Aangesien ek in die staat van Texas grootgeword het, was berge nie juis ’n groot deel van my visuele woordeskat nie. Ek het dit in boeke, op foto's, skilderye en rolprente gesien, maar het nooit een met my eie oë gesien totdat ek in my vroeë dertigs was nie. Nietemin, toe ek uiteindelik my oë op een gevestig het toe ek deur die beroemde Rocky Mountains van Colorado gery het, het ek besef dat ek nooit weer volkome dieselfde sou wees nie. Dit kan ons ontroer, inspireer en selfs intimideer. Dit lyk of dit die volmaakte uitbeelding van sterkte en stabiliteit is – van krag en permanensie. Wanneer ons berge aanskou, kan ons die woorde van die profeet Amos in gedagte hou:
Want kyk, Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, wat die dageraad duisternis maak, wat op die hoogtes van die aarde wandel, Here, God van die leërskare, is sy Naam! (Amos 4:13).
Kom ons neem ’n oomblik om te dink oor hierdie pragtige beeldhouwerke van die natuur. Dit is ook nodig om na te dink oor wat die Kunstenaar, deur die skepping van berge, aan ons probeer vertel.
Verskillende tipes
Dit is maklik om te dink dat berge almal eenders is, veral as mens net naby een soort gewoon het, maar daar is in der waarheid verskeie tipes.
Plooiberge is die mees algemene tipe. Geoloë glo dat dit gevorm word wanneer verskillende gedeeltes van die aardkors – wat altyd aan die beweeg is, hoe stadig ookal – teen mekaar stoot en veroorsaak dat die aarde uitbult en buig. Dit is die soort berge wat ek en my gesin in Colorado gesien het en wat die bekende Himalajas met inbegrip van die berg Everest gevorm het.
Verskuiwingsblokberge word gevorm wanneer krake in die aardkors toelaat dat groot blokke rots hoër as die omliggende aardkors gestoot word. Dit is dikwels baie steil, gewoonlik aan een kant. Voorbeelde hiervan sluit die Sierra Nevada bergreeks van Kalifornië asook die Vogeseberge van Frankryk in.
Vulkaniese en koepelberge word elk deur die druk van gesmelte magma in die aarde gevorm. In die geval van vulkaniese berge, bereik die magma die oppervlakte in die vorm van lawa en as. Namate hierdie materiaal voortdurend op die oppervlakte opbou en afkoel, word ’n berg soos die Filippynse berg Pinatubo of Japan se berg Fuji gevorm. In die geval van koepelberge, bereik die warm magma egter nooit die oppervlak nie. Die druk wat deur die magma veroorsaak word stoot eerder die boonste lae van die aardkors al hoër op. Met verloop van tyd koel die magma af tot soliede rots en erosie gee vorm aan die verhewe oppervlak wat ’n koepelagtige voorkoms skep en dan verder deur die magte van erosie gevorm word.
Ten slotte is daar platoberge. Hierdie berge word eintlik deur die verlaging van die omliggende gebied gevorm, soos riviere wat uitkalf en ’n pad al hoe laer in die dieptes insny. Die treffende spitskoppe van Monument Valley in Arizona is bekende voorbeelde.
Vormers van die weer en die geskiedenis
Meer as blote geologiese kenmerke wat verskeidenheid aan ’n andersins gelyke planeet verskaf, is berge op hulle eie manier deelnemers aan die wêreld rondom hulle, deur die krag van hulle teenwoordigheid in die vorming van aktiwiteite en gebeure.
Bergreekse het ’n groot invloed op weerpatrone. Wanneer bewegende lug die verhoogde terrein van ’n berg ontmoet, word dit gedwing om op te styg, wat die lug verkoel en kondensasie en reën veroorsaak. Indien die berge hoog genoeg is, kan die verskil in weer aan die een kant dramaties verskil teenoor die weer aan die ander kant en “reënskaduwee” veroorsaak. In hierdie geval kry die een kant van die bergreeks die voordeel van gedwonge kondensasie, met gereelde reënval en vrugbare grond. Die ander kant van die reeks word egter van reën ontneem en moet tevrede wees met die droër lug wat oor die berg gaan. Hierdie streke kan dor en droog raak. Die woestyn in Judea en die Dooie See-gebied is die gevolg van so ’n reënskaduwee wat deur die berge in Judea veroorsaak word terwyl die Gobiwoestyn in die reënskaduwee van die Himalajas lê.
