’n Nimmereindigende oorlog is aan die gang en u is in die middel van die geveg. In werklikheid vind dit onder u eie vel plaas.
Mikroskopiese patogene – soos dodelike bakterieë, virusse, swamme en parasiete – mag so klein wees dat hulle nie gesien kan word nie, maar hulle is oral. Wat staan tussen u en hierdie bedreigings om u lewendig en gesond te hou? Een van die groot wondere van God se ontwerp: Die menslike immuunstelsel.
’n Kort artikel soos hierdie een kan nooit die wonderlike geheelbeeld van ons immuunstelsel in al sy glorie weergee nie en dit sou ’n ingewikkelde verhaal wees om te vertel. Selfs ’n vlugtige blik kan dien om ons te herinner dat ons inderdaad “vreeslik wonderbaar” geskape is (Psalm 139:14). Kom ons neem daardie vlugtige blik.
Beskerming teen vriendskaplike vuur
Selfs voor u gebore is, was u liggaam besig om voor te berei vir die daaglikse stryd wat dit na u geboorte sou veg. Terwyl u in die baarmoeder was, het u liggaam die selle vervaardig wat deel sou wees van die enorme toerusting van die menslike immuunstelsel. Terwyl dit hiermee besig was het hierdie selle monsters van die ander gesonde selle van u liggaam ontleed en geleer hoe “u” lyk.
Hierdie “geheue” aspek van die immuunstelsel is absoluut noodsaaklik. Sonder die molekulêre masjinerie om hierdie herkenning te bewerkstellig, sal u eie selle die prooi word van die wapenrusting van die immuunstelsel, net soos soldate wat op ’n slagveld sterf van “vriendskaplike vuur”.
Mobilisering van ’n mikroskopiese weermag
Het u al ooit opgemerk dat u vel ’n bietjie begin swel kort nadat u raakgesny is? Dit is u immuunstelsel wat aan die werk spring!
Onder die vel het die immuunstelsel “wagte”, soos soldate wat by die muur van ’n stad staan. Wanneer die stad – u liggaam – deur indringers aangeval word, spring die soldate aan die werk! Die immuunstelsel stuur seine om vloeistof in die aangetaste weefsels te vermeerder en trek witbloedselle en ander verdedigingsmeganismes na die plek om die indringers te beveg. U geswelde vel beteken dat daar met die vyand slaags geraak is!
Die chemiese reaksies en transformasies van die immuunstelsel in hierdie geveg is merkwaardig. Byvoorbeeld, een kettingreaksie skep ’n molekulêre masjien wat letterlik ’n gat in aanvallende selle boor. Dit veroorsaak dat hulle oopbars en sterf. Ander witbloedselle vernietig indringers deur chemiese oorlogvoering, soos om waterstofperoksied te vervaardig. Navorsers het selfs ontdek dat sommige witbloedselle die onwelkome mikrobes binne ’n klein bakkie sal omring en die bakkie dan met natuurlik vervaardigde bleikmiddel oorstroom!
Net soos met ’n stad wat ingeval is, terwyl die aanvanklike soldate die opmars mag vertraag deur met die aanvallers slaags te raak, verhoed dit nie dat meer indringers deur die opening kan indring nie. Namate die mikroskopiese oorlogvoering voortduur, verhoog die immuunstelsel sy pogings in beide beskermingsvermoë en akkuraatheid.
Identifisering van die vyand
Dit gebeur wanneer die immuunstelsel die presiese identiteit van die aanvaller herken. Is dit die H3N2 griepvirus? Is dit die Streptococcus pyogenes-bakterie?
Volgens sekere berekenings het die immuunstelsel ’n funksionele biblioteek [stoorkamer] van tien miljard verskillende tipes potensiële bedreigings. Om te beskryf hoe die stelsel hierdie biblioteek [stoorkamer] skep, val buite die omvang van hierdie artikel, maar vir die doel hiervan is dit genoeg om te sê dat daar geglo word dat hierdie getal groter is as die aantal bedreigings wat op aarde bestaan! Byvoorbeeld, wetenskaplikes wat die kragtige aard van soogdiere se immuunstelsel ondersoek, het ’n klompie mensgemaakte molekules in party van die diere ingespuit. Hulle het geweet dat sulke molekules nie natuurlik bestaan nie en nog nooit deur die diere teëgekom is nie. Hulle het geleer dat die diere se immuunstelsels alreeds ’n reaksie gehad het wat spesifiek ontwerp is om daardie molekules teen te werk!
