Help The Da Vinci Code om te verduidelik hoe Christenskap gekaap is? Die egte WAARHEID rondom hierdie aangeleentheid mag u verstom!


Dan Brown se The Da Vinci Code is al vir maande naby of aan die bopunt van die trefferslys. Miljoene mense is geboei deur hierdie betowerende roman. ’n Rolprent wat op hierdie boek gegrond is, sal sekerlik met verloop van tyd volg.

Wat is so ongewoon omtrent hierdie boek?
Behalwe dat dit vinnig ontvou en goed geskryf is, span The Da Vinci Code die lesers se verbeeldingskrag in. Hoewel dit in die vorm van ’n roman geskryf is – en verskeie fiksie en foute bevat waaroor ’n Christen skepties moet wees – kan dit ’n leser aanspoor om te besef dat daar onder die oppervlak baie meer in ons godsdienstige idees en praktyke steek as wat daar gewoonlik op die oog af blyk te wees. Daar is drie hoofkarakters in The Da Vinci Code: Sophie Neveu, ’n begaafde Franse kriptoloog; Robert Langdon, ’n simboloog van Harvard en Leigh Teabing, ’n voormalige Britse koninklike geskiedkundige.

Kom ons luister na hul gesprek oor die oorsprong van wat die wêreld vandag “Christendom” noem:

“‘Geskiedkundiges staan steeds verstom oor die briljantheid waarmee Konstantyn die heidense sonaanbidders tot die Christendom kon bekeer. Deur heidense simbole, datums en rituele te laat saamsmelt met die groeiende Christentradisies, het hy ’n soort bastergodsdiens geskep wat vir beide partye aanvaarbaar was’.

‘Metamorfisering,’ sê Langdon. ‘Die spore van heidense godsdiens in Christelike simbologie is onbetwisbaar. Egiptiese sonskywe het die stralekranse van Katolieke heiliges geword. Beeldskrif van Isis wat haar wonderbaarlik verwekte seun, Horus, voed, het die model geword van ons hedendaagse beelde van die maagd Maria wat die Baba Jesus voed. Bykans al die elemente van die Katolieke rituele – die biskopmus, die altaar, die lofsang en die Avondmaal, die ‘God-eet’ handeling – is regstreeks uit vroeëre heidense misteriegodsdienste geneem’.

Teabing kreun. ‘Moenie ’n simboloog laat begin oor Christelike ikone nie. Niks in Christendom is oorspronklik nie. Die voor-Christelike god Mitras – wat die Seun van God en die Lig van die Wêreld genoem word – is op 25 Desember gebore, het gesterf, is in ’n klipgraf begrawe en is binne drie dae opgewek. Terloops, 25 Desember is ook die verjaardag van Osiris, Adonis en Dionisus. Aan die pasgebore Krishna is goud, wierook en mirre gegee. Selfs die Christendom se weeklikse heilige dag is van die heidene gesteel’.

‘Wat bedoel jy?’
‘Oorspronklik,’ sê Langdon, ‘het Christendom die Joodse Sabbat van Saterdag geëer, maar Konstantyn het dit verskuif om saam te val met die heidense verering van die dag van die son’. Hy bly stil en glimlag. ‘Tot vandag toe woon die meeste kerkgangers Sondagoggend dienste by sonder dat hulle ’n idee het dat hulle daar is danksy die heidense songod se weeklikse eerbetuiging – Sondag’” (The Da Vinci Code, bladsye 232-233).

Die geskiedkundige WAARHEID

“Maar dit is alles fiksie!” mag u sê. “Waar het hierdie mal skrywer aan al hierdie vreemde idees gekom? Ek is seker dat my godsdiens heeltemal op die Bybel gegrond is!”

Asseblief vriende, moenie so seker wees nie!
Die Bybel self vertel ons: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Die eintlike waarheid is – hierdie deel van Dan Brown se boek is gegrond op ware feite en ek daag u uit om dit te bewys. Die een geskiedkundige na die ander erken ook dat die oorspronklike Christendom van Jesus en die Apostels binne ’n paar eeue na Jesus se dood dramaties verander is! Soos gereelde lesers van die Wêreld van Môre teen hierdie tyd behoort te weet, het ons die een aanhaling na die ander van gerespekteerde “algemene” geskiedkundiges en teoloë opgenoem wat van hierdie welbekende feit getuig. Soos die bekende geskiedkundige, Will Durant, geskryf het:

“Christendom het nie die heidendom vernietig nie; maar dit aangeneem. Die Griekse verstand, wat sterwend was, het oorgegaan tot lewe in die teologie en liturgie van die Kerk; die Griekse taal, wat vir eeue oor filosofie geheers het, het die werktuig van Christenliteratuur en rituele geword; die Griekse misterieë is oorgedra in die indrukwekkende misterie van die Mis. Ander heidense kulture het bygedra tot die sinkretistiese gevolg. Van Egipte het die idees gekom van ’n goddelike drie-eenheid ... en ’n persoonlike onsedelikheid van beloning en straf; van Egipte die verering van die Moeder en Kind en die mistiese teosofie wat Neoplatisme en Gnostisisme meegebring en die Christelike credo verskuil het; daar sou die Christelike kloosterwese ook sy voorbeelde en oorsprong vind. