Aborsie bly een van die mees omstrede onderwerpe van ons tyd. Die feite is egter duidelik en dit kom uit verrassende bronne.

Aborsie is een van die mees omstrede onderwerpe van ons generasie, nogtans is daar te midde van al die wrewelrigheid en debatte, waarhede wat nie ontken kan word nie.

Hierdie artikel is die eerste in ’n reeks van twee aflewerings wat die duidelike en eenvoudige waarheid oor aborsie ondersoek, met inbegrip van opmerkings wat selde gehoor word vanaf diegene wat van die mees kritieke “binnekring”-rolle in die aborsiebedryf gespeel het.

 

Kinders en kleinkinders is seëninge van God. Indien u daaroor twyfel, vra iemand wat nooit die eerste oomblik na geboorte ervaar het nie, wanneer klein vingertjies en toontjies noukeurig getel word. U kan my vra, want ek val in daardie kategorie. Ek en my vrou is reeds 49 jaar getroud. Ons het beplan om kinders te hê, maar soms werk die lewe net nie soos mens dit beplan nie. Vir sommige ander mense word kinders egter as ’n ongewenste las beskou wat ten alle koste vermy sal word, selfs al beteken dit dat hulle moet kies om ’n aborsie te hê.

Indien daar een onderwerp is wat die meeste politici wil vermy, dan is dit aborsie. Die aborsie-kwessie is ’n geeneen-wen situasie. Hulle sal in elk geval ’n groot aantal kiesers van hulle verloor, ongeag wát hulle siening ookal sou wees. Dit bly ’n omstrede kwessie met diep gewortelde emosies aan albei kante, maar aborsie behoort nie oor stemme te gaan nie. Aborsie is ’n kwessie van lewe-of-dood en ’n pynlike onderwerp vir baie vroue wat ’n besluit betreur wat hulle vroeër in die lewe geneem het. ’n Besluit wat dikwels onder groot spanning geneem was: Spanning weens druk van buite, spanning as gevolg van vrees vir die toekoms en spanning wat handel oor ’n probleem waarvoor daar skynbaar geen maklike antwoorde is nie. Wat gelyk het na ’n goeie oplossing in ’n moeilike situasie op die ouderdom van 17 jaar, mag dalk nie so eenvoudig lyk op die ouderdom van 37 jaar nie. So moeilik as wat dit vir ’n 17-jarige mag lyk, kom die ouderdom van 37 werklik en vir ’n hele paar meisies kom die spytgevoelens uiteindelik na vore.

Voordat ek verder gaan, wil ek u nou verseker dat die doel van hierdie Wêreld van Môre-artikel nie oor veroordeling gaan nie, maar eerder oor onderrig en hulp. Aborsies het al baie spyt meegebring – nie net vir die vroue wat dit ondergaan het nie, maar ook soos ons in hierdie artikel sal sien, vir sommige van die mense wat dit aanmoedig en uitvoer. Alhoewel hierdie artikel nie geskryf is om te veroordeel nie, beteken dit nie dat daar met reg en verkeerd weggedoen word nie. Reg en verkeerd bestaan en ons almal sal eendag verantwoording doen vir die besluite wat ons geneem het.

Hierdie onderwerp bly net so omstrede soos wat dit 40 jaar gelede was en dit raak baie vroue (en mans) regoor die wêreld. In die V.K. is die abortering van fetusse onder die ouderdom van 24 weke wettig verklaar met die Aborsiewet van 1967. Die Verenigde State het aborsie in 1973 gewettig met die Roe v. Wade-beslissing [wat ’n vrou se reg erken om self oor aborsie te besluit]. In 1988 is aborsie in Kanada gewettig toe die Kanadese hooggeregshof ’n byna 100-jarige wet wat dit verbied, geskrap het. Soortgelyke besluite bestaan in baie lande regoor die wêreld. Op sommige plekke word seuntjies aanvaar, terwyl daar van dogtertjies ontslae geraak word. Hoe ondersteun dít vroue se regte om te kan kies? Tog bly dit ’n groot geskilpunt in baie lande, ondanks wette wat dit wettig maak om die lewe van ’n ongebore kind te beëindig.

