Het jy al ooit aan jouself gedink as minder intelligent as ander? Het die ander kinders by die skool jou “dom” genoem? Indien wel, hoe het dit jou laat voel oor jou vermoë om te leer en om beskou te kon word as ’n goeie student?
Ek weet van iemand wat in die eerste graad “teruggehou” is en hy het vir die res van sy skoolloopbaan met die stigma van akademies “stadig” saamgeleef. Ja, hy het probleme gehad met klasse wat fokus op lees en skryf. Ek kan jou egter verseker, hy was nie dom nie! Hy het bo-gemiddelde kunsvaardighede gehad en is steeds een van die kreatiefste mense wat ek ken. Hy was ook ’n uitstekende atleet, wat gewild was en wat een van die vinnigste agterspelers in sokker asook een van die skool se vinnigste naellopers op die atletiekbaan geword het.
Moontlik ken jy ook so ’n persoon, of dalk klink jou storie dieselfde. Baie mense, word as “dom” of “stadig” bestempel en as minderwaardig beskou in vergelyking met ander “beter” studente, net omdat hulle nie in sekere vakke op skool uitblink nie.
Is hulle dan werklik dommer? Is hulle in werklikheid minderwaardig?
Is dit net omdat die meeste tradisionele skoolstelsels fokus op ’n bepaalde benadering tot lees, skryf en rekenkunde? Wat van dié studente wie se natuurlike vermoëns hulle nie uitleen tot sukses op daardie gebiede nie? Wie en wat is werklik “dom”?
’n Breër sienswyse
Kathy Koch is ’n opvoeder, skryfster en motiveringspreker wat glo dat almal slim is. Sy leer ander mense ook dat ’n nuwe begrip van “slim” nodig is. Hier is iets wat sy geskryf het op haar webwerf, CelebrateKids.com: “’n Vraag wat kinders nie behoort te vra nie is: ‘Is ek slim?’, want die antwoord is altyd: ‘Ja’. Indien hulle hierdie vraag vra, is dit omdat hulle in hulleself twyfel, iets of iemand het hulle dom laat voel en hulle behoort dus aangemoedig te word”.
Een tragedie van die etiket “dom” is dat mense die etiket kan glo en hulleself dan op baie belangrike maniere onderskat. Selfs as volwassenes bly hierdie minderwaardige gevoel by sommige van hulle omdat hulle in die skool die boodskap gekry het dat hulle nie akademies opweeg teen ander nie, ten spyte van die feit dat hierdie boodskap gebaseer is op ’n stelsel wat geneig is om die presteerders in ’n beperkte stel kriteria, hoofsaaklik in die taal- en wiskundige vaardighede, te beloon.
Terwyl hierdie vaardighede uiters belangrik is, verteenwoordig dit net twee van die agt areas van intelligensie wat dr. Koch en ’n paar ander glo dat alle mense het. Ontdekking en ontwikkeling van die ander ses, kan mense help om self te ontdek dat hulle nie dom is nie, selfs al het hulle nie goed gevaar in sekere vakke nie.
Agt rigtings van aanleg
Dr. Howard Gardner, wat ’n professor van onderwys aan die Harvard Universiteit is, word geloof vir sy ontwikkeling van die teorie van veelvuldige intelligensies. In 1983 het hy ’n boek, Multiple Intelligences geskryf om alles en die betekenis daarvan te beskryf. Opvoeder Thomas Armstrong, Ph.D., het sedertdien die oorspronklike etikette vereenvoudig, sodat dit makliker verstaanbaar is. Hier is elkeen met ’n kort beskrywing:
Taal aanleg: Dit is om in woorde te dink en dit te geniet om hulle te gebruik om te lees, te skryf, stories te vertel, te oorreed, te vermaak of om onderrig te gee.
Logika aanleg: Diegene wat die vermoë toon om te redeneer, te kategoriseer en om oorsaak-en-gevolg verhoudings te verstaan. Hulle het ’n natuurlike aanleg in die rigting van wiskunde, wetenskap, statistieke, raaisels en om vrae te vra.
Kunste aanleg: Mense wat visueel dink en dit geniet om kuns te skep, te ontwerp, dinge te maak, geskiedenis te leer, fotografie te beoefen, skoonheid te waardeer en speelgoed te bou, neig na hierdie groep.
