Kan u uself ’n wêreld voorstel waar banke u betaal om ’n lening te maak? Wat kan daarmee verkeerd wees? Die skokkende waarheid is dat deflasie u finansies en u toekoms kan ruïneer!
Dit kan u rykdom steel en u wêreld omverwerp!
Die finansiële wêreld is onderstebo! Kan u uself ’n wêreld indink waar banke u op u spaargeld laat rente betaal en u betaal om ’n lening te maak? Terwyl die meeste mense oor “hiper-inflasie” bekommerd was, word ’n nuwe tendens – deflasie – in Europa ervaar en het dit selfs ’n uitwerking op die Verenigde State. Wat sal dit vir u en u toekoms inhou?
Onlangs het banke in Spanje, Portugal en ander dele van Europa werklik rente aan hulle leners betaal – eerder as aan die deponeerders! Hierdie verskynsel word “negatiewe rente” genoem en hoewel dit ’n bietjie ingewikkeld is, behoort u te weet hoe dit werk!
Negatiewe rente kan op verskeie maniere voorkom. In Europa het sommige nasies en korporasies skuldbriewe uitgereik wat minder terugbetaal as wat geleen was, wat dus ’n negatiewe opbrengs vir die belegger tot gevolg gehad het.
Vroeg in 2015 het die Washington Post berig dat “in Europa se dapper, nuwe, deflasionêre wêreld ... word Frankryk, Finland, België, Denemarke, Nederland en Duitsland almal deur beleggers betaal – dit beteken effektekoerse is negatief – vir lenings van tot vier en soms selfs ses jaar. Switserland word selfs betaal om vir tien jaar te leen. Dit het nog nooit voorheen êrens gebeur nie. Dit is egter nie net regerings wat mense betaal vir die voorreg om aan hulle te leen nie. Dit is maatskappye ook. Of, ten minste een van hulle: Nestlé. Sy €500 miljoen skuld wat in Oktober 2016 terugbetaalbaar is, het die eerste korporatiewe effekte van ’n jaar of langer geword wat ’n negatiewe opbrengs het ... Waarom sou mens ooit vir Nestlé, of vanselfsprekend vir enigiemand anders, betaal om van jou geld te leen? Wel, omdat daar nie genoeg inflasie en nie genoeg effekte is nie. Dit maak meer sin indien mens kyk in watter geldeenheid Nestlé leen, naamlik die Euro. Pryse val tans teen 0,6% in die Eurosone, dus sal ’n euro môre meer werd wees as vandag. Dit beteken dat dit kan sin maak om geld vir niks of selfs negatiewe bedrae uit te leen. Dit is omdat die Euros waarmee daar terugbetaal word, meer werd sal wees as die Euros waarmee vandag terugbetaal word. Dus kan u geld verloor, maar nog steeds geld maak, solank die waarde daarvan styg” (Matt O’Brien, “This is crazy: Nestle is getting paid to borrow money”, WashingtonPost.com, 4 Februarie 2015).
Die Bybel sê: “... en hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7), maar negatiewe rente klink soos die teendeel! Trouens, negatiewe rentekoerse is ’n simptoom van ’n veel groter ekonomiese probleem wat en waarmee ekonome en regerings sukkel om te verstaan en te hanteer. Dit is ’n probleem wat buite beheer kan spiraal en nasionale ekonomieë kan lamlê omdat soewereine skuld in die afgelope jare opgehoop het. Die wysheid van God se Woord verander nie en soos Spreuke dit stel, kan die lener inderdaad die slaaf van die man word wat uitleen!
Waarom ’n lener betaal om ’n lening te maak?
Waarom sou enigiemand wat geld uitleen die lener wou betaal om die lening te aanvaar? Die antwoord is deflasie. Deflasie is die teenoorgestelde van inflasie en vir ’n groot deel van die vorige eeu het die meeste ekonomieë in die wêreld net inflasie ervaar. Inflasie ontstaan wanneer die waarde van geld daal en die pryse van verskillende goedere en dienste styg. ’n Dollar, peso of euro koop al hoe minder in hierdie geval, omdat inflasie die koopkrag van geld verminder.
