Op 1 Julie 1867 het Kanada se Konfederasie vier oostelike provinsies saam verbind om ’n nuwe en verenigde land te vorm. Om toegang te verkry, is die provinsies van Nova Scotia en Nieu Brunswick verseker dat ’n spoorlyn voorsien sal word om hulle met die twee Middel-Kanadese provinsies – Quebec en Ontario – te verbind.
Manitoba, die provinsie direk wes van Ontario, het later in 1870 by die Konfederasie aangesluit. In 1871 is Brits-Columbië aan die verre weskus oorreed en uitgelok om by die jong Konfederasie aan te sluit, maar slegs met die uitdruklike belofte dat ’n transkontinentale spoorlyn binne tien jaar gebou sou word om oos en wes fisies te verbind. ’n Nasiebou poging van kus tot kus was in wording.
Binne vier jaar van die Konfederasie het die Kanadese nasie wat destyds ’n bevolking van ver onder die vier miljoen mense gehad het, bepaal dat dit die wêreld se langste spoorlyn oor “leë” – onbekende en relatief onbevolkte land – sal bou. Soos in die meeste moedige ondernemings, het almal nie saamgestem nie. Trouens, baie mense het die plan as voortvarend en selfs roekeloos bestempel. Sommige mense het selfs daarna verwys as “waansinnige roekeloosheid”.
Gedurende die 1870’s was Kanadese van alle groepe – politici en joernaliste, kontrakteurs, bankiers, landmeters en die gemiddelde werkende man – dus óf besig om te veg vir die spoorlyn, óf onversetlik daarteen gekant. Sou hierdie nasionale droom op ’n nagmerrie uitloop?
’n Nasionale droom
Die spoorlyn se aanvanklike konstruksie is deur omstredenheid gekenmerk. Daardie omstredenheid sou uiteindelik die Konserwatiewe regering van Kanada se eerste Eerste Minister, John A. Macdonald, tot ’n val bring en in 1873 ’n verkiesing afdwing. Teen die tyd dat Macdonald in 1878 weer aan bewind gekom het, was die projek ernstig agter skedule en in gevaar om nooit voltooi te word nie. Alles was egter nog nie verlore nie, ’n groep sakelui het uiteindelik ’n sindikaat gevorm, vasbeslote om hierdie nasionale droom te voltooi.
Die volgende geskiedenis vanuit die Canadian Pacific webwerf behoort ons oor die saak in te lig: “Op 21 Oktober 1880 het ’n groep Skots-Kanadese sakelui uiteindelik ’n lewensvatbare sindikaat gevorm om ’n transkontinentale spoorlyn te bou. Die Canadian Pacific Railway Company is op 16 Februarie 1881geregistreer, met George Stephen as die eerste president.
“Die 1881 konstruksie-seisoen was ’n ramp en die hoofingenieur en algemene superintendent van die spoorlyn is aan die einde van die seisoen afgedank, nadat slegs 211 km (131 myl) van die spoorlyn gebou is. Sindikaat-lid en direkteur James Jerome Hill het voorgestel dat William Cornelius Van Horne die man was wat die werk gedoen sou kry.
“Canadian Pacific Railway is in 1881 gestig met die ontsaglike potensiaal om Kanada se bevolkte sentra met die relatief onbevolkte Weste te verbind. Hierdie ongelooflike ingenieursprestasie is op 7 November 1885 voltooi – ses jaar voor skedule – toe die laaste pen by Craigellachie, BC ingeslaan is” (“Our History”, Canadian Pacific, www.cpr.ca, 2015).
Op 7 November 1885, is die oostelike en westelike gedeeltes van die Canadian Pacific Railway uiteindelik met mekaar verbind toe ’n man met die naam van Donald A. Smith die “laaste pen” ingeslaan het.
Die besluit om voort te gaan ten spyte van onverbiddelike en by tye kwaai teenstand, sou later blyk om die regte een vir die land te wees – ’n besluit wat bestem was om die lewens van elke man, vrou en kind in Kanada te verander en die toedrag van sake vir die nasie te verander. Dit sou ’n fisiese oorbrugging van ’n gaping wees en sou ’n uitgestrekte land saamsmelt deur mense geredelik saam te snoer en die groot natuurlike hindernisse van Kanada se wildernis te oorkom.
Ander hindernisse bestaan egter tot vandag toe.
’n Droom vir die toekoms
In hierdie wêreld is daar baie dinge wat nasies en volke verdeel en baie van hulle is groter as selfs geografiese hindernisse soos die see, berge en die groot uitgestrektheid van land. Godsdiens, kulturele verskille, politieke oortuigings en nasionale agendas dryf mense en nasies dikwels weg van die hoop van ware eenheid.
Die bou van ’n spoorwegstelsel, hoewel op baie maniere voordelig, bied nie die weg om ware vrede en eenheid tussen nasies te bereik nie, selfs nie eers binne die grense van een nasie nie. Die mensdom, in sy begeerte na eenheid en voorkoming van oorlog, het wêreldorganisasies soos die Verenigde Nasies en sy voorganger die Volkebond gestig, met die doel om eenheid en vrede tussen nasies te handhaaf. Vandag hoor ons selfs van die begeerte om ’n “Een Wêreldregering” te hê.
Kan die mens – wat sukkel om selfs ’n spoorlyn van kus tot kus te bou – ooit hoop om daardie enkele wêreldregering en die eenwording van al die nasies te bereik? Die geskiedenis het herhaaldelik die onvermoë van die mensdom om dit te kan doen getoon.
God se Woord praat daarvan dat dit werklik sal gebeur; nie deur die metodes en idees van feilbare mense nie, maar onder die direkte heerskappy van Jesus Christus, deur ’n “Een Wêreldregering” wat u Bybel die Koninkryk van God noem. Die teruggekeerde Jesus Christus sal die gaping tussen nasies en volke oorbrug.
Hoe sal dit gedoen word?
Ons lees in Jesaja 11:9: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek”. God se Wette, wanneer dit na behore gevolg en gehoorsaam word, sal die wyse wees waarop eenheid bereik sal word en die mens se hartewens en drome vervul sal word: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).
God is vasbeslote om wêreldvrede en eenheid onder die nasies teweeg te bring, op Sy manier – wat die heel beste manier is, soos die wêreld sekerlik sal sien. Jesaja 19:23-25 beskryf ’n voorbeeld van die samesyn en eenheid en ’n oorbrugging van die gaping wat bereik sal word tydens die bewind van die Koning van die konings: “In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!”
In daardie tyd sal die mense van hierdie wêreld baie meer as ’n vervulde “nasionale droom” deur fisiese middele ervaar. Hulle sal uiteindelik die werklikheid van ware vrede en harmonie ervaar – en die einde van alle tweedrag en wedywering onder die nasies, wanneer Jesus Christus weer kom om Sy wêreldregerende heerskappy te vestig.
Dit is waarom Christus ons beveel om daagliks te bid: “... laat u koninkryk kom”.