Belaglike maskers en kostuums ... skrikwekkende beelde van rolprent monsters ... lekkergoed skedels en uitgekerfde pampoene ... graf-offers aan die dooies.
Vandag weet die meeste mense dat die moderne fees van Halloween sy oorsprong in antieke tradisies het wat terugdateer tot voor Jesus Christus – maar hulle het geen beswaar teen deelname aan ’n dag wat hewig op morbiede voor-Christelike bygelowe steun nie. Waarom is dit so? Wat behoort dit vandag vir Christene te beteken?
Wat het antieke Halloween vieringe behels? “Die twee hoofeienskappe van antieke Halloween was om vreugdevure aan te steek en die oortuiging dat van alle nagte van die jaar, hierdie nag die besonderse nag is waartydens spoke en hekse die heel waarskynlikste buite sou ronddwaal ... Verder was dit ’n Druïdiese oortuiging dat Saman, die heer van die dood, op die vooraand van hierdie fees, alle bose siele bymekaar sou roep wat in die afgelope twaalf maande veroordeel was om in die liggame van diere te woon” (“Halloween”, Encyclopaedia Britannica., 11de uitgawe, volume 12, bll. 857-8).
Dus, hoe het belydende Christene begin om ou Keltiese gebruike te volg? In 610 n.C. stel Pous Bonifatius IV die Fees van die Allerheilige Martelare in wat jaarliks op 13 Mei gevier word. In 835 n.C. het Pous Gregorius IV die viering na 1 November verander, ’n datum wat hy as “Allerheiligedag” verklaar het ter ere van martelare wat vir hulle geloof gesterf het. Watter aktiwiteite hou verband met hierdie dag? Selfs vandag nog leef ’n gewilde volkstradisie in sommige Katolieke lande voort waar ontslape geliefdes een keer per jaar op hierdie dag na hulle vorige huise terugkeer, dit staan ook bekend as die “Dag van die Dood”. Die Mabuhay tydskrif beskryf ’n kleurvolle tradisie van die Filippyne, waar families “na begraafplase stroom om kerse aan die brand te steek en blomme te offer ... aan familielede wat hulle verlaat het ... op Allerheiligedag (1 November)” (“Halloween High Jinks”, November 1997, bl. 34).
Die fees van 2 November staan bekend as “Allersieledag [All Souls Day]” en is ingestel op grond van “die [Rooms-Katolieke] leerstelling dat die siele van gelowiges wat by hulle afsterwe nie van vergeefbare sondes gereinig is of nie boete gedoen het vir oortredings van die verlede en dus nie die salige visie kan bereik nie, gehelp mag word om dit deur gebed en die offer van die mis te bereik” (“All Souls Day”, Encyclopaedia Britannica, 11de uitgawe volume 1, bl. 709). Dit is veronderstel om ’n proses te wees waardeur die wat in die lewe is seremonies kan uitvoer om die toestand van die ontslapenes op een of ander manier te verbeter.
In Mexiko word “Dia de los Muertos” of “Dag van die Dood” deur familielede gedenk deur grafte met kerse, gousblomme en die oorledene se gunsteling voedsel te versier, in ’n poging om die ontslape geliefde te oorreed om vir ’n gesinsreünie terug te keer. Let op na hierdie beskrywing van hoe sommige feesgangers hierdie fees vier: “Sommige mense dra skedelmaskers van hout wat bekend staan as calacas. Baie gesinne bou altare in hulle huise wat hulle ofrendas noem deur foto’s, kerse, blomme en kos te gebruik ... Speelgoed en voedsel wat brood en lekkers insluit, word in die vorm van die simbole van die dood, soos skedels en geraamtes gemaak” (“Day of the Dead”, Britannica.com).
Al hierdie “feeste van die dood” is op dieselfde algemene tema gebaseer: Om te kommunikeer, te paai, te dien en selfs die gestorwenes te aanbid. Is sulke praktyke egter op die Bybel gebaseer? Behoort Christene dit vandag te vier? Wat sê God?
Waar is die ontslapenes nou?
Baie antieke godsdienstige tradisies neem aan dat ontslapenes iewers anders as in die graf is. Talle mense aanvaar dat ontslapenes óf in die hemel, die hel of in ’n soort van tussentydse bewuste toestand verkeer. Tog vertel die Bybel ons duidelik waar die ontslapenes is!