Wat is die feite?

Die Westerse media beeld dikwels anti-aborsie mense uit as godsdienstige fanatici of as ontstoke betogers wat in ander mense se gesigte skree. Dit is slegs gedeeltelik waar. Mens sou na aanleiding van berigte in die media kon dink dat die oorgrote meerderheid glo dat dit moreel reg is om die lewe van ’n ongebore kind te beëindig. Is dit werklik waar? Nee, dit is nie! Byvoorbeeld, hier is slegs een feitelike aanhaling wat baie mense ongetwyfeld sal verbaas, vanuit ’n bron wat nog meer verrassend mag wees.

Kirsten Powers is ’n joernalis, televisiekommentator en ’n self-verklaarde liberalis wat die meeste liberale strewes aanhang, maar in haar boek, The Silencing: How the Left is Killing Free Speech, wys sy die volgende uit: “Dit is opvallend dat, alhoewel dit lyk asof universiteits-administrateurs en studente-bestuursgroepe die agenda vir pro-aborsie met ope arms ontvang, kan dieselfde aaname nie van alle kollege-studente gemaak word nie. ’n Thomson Reuters National-meningspeiling vir die NPR [National Public Radio] het in 2011 bevind dat onder Amerikaners jonger as vyf-en-dertig jaar, 65,5% geglo het dat ‘om ’n aborsie te hê, verkeerd is’, die hoogste persentasie van enige ouderdomsgroep (dit was 57% vir dié tussen vyf-en-dertig en vier-en-sestig en 60,9% vir diegene wat ouer as vier-en-sestig is)” (bl. 170).

Volgens hierdie hoogs-gerespekteerde meningspeilings-agentskap aan wie opdrag gegee is deur die American National Public Radio, is byna twee-derdes van millennials van mening dat dit verkeerd is om ’n aborsie te hê. Powers gee vervolgens die peiling-uitslag van wat sy as liberalis, erken dat dit ’n linkse peilingagentskap is en daarom kan die resultate effens na links neig. Terwyl die getalle aansienlik verskil, is dit nog steeds verbasend in terme van pro-lewe ondersteuning: “Die links-gesinde Public Religion Research Institute. (PRRI), het in 2011 berig dat ‘millennials in terme van die moraliteit van aborsie verdeeld is’, met 50% wat gesê het dat hulle nie dink dat om ’n aborsie te hê moreel aanvaarbaar is nie” (Powers, bl. 170).

Ek het persoonlik die inligting oor die ondersteuning of die gebrek daaraan nagegaan. Meningspeilings wissel van land tot land, van maand tot maand, van jaar tot jaar en veral van hoe die vrae gestel word, van een agentskap of peiling na ’n ander. Ek stem heelhartig saam met Kirsten Powers se gevolgtrekking wat betref hierdie peilings: “Op die heel minste toon dit dat die groepe soos Voice for Life [’n pro-lewe organisasie] nie ’n uitsondering is nie, behalwe vir die nie-liberale linksgesindes”. (Powers, bl . 170).

Indien meninsgpeilings korrek was, was 60% Kanadese in 2012 ten gunste van onbeperkte aborsie, maar hou egter in gedagte wat “onbeperk” beteken. Het diegene wat op die peiling reageer het, regtig verstaan waaroor hulle saamgestem het? Indien daar geen beperkings is nie, beteken dit dat mens ’n baba op agt maande kan aborteer! Is dit wat hulle werklik glo? ’n National Post-artikel het daarop gewys dat dit dalk meer gegaan het oor die feit dat Kanadese hulle onafhanklikheid wou toon in die lig van ’n teenoorgestelde tendens in die Verenigde State. Natuurlik het die wyse waarop die vrae gestel word, baie met die finale uitslag van ’n peiling te doen. Wat die rede ookal is, is dit moeilik om te glo dat 60% Kanadese onder alle omstandighede en in alle stadiums, veral in die laaste trimester, onbeperkte aborsie sou voorstaan, maar indien wel, kan Kanadese nie as verteenwoordigend van die res van die wêreld beskou word nie.