Met deflasie verhoog die waarde van geld egter en die pryse van goedere daal. U geld koop al hoe meer. Dit mag na ’n goeie ding lyk, maar in die praktyk kan dit lei tot ’n “deflasionêre spiraal” en ernstige ekonomiese agteruitgang. Die Groot Depressie van die 1930’s is deur deflasie gekenmerk. Kan die moontlikheid van deflasie negatiewe implikasies vir die VSA se ekonomie inhou, veral in ag genome dat die VSA massiewe skuld in die laaste dekade opgehoop het? Dit is die moeite werd om dit in aanmerking te neem.
In deflasionêre tye loon dit beleggers om kontant te hou of dit in hoë gehalte obligasies te belê. Die rede hiervoor is dat die kontant mettertyd al hoe meer werd sal wees, of die skuld sal met dollars, pesos of euros terugbetaal moet word wat meer werd sal wees as dit wat aanvanklik geleen was. Met inflasie is leners geneig om te verloor omdat die waarde van die aanvanklike bedrag van die lening verminder, maar met deflasie is leners geneig om daarby te baat – ten koste van die uitleners. In ’n deflasionêre ekonomie sal leners dikwels bereid wees om ’n negatiewe rentekoers te aanvaar, omdat die toename in waarde van die geld nog steeds aan hulle ’n “opbrengs” op die belegging gee. Negatiewe rentekoerse is dikwels ’n simptoom van deflasionêre verwagtings.
Die finansiële naslaanbron, Investopedia, verduidelik: “Gedurende deflasionêre periodes is persone en besighede geneig om geld op te gaar eerder as om dit uit te gee of te belê. Die resultaat is ’n ineenstorting in die totale aanvraag wat tot pryse lei wat selfs verder daal, ’n verlangsaming of totstilstandkoming in reële produksie en uitsette asook ’n toename in werkloosheid” (Artikel, “Negative Interest Rate Policy”). Dit is ’n deflasionêre spiraal en dit kan vir ’n regering moeilik wees om dit om te keer. Die deflasie en ekonomiese inkrimping kan op mekaar teer en so resessie of selfs depressie vererger.
Regerings probeer dikwels om deflasie deur ’n verlaging van rentekoerse te bekamp. “’n Losse of uitgebreide monetêre beleid word gewoonlik ingespan om met so ’n ekonomiese stagnasie te deel. Wanneer deflasionêre kragte nogtans sterk genoeg is, mag vermindering van die sentrale bank se rentekoers na zero persent nie voldoende wees om leen en uitleen te stimuleer nie. ’n Negatiewe rentekoers beteken dat die sentrale bank en moontlik selfs privaat banke negatiewe rente sal hef: In plaas daarvan om geld vir deposito’s te ontvang sal deponeerders gereeld moet betaal om hulle geld in die bank te hou. Die doel is om banke aan te moedig om geld meer vrylik uit te leen en besighede en individue aan te spoor om te belê, te leen en geld te spandeer eerder as om ’n fooi te betaal om dit veilig te bewaar” (ibid.).
Hierdie benadering kan beperkte ekonomiese doeltreffendheid hê en daar is net soveel wat ’n zero of negatiewe rentekoers kan doen om die aanvraag te stimuleer. Deflasionêre spirale kan moeilik wees om te beheer, gevolglik is regerings baie bang vir deflasie. Die meeste regerings sal eerder lae inflasie verkies – moontlik 2% of so – omdat hulle voel dit is meer hanteerbaar.