Meer as net die vorming van weer, het berge gehelp om beskawings te vorm.
Die mees klaarblyklike invloed wat berge het, is in die rondswerf van migrerende volke en dien as kanale sowel as grense in die rigtingaanwysing en vloeivorming van rondtrekkende bevolkings. Die Kaukasusgebergte in Eurasië kon byvoorbeeld ’n belangrike rol gespeel het in die beweging van die swerwende Israeliete na die Europese vasteland.
Wanneer God van die nasies sê dat Hy “vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,” (Handelinge 17:26) is die berge van Sy skepping een manier wat Hy gebruik om dit tot stand te bring.
In die geval van die stede of stadstate van antieke Griekeland, het die berge ’n dramatiese impak op die kultuur van daardie samelewing gehad. Meer as driekwart van Griekeland word deur bergagtige terrein bedek. Dit het beweging tussen stede uiters bemoeilik en kulture en politieke organisasies is gedwing om plaaslik en selfstandig te word. As gevolg hiervan kon relatief nabygeleë stadstate, soos filosofiese Athene en militaristiese Sparta in heeltemal verskillende rigtings ontwikkel. Die bergagtige aard van die landskap het ook die antieke Grieke gedwing om kolonies elders langs die Middellandse See te vestig om hulleself te onderhou. Dit het tot die verdere vorming van hulle eie kultuur sowel as kulture van omliggende volke gelei.
Gegewe die invloed wat antieke Griekeland op die moderne Westerse kultuur het, kan mens sê dat die berge van Griekeland ’n impak op die wêreld gehad het!
’n Beeld van hulle Skepper
God gebruik berge en die natuurlike gevoel van krag en mag wat dit uitstraal om ons aandag op Hom te vestig.
Wanneer ons na die grootsheid van ’n berg kyk wat vas en oënskynlik onbeweeglik staan, wil God hê dat ons sal stilstaan en besin oor die krag van die Een wat daardie berg geskep het! Wanneer koning Dawid sy Skepper prys wat die “vertroue van al die eindes van die aarde [is]” merk hy op dat dit die Almagtige God is “Wat die berge grondves deur u krag, wat omgord is met mag” (Psalm 65:6-7).
Ja, die asemrowende gesig van die Berg Everest of die pieke van die Grand Tetons in Wyoming kan ons hartsnare aanraak wanneer ons na hulle prag en omvang kyk. Die Ewiglewende Een wil egter hê dat ons daaraan dink dat indien hierdie majestieuse kenmerke van die land ons beïndruk en ons dwing om te dink aan hoe klein en relatief broos ons eie lewens in vergelyking hiermee is, hoeveel te meer majestieus en magtig is Hy – die Een wat oor die krag beskik om hierdie ontsaglike monumentale rotse te skep en dit deur Sy wil tot stand te bring! Geen standbeeld wat deur ’n mens uitgekerf is behoort ons só baie te beïndruk nie.
Trouens, moontlik die grootste getuienis wat berge oor die ongelooflike krag van hulle Skepper kan gee, is dat vir al hulle vertoning van krag en standvastigheid, selfs hulle met Sy Wederkoms sal bewe, sidder, versit en selfs wyk voor Sy aangesig (Openbaring 6:14; 16:20)!
Berge is ’n mooi voorbeeld van die krag van God wat vertoon word in die wêreld. Koning Dawid het in herinnering aan sy Skepper se krag, terwyl hy nodig gehad het om gehelp en gered te word, gesê: “Ek slaan my oë op na die berge” (Psalm 121:1). Die berge behoort ons ook daaraan te herinner.