Let op wat die apostel Petrus in sy preek op Pinksterdag gesê het: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe ... Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:29, 34).
Dawid het nie na die hemel gegaan nie! Die apostel Petrus het eeue na Dawid se dood bevestig dat hy nog in sy graf is waar hy na sy dood geplaas is en nog steeds op die opstanding wag! Wat ’n kontras is Petrus se woorde in teenstelling met die misopvatting wat vandag so algemeen onder belydende Christene voorkom, dat die heiliges op hierdie oomblik uit die hemel op ons neerkyk!
Jesus Christus het heel eenvoudig verduidelik: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Hy het wel uit die hemel neergedaal en het na die troon van die Vader in die hemel teruggekeer (Johannes 20:17), maar volgens Sy betroubare getuienis, het niemand anders dit gedoen nie!
Wat doen die ontslapenes dan? Die antwoord is nie geheimsinnig of spookagtig nie. Die ontslapenes “slaap” eenvoudig sonder enige bewussyn in hulle grafte, in afwagting om met die opstanding tot opwekking geroep te word. Wat sal gebeur wanneer Christene opgewek word? Die apostel Paulus verduidelik: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:16-18).
Ons kan geweldig bemoedig word indien ons die waarheid oor die dood en opstanding verstaan, soos ons dit in die Bybel leer. Ons hoef nie te bekommer of verward te wees deur vreesaanjaende bygelowe wat deur die “feeste van die dood” aangemoedig word nie.
Kan ons met die ontslapenes kommunikeer?
Indien die ontslapenes sonder bewussyn in die graf is – nie wakker as liggaamlose geeste in die hemel of elders nie – kan ons met hulle kommunikeer? Op die “Dag van die Dood”, keer ontslape familielede werklik na hulle lewende familie terug, soos sommige mense glo? Wat sê die Bybel?
Salomo verduidelik: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Terwyl die regverdige koning Dawid uitgeroep het om van gevaar gered te word, het hy God herinner: “Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk” (Psalm 6:6). Salomo en Dawid het albei verstaan dat mense ophou om ’n bewustheid te hê wanneer hulle sterf.
Die Bybelse weergawe van koning Saul se séance verwar soms toevallige lesers wat wonder oor die bestaan van geeste na die dood. Met die eerste oogopslag mag ’n mens dalk dink dat ’n medium die gees van Samuel op versoek van koning Saul opgeroep het (1 Samuel 28:8-15), maar het die medium regtig vir Samuel teruggebring? Die Skrif verduidelik dat Saul “begryp” het dat dit Samuel was (vers 14). Die medium se beskrywing was eenvoudig van “’n ou man ... met ’n mantel om” – vermoedelik ’n onrein gees wat in ’n vorm baie soos dié van Samuel verskyn het. Die Skrif toon dat leuenagtige geeste wel uitgaan om mense te mislei, soos hierdie een wat probeer het om Saul te mislei (1 Konings 22:22-23).
Ja, die Bybel toon duidelik dat ons nie met die ontslapenes kan kommunikeer nie. Hulle is nie bewus van lekkernye of offers wat na hulle grafte gebring word nie. Hulle hoor nie en trek geen voordeel uit gebede wat tot hulle of namens hulle gebid word nie.
Aan die ander kant sien ons daarna uit om ons geliefde vriende en familie in die opstanding te sien! Dit is sekerlik reg om die nagedagtenis van ’n ontslape familielid of vriend by ’n begrafnisdiens te eer, veral ter wille van die treurende familie. Ons “eer die nagedagtenis” van ons ontslape ouers en grootouers, nie deur snuisterye op hulle grafte te plaas of om te hoop dat ons elkeen se gees in ons huis kan verwelkom nie, maar eerder om hulle opbouende opdrag en voorbeeld te volg en die goeie naam te eer wat hulle gedurende hulle leeftyd tot stand gebring het.
Net goeie, skoon pret?
Sommige mense mag dalk sê: “Ek glo nie in al hierdie hokus-pokus nie”, maar. “ek hou net daarvan om pret op ’n vakansiedag te hê”. Is daar inderdaad iets verkeerd met die Halloween kostuums wat ons in lande soos die moderne Amerika sien? Kan daar enigsins ’n probleem wees met kostuumpartytjies, bangmaakstories en om lekkernye bymekaar te maak? Behoort ons plastiese battery-aangedrewe “spoke” af te keur wat verbygaande kopers in winkels aangluur? Per slot van sake neem niemand deesdae al hierdie “bangmaak-onsin” ernstig op nie, of hoe?