Op sy webwerf verduidelik die VSA Federale Reserweraad sy inflasiebeleid: “Waarom mik die Federale Reserweraad vir 2% inflasie met verloop van tyd? Die Federal Open Market Committe (FOMC) is van mening dat inflasie teen die koers van 2% ... oor die lang duur meer in ooreenstemming is met die mandaat van die Federale Reserweraad vir prysstabiliteit en maksimum indiensneming. Mettertyd sal ’n hoër inflasiekoers die publiek se vermoë verminder om ekonomiese en finansiële besluite akkuraat te neem. Aan die ander kant sou ’n laer inflasiekoers met ’n verhoogde waarskynlikheid van vervalling in deflasie geassosieer word, wat beteken dat pryse en moontlik loon-gemiddeldes sal daal – ’n verskynsel wat met baie swak ekonomiese toestande verband hou. Indien daar ten minste ’n lae vlak van inflasie is, maak dit die waarskynlikheid minder dat die ekonomie nadelige deflasie sal ondervind wanneer ekonomiese toestande verswak. Die FOMC implementeer ’n monetêre beleid om te help dat ’n inflasiekoers van 2% oor die medium-termyn gehandhaaf kan word” (“Why does the Federal Reserve aim for 2 percent inflation over time?” Federalreserve.gov, 26 Januarie 2015).
Hoe suksesvol was die Fed met die implementering van hierdie inflasionêre beleid? Nie baie nie! The Wall Street Journal berig: “Die Federale Reserweraad se verkose maatstaf vir inflasie het in Februarie vir 34 agtereenvolgende maande tekortgeskiet aan die sentrale bank se 2% teiken. Die prysindeks vir persoonlike verbruikers-uitgawes was slegs 0,3% hoër as ’n jaar tevore, het die Departement van Handel gesê ... Die laaste lesing bo 1% was in November” (Jeffrey Sparshott, “U.S. Inflation Undershoots the Fed’s 2 Percent Target for the 34th Straight Month”, Blogs.WSJ.com, 30 Maart 2015).
Waarom die “reële” rentekoers saak maak, nie die “nominale” koers nie?
Om negatiewe rentekoerse te verstaan, is dit belangrik om te weet wat die verskil tussen “nominale” en “reële” rentekoerse is. Die nominale rentekoers is die spesifieke persentasie rentekoers wat vir betaling ooreengekom is. Eenvoudig gestel, ’n 30-jaar VSA regering Tesourie obligasie mag’n “nominale” (kontraktuele) rentekoers van 3% op die obligasie hê. Dit sal hierdie koers tot op sy vervaldatum betaal, wanneer die totale aanvanklike bedrag aan die obligasiehouer terugbetaal is.
Die “reële” rentekoers op dieselfde obligasie is ’n bietjie meer ingewikkeld en kan van die nominale koers verskil wat op die obligasie vermeld word. Die “reële” rentekoers – of opbrengs – word gewoonlik beskou as die opbrengs wat die belegger ontvang nadat die nominale koers vir inflasie aangepas is. Byvoorbeeld, indien u ’n 3% obligasie hou tydens 2% inflasie, is u “reële” opbrengs slegs 1%. Dit is omdat die rente wat aan u betaal word 2% minder waarde het as gevolg van inflasie.
Reële Rentekoers = Nominale Rentekoers minus Inflasie.
Inflasie verminder dus reële opbrengste. Wat gebeur dan met reële opbrengste wanneer daar deflasie is? Reële opbrengste vermeerder. Deflasie is “negatiewe inflasie”, dus ...
Reële Rentekoers = Nominale Rentekoers plus Deflasie.
Indien ’n obligasie dus ’n negatiewe opbrengs van minus 1% het en deflasie is 3%, is die reële koers van opbrengs ’n positiewe 2% vir die belegger. Indien u verkies, kan u geld maak deur net kontant op hande te hou! Tydens deflasionêre tye, doen mense dikwels presies net dit – maar dit onderdruk die ekonomie nog verder.
Negatiewe rentekoerse in Europa
Sommige lande in die Europese Unie het in onbekende finansiële terrein inbeweeg, te wyte aan deflasie en onder-zero rentekoerse. Die Wall Street Journal het oor die situasie in sommige Europese lande berig: “Tuimelende rentekoerse in Europa het sommige banke in ’n onbenydenswaardige posisie geplaas: Deur geld op lenings aan leners te skuld ... Minstens een Spaanse bank, Bankinter SA, die land se sewende grootste uitlener teen markwaarde, het aan sommige kliënte rente op verbande betaal deur daardie bedrag van die aanvanklike bedrag wat die lener skuld af te trek” (“Tumbling Interest Rates in Europe Leave Some Banks Owing Money on Loans to Borrowers”. WSJ.com, 13 April 2015).
