Om te doen wat reg is en om dit wat verkeerd is agter te laat, was nog altyd 'n uitdaging, maar vir vandag se jeug is dit 'n reuse uitdaging om selfs net te weet wat die verskil tussen die twee is. Ongelukkig is hierdie probleem nie net beperk tot die jeug nie, en wanneer volwassenes morele waarheid nie behoorlik kan verdedig nie, is dit geen wonder dat hul kinders hulle in 'n morele “niemandsland” tussen reg en verkeerd bevind nie. Let op die volgende uit The Barna Update (3 November 2003):
Van die tien morele optredes wat evalueer is, het 'n meerderheid van Amerikaners geglo dat drie van die aktiwiteite moreel aanvaarbaar is. Dit het ingesluit dobbel (61 persent), saamwoon [voor die huwelik] (60 persent) en seksuele fantasieë (59 persent). Bykans die helfte van die volwasse bevolking het gevoel dat twee ander optredes moreel aanvaarbaar is: om 'n aborsie te ondergaan [om jou eie ongebore kind te vermoor] (45 persent) en om 'n seksuele verhouding te hê met iemand van die teenoorgestelde geslag buiten hul eggenoot [owerspel] (42 persent).
Barna berig verder dat saamwoon aanvaarbaar geag is deur 49 persent – bykans die helfte – van almal wat hulself “wedergebore Christene” noem. Dit is 'n duidelike aanduiding dat morele relativisme algemeen geraak het en dat dit God vervang as die arbiter van reg en verkeerd. In Westerse nasies glo die meerderheid van mense nie meer dat God 'n objektiewe en absolute waarheid vir almal omskryf nie. Pleks daarvan glo die meeste mense dat individue hul eie waarhede moet omskryf, wat subjektief en volgens omstandighede is. Watter siening is korrek? Hoe kan jy weet? Is moderne maatskaplike filosowe korrek wanneer hulle aanvoer dat waarheid van persoon tot persoon verskil – dat daar geen volstrektheid is nie en dat daar geen objektiewe waarheid is nie? Of is daar 'n objektiewe morele waarheid, onthul deur 'n absolute Skeppergod, wat op alle mense en alle generasies van toepassing is?
Baie mense het nie besef dat die Bybel 'n objektiewe manier gee om te weet wat die antwoord is nie. Die woorde van daardie merkwaardige boek vertel ons dat die waarheid objektief, volstrek en dieselfde vir alle mense en generasies is (Psalm 117; 100:5; 119:30). Verder leer dit ons hoe ons dit as waar kan bewys.
Jesus waarsku: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mattheus 7:15). Sekulêre vals profete het gepoog om die mensdom te “bevry” van wat hulle dalk “onderdrukking” of “bedwinging” noem – maar indien ons eerlik wil wees, moet ons erken dat dít waarvan hulle ons wil bevry, juis God se Wet is soos dit in die Bybel omskryf word! Hierdie “bevryders” het egter 'n probleem, soos die apostel Petrus verduidelik: “Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid dié wat ... in dwaling wandel. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword” (2 Petrus 2:18-19).
Jesus Christus onderrig ons hoe om die verskil te ken tussen 'n vals profeet en een wat die waarheid verkondig: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheus 7:15-20). Wanneer 'n eksperiment in ons wetenskaplike era keer op keer misluk, sal die resultaat aangeteken word en die eksperiment laat vaar word. Waarom weier hedendaagse maatskaplike ingenieurs dan om die mislukking van so baie van hul maatskaplike eksperimente te erken – en, trouens, gaan hulle voort om hul mislukte idees te bevorder?