In Brittanje sowel as Amerika, ondersteun ’n veel groter persentasie aborsie in die eerste trimester (dit is binne die eerste twaalf weke). Ondersteuning daal dramaties vir die tweede trimester en is uiters ongunstig gedurende die laaste drie maande van swangerskap. Terwyl die V.K. wettige aborsies tot op 24 weke toelaat, glo ’n meerderheid van die Britte dat dit tot twaalf weke verminder behoort te word.

Kom ons wees spesifiek!

Moontlik verstaan millennials meer as vorige generasies van wat in die baarmoeder plaasvind en dit is waarom, volgens ’n aantal meningpeilings, die meerderheid van hulle teen aborsie is. Die Baby Centre, ’n gewilde webwerf van die Verenigde Koninkryk, kan u week vir week deur die hele proses neem en u baba op elke stadium beskryf. Hier is wat hulle op net tien weke sê: “U baba is nou amptelik ’n fetus! Sy is gereed vir groei en sal in grootte meer as verdubbel gedurende die volgende drie weke. U baba sluk en skop nou en al haar belangrikste organe is ten volle ontwikkel. Fynere besonderhede maak nou ook hulle verskyning, soos vingernaels en ’n bietjie donsige haartjies op haar kop. U baba se geslagsorgane begin nou wys. Met u beplande skandering, wat binnekort behoort plaas te vind, sal u dalk kan sê of u ’n seuntjie of ’n dogtertjie gaan hê” (“Your Pregnancy at 10 weeks”. BabyCentre.co.uk, November 2016).

Is dit nie interessant dat wanneer u dit wil hê, word dit ’n baba genoem, maar wanneer iemand dit nie wil hê nie, word dit as ’n nie-lewensvatbare weefselmassa beskryf, ’n produk van bevrugting of ’n bloedklont?

Jessica Baldwin, ’n joernalis by Al Jazeera English, beskryf navorsing wat by die University College in Londen plaasvind. Hulle werk daar met ’n baie hoë-resolusie ultraklank prototipe, klein buigsame buisies en robot-hande wat baie delikate chirurgie in die baarmoeder kan doen. Dokters kan op hierdie wyse geboortedefekte so vroeg as twaalf weke opspoor en tot op datum kon hulle min hulp verleen, maar hulle werk daaraan om dit te verander. Dr. Anna David beskryf wat hulle hoop om te bereik: “Indien mens net ’n baie fyn naaldjie gehad het, sou mens die baba kon behandel en die vrou sou nie voortydig in kraam gaan nie en die uitkoms sou beter gewees het”. (“New Tools Help Advance Keyhole Womb Surgery”, AlJazeera.com, 27 Desember 2015).

Let weer daarop dat terwyl dit tegnies ’n fetus genoem word, verwys dokters wat een op twaalf weke behandel daarna as ’n baba, want dit is wat dit is! David Kupelian is die skrywer van The Marketing of Evil en in sy boek het hy ’n besonder goeie afdeling oor hierdie onderwerp, met bekentenisse van die mense wat vroeër deel van die aborsiebedryf was. Hy haal mans en vroue aan wat ruiterlik erken dat dit vir sommige van hulle net oor geld gegaan het en hoe hulle opgelei was om ’n aborsie aan enige vrou te “verkoop” wat na hulle toe sou kom. Carol Everett, wat gelyktydig vyf aborsieklinieke bestuur het, beskryf sommige van die interne werk. Sy verduidelik wat gebeur het wanneer pasiënte kom vra het: “Daar is nie aan hulle vertel van die ontwikkeling van die baba of oor die pyn wat die baba sou ervaar of oor die fisiese of emosionele gevolge wat die aborsie op hulle sou hê nie” (Kupelian, bl. 196).

