Wat is die ware betekenis van die aborsiegeskil?


Die onderwerp van aborsie het die afgelope 40 jaar op die wêreldtoneel losgebars en internasionale geskille ontlok—mense gepolariseer, lande verdeel en kerke teen state in opstand laat kom. Ywerige ondersteuners van aborsie, wie hulself “pro-keuse” noem, debatteer en hou opmarse met passie en ywer, in opposisie tot ewe ywerige teenstanders van aborsie, naamlik “pro-lewe.” Konfrontasies tussen hierdie twee perspektiewe is dikwels emosioneel en bitter, soms selfs gewelddadig of noodlottig! Oorloglinies is getrek. Een waarnemer maak die opmerking dat “min strydpunte die hedendaagse samelewing deegliker laat verbrokkel het” (The Ethics of Abortion, Baird & Rosenbaum, bl. 7).

Om hierdie emosiebelaaide twispunt te verstaan, is dit nuttig om te weet waarom aborsie in ons tyd as so 'n omstrede onderwerp aan die lig gekom het, en om te besef wat uiteindelik op die spel is. Selfs nog belangriker is die vraag: “waarheen lei die aanvaarding van aborsie ons samelewing?

Waarom het aborsie vandag in baie lande van die wêreld 'n omstrede onderwerp geword? Aborsie is vir eeue lank in baie lande om die wêreld verag en verbied. Tog was aborsie in die laaste helfte van die 20ste eeu nie net aanvaar nie—dit was aangegryp! Met die kleiner invloed van Judeo-Christenwaardes en die gevolglike verwerping van Bybelse moraliteit, het baie mense hulle tot bandelose seksuele gedrag gewend en “voortplantingsregte” het die saamtrekkreet geword namate vroue van hul tradisionele geslagsrol afstand gedoen het en seksueel losbandige mans plesier gesoek het sonder enige agting vir die gevolge. Terselfdertyd, te midde van vrese van wêreldwye oorbevolking, het regerings aborsie begin subsidieer en dit soms selfs—soos in China—as 'n metode van “geboortebeperking” vereis.

Die Verenigde State is meer as die meeste ander lande verdeeld oor die kwessie rondom aborsie, aangesien talle mense nog die Bybelse standaarde van moraliteit respekteer. In Europa ontketen aborsie 'n baie minder lewendige debat aangesien slegs sowat 10 persent van die bevolking op gereelde grondslag kerkdienste bywoon, in vergelyking met byna die helfte van mense in die VSA.

’n Wêreldwye aangeleentheid

In die VSA, word pro-lewe aktiviste gemotiveer deur die omvang van die aborsieprobleem, tog is die wêreldwye probleem selfs groter. Sedert die Amerikaanse Hooggeregshof aborsie gewettig het met die Roe vs. Wade uitspraak in 1973, is ongeveer 1,5 miljoen aborsies jaarliks gedoen—wat beteken dat meer as 40 miljoen jong lewens verwoes is! Meer as 6 miljoen babas is in Brittanje om die lewe gebring sedert aborsie in 1967 daar gewettig is. In die gewese Sowjet-Unie en Oosblok-lande, word die meeste swangerskappe deur aborsie beëindig. In China, waar aborsie in 1957 gewettig is, het meer as 100 miljoen aborsies gedurende die afgelope vier dekades plaasgevind. In 1979 het China 'n “een kind” beleid aanvaar wat die meeste ouers se kanse om 'n tweede kind te hê, erg beperk het. Met die ontwikkeling van sonartegnologie (waardeur ouers kan uitvind wat die geslag van 'n kind in die baarmoeder is) het die verskynsel van “geslagselektiewe” aborsies gekom, waar gesinne wat beperk is tot een kind, hul ongebore dogter sal doodmaak sodat hulle 'n seun kan hê. Dit is dus nie verrassend dat waarnemers sê dat die huidige geslag jong stedelike Chinese uit merkbaar meer mans as vroue bestaan nie!

In baie lande—veral in Afrika en Latyns-Amerika—word aborsies alledaags onder sulke onveilige omstandighede gedoen dat die moeder 'n ernstige risiko van komplikasies en lyding, of selfs die dood trotseer.