Dit mag belaglik klink, maar deflasie werk op daardie manier!
Dit raak al hoe meer belaglik! In Portugal beweeg sommige banklenings oor ’n indeks, soos hulle ook dikwels in die VSA en ander lande doen. Wanneer die indeks laer as zero daal, word die koers vir baie leners negatief en die banke is aan hulle leners rente verskuldig!
Die Wall Street Journal berig: “Banke stel rentekoerse op baie lenings vas as ’n klein persentasie bo of onder ’n maatstaf soos Euribor. Wanneer koerse daal, soms tot onder zero, word sommige banke met die paradoks gekonfronteer deur rente te moet betaal aan diegene wat by hulle geld geleen het ... Portugal se sentrale bank het onlangs beslis dat banke rente op die bestaande lenings sal moet betaal, indien Euribor plus enige addisionele verspreiding tot onder zero val. Die sentrale bank het egter gesê dit staan uitleners vry om in toekomstige kontrakte ‘voorkomende maatreëls’ te tref. Meer as 90% van die 2,3 miljoen uitstaande verbande in Portugal het veranderlike koerse wat aan Euribor gekoppel is” (ibid.).
Het die banke die slawe van sy Portugese leners geword? Beswaarlik. Die negatiewe rente help, maar die inkomste van leners devalueer en hulle betaal ’n vaste numeries leningsbedrag met pesos af wat meer waardevol is as dié wat geleen is. Nie ’n goeie transaksie nie. In deflasie kan die vaste skulde ’n lener se ondergang beteken.
Negatiewe rentekoerse in die VSA
Sommige VSA Tesourie Inflasie-Beskermende Sekuriteite (TIPS) se opbrengste is in ’n negatiewe area sedert 2011. Dit verwys dan na nominale opbrengste. Baie Amerikaanse Tesourie sekuriteite in die VSA het vir jare negatiewe reële opbrengste gehad. Verbruikers word ook daardeur geraak. Indien u geldmarkrekening se opbrengs 0,2% is wanneer daar 2% inflasie is, dan lewer dit ’n negatiewe reële opbrengs van minus 1,8%. Alhoewel die VSA tans nie deflasie ervaar nie, is negatiewe reële opbrengste deesdae algemeen in die VSA.
Deflasie kan ondergang tot gevolg hê!
Inflasie en deflasie raak mense baie verskillend. In die 1970’s en 1980’s was daar heelwat inflasie in die ekonomie van die VSA. Mense wat vaste eiendom besit het, het gesien dat die waardes van die eiendomme dramaties verhoog, terwyl die bedrae van die lenings op die eiendomme onveranderd gebly het. Die leners is dus bevoordeel terwyl die uitleners verloor het. In deflasie is die situasie egter net mooi omgekeerd. Die vaste skuldbedrag moet met valuta afbetaal word wat in waarde toeneem, wat veroorsaak dat die las van die skuld net aanhou groei. Tydens deflasie kan dit skuldleners se ondergang tot gevolg hê soos dit in die Groot Depressie van die 1930’s gebeur het. Wanneer daar bekommernisse oor deflasie is, is besighede en huishoudings geneig om hulle skuld af te betaal – sogenaamde “deleveraging” [skuldvermindering deur bates te verkoop] – soos wat dit algemeen voorgekom het in die afgelope jare in die VSA en in sommige EU-lande.
In die vroeë 1930’s het deflasie tot onder 10% gedaal, wat beteken het dat die uitwerking van persoonlike, besigheids- en soewereine-skuld ondraaglik swaar vir leners geword het. Die werkloosheidsyfer het tot ’n verbysterende 25% in die VSA gestyg en selfs erger in ander lande. Daar was groot lyding. Enigiemand wat ’n bietjie geld gehad het, het dit opgegaar, dus was daar al hoe minder geld in omloop. Geen oplossing was in sig nie. Die Tweede Wêreldoorlog het egter sommige ekonomieë tot volle indiensneming laat herstel en toe die oorlog verby was, het baie ekonomieë herstel om goeie groei in die 1950’s te ervaar.