Me. Everett het verder verduidelik dat daar twee vrae was wat die meisies altyd gevra het: “Sal dit seer wees en is dit ’n baba?” Die antwoord wat aan hulle gegee was op die tweede vraag, is openbarend. “‘Nee’, sou die antwoord wees, ‘dit is ’n produk van bevrugting’ of ‘dit is ’n bloedklont’ of ‘dis ’n stukkie weefsel’. Hulle noem dit nie eens ’n fetus nie, want dit sou dit byna te menslik maak, maar dit is nooit ’n baba nie” (Kupelian, bl. 196).

Sy beskryf vervolgens wat sy die “twee standaard reaksies in die herstelkamer” noem: “Die eerste is: ‘Ek het my baba doodgemaak’. Dit het my verbaas dat dit die eerste keer was dat die pasiënte dit ’n baba genoem het ... Die tweede reaksie is: ‘Ek is honger. Julle het my vir vier ure hier gehou en julle het vir my gesê ek sal net vir twee ure hier wees. Laat my hier uit’. Daardie vrou het gedoen wat ek gedoen het toe ek my aborsie gehad het. Sy hardloop weg vir haar aborsie, sy verwerk dit nie” (Kupelian, bll. 196-197).

Dit is te simplisties om elke dokter, elke administratiewe personeellid en elke raadgewer in ’n aborsiekliniek daarvan te beskuldig dat dit net oor geld gaan. Sonder twyfel is dit so in baie gevalle, maar sommige soos me. Everett, kom tot die besef van hulle foute en leef met die berou saam. Baie van hulle het werklik ’n misplaasde gevoel dat hulle dit doen om vroue te help. Dit is nie so nie, maar in hierdie postmoderne wêreld, met die invloed van die media en akademici, is dit hoe hulle dink! Vir hulle is enigiemand wat pro-lewe voorstaan, ’n stommerik en ’n bietjie uit voeling. Voormalige aborteur, dr. Anthony Levatino het dit só verduidelik: “Almal in die aborsiebedryf weet dat almal wat by die pro-lewe-beweging betrokke is, van lotjie getik is. Ek weet, want CNN vertel dit vir my en hulle sal nooit vir my leuens vertel nie” (“Dr. Anthony Levatino-CONVERTED: From Abortion Provider to Pro-Life Activist”, Online video clip, ProLifeAction.org. 10 Junie 2014). Die stelling oor CNN is natuurlik sarkasties. Dr. Levatino het bevind dat dit wat hy altyd van pro-lifers geglo het, vals was. Ons sal later in hierdie reeks na hom terugkeer.

Hoe het ons hier gekom?

Hoe het die moderne aborsiebedryf begin? Die antwoorde mag u verras! Twee manspersone, dr. Bernard Nathanson en Lawrence Lader (albei nou oorlede) was die mede-stigters van NARAL, een van die vroeëre pro-aborsiegroepe wat die idee van aborsie-op-aanvraag aan die Amerikaanse publiek verkoop het. Is dit nie interessant dat die twee stigters van NARAL nie vroue was nie? Dit was hierdie twee mans wat die slagspreuke, “Vryheid van keuse” en “Vroue behoort beheer oor hulle eie liggame te hê” uitgedink het. Met die hulp van die feministiese Betty Friedan het hulle die strategie uitgewerk om hulle saak te verkoop. In ’n artikel wat sy “belydenisse” bevat – wat deur die Catholic Education Resource Center gepubliseer is, het Nathanson die drie taktieke verduidelik wat hulle gebruik het. Die eerste was om die “media te oorrompel” (“Confessions of an Ex-Abortionist”. CatholicEducation.org, 2013). David Kupelian haal van Nathanson se bekentenisse aan om te verduidelik wat hy bedoel het met die media oorrompel.