Na raming word wêreldwyd tussen 40 en 50 miljoen aborsies jaarliks uitgevoer (sien The Abortion Debate, Kulczycki, bl. 5). Dit beteken dat om en by een uit elke vier swangerskappe beëindig word deur geïnduseerde aborsie—vergiftig, versnipper of uitgesuig en van ontslae geraak word!

In Duitsland, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het Adolf Hitler se Nazi-beweging 'n geskatte 6 miljoen Jode gedood in wat bekend geword het as die Groot Slagting. Na die oorlog, is dié wat verantwoordelik was vir die barbaarse dade van wreedheid, verhoor en gevonnis vir misdade teen die mensdom en 'n wêreld wat in morele opstand gekom het, het hulle gehang vir hul misdade. Deesdae egter, sterf tien miljoene ongebore babas jaarliks—talle in die einste nasies wat in Nuremburg uitspraak gelewer het.

Dit is dus vandag geen wonder dat baie mense die wydverspreide aborsie 'n hedendaagse groot slagting noem nie. Die massamoord van ongebore babas, wettig en sosiaal aanvaarbaar in ons moderne nasies, oorskry die aantal sterftes in Duitsland onder die Nazi's, in Rusland onder Stalin, in China onder Mao Zedong en in Kambodja onder Pol Pot by verre—tog is min mense deesdae geskok of woedend! Diegene wat hul stemme verhef teen aborsie, word trouens algemeen beskryf as agterlik en regse godsdiensdwepers.

Vertroebel deur argumente

Maar hoe het ons die punt bereik waar moderne, geleerde mense—met 'n erfenis van Christelike waardes wat aborsie as onwettig en immoreel beskou—nou aanvaar en selfs aandring daarop dat aborsie erken word as 'n wettige reg? Die antwoord lê in die argumente wat die pro-aborsioniste gebruik, wat die ware twispunte in die hart van die geskil vertroebel. Tydens noukeurige ondersoek, word hierdie argumente—hoewel dit bestempel word as “intellektueel” en “progressief”—afgemaak as oppervlakkig en eensydig, wat na goeddunke die basiese feite van biologie ignoreer.

Pro-aborsioniste redeneer oor die algemeen dat 'n ontwikkelende embrio in die vroeë stadiums van swangerskap nie werklik 'n menselewe is nie, aangesien dit net 'n “bondel weefsel” is wat meer na 'n paddavis as 'n mens lyk. Hierdie kenmerkende samestelling van selle ontwikkel egter op 'n manier wat nooit 'n paddavis, of 'n boom of 'n bobbejaan tot gevolg kan hê nie! Na 10 tot 12 weke, sal hierdie klein individu 'n erkenbare menslike gesig hê, arms, hande en vingers, bene, voete en tone. Dit blyk dat hulle kan glimlag en duimsuig en selfs op klanke kan reageer! Dit is 'n mensie in die kleine. Net omdat dit in die vroeë weke van ontwikkeling nie menslik voorkom nie, maak nie daarvan 'n “sub-menslike” skepping nie!

Pro-aborsioniste hou daarvan om die twispunt oor wanneer lewe begin, te vertroebel. Hulle redeneer dat lewe nie begin alvorens beweging gevoel word nie, of die eerste asem ingetrek word nie, of totdat die fetus op sigself lewensvatbaar is nie, om te regverdig dat aborsie voor hierdie mylpale bereik word, nie werklik 'n menselewe neem nie. Die biologiese feit is egter dat lewe met die oomblik van bevrugting begin. Van daardie oomblik af, bevat elke sel in die ontwikkelende embrio die presiese getal chromosome en al die genetiese materiaal wat hierdie nuwe mensie van sy ouers sal onderskei. Party mense sê dat die fetus net 'n orgaan is—'n deel van die moeder se liggaam soos die blindederm of 'n skeurnael—en dat dit vir die moeder is om te besluit of sy dit wil laat verwyder. 'n Fetus het egter van die oomblik dat bevrugting plaasvind, 'n ander genetiese samestelling as enige orgaan in die moeder se liggaam. Beëindiging van hierdie lewe deur aborsie, neem die lewe van 'n geneties unieke individu. Biologies gesproke, is dit onmoontlik om 'n lyn te trek en te sê dat lewe te enige ander tyd as met bevrugting begin. Die fetus beweeg weke voor die moeder enige beweging in die baarmoeder voel. Hoewel 'n fetus nie op sy eie kan oorleef buite die moeder se liggaam nie, kan 'n baba ook nie self oorleef na geboorte nie! Hy of sy moet ook vir jare deur ander gevoer, versorg en vertroetel word alvorens hy of sy self kan oorleef.

