Bybelprofesie onthul dat skrikwekkende gebeure in Europa op die drumpel staan om die verloop van wêreldgeskiedenis te verander!
Huidige gebeure en Bybelprofesie loop op wonderbaarlike wyse in Europa ineen. Skadu's van die verlede vorm die hede en gee gestalte aan die toekoms van hierdie belangrike deel van die aarde. Hierdie onheilspellende skadu's—soos spoke van die Middeleeue—verteenwoordig goed-gedefinieerde geskiedkundige magte wat die rigting van Europese geskiedenis deur die eeue heen beïnvloed het. Hierdie spoke van die geskiedenis verrys weereens, om onheilspellende skadu's oor die toekoms van Europa en die wêreld te werp. Dit is betreurenswaardig dat ons moderne samelewing—'n verbruiker-georiënteerde sprokiesland—so behep is met onmiddellike druk en tydelike plesier dat ons lesse wat die geskiedenis ons kan leer, ignoreer.
Belangrike neigings doem in Europa op wat steurende bande met die verlede en besliste skakels met Bybelprofesie het. Tog blyk dit dat min mense besef dat Europa se verlede belangrike insigte in sy hede en toekoms bied. Die meeste hedendaagse geleerdes, skrywers en beriggewers verstaan nie dat die Bybel die ware betekenis van die dinamiese transformasies wat tans in Europa plaasvind—en waartoe hierdie gebeure uiteindelik sal lei—verduidelik nie. Die volke van Europa beweeg na 'n verrassende en onstuimige toekoms wat die verloop van wêreldgeskiedenis dramaties sal verander. U moet weet hoe die skadu's wat oor Europa verrys, u lewe in die nabye toekoms sal beïnvloed!
Die suidelike bedreiging
Een van die grootste skadu's wat oor Europa opdoem, is die bedreiging van terrorisme deur Moslem-ekstremiste. Hierdie bedreiging werp nie net 'n onheilspellende skadu oor Europa nie, maar oor groot dele van die aarde. Tog is terroriste-aktiwiteite slegs die dramatiesste aspek van 'n groeiende bedreiging vir Europa vanuit die suide. In onlangse dekades, het Europeërs die herlewing van die Islamitiese kultuur met toenemende angs dopgehou—in hul midde en op hul suidelike grense. Islam is die vinnigste groeiende geloof in die wêreld (World Religions, Keene, bl. 144). Geboortesyfers in Islamitiese lande is twee tot drie keer hoër as dié van Europeërs (wat geen groei in geboortesyfers toon nie). Een-vyfde van die wêreld se bevolking is nou Moslems. Hoë geboortesyfers en die gebrek aan ekonomiese geleenthede in baie Islamitiese lande het miljoene immigrante na Europa gedryf, waar hulle nou bykans 10 persent van die bevolking in party Europese lande uitmaak.
Hierdie Islamitiese herlewing en hordes immigrante word beide gevoel en gevrees in Europa, waar baie Westerlinge voel dat “hulle nie binnegeval word deur leërs en tenks nie, maar deur swerwers wat ander tale praat, ander gode aanbid, aan ander kulture behoort, en, so vrees hulle, hulle van hul werkgeleenthede sal ontneem, hul land sal beset, van hul welsynstelsel sal leef en hul leefwyse sal bedreig” (Global Migration Crisis, Weiner, bl. 2). In Europa het hierdie vrese vyandigheid teenoor Moslems aangeblaas en steun verwek vir regse, nasionalistiese, anti-immigrasie politieke partye. Een Franse geleerde weeklaag: “Geskiedenis, nabyheid en armoede verseker dat Frankryk en Europa bestem is om oorweldig te word deur mense van mislukte samelewings van die suide” (Strangers at the Gates, Miller, bl. 80).