Omdat ons geweet het dat indien ’n ware meningspeiling gedoen word, ons heeltemal sou verloor, het ons eenvoudig die resultate van fiktiewe meningpeilings gefabriseer. Ons het aan die media verkondig dat ons meningspeilings gedoen het en dat 60% van alle Amerikaners ten gunste van permissiewe aborsie was. Dit is die taktiek van die selfvervullende leuen. Min mense wil graag in die minderheid wees. Ons het genoeg simpatie gewek om ons program van permissiewe aborsie te verkoop deur die aantal wettige aborsies wat jaarliks in die VSA gedoen word, self uit te dink. Die werklike syfer mag naby die 100,000 wees, maar die syfer wat ons herhaaldelik aan die media deurgegegee het, was 1 miljoen.

Herhaal die groot leuen dikwels genoeg en oortuig die publiek. Die aantal vroue wat as gevolg van onwettige aborsies gesterf het, was ongeveer 200 tot 250 jaarliks. Die syfer wat ons voortdurend vir die media gevoer het, was 10,000 aborsies (Kupelian, bl. 191).

Nathanson het gesê die tweede taktiek was om die “Katolieke Kaart” te speel. Eenvoudig gestel behels hierdie taktiek om katolieke oningeligte lede aan te hits teen die hiërargie van hulle kerk, wat geskilder was as uit voeling met die werklike wêreld. Dit sou hulle [die kerk] ook subtiel in die denke van baie mense isoleer as sou hulle die enigste opponerende mag wees.

Die derde sleutel-taktiek wat hy beskryf het, was “die verkleinering en onderdrukking van alle wetenskaplike bewyse dat lewe by bevrugting begin”. Nathanson het in sy bekentenisse geskryf: “’n Gunsteling pro-aborsie taktiek is om daarmee vol te hou dat die definisie van wanneer lewe begin, onmoontlik is; dat die vraag ’n teologiese of morele of filosofiese een is, alles behalwe ’n wetenskaplike een. Fetologie [die studie van die fetus in die baarmoeder] maak dit onweerlegbaar duidelik dat lewe by bevrugting begin en geregtig is op beskerming en voorsorgmaatreëls wat almal van ons geniet”. Hy het verder gesê: “Ás ’n wetenskaplike weet ek, nie gló ek nie, dat menslike lewe by bevrugting begin” (Nathanson, CatholicEducation.org).

Dit is verstaanbaar as u dalk wonder waarom Nathanson so ’n erkentenis sou maak. Soms is die waarheid vreemder as fiksie. Nathanson, wat deur Kupelian genoem word, “die naaste ding aan ‘die man wat dit alles begin het’ vir die pro-keuse-beweging”, het van opinie verander en het hom nou by die opposisie geskaar, maar eers nadat sy kliniek sowat 75,000 aborsies uitgevoer het, waarvan hy self 5,000 met sy eie hande gedoen het en nog 10,000 waaroor hy persoonlik toesig gehou het. Soos hy verklaar: “Dit is baie goeie getuigskrifte om oor die onderwerp van aborsie te kán praat” (Kupelian, bl. 192).

Nathanson se ontnugtering het gekom nadat hy by sy kliniek bedank het en as hoof van verloskundige dienste by die St. Luke-hospitaal in New York City, ’n onderrigsentrum vir die Columbia University, begin werk het. Dit was daar waar hy kennis gemaak het met ’n reeks nuwe tegnologieë wat hom in meer besonderhede in die baarmoeder kon laat sien as wat hy nog ooit kon gesien het. Hy beskryf sy eie ervaring by die hospitaal: “... as gevolg van al hierdie tegnologie – deur te kyk na hierdie baba, dit te ondersoek, te beskou, om te kyk na sy metaboliese funksies, te sien hoe dit urineer, sluk, beweeg en slaap, dop te hou hoe dit droom, wat mens deur sy vinnige oogbewegings deur middel van ultraklank kon sien, te behandel, daarop te opereer – het ek uiteindelik tot die oortuiging gekom dat hierdie my pasiënt was. Dit was ’n mens!” (Kupelian, bll. 192-193).