Freud, Kinsey en 'n trop soortgelyke sekulêre profete het 'n boodskap van vryheid van seksuele selfbeheersing verkondig. Vir dekades het hul dissipels voortgegaan om oor God se wette van seksuele reinheid te filosofeer, te redeneer, te eksperimenteer, dit te verkleineer en daarteen te preek. Indien, soos hulle sê, ons slegs vry sal wees as ons alle selfbeheersing afskud, waarom sien ons dan soveel hartseer, swaarkry en dood weens navolging van hul misleide amoraliteit? Indien ons die wetenskaplike metodiek volg, deur die resultate van hul eksperimente te evalueer, wat moet ons logiese afleiding wees? Enige opregte en objektiewe waarnemer kan uit ervaring sien dat wanneer 'n samelewing homself oorgee aan losbandige gedrag, die gevolge die volgende is: seksueel oordraagbare siektes, ongewenste babas, deurmekaar en verwarde gesinsverhoudings en wanaangepaste kinders – en dood weens selfmoord, siekte en moorddadige “liefdesdriehoeke”.
Kan 'n man homself werklik “bevry” noem wanneer sy liggaam 'n ongeneeslike seksueel oordraagbare siekte het? Weet 'n vrou wat dit beteken om “vry” te wees wanneer sy met die skuld saamleef dat sy haar eie hulpelose ongebore baba vermoor het? En waar is die vryheid vir die onskuldige kinders wat geraak word deur hul ouers se “vryheid”? Party van hulle leef met blindheid of ander geboortedefekte as gevolg van seksueel oordraagbare siektes. Ander word groot met net een ouer – of dalk drie of vier – weens hul ouers se versuim om 'n gesonde en liefdevolle huwelik te behou.
In vergelyking met God se Wet, is die persoonlike omskrywings van die waarheid ontoereikend. Soos skrywer Josh McDowell uitwys: “In die gedagtes van ons jeug, maak liefde seks 'reg'. Hulle glo dat ware liefde seks heeltemal moreel maak – selfs pragtig. Ek glo dat hulle wel reg is – liefde is die Bybelse standaard vir seks. Die probleem ... is dat ons jeug se vals standaard van liefde – een wat sê dat liefde seks sonder grense toelaat, buite God se definisie van liefde val” (Right from Wrong, bl. 152).
In vandag se samelewing neig oud en jonk eweneens om te dink aan liefde as 'n emosie of gevoel wat 'n mens ervaar, eerder as 'n opregte spontane besorgdheid wat 'n mens teenoor iemand anders toon. Met 'n misleide definisie vir “liefde”, is dit 'n kort tree na ander foute. “Liefde” sonder grense verwar die definisie en doel van die huwelik. “Meer as die helfte van ons jeug omskryf die huwelik en gesin in vloeibare, newelagtige terme ... sewe uit tien (69 persent) omskryf die gesin as 'mense wat saam woon' of 'mense wat dieselfde doelwitte en waardes het,' definisies wat geen verbintenis, geen risiko inhou nie” (ibid., bl. 187, klem ons eie).
Verbasend genoeg het baie godsdiensleiers hierdie verkeerde mentaliteit aangemoedig, wat liefde sonder die wet bevorder, wanneer hulle volhou dat God se gebooie mee “weggedoen” en vervang is met “die wet van liefde”. Wanneer mense “liefde” in hul eie terme omskryf, eerder as deur God se Wet, gaan die Bybelse parameters vir seksualiteit – en inderdaad vir die waarheid self – gou verlore. Dit is geen wonder dat so baie kinders ongevalle raak van 'n wêreld wat nie weet waar om te soek na antwoorde op die lewe se belangrikste vrae nie.
God is nie skynsedig nie. Hy het seks geskep as 'n wonderlike geskenk wat, in die huwelik, geniet moet word tussen 'n man en 'n vrou wat hul lewens openlik tot mekaar verbind het. Hy weet dat liefde wonderliker is wanneer dit bewaar word vir daardie een spesiale persoon. Hy het van die begin af verklaar dat 'n paartjie eers man en vrou word, voordat hulle een vlees word (Genesis 2:24), en dat die huwelik “in alle opsigte eerbaar [moet] wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4).
Al hoe meer jongmense herken nou dat vandag se samelewing 'n gemors gemaak het en is op soek na 'n beter manier van doen. Hulle het die gevolge gesien van hedendaagse onsedelikheid en sê “Nee, dankie!” Hulle soek na ander jongmense wat volgens God se hoër standaarde wil leef en deursoek die Skrif vir vaste bewysbare waarheid en pas die weg van God se Koninkryk vandag toe.