In moderne tye het die nasie van Griekeland gesien hoe hulle soewereine skuldlas die hoogte inskiet en toe hulle uiteindelik uit krediet geraak het, het die Griekse ekonomie deflasie van meer as 2% ervaar. Kan dit met ander Westerse nasies gebeur?
Deflasie en die VSA se skuld: Toekomstige gevaar?
Soos voorheen genoem, het die VSA se Federale Reserweraad ’n geteikende jaarlikse inflasiekoers van 2%, maar was nie in staat om dit te bereik nie. Dit het by ’n monetêre beleid wat “Kwantitatiewe Verligting” genoem word ingeskakel, waar die ekonomie met biljoene dollars oorstroom is. Normaalweg sou dit stygende inflasie meegebring het, maar tot die verbasing van die meeste ontleders, het inflasie baie laag gebly. Kommer oor die Amerikaanse ekonomie wat in deflasie kan ingaan, was algemeen uitgespreek. Daar moet op gelet word dat sommige ontleders nog steeds inflasie vir die toekoms voorspel. Niemand weet met sekerheid nie.
Gedurende die afgelope jare het die VSA se totale soewereine skuld die hoogte ingeskiet. Dit oorskry tans $18biljoen, met geen einde van sy groei in sig nie. Daardie bedrag weerspieël wat verskuldig is aan beide buitelandse en binnelandse verpligtings en is byna 100% van die land se bruto binnelandse produk. Dit is ongeveer vyf keer die regering se jaarlikse belastinginkomste.
Die VSA Tesourie reik skuld uit met ’n verskeidenheid van termyne – sommige korttermyn, sommige mediumtermyn en ander langtermyn. Langtermyn obligasies mag eers na ’n paar dekades in die toekoms opeisbaar word. Aangesien rentekoerse op historiese laagtepunte was, was die neiging om van die korter termyne na die langer termyne te verskuif. Wat sal met die VSA se skuldlas in ’n deflasionêre omgewing gebeur? Die waarde van daardie skuld sal toeneem en die “reële rentekoers” sal die hoogte inskiet. Dit kan ’n verpletterende las vir die VSA se Tesourie en die VSA se belastingbetaler wees.
Bybelprofesie openbaar die “toekomstige geskiedenis” van hierdie huidige wêreld en die rolle wat die vername nasies van vandag gaan speel namate die Bybelse verhaal van die einde van hierdie tydperk afspeel. Die Wêreld van Môre het lank reeds die opkoms van ’n groot Europese ekonomiese mag voorspel wat die wêreld-ekonomie in daardie tyd sal oorheers. Die Wêreld van Môre voorspel egter nie die spesifieke koers wat die VSA en verskeie wêreld-ekonomieë sal inslaan – of die tydsberekening daarvan nie en probeer ook nie om beleggingsadvies te gee nie. Ons lesers behoort egter wel bewus te wees van vandag se baie ongewone ekonomiese toestande in die wêreld en hoe dit deur die twee verskynsels van deflasie en negatiewe rentekoerse in sommige lande geraak word. Soos die skielike ekonomiese ineenstortings van 1929 en 2007 getoon het, kan die ekonomie vinnig verander!
Die Bybel sê: “... en hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7). Kan ’n nasie wat ’n “dienskneg van die sonde” is (Johannes 8:34) homself in ’n vorm van fisiese slawerny bevind? Sal deflasie ’n verpletterende skuldlas vir die VSA tot gevolg hê? Kan die VSA ooit $18 biljoen terugbetaal, veral in ’n deflasionêre omgewing? Die tyd sal wel leer, maar van een ding kan ons seker wees, op die ou einde sal die uitleners aandring om betaal te word!