Terwyl liberale Westerse leiers praat van verdraagsaamheid, samesprekings en samebestaan in 'n multi-kulturele samelewing, wys die werklikhede van die geskiedenis in die teenoorgestelde rigting. Vir bykans 1 400 jaar, was die verhouding tussen Islam en “Christendom” stormagtig en bloedig met verowering en herverowering, slagtings en vergeldings. In die 600's het Moslemkrygers uit die Midde-Ooste Europa oor Noord-Afrika binnegekom, vasbeslote om te verower en hul geloof met die swaard te versprei. In om en by 1100 n.C., het Europese pouse die kruistogte van stapel gestuur—gewapende pogings om die Heilige Land te herower. Duisende ridders het die “kruis opgeneem” en koers gekies na Jerusalem om “vir God” te veg. Moslemleërs het egter hierdie gebiede herower en voortgegaan om Konstantinopel en groot dele van die Europese vasteland te verower en om Wenen te beleër. Vir bykans 1 000 jaar het Europa die konstante dreigement van die Islamitiese wêreld aan die suide en ooste gevoel. Professor Samuel Huntington van die Harvard Universiteit neem waar, “Islam is die enigste samelewing wat die voortbestaan van die Weste in onsekerheid kon dompel en het dit minstens twee keer gedoen” (The Clash of Civilizations, bl. 210).
Wat baie mense in die Weste blykbaar nie besef nie, is dat Islam en Westerse demokrasie eenvoudig nie verenigbaar is nie (sien “Islam and democracy: the impossible union,” The London Times, 23 Mei 2004). In 'n demokrasie maak gewone mense wette; Islamitiese samelewings verkry hul wette uit hul geloof se heilige boek, die Koran. Vooraanstaande Moslems het verklaar dat “die hoofoorsaak van eietydse euwels die verspreiding van demokrasie” is en dat “net een ambisie waardig is van Islam... om die wêreld te red van die vloek van demokrasie” (ibid.). Een ontnugterende les van die vorige eeu is “die algemene mislukking van liberale demokrasie om pos te vat in Moslemlande” (Huntington, bl. 114).
Hierdie onverenigbaarheid brei uit na die godsdienssfeer. Islam en Christendom maak albei aanspraak daarop dat hulle die “ware” geloof is. Hulle is beide sendingsgelowe wat poog om ongelowiges te bekeer—wat alle ander gelowe insluit. Christendom leer dat Jesus die Seun van God is; Moslems sê God het nie 'n seun gehad nie en dat dit lasterlik is om so te sê. Baie Moslems beskou Westerse, sekulêre, materialistiese, hedonistiese samelewings as dat hulle “God vergeet” het en dat hulle die wêreld korrup maak met losbandige waardes wat versprei word deur films, mode en die media. Dit is hoekom, soos een militante Moslem gesê het, “ons nie probeer om met julle samesprekings te voer nie. Ons probeer julle vernietig” (The London Daily Telegraph, 14 Maart 2004). In die een land na die ander, het die herlewing van Islam gelei tot die verwerping en verafskuwing van Westerse instellings en waardes wat as goedkoop, vernederend, ondergeskik en 'n bedreiging vir Islamitiese kultuur gesien word!
Insigryke waarnemers erken dat die herlewing van Islam en die opgang van Islamitiese terrorisme maar net die nuutste hoofstuk in die eeue-oue stryd tussen Islam en die “Christendom” vir wêreldoorheersing is (sien A brief History of the Crusades, Hindley). Britse geskiedkundige Paul Johnson skryf: “Ons is duidelik besig om 'n nuwe fase van 'n ou oorlog binne te gaan” (ibid.). 'n Prominente Moslem het 'n dekade gelede gesê dat die Weste se “volgende konfrontasie beslis van die Moslemwêreld sal kom” (Time, 15 Junie 1994, bl. 24). Andere het opgemerk dat “Europa op die voorste linie sal wees” in hierdie opkomende stryd tussen die Weste en Islam, en dat 'n konfrontasie met Islam kan “dien om die Europese identiteit te versterk ... op 'n kritieke tydstip vir die proses van Europese samesmelting”—'n feit wat deur Europese leiers uitgebuit kan word (Huntington, bl.212). In die lig van hierdie ontwikkelinge en met die heengaan van die Russiese bedreiging, word NAVO se beplanning vir Europese verdediging “toenemend gerig op die potensiële bedreigings van die suide” (ibid., bl. 215).