Soos hy ondubbelsinnig daarop wys, het dit absoluut niks met godsdiens te doen gehad nie. Dit het met die werklikheid te doen gehad. Hy het ’n film saamgestel wat oneindige probleme vir die pro-aborsiebeweging veroorsaak het. “The Silent Scream” toon [met ultraklank] ’n beeld binne-in die baarmoeder en wys hoe ’n fetus van twaalf weke reageer wanneer dit deur ’n aborteur uitmekaar geskeur word. Dit het die fantasie-oogklappe verwyder en aborsie gewys vir wat dit werklik is: Die doodmaak van ’n menslike lewe! Die transformasie in Nathanson se denkwyse is merkwaardig.

Dr. Nathanson, ’n pionier en sleutelfiguur in die moderne aborsiebedryf, het ’n 180 grade ommekeer gemaak en het nie doekies in sy video omgedraai nie! Hy het van die bekendste organisasies opgenoem, waaronder ook die een waarvan hy mede-stigter was en hulle beskuldig “... van ’n voortdurende sameswering tot stilte om vroue in die duister te hou oor die ware aard van aborsie”. Hy gaan voort: “En ek daag al daardie diensverskaffers van aborsie uit om hierdie realiteitsvideo of ’n soortgelyke een, aan alle vroue te wys voordat hulle tot ’n aborsie toestem” (Nathanson, “The Silent Scream”. Online video clip, 27 Januarie 2012).

Sommige gesaghebbendes het dit al betwis dat die video akkuraat uitbeeld wat tydens ’n werklike twaalf weke-aborsie gebeur en beskuldig Nathanson daarvan dat hy die video op verskillende maniere “gedokter” het, soos om dit te versnel om dit te laat lyk of die baba ontstel word deur die aborteur se instrumente. Sommige van hulle betwis dit of ’n baba van twaalf weke pyn kan voel. Ander maak beswaar teen die feit dat hy dit ’n baba in plaas van ’n fetus noem, maar hier is wat nie betwis kan word nie: Dr. Nathanson was aan die voorpunt van die aborsiebeweging. Hy was so verantwoordelik as wat enige persoon maar kon wees vir waar ons onsself vandag met betrekking tot hierdie kwessie bevind. Hy was ’n hoof verkoopsagent vir permissiewe aborsie, maar iets het hom daartoe gedryf om bitter spyt te wees oor sy optrede. Hy vertel aan ons dat hy van mening verander het toe hy in verloskunde gewerk het. Terwyl hy dit duidelik maak dat dit nie godsdiens was wat hom tot hierdie oortuiging laat kom het nie, is dit duidelik dat hy in die jare wat gevolg het, ’n geweldige skuldgevoel gehad het. Of mens dit ’n fetus of ’n baba noem, verander nie wat ’n mens duidelik kan sien is ’n klein mensie op twaalf weke nie. Die terme wat gebruik word, openbaar veel meer oor die sprekers as die kind in die middelpunt van die bespreking. ’n Baba as mens dit wil hê, ’n fetus indien nie.

Andere verander van opinie

Dr. Bernard Nathanson is nie die enigste een midde in die hartklop van hierdie omstredenheid wat gehelp het om Pandora se kis oop te maak en wat nou probeer om die boosheid terug te plaas nie. Op baie maniere is ’n selfs meer bekende figuur wat die kis oopgemaak het, Norma McCorvey. U ken haar, maar miskien nie op haar regte naam nie. Sy is beter bekend onder haar skuilnaam, Jane Roe, soos in Roe v. Wade. Sy het ook van opinie verander en het nou ’n aktiewe woordvoerder in die pro-lewe-beweging geword.