Pro-aborsioniste doen aan die hand dat wettige aborsie, deur die aantal “ongewenste” swangerskappe te verminder, die voorvalle van kindermishandeling laat afneem aangesien elke kind wat gebore word, verwelkom en gelief sal wees. Sedert aborsie gewettig is, het gevalle van kindermishandeling egter toegeneem!

Die redenasie dat aborsie wettig moet wees om voorsiening te maak vir gevalle van verkragting, bloedskande of bespeurbare geboortedefekte, ignoreer die feit dat hierdie redes vir net 'n klein breukdeel van aborsies wat tans plaasvind, verantwoordelik is. Talle aborsies kom voor onder seksueel-aktiewe jeugdiges vir niks anders as persoonlike (en dikwels selfsugtige) redes nie” (Kulczycki, bl. 1). Aborsies op aanvraag—“moord vir gerief”—word dikwels versoek om die verantwoordelikheid of verleentheid van ongewenste swangerskappe te vermy (Slouching Towards Gomorrah, Bork, bl. 180).

Bekroonde regsgeleerde Robert Bork wys daarop dat die Amerikaanse Hooggeregshofuitspraak in die saak Roe vs. Wade, wat aborsie gewettig het, deur feministe beskou word as 'n “landmerk vir vroue se mars na gelykheid... die twispunt het niks te doen met die menslikheid van die fetus nie maar is geheel en al oor vroue se vryheid” (Bork, bl. 183). Die pro-aborsie redenasie fokus graag op die vryheid van die vrou—behalwe as die vrou in haar moeder se baarmoeder is!

Eertydse perspektiewe

Ondersteuners van aborsie oorweeg selde die lesse van geskiedenis. In antieke Griekeland en Rome, was ongewenste suigelinge aan die elemente blootgestel en gelos om te sterf. Aborsie was 'n aanvaarde praktyk en verskeie metodes was beskikbaar. Plato en Aristotle was voorstanders van aborsie om die groottes van gesinne te beperk. Alhoewel Romeinse wet pro-gesin was, was dit nie anti-aborsie nie. Die agteruitgang van Rome het 'n verhoging in misdaad, bandeloosheid en aborsie gesien. Christendom, in teenstelling, het moord verbied en geleer dat lewe onskendbaar was, het die heidense waardes betwis en wat sommige mense “die eerste aborsie-oorlog” noem, van stapel gestuur (sien Christianity Today, 6 Oktober 1989). Hierdie botsing tussen Christen- en heidenwaardes (nie net sigbaar in die Skrif nie maar ook in die Kerkvaders) het die anti-aborsie houdings van die Westerse samelewing vir eeue gevorm.

Nog 'n “aborsie-oorlog” het in die 1850's uitgebreek toe aborsie regoor die VSA hernude gewildheid begin verkry het, aangevuur deur nuwe waardes wat deur die Industriële Omwenteling gevorm is. Mediese dokters het egter beperkende wetgewing gesteun wat aborsie deur ongekwalifiseerde praktisyns ingekort het, en terselfdertyd ook kompetisie beperk het.

Nazi Duitsland het in die 1930's wetgewing goedgekeur wat dit gewettig het om bejaardes en siekes om die lewe te bring. Hierdie beginsel is later uitgebrei om die moord op Jode, Sigeuners en ander “ongewenste” lede van die samelewing toe te laat. Nazi Duitsland het aborsie trouens ingekort, maar slegs van diegene wie se genetika as sosiaal wenslik beskou is.