Maar wat is die werklike belang van die herlewing van Islam en die groeiende bedreiging vir Europa uit die suide en waartoe sal dit aanleiding gee? Terwyl geleerdes in die veld van internasionale betrekkinge huiwer om die toekoms te voorspel, onthul die Bybel die belangrikheid van die gebeure wat ons aanskou, en voorspel waarheen dit sal lei. Meer as 2 500 jaar gelede, het die profeet Daniël, (waar hy in 'n taal skryf wat die moderne kwellinge duidelik weergee) gesê, “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom [die koning van die Noorde] in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei” (Daniël 11:40-41). Daniël se verwysingspunt is Jerusalem. Hy voorspel duidelik dat net voor die Wederkoms van Jesus Christus, militante aktiwiteite deur 'n mag in die suide 'n militêre reaksie sal ontlok van 'n mag in die noorde. Dit is die neiging wat vandag ontwikkel tussen Europa en die Islamitiese volke aan Europa se suide en ooste. Islamitiese terroriste-aktiwiteite kan die sneller wees wat aanleiding gee tot die aktivering van ander gebeure waarop hierdie profesie dui. Die jare wat voorlê, sal beduidend wees.
Die opgang van Rome
Nog 'n ontwikkeling wat 'n lang skadu oor Europa werp, is die groeiende invloed en toenemend sigbare rol van die Pous van Rome. Pous Johannes Paulus II het te voorskyn gekom as die leidende woordvoerder van Westerse “Christendom” en was moontlik selfs die prominentste godsdiensleier in die wêreld. Gedurende sy 25 jaar as pous, het hy die aardbol deurreis en internasionale gestalte verkry. Hy het raad gegee en wêreldleiers vermaan, ambassadeurs van ander nasies ontvang en sy gesante op diplomatieke sendings om die aarde laat reis. Soos die leier van 'n nasie, het hy selfs die Verenigde Nasies toegespreek.
Terwyl Johannes Paulus II meer gedoen het as enige onlangse pous om die rol van die pousdom op die wêreldtoneel op te hef, is sy werklike oorsprong in suidelike Europa—Rome—vanwaar hy 'n onmiskenbare skadu gegooi het. Soos vorige pouse, het Johannes Paulus II getrou pogings om Europa te verenig, gesteun. As hoofwoordvoerder van die Rooms-Katolieke Kerk, het hy sendbriewe aan Europese leiers saamgestel, wat byvoorbeeld sê: “Europa benodig 'n godsdiensdimensie ... die Katolieke Kerk is oortuig daarvan dat sy 'n unieke bydra kan maak in die vooruitsig van vereniging ... die Kerk van vandag, met 'n hernude sin vir verantwoordelikheid, is bewus van die dringendheid om... Europa te help om haarself te bou deur haar oorspronklike Christelike wortels te laat herleef ” (Ecclesia in Europa, bl. 23, 80). Johannes Paulus II was bewus van hoe sy voorgangers die geskiedenis van Europa en die wêreld gevorm en ontwikkel het, en hy het die Rooms-Katolieke Kerk beskou as God se instrument vir die herskepping van geskiedenis en vorming van die toekoms, soos beskryf in sy sendbrief van Januarie 2001, At the Beginning of The New Millennium (sien bl. 27, 32).
Die geskiedenis teken egter die ontnugterende besonderhede aan van wat gebeur het toe die pousdom geheers het oor 'n verenigde Europa onder die Rooms-Katolieke geloof. Bekering en eenheid is dikwels bereik deur die punt van 'n swaard. Jode is verban uit Rooms-Katolieke lande, of saamgejaag in ghetto's en verplig om kenmerkende klere te dra, eeue voor die Nazi's dieselfde gedoen het (sien Unholy War: The Vatican's Role in the Rise of Modern Anti-Semitism, Kertzer). Moslems is uit Europa verban en kruistogte is van stapel gestuur teen ongelowiges—selfs teen andersdenkende Christene (sien The Cathars, Barber). Afwykenes is op brandstapels verbrand, gevange geneem of gevonnis tot die galeie—deur die bevel en met die seën van Middeleeuse pouse! Die geskiedenis van hierdie periode toe Rooms-Katolisisme oor Europa geseëvier het, sorg vir grusame leesstof (sien The Inquisition, Baigent & Leigh). Europa se bloedbevlekte verlede behoort hedendaagse Europeërs katvoet te maak om weer onder die vaandel van die pouse van Rome te verenig! Ewenwel, hierdie “spoke van die verlede” verrys weereens en betuig hul begeerte om weereens 'n lang skadu oor Europa te werp.