Hoe ken die imuunstelsel sy aanvallers uit?
Wanneer die “eerste-reaksie-selle” die begin van infeksie beveg, vernietig spesiale selle in hulle aanvanklike aanval nie net die indringers nie, maar breek hulle op. Dit vervoer dan stukkies van die indringer na die limfknope van die liggaam waar hulle die stukkies van die vyandige mikrobes aan ander selle in die immuunstelsel “voorstel”. Daardie verdedigingselle wat spesifiek voorberei is om die presiese invaller te beveg, word dan geaktiveer en meer selle – sowel as spesiale proteïene genaamd teenliggaampies – wat almal spesifiek vir daardie patogeen is, kan op groot skaal vervaardig word.
Soek en vernietig!
Indien die aanvanklike verdedigingslinie u liggaam se “voetsoldate” was, is hierdie die “spesiale magte” wat die spesifieke bedreiging haarfyn aanwys. Byvoorbeeld, wanneer die teenliggaampies wat spesifiek op daardie aanvaller gemik is die plek van infeksie bereik, kleef hulle aan die vreemde liggaampie en ontwrig die aanvaller se funksies op baie maniere. Teenliggaampies kan veroorsaak dat skadelike bakterieë aan mekaar heg, wat dit oneffektief maak. Hulle kan die bewegende dele van gevaarlike selle verhinder en immobiliseer. Teenliggaampies meng in met die funksionering van virusse op maniere wat voorkom dat dit aan gesonde selle kan vasheg en hulleself reproduseer. Die teenliggaampies merk die gevaarlike mikro-organismes en identifiseer dit meer akkuraat as teikens vir vinnige vernietiging.
Dit is ’n doeltreffende proses – een wat eintlik doeltreffender raak, hoe langer die infeksie duur. Wanneer die spesifieke patogeen [siektekiem] geïdentifiseer is, begin die selle wat daardie teenliggaampies produseer, nie net om meer daarvan te maak nie, maar begin ook om daarmee te “eksperimenteer” – om klein variasies van dieselfde teenliggaampie te vervaardig om te bepaal of die teenliggaampie se vashegting aan die mikro-organisme verbeter kan word. Met verloop van tyd “leer” die immuunstelsel hoe om molekules doeltreffender aan die indringers te laat vasheg. Dit is nie net om die vernietiging van die indringende stof te bespoedig nie, maar ook om die immuunstelsel se biblioteek [stoorkamer] te verbeter sodat dit die vyand selfs vinniger kan vernietig wanneer dit die volgende keer opduik.
Ver buite die begrip van evolusie
Die idee dat ’n verbasend komplekse stelsel soos hierdie eenvoudig kon “ontwikkel” deur klein, opeenvolgende stappe – selfs oor duisende of miljoene jare – is eenvoudig ondenkbaar. Ons immuunstelsel is ’n voorbeeld van wat Intelligente Ontwerp teoritici “onverkleinbare kompleksiteit” noem. Dit kan nie geleidelik oor tyd ontwikkel nie, want as ’n fundamentele, komplekse stukkie selfs gedeeltelik ontbreek, sou die hele immuunstelsel óf ’n nuttelose gemors óf ’n gevaarlike ramp word.
Soos biochemikus Michael Behe in sy gedagteryke werk, Darwin’s Black Box, geskryf het:
Verskeidenheid, herkenning, vernietiging, verdraagsaamheid – daar is interaksie tussen al hierdie dinge en meer. Hoe ons ook al redeneer word ’n stap-vir-stap verklaring van die immuunstelsel deur verskeie inmekaargeweefde vereistes gedwarsboom. As wetenskaplikes hunker ons daarna om te verstaan hoe hierdie wonderlike meganisme ontstaan het, maar die kompleksiteit van die stelsel verdoem alle Darwinistiese verklarings tot frustrasie (bl.139).
Ons immuunstelsel het nie ontwikkel nie. Dit dra al die kenmerke van beplanning en ontwerp – geskep deur Een met ’n intelligensie en krag wat veel groter is as ons eie.
Totdat Jesus Christus weer kom om “die wederoprigting van alle dinge” in te lui (Handelinge 3:21), sal ons wêreld ’n vermenging van seëninge en gevare bly. God het ons egter nie weerloos gelaat nie! Soos koning Dawid, kan ons gerus wees dat Hy die werke van Sy hande nie sal laat vaar nie (Psalm 138:8).