McCorvey se verhaal is boeiend, maar tragies in soveel opsigte. Soos Nathanson, het Norma uit ’n baie disfunksionele agtergrond gekom. Haar ouers was geskei en haar ma was ’n alkoholis. Norma was in die moeilikheid by die gereg vanaf die ouderdom van tien en sy is in en uit pleegsorg geplaas. Ten spyte van ’n lesbiese verhouding, het sy drie kinders gehad, waarvan twee opgegee is vir aanneming en een, teen haar wil, van haar af weggeneem is.

Sy het baie daglonerwerk gedoen, maar het uiteindelik ge-eindig deur vir ’n aborsiekliniek te werk. Dít is waar sy in aanraking gekom het met Operation Rescue, ’n konfronterende pro-lewe groep. Met verloop van tyd het sy van die O.R. lede leer ken, aangesien hulle dieselfde geboue-kompleks gedeel het en mekaar gereeld gesien het. Een van die mense met wie sy bevriend geraak het, was ’n sewejarige dogtertjie wie se naam Emily was. Terwyl die volwassenes in O.R. tot haar gewete gespreek het, het Emily Norma se hart versag. Sy het gehoor dat Emily se ma haar byna laat aborteer het en hierdie openbaring het haar diep geraak. As gevolg van hierdie verhouding en interaksie met diegene wat haar vriende geraak het by Operation Rescue, het sy van opinie verander. Op daardie tydstip het sy egter nog gedink dat ’n eerste trimester aborsie in orde was.

Norma McCorvey beskryf die finale strooi in die boek Won by Love, wat sy saam met Gary Thomas geskryf het. Terwyl sy die fone vir O.R. beantwoord het het sy op ’n plakkaat afgekom en die waarheid wat dit uitgebeeld het, was te veel vir haar. Soos sy in die boek verduidelik:

Die plakkaat het die basiese fetale ontwikkeling vanaf bevrugting regdeur tot geboorte uitgebeeld. Ek het begin kyk na die gesigte van die babas wat daarop uitgebeeld was en die oë van die kinders het my ontstel.

Die vordering was so opvallend, die oë was so dierbaar. Dit het my hart gebreek, net om na hierdie ongebore kinders te kyk ...

Voordat ek dit besef het, was ek weer in trane ... en het net daar gestaan.

Uiteindelik het dit tot my deurgedring.

Norma, het ek vir myself gesê, hulle is reg.

Ek het jare lank met swanger vroue gewerk. Ek was self deur drie swangerskappe en geboortes. Ek moes geweet het. Nogtans het iets in daardie plakkaat my na my asem laat snak. Ek het die prent gesien van die klein, tien-week-oue embrio en ek het vir myself gesê: Dit is ’n baba! Dit was asof oogklappe skielik van my oë afgeval het en ek het skielik die waarheid ingesien.

Dit is ’n baba!

Ek het verpletterd gevoel ... Ek moes die verskriklike werklikheid in die gesig staar. Aborsie gaan nie oor “produkte van bevrugting nie”. Dit gaan ook nie oor “oorgeslaande periodes” nie. Dit gaan oor kinders wat in hulle ma se baarmoeder doodgemaak word.

Deur al daardie jare was ek verkeerd. Ek was verkeerd om daardie beëdigde verklaring te onderteken. Die feit dat ek in ’n aborsiekliniek gewerk het, was verkeerd. Niks meer van hierdie eerste trimester, tweede trimester, derde trimester se dinge nie. Aborsie – op enige stadium – was verkeerd. Dit was so duidelik. Pynlik duidelik.

Bernard Nathanson en Norma McCorvey is slegs twee van baie aborsie-binnekringers wat van opinie verander het. In die tweede deel van hierdie tweeledige reeks sal ons leer waarom ander mense teen hierdie praktyk gekant geraak het en wat die Bybel oor hierdie onderwerp sê. Ons sal ook sien dat daar hoop is vir die vroue wat ’n aborsie gekies het, sowel as vir diegene wat in die aborsiebedryf vasgevang is.