Die huidige opgang van die pousdom in Europa is ook profeties betekenisvol! Dit word weerspieël in verskeie profesieë wat op eindtyd gebeure fokus. Daniël het voorspel dat 'n “ander horinkie” leiding sou hê oor verskeie herlewings van die Romeinse Ryk; dat dit verwaande woorde sou spreek en dat dit “oorlog voer met die heiliges” totdat Christus terugkeer (Daniël 7:8, 21-22, 24-25). Hierdie stelling beskryf die geskiedenis van die pousdom met akkuraatheid. Pouse het die Keisers van Europa gekroon en diegene vervolg wat die Bybel, asook hulle wat geleende kerktradisies van heidense afkoms, verwerp het. Die apostel Paulus het gewaarsku dat 'n magtige godsdiensfiguur aan die einde van dae te voorskyn sal kom wat miljoene mense sal mislei deur wonders en tekens (2 Thessalonicense 2:1-12). “Populêre Katolisisme” het vir eeue 'n reeks “huilende Madonnas” en “bloeiende beelde” bestempel as 'n kenmerkende aspek van populêre Katolieke vroomheid. Vandag drom duisende saam by Maria-altare in Europa en ander dele van die wêreld in die hoop op 'n vlugtige blik van 'n wonderwerk. Bybelprofesie dui aan dat hierdie soort skouspel sal toeneem namate die einde van die tydperk nader kom—en baie mense sal mislei!
Die apostel Johannes skryf van 'n eindtyd koalisie tussen 'n magtige godsdiensfiguur en 'n slinkse politieke figuur, naamlik die “dier,” wat 'n federasie van tien nasies sal lei net voor die Wederkoms van Christus (Openbaring 13; 17). Johannes sê dat hierdie wonderwerkende godsdiensleier mense sal oortuig om die dier te ondersteun (Openbaring 13:11-18). Hierdie geestelike sal 'n kerk lei (die vrou geklee in versierde gewaad) wat die Diermag sal ry (beïnvloed) (Openbaring 17:3-4). Hierdie profetiese gedaantes—wat terugflits na wat gebeur het in die Middeleeue toe die pousdom en die Heilige Romeinse Ryk Europa oorheers het—verrys weereens oor Europa! Die profeet Jesaja dui aan dat hierdie godsdienstige organisasie—die “dogter van Babilon”—’n ekumeniese beweging sal lei om haar dwalende kinders terug te bring onder haar heerskappy (Jesaja 47:1, 8).
Wanneer ons hierdie profesieë lees, is dit moeilik om die ooglopende verband tussen die pous en die Rooms-Katolieke Kerk mis te kyk. Vandag is die Roomse pous die leidende figuur in die veldtog om wêreld-Christendom te verenig. Johannes Paulus II het meer as 700 toesprake gelewer om Europese eenheid te bevorder op grond van Europa se geskiedkundige godsdienstige fondasie. Hy het die Europese Unie vermaan omdat hulle grondwet nie melding gemaak het van Europa se Rooms-Katolieke erfenis nie. Die Rooms-Katolieke Kerk het 'n dekaloog vir Europa uitgereik—tien punte wat die kerk voel as gids behoort te dien in die toekoms van die Europese Unie. Bybelprofesie onthul dat die opgang van 'n invloedryke godsdiensfiguur, met bande met Rome, sal plaasvind net voor die Wederkoms van Jesus Christus. Hierdie is die werklike belangrikheid van die Rooms-Katolieke skadu wat weer oor Europa opdoem!