Hierdie benadering is heel moontlik self deel van die probleem. Die geesteswêreld behoort ernstig opgeneem te word. Dit is werklik en gevaarlik vir die onopmerksame persoon. Tog word die gevare van die okkult dikwels tot die status van ’n verspotte speletjie verklein, so asof ons skadeloos kan saamspeel sodat ons maar net “in die gees daarvan kan kom”!
Miljoene mense probeer sekerlik om presies net dit te doen. Selfs die deskundige in huisversiering, Martha Stewart, gee raad oor hoe om u voorste grasperk met flikkerende pampoene te versier en sodoende ’n spookagtige omgewing vir die plesier daarvan te skep. Sy gaan voort om te verduidelik: “Die opwinding van Allerheilige-aand is in die lug, die atmosfeer is met beelde en klanke en vrese gelaai wat deel van die nag uitmaak ... Wat ons wil bereik is om die vakansiedag se blink fosforagtige geeste in hulle eie spel te wen, om hulle bedreiging te verdryf met behulp van dieselfde verfbord van dartelende oranje en inkswart skaduwees wat hulle gebruik om ons bang te maak”. (Halloween: The Best of Martha Stewart Living, bll. 11-12).
Vir diegene wat met ’n vleismes vaardig is, beskryf die skrywer Tom Nardone in sy boek, Extreme Pumpkins: Diabolical Do-It-Yourself Designs to Amuse Your Friends and Scare Your Neighbors “ontwerperspampoene” wat mens self kan skep. Nardone bied aanwysings vir die skep van ontwerpe soos: “Mensvreter-pampoen”, “My-kop-is-aan-die-brand-pampoen”, “Brein-chirurgie-pampoen”, “Doodgeskokte-pampoen”, “Verdrink-in-’n-sak-pampoen”, “Skedel-pampoen”, “Bloedgevulde pampoen” en “Sataniese pampoen”.
Hierdie wenke deur Stewart en Nardone is almal grappig en “tong-in-die-kies” – maar behoort dit so ligtelik opgeneem te word? God openbaar dat daar ’n werklike geestelike wese is wat as die duiwel bekend staan. Dit is nie ’n onbeholpe duiwel met ’n tuinvurk nie. Inteendeel, die duiwel is ’n magtige, haatlike wese wat die hele wêreld mislei het (Openbaring 12:9) en wat een derde van al die engele verlei het om saam met hom teen God in opstand te kom (Openbaring 12:4). Jesus Christus het gesien dat Lucifer uit die hemel neergewerp is (Lukas 10:18). Die bose engele wat Lucifer in sy opstand gevolg het – wat demone geword het – word as bose geeste en onrein voëls beskryf (Openbaring 18:2).
Hoe sê God behoort ons Satan te beskou? Hy sê ons nie aan om verspotte, spookagtige speletjies te speel wat deur interaksie met die geesteswêreld die spot dryf nie. Hy sê nie aan ons om moderne weergawes van antieke Druïdiese rituele op te voer nie. Hy sê eerder “weerstaan die duiwel en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:7-8). God gee ons raad om bewus te wees van die duiwel se planne, sodat ons sy strikke kan vermy (2 Korinthiërs 2:11). Die Skrif herinner ons daaraan dat Christene in ’n stryd gewikkel is “teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efésiërs 6:12).
God se weë of heidense boosheid?
Halloween vier goddeloosheid. Dit word as ’n tyd beskou om “alle inhibisies oorboord te gooi” en “alle reëls op te skort”. Die Skrywer Hugo Slim herinner ons: “Halloween behou nog steeds baie van die ou voor-Christelike speletjies en rituele as deel van die feesvieringe. Speletjies wat appels, kostuums en vergelding omvat, word steeds elke Halloween deur kinders geniet” (Feast of Festivals, bl. 176). Hy gaan voort om te sê: “Die kamoeflering wat deur fantasiekostuums en pampoenlanterns verskaf word bied die volmaakte dekmantel waaronder met ’n vyand afgereken kan word. Halloween het daarom ’n onvermydelike en aanvaarbare tyd geword om ou geskille te besleg deur op iemand wraak te neem deur die antieke gebruik van ‘trick or treat’, ’n spel wat deesdae uiters gewild onder baie kinders is” (bll. 177-178).
Keur God egter hierdie soort feeste goed? Die apostel Petrus verduidelik dat Christene die lewenswyses wat met God se manier teenstrydig is, behoort prys te gee: “Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye” (1 Petrus 4:3). Ons behoort liewer te fokus op “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8). Die onreine en oproerige oorsprong van Halloween is nie versoenbaar met God se opdragte aan Christene nie.
Interessant genoeg het sommige geskiedkundiges ’n skakel tussen die antieke “Dag van die Dood” se gebruike en die vernietiging van die heidense en losbandige generasie van Noag se tyd gesien. Noag se vloed begin in die “tweede maand, op die sewentiende dag van die maand” (Génesis 7:11). Een jaar later, in die tweede maand, op die sewe en twintigste dag het Noag uit die ark uitgegaan (Génesis 8:14-16). Indien ons die tyd van Noag se vloed volgens die Joodse siviele kalender bereken, sou die sewentiende dag van die tweede maand iewers tussen die einde van Oktober en vroeg in November wees. Soos die skrywer Frederick Filby opmerk, “Dus het die ou wêreld vergaan en ’n jaar later het ’n nuwe era in dieselfde maand begin. Albei hierdie feite is onuitwisbaar in die geheue van die mensdom vasgelê. Vir baie mense reg rondom die wêreld bring November die Dag van die Dood. In ’n aantal antieke en primitiewe kalenders bring November ook ’n nuwe jaar op ’n tyd wat nie ’n sonstilstand of ’n nag-ewening of astronomiese gebeurtenis bevat om dit te regverdig nie” (The Flood Reconsidered, bll. 106-107).
Die geskiedkundige Alexander Hislop het die skeepsreis van Osiris as ’n korrupte weergawe van God se redding van Noag geïdentifiseer en verbind dit met ongeveer dieselfde tyd: “Die tyd wat Osiris ‘in sy kis opgesluit was’ en daardie kis drywend op die water gelaat was soos Plutarchus beweer, stem presies ooreen met die tydperk wat Noag die ark binnegegaan het. Daardie tyd was ‘die 17de dag van die maand Athyr, toe die oorstroming van die Nyl opgehou en die nagte langer en die dae korter geword het’” (The Two Babylons, bl. 136).
Indien die tydsberekening van die Vloed egter volgens die Joodse heilige kalender getel word (wat in die lente begin het), sou dit iewers in die middel tot laat Mei plaasgevind het; na aan die datum wat oorspronklik vir die “Fees van al die Heilige Martelare” gekies is. Soos John Garnier in Worship of the Dead geskryf het: “In Rome ... in meer antieke tye, het die mense geglo dat die ‘fees van die geeste’, die siele van ontslape vriende is. Dit was ‘Lemuria’ genoem en is op 11 Mei gevier. Dit was ook die sewentiende dag van die tweede maand van die jaar op daardie tyd” (bl. 6).
Gaan “Dag van die Dood” vierings verder terug in antieke tyd as wat ons moontlik mag vermoed – selfs moontlik tot by die vernietiging van ’n oproerige en gewelddadige samelewing? Op die allerminste lyk dit asof daar ’n verleidelike parallel kan wees en moontlik is daar selfs ’n direkte verband.
Verwerp heidense tradisies
Terwyl God die Israeliete voorberei het om die Beloofde Land binne te gaan, het Hy hulle spesifieke en kragtige opdragte gegee om nie te probeer om Hom deur die beoefening van die “tradisies” van die nasies rondom hulle te eer nie. Hulle moes nie die vieringe van nasies navolg nie. Hulle moes sulke gebruike verwerp en in plaas daarvan God se bevele en opdragte getrou navolg.
Moses het die Israeliete beveel: “As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie” (Deuteronómium 12:29-31).
Vandag roep God die Christene om Hom op die manier wat Hy verkies het te gehoorsaam en te aanbid, nie om mensgemaakte valse tradisies na te volg nie. Indien Jesus Christus u na Hom geroep het om Sy Waarheid te verstaan, roep Hy u uit die wêreld uit. In die laaste ure van Sy lewe het Christus gebid dat Sy dissipels nie van die wêreld sou wees nie, selfs al het hulle in die wêreld geleef: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:15-16).
Mag God aan u die begrip en onderskeidingsvermoë skenk om uit die wêreld te kom, Hom geheel en al na te volg en die feeste van die ontslapenes te verwerp!