Dit was nie voor die middel van die 20ste eeu dat die “aborsie-oorloë” 'n klimaks bereik het nie. In die 1960's en 1970's, het die VSA en Brittanje die voorbeeld wat China en die Sowjet-Unie gestel het, gevolg deur aborsie te wettig. Eeue-oue waardestelsels word nou vervang deur antieke heidense lewenswaardes in baie nasies wêreldwyd wat in naam “Christen” was.

Vyftig jaar gelede, was ordentlike mense woedend toe hulle uitgevind het dat Nazidokters vir “wetenskaplike” doeleindes op lewende mense geëksperimenteer het en dat hulle menslike liggaamsdele geoes het vir kommersiële gebruik. Deesdae is min mense egter gepla dat menseweefsel van geaborteerde fetusse selfs in die vervaardiging van gesigsroom gebruik word! Hoe het die samelewing nie verander nie! Sedert aborsie en genadedood in Holland gewettig is, dui skattings daarop dat 8 persent van suigelinge wat jaarliks in Nederland sterf, deur dokters doodgemaak word! Een waarnemer merk op dat “dit die Nederlanders bykans 30 jaar geneem het vir hul mediese praktyke om te daal tot die vlak waar Nederlandse dokters in staat is om betrek te word by die soort genadedoodaktiwiteite waarvoor sommige Duitse dokters ná Nuremburg gehang is.”

Die Bybelse dimensie

Die geskiedkundige dimensie van die aborsiegeskil is ontnugterend. Maar wat van die morele vraagstuk? Is aborsie reg of verkeerd? Wat sê die Bybel? Die apostel Paulus skryf: “Maar iemand wat vir sy eie [gesin]... nie sorg nie, het die geloof verloën” (1 Timotheus 5:8). Sal enigiemand redeneer dat 'n Christen vir 'n gesinslid kan sorg deur hom dood te maak? Onthou: een van die Tien Gebooie veroordeel moord spesifiek (Eksodus 20:13). Met ander woorde, enige geboortebeperkingsmetode wat aborsie tot gevolg het, is verkeerd.

Moses het die Israeliete gewaarsku om nie die goddelose gebruike van hul Kanaänitiese bure te beoefen nie—wat kindermoord ingesluit het. Hy beveel: “As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie. Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan ... want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode” (Deuteronomium 18:9-14; 12:31).

Koning Dawid beskryf hoe die Israeliete God vertoorn het omdat “hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels [vals gode] geoffer en onskuldige bloed vergiet [het]—die bloed van hul seuns en hul dogters” (Psalm 106:32-39). Die profeet Esegiël bulder God se waarskuwing dat, omdat hulle God vergeet het en “my kinders geslag het... is bloed aan hulle hande ... en ook hul seuns wat hulle vir My gebaar het, as spys vir hulle deur die vuur laat deurgaan” (Esegiël 16:21; 23:37).

In direkte opstand teen God se bevele, het antieke Israel die barbaarse heidense gebruike om kinders dood te maak, aangeneem! In antwoord waarsku die profeet Jeremia: “Ook is aan jou some die bloed gevind van die siele van onskuldige armes... Kyk, Ek bring onheil oor hierdie plek waarvan elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit; omdat hulle My verlaat het ... Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat hierdie plek nie meer sal genoem word Tofet en die dal van die seun van Hinnom [waar kinders geoffer is] nie, maar Moorddal [wanneer God vreemde nasies gebruik om Sy mense te straf omdat hulle hul eie kinders vermoor het]” (sien Jeremia 2:34; 19:3-7). Hierdie Skrifgedeeltes onthul hoe God die slagting van kinders beskou, hetsy hulle suigelinge of ongebore babas is!

Hedendaagse “etikuste” soos Peter Singer van Priceton Universiteit, het redenasies geopper dat 'n ongebore fetus minder as mens is. Hierdie gedagte is nie nuut nie; dit was ook algemeen by baie antieke heidense filosowe. Hierdie benadering word egter duidelik in die Bybel weerlê. God sê aan Jeremia: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak” (Jeremia 1:5). 'n Engel sê aan Sagaria, vader van Johannes die Doper, dat Johannes sou “vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af” (Lukas 1:15). Die Bybel onthul dat God ongebore babas as mense beskou en deur menslike suigelinge, hetsy gebore of ongebore, dood te maak, die Almagtige God vertoorn word! Ons hedendaagse sekulêre samelewing het hierdie kragtige waarskuwings vergeet!

'n Ontnugterende toekoms

Waarheen lei die veldtog om aborsie in hedendaagse nasies te wettig? Wat doen die aanvaarding van aborsie aan ons samelewing? Regter Robert Bork noem die Amerikaanse Hooggeregshof se besluit in Roe vs. Wade, wat aborsie gewettig het, 'n poging deur die liberale sekulêre elite om hulle waardes aan die res van die volk af te smeer (sien Bork, bl. 174). Hy merk op: “Aborsie het ons hard gemaak” en “die ontaarding van ons kultuur” weerspieël dit (ibid., bl. 182). Hy verklaar: “Die stelselmatige doodmaak van ongebore kinders in groot getalle is deel van 'n algemene minagting vir menselewens wat al vir 'n geruime tyd toeneem. Aborsie... verdiep en maak die nihilisme (minagting vir tradisionele waardes) wat in ons kultuur versprei, geldig en vind dit aanvaarbaar om vir gerief dood te maak” (ibid., bl. 192).

Britse maatskaplike kritikus, Peter Hitchens, maak 'n soortgelyke waarneming, naamlik aborsie “besmet enige samelewing wat dit vrylik toelaat. Die gedagte dat onskuldige lewe wettiglik vir ander mense se gerief of vir die beweerde beswil van die samelewing beëindig kan word en algemeen aanvaar word, vernietig die regsreël self” (The Spectator, 7 Augustus 2004). Britse rubriekskrywer Bruce Anderson verklaar: “Oor die afgelope 40 jaar het die aborsiekliniek 'n onmiskenbare deel van die lewensbystandstelsel van die bandelose samelewing geword. Die onbeperkte genot van seksuele ongebondenheid vereis nie net voorbehoedmiddels nie, maar retro-aktiewe voorbehoedmiddels [aborsie]” (The Spectator, 17 Julie 2004).

Selfs diegene wat die debat met die uitgangspunt van “voortplantingsregte” probeer stuur het, kan nie die negatiewe maatskaplike neigings wat met aborsie gepaard gegaan het, eerlik ontken nie. Hulle kan net sê dat hierdie negatiewe neigings, volgens hulle waardestelsel, die prys wat betaal word, werd is. Uiteindelik is twee vrae tersaaklik—wie se waardes sal seëvier, en wie sal die samelewing beheer? Dr. Adrzej Kulczycki, 'n Verenigde Nasies konsultant, merk op “die debat oor aborsie weerspieël 'n konflik oor wie die samelewing beheer”—sosiale liberaliste of godsdienstige sosiale konserwatiewes—“hul geskille weerspieël baie uiteenlopende begrippe oor die fetus, die vrou en inderdaad oor hoe die wêreld saamgestel behoort te word” (The Abortion Debate, Kulczycki, bl. 157; 18). Hierdie uiteenlopende sienswyses is vandag aan die kern van die bitter kulturele oorloë wat mense polariseer en nasies verdeel.

Dit is veelseggend dat aborsie nou algemeen aanvaar word in baie kulture wat hulself in die verlede “Christen” genoem het. Bybelprofesie waarsku dat mense “in die laaste dae” “liefhebbers van hulself [sal] wees [ingestel op hul eie regte en begeertes tot die uitsluiting van besorgdheid oor andere] ... liefdeloos [gevoelloos en sonder natuurlike liefde—moeders vir hul eie kinders] ... brutaal” (2 Timotheus 3:1-5). Ons wêreld vandag word presies in hierdie profesieë beskryf, tog sal hierdie neigings veel erger word in die jare wat voorlê. Goddank, die Wederkoms van Jesus Christus sal eersdaags die Koninkryk van God en 'n terugkeer tot Bybelse waardes tot gevolg hê en “die hart van die vaders [en moeders] terugbring tot die kinders”. Dan, uiteindelik, sal die tragiese hedendaagse groot slagting van aborsie iets van die verlede wees!