Musikale aanleg: Hulle dink in ritmes en melodieë, met ’n musikale vermoë soos sang, of om ’n musikale oor te hê. Dit beskryf hierdie tipe aanleg.
Liggaamlike aanleg: Dit is die vermoë om bewegings van die liggaam te beheer deur middel van fisiese aktiwiteite soos sport of dans, maar ook naaldwerk of houtwerk.
Natuurkunde aanleg: Indien jy aangetrek word deur die buitelewe en ’n sterk belangstelling toon in diere, plante, klippe, sterre, uitkamp, stap en ander fasette van die natuur, het jy hierdie aanleg.
Menskunde aanleg: Diegene wat verstaan en in staat is om te onderskei en te reageer op buie, bedoelings en begeertes van ander mense, het ’n menskunde aanleg. Hulle geniet dit om met ander mense saam te werk en om ander mense te leer ken en maak dikwels goeie leiers uit.
Selfbegrip aanleg: ’n Persoon wat daarvan hou om te besin en gewoonlik ’n goeie selfbegrip het, pas in hierdie groep. Hier vind ons gewoonlik diegene wat gemaklik is met hulleself, hulle is geneig om onafhanklik, doelgerig en gedissiplineerd te wees.
Deur ons begrip uit te brei van wat dit beteken om slim te wees, raak dit makliker om te verstaan dat dit nie daaroor gaan of ons “slim” of “dom” is nie; die regte vraag om te vra, is: “In watter rigtings is ek begaafd?” Dan, wanneer ons eers verstaan op watter maniere ons skrander is, kan ons daardie vermoëns gebruik om sukses te behaal.
Die ontwikkeling van jou “vaardighede”
Wanneer jy om jou rondkyk sal jy sien dat die wêreld vol suksesvolle mense is wat uitblink in verskeie aanlegte wat nie beloon word in tradisionele klaskamers nie. Selfs betekenisvolle bydraers tot die samelewing, soos Thomas Edison en Albert Einstein, het gesukkel in sekere afdelings van leer op skool, maar het sigbaar geblom toe hulle in staat was om ander aspekte van hulle verstand ten volle te ontwikkel.
Gardner glo dat elkeen gebore is met al agt van hierdie intelligensies of aanlegte en dat elkeen sal ontwikkel as gevolg van natuurlike aanleg en geleenthede om daardie bepaalde soort intelligensie te gebruik. Hoe kan jy dus jou skranderheid ontdek en geleenthede identifiseer om hulle verder te ontwikkel?
Eerstens, let op wat jy van nature graag doen. Hou jy daarvan om te lees? Indien wel, het jy waarskynlik “taal aanleg”. Jy kan moontlik dalk ook ’n “logika aanleg” hê indien jou leesbelangstelling neig in die rigting van speurverhale of misterieuse stories. Hou jy daarvan om ’n skaatsplank te ry, of om te ski? Selfs al is jy nie die doelskieter van jou hoërskool se basketbalspan nie, mag dit daarop dui dat jy ’n “liggaamlike aanleg” het en sal jy suksesvol kan ontwikkel in daardie rigting met die toepassing van daardie aanleg.
Vervolgens, kyk uit vir geleenthede om die vaardighede wat jy reeds het te verbeter en beywer uself vir aktiwiteite om daardie minder natuurlike vermoëns te ontwikkel. Byvoorbeeld, as jy baie min musiekvaardigheid het, gebruik jou ander slimhede om jouself bloot te stel aan maniere wat daardie vaardigheid sal laat groei, miskien deur bestudering van musiekgeskiedenis of selfs om te leer om ’n instrument te bespeel.
Indien jy dit doen, sal jy nie net nuwe vaardighede ontwikkel nie; jy sal ook meer selfvertroue kry om ander nuwe uitdagings aan te pak, vry van die vrees dat jy “dom” is en nie in staat is om te groei nie.
Ons het almal God-gegewe talente en vermoëns wat ontwikkel behoort te word wanneer ons die geleentheid kry, soos Jesus Christus verduidelik in die gelykenis van die talente (Mattheüs 25:14-30). Selfs al het jy nog nie uitgevind watter slimhede jy het nie, kan jy seker wees dat dit daar is, wagtend om ontdek te word. Wanneer jy dit vind, ontwikkel dit en jy sal self die waarheid ervaar dat jy nie dom is nie!