Heropwekking van die dier
Nog 'n voorspelde skadu, is die vooruitsig van 'n polities verenigde Europa, oorheers deur Duitsland. Die voormalige Amerikaanse minister van binnelandse sake, Henry Kissinger, het opgemerk, “Die verskyning van 'n verenigde Europa is een van die mees rewolusionêre gebeure van ons tyd,” en hy herken dat dit Amerika kan bedreig (sien Does America Need a Foreign Policy?, bl. 41). Voormalige Britse eerste minister, Margaret Thatcher, skryf: “Die beweging na 'n burokratiese Europese superstaat... het groot implikasies vir die hele wêreld” (Statecraft, bl. 324).
Terwyl Europese geleerdes vir eeue gedroom het oor die vereniging van die kontinent, was dit net in die laaste dekade dat Europa se leiers suksesvol was in die vestiging van 'n Europese Parlement, 'n Europese Unie, 'n gemeenskaplike geldeenheid (die euro), 'n Europese Bank en 'n Europese Hof. 'n Europese grondwet is in die proses van bekragtiging en 'n Europese polisiemag is goedgekeur. 'n Europese weermag neem gestalte aan en 'n president en minister van buitelandse sake vir Europa word tans bespreek. Die skaduagtige “wese” wat in Europa geskep word, behoort binne die volgende dekade 'n werklikheid te word!
Hierdie ontwikkelinge word begroet as merkwaardige vooruitgang op die pad na 'n verenigde en vreedsame Europa—as die uiteindelike oplossing vir die bloedige getwis wat Europeërs in die verlede verdeel het en as 'n model wat die wêreld kan navolg. Tog het baie pogings om Europa te verenig in die verlede misluk. Die Romeinse Ryk was vir etlike eeue suksesvol voordat dit verkrummel het. Karel die Grote se poging om die Ryk te laat herleef en Europa te verenig, is met sy dood beëindig. Herlewings van die Ryk onder Otto die Grote van Duitsland en Charles V en die Hapsburgs van die Heilige Romeinse Ryk, was alles behalwe tye van vrede en eenheid, aangesien pouse en keisers vir die oorhand geveg het. Napoleon, Moessolini en Hitler het gevind dat hul begeertes om die Romeinse Ryk te laat herleef en Europa te verenig, van korte duur was. Al hierdie pogings om Europa te verenig was afhanklik van militêre mag, en almal het uiteindelik misluk. Pouse in Rome het hierdie pogings om Europa te verenig, ondersteun; Moessolini en Hitler het selfs konkordante [ooreenkomste] met die Katolieke Kerk onderteken wat hulle magsopgang gesteun het (sien Hitler's Pope, Cornwell). Ewenwel, die pousdom se seëninge het nie sukses gewaarborg nie.
Hedendaagse Europese leiers probeer steeds om Europa op 'n Romeinse model te verenig. Toe die Verdrag van Rome, wat die fondasie van Europese eenheid gelê het, in 1957 onderteken is, het die deelnemers gesê “daardie dag het ons soos Romeine gevoel... ons was bewustelik besig om die Romeinse Ryk weer te herskep” (The Signature of God, Jeffrey, bl. 190-191).
Hedendaagse leiers poog om die vasteland te verenig deur ekonomiese- en regsmiddele—te-same met arm-draai, intimidasie en agteraf transaksies. Hulle het nog nie weer die sluimerende mag van godsdiens begin benut om hul pogings te help nie, maar dit sal weer gebeur—net soos in die verlede die geval was! Die groeiende skadu van 'n polities-verenigde Europa is ook van diepgaande profetiese belang.
Daniël voorspel dat vier keiserryke die Midde-Ooste sou domineer (Daniël 2, 7). Hy dui aan dat die vierde ryk, Rome, telkemale sal herleef (die tien horings—Daniël 7:7, 20, 24). Die laaste herlewing, wat sal plaasvind net voor die Wederkoms van Jesus Christus, sal tien konings betrek (tien tone, soos in Daniël 2:42-44) wat hul soewereiniteit aan 'n sterk leier sal oorgee (die dier, soos beskryf in Openbaring 17:12) terwyl hulle 'n globale handelsblok skep (sien Openbaring 18). Hierdie finale herlewing word beskryf as 'n onstabiele mengsel van “yster en klei” wat sal verkrummel met Christus se Wederkoms (Daniël 2:40-45). Hierdie is 'n gepaste beskrywing van die nasies van Europa, wat onder mekaar redekawel terwyl hulle strewe om 'n struktuur te skep wat hulle sal help om 'n belangrike rol op die wêreldtoneel te speel. Een historikus sê dat die Europese Unie op “politieke dryfsand” gebou word (The Question of Europe, Gowan & Anderson, bl. 144).
