Dit is nie baie groot nie, trouens dit is net ’n bietjie groter as u geslote vuis. Tog weerspreek sy kleinheid die unieke en belangrike rol wat dit in u lewe speel. Inderdaad, daarsonder sou u geen lewe gehad het nie! Uur na uur, minuut na minuut en selfs sekonde na sekonde, steun u volkome daarop. Tensy iets daarmee verkeerd is, laat ons dikwels na om twee keer daaraan te dink.
Wat is dit? Dit is die menslike hart – ’n biologiese wonder van God se skepping wat die trots van enige ingenieur op die planeet sou wees. Dink maar net aan ’n paar redes waarom ons hierdie meesterstuk behoort te waardeer, hierdie wonderwerk van ons Skepper, wat stilweg en voortdurend in ons borskas klop.
Een van die hart se belangrikste doelwitte is om voortdurend bloed deur ons liggame te laat vloei terwyl dit die broodnodige suurstof vanuit ons longe versamel en dit deur die hele liggaam versprei. Om dit te kan doen, moet die een hart gelyktydig bloed vanuit twee verskillende bronne ontvang – die longe en die liggaam – dit dan weer in twee verskillende rigtings terugstuur. Die vernuftige ontwerp en bedrieglik eenvoudige struktuur van die hart maak hierdie prestasie moontlik.
In die eerste plek ontvang die hart bloed in die boonste twee kamers: Die atria. Die regter atrium word met “gebruikte” suurstofarm bloed vanuit die liggaam gevul, terwyl die linker atrium met “vars” suurstofryke bloed vanuit die longe gevul word. Met ’n sametrekking stuur die atria hulle individuele inhoud na twee groter, gespierde ventrikels, onder hulle. Daarna, met ’n tweede sametrekking, stuur die regter ventrikel die “gebruikte” bloed na die longe vir ’n vars lading suurstof, terwyl die linkerventrikel terselfdertyd die “vars” bloed na die res van die honger liggaam pomp.
So wonderbaarlik as wat hierdie gespierde kamers mag wees, sou hulle nie hul werk kon verrig sonder die vier eenrigtingkleppe wat oop en toemaak op presies die regte tydstip om die bloed in die regte rigting te laat vloei nie. Trouens, dit is die volmaakte tydsberekening met die sluiting van hierdie kleppe – in gesinchroniseerde pare – wat die bekende “loef-doef” klank van u hartklop veroorsaak. “Loef” – twee kleppe onder die atria klap toe wanneer die ventrikels bloed die liggaam instuur. “Doef” – daardie atriale kleppe heropen terwyl die ander paar kleppe toeklap sodat die ventrikels weer gevul kan word.
“Loef-doef ... loef-doef ... loef-doef ...” Daardie eenvoudige klank van u borskas verteenwoordig ’n ingewikkelde ontwerpte dans van spier, senuwee en klep wat u elke sekonde van elke dag aan die lewe hou!
Werk lewenslank hard!
Wanneer het hierdie dans begin? U hart het net drie weke nadat u verwek is begin klop, toe u nog net die grootte van ’n baie klein papawersaadjie was! Selfs voordat u ’n brein gehad het, het u hart alreeds hard gewerk aan die taak wat dit vir die res van u lewe sal verrig.
Probeer die volgende met bogenoemde in gedagte: Druk u hand vinnig in ’n stywe vuis en maak dit dan herhaaldelik oop en toe teen ’n tempo van 70 keer per minuut. Hoe lank neem dit voordat u hand en armspiere moeg en afgemat raak?
Neem dan in ag dat in vergelyking hiermee, die hart voortdurend werk met net ’n klein fraksie van ’n sekonde rus tussen elke hartklop. Ten einde hierdie (letterlik) onvermoeide taak te verrig, het God die hart met gespesialiseerde hartspiere toegerus wat 15 tot 30 keer meer “energie opwekkers” (mitochondria) per volume bevat as u ander spiere.
As gevolg van al hierdie werk spog die hart met ’n paar indrukwekkende statistieke! Vir iemand wat tot op die ouderdom van 75 jaar leef, sal die gemiddelde hart se werk uit meer as 2,7 miljard hartkloppe bestaan! Selfs in ’n enkele dag sal die meeste harte ongeveer 100,000 keer klop. Oor daardie 75 jaar, sal ’n hart meer as ’n miljoen vate bloed pomp – genoeg om twee tot vier langafstand olietenkskepe te vul!
Tog, so indrukwekkend soos dit alles is, moet die hart meer as ’n blote “pomp” wees om ons aan die lewe te hou. Dit moet “weet” wat die behoeftes van ons liggaam op enige gegewe oomblik is en in staat wees om onmiddellik met verandering in tempo te reageer – met uiterste presiesheid en akkuraatheid – om aan daardie behoeftes te voldoen. Indien dit nie gedoen word nie, sal selfs die eenvoudige handeling om regop te staan, disoriëntasie en selfs floute veroorsaak!
Dus, hoe “weet” die hart wat u doen? Om te “besluit” wat ons hartklop op enige gegewe oomblik moet wees, moet dit intelligent inligting uit drie bronne gelyktydig verwerk: Die brein, die hormoonvlakke in ons bloed en die hart se eie interne senuweestelsel – met sy eie versameling van ongeveer 40,000 neurone, byna soos die brein se eie neurone!
Saam met sy eie unieke senuweestelsel, het die hart sy eie interne kragbron! Gespesialiseerde bondels neurone in die hart genereer elke elektriese impuls wat die spiere laat saamtrek en reguleer ook daardie impuls om te verseker dat vloei deur die spiere vir ’n presiese fraksie van ’n sekonde halfpad vertraag word om sodoende die atria en ventrikels te sinkroniseer, een klop na die ander.
Meer geheime van die hart
Terwyl al hierdie dinge mag klink of ons die menslike hart ten volle verstaan – dit is een van die mees intens bestudeerde organe in die hele liggaam – bevat hierdie wonder van God se skepping nog steeds so baie raaisels.
In April 2016 het wetenskaplikes van die University of Waterloo, byvoorbeeld aangekondig dat dit wil voorkom asof daar ’n soort van korrelasie tussen die hartklop van individue en hulle wysheid bestaan. Hulle het bevind dat individue wie se harttempo ’n wyer variasie handhaaf ook meer geneig was om minder bevooroordeelde uitsprake vanuit ’n derde persoon se standpunt te toon.
Waarom sou ’n mens se hartklop op enige manier in verband gebring kan word met wysheid in persepsie en oordeelsvermoë?
Mens word in die versoeking gebring om aan Bybelverse soos Spreuke 2:10-11 te dink: “Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak”.
Hoe meer ons nadink oor hierdie verbasende wonderwerk wat in ons borskas klop, hoe meer mag dit dalk sin maak dat God dit sal gebruik om die middelpunt van ons emosies, gevoelens en sorgsaamheid te simboliseer – die middelpunt van ons lewe. Buitendien, net soos dit lewensbelangrik is om ’n fisies gesonde hart vir goeie gesondheid en ’n lang en aksiebelaaide lewe te onderhou, sê God ook aan ons: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23).
’n Bio-meganiese pomp van vernuftige ontwerp en ’n inligting-verwerkende masjien wat met verstommende akkuraatheid feitlik onmiddellik reageer– ons lewens is afhanklik van hierdie wonderbaarlike gekoördineerde, hoogs “intelligente” stelsel wat sy taak elke dag van ons lewens verrig sonder om te faal.
Wanneer dit nodig word dat u aan die grootheid van God herinner word en hoe Sy liefde vir ons deur Sy ontwerp duidelik word, dink daaraan om u vingers op u pols of nek te plaas en u polsslag vir ’n paar oomblikke te voel – luister na die ritmiese lied wat ons hart voortdurend aan sy merkwaardige Ontwerper sing. Laat elke polsslag wat u voel u herinner dat u werklik “vreeslik wonderbaar” geskape is (Psalm 139:14)!