afgeskaf moet word – ons sien ook die tragiese resultate.
Ons is op pad na Gomorra en die toekoms lyk nie goed nie. Bybelse profesieë dui daarop dat die nasies van Britse afkoms wat die lesse van die geskiedenis ignoreer, sal maai wat hulle gesaai het (Galásiërs 6:7). Die ondergang van die Anglosfeer sal ’n ontnugterende keerpunt in die geskiedenis wees en ’n les vir die wêreld (Deuteronómium 28:37).