Terwyl die leiers van Europa oor vrede praat en nasies meeding om invloedryke status, dui Bybelprofesieë—en huidige neigings—aan dat Duitsland as die dominante speler sal ontluik. Die Europese Bank is op die Duitse Bundesbank geskoei, die uitbreiding na Oos-Europa word beskryf as 'n “Duitse projek” en die hoof van die Europese weermag is 'n Duitser. Bybelprofesie dui aan dat 'n sterk leier—die “koning van die noorde”—beheer oor hierdie politieke “wese” sal verkry en dit vir 'n kwaadwillige doel sal aanwend. Daniël sê dat hierdie bose leier op slinkse wyse mag sal bekom (Daniël 11:15, 21, 32), 'n ooreen-koms sal sluit (wat hy later sal verbreek) wat die Jode sal toelaat om offerandes te begin (8:11; 9:27; 11:31), ware gelowiges sal vervolg (11:33-35), militêre aktiwiteite van stapel sal stuur (11:36-39) en uiteindelik die Midde-Ooste sal binneval (11:40-45). Die Bybel vereenselwig hierdie koning van die noorde met Assirië—hedendaagse Duitsland (sien Jesaja 7:17-25; 10:5-19; Hosea 11:5). Vir meer oor hierdie onderwerp versoek asseblief u gratis kopie van ons artikel, 'n Vierde Ryk?
Bybelprofesie onthul dat God hierdie eindtydse mag onder leiding van Duitsland sal gebruik om Sy eie gekose mense te straf—die hedendaagse Israelitiese nasies van Amerika, Brittanje, Kanada, Israel, Australië, Suid-Afrika en ander volke van noordwes Europese afkoms (Jesaja 10:5-19; Hosea 11:1-6). Hierdie skielike kastyding sal kom omdat hierdie volke God verlaat en Sy Wette verag het (sien Levitikus 26). Jesaja dui aan dat hierdie Duits-geleide polities-ekonomiese-militêre mag wat in Europa gebaseer is, met die Wederkoms van Christus onderwerp en gekasty sal word (Jesaja 12:12-16) en dat sy skielike heengaan die wêreld sal skok (Openbaring 18). Bybelprofesie openbaar dat hierdie dramatiese gebeure sal plaasvind gedurende 'n tydperk van drie en 'n half jaar net voordat Christus terugkeer (Openbaring 13:5).
Ons leef in baie betekenisvolle tye. Lank-bepeinsde profesieë neem voor ons oë gestalte aan. Wêreldtoestande staan op die drumpel van skielike en verbasende verandering, tog is baie mense onbewus van hierdie skrikwekkende feite! Omdat ons hedendaagse samelewings so verdiep is in die hede, met die lesse van geskiedenis vergete—met min of geen kennis van Bybelprofesie nie—sal baie mense verbaas en verbyster wees wanneer hierdie ongelooflike gebeure in die nabye toekoms plaasvind. Historikus R. Allen Brown het etlike dekades gelede gewaarsku dat “die gevaar van die hede nie van 'n nuwe onkunde van die Middeleeue is nie, maar van die herlewing van 'n oue wat ons as dood beskou het” (The Origins of Modern Europe, Brown, bl. 7). Dit benadruk waarskuwings in Openbaring 13:3, 12, 14; 17:8. Indien u egter die belangrikheid van hierdie skadu's oor Europa begryp, kan u voorbereid wees op hierdie uitdagende tye—mits u gewillig sou wees om die Bybel te bestudeer en God se bevele te volg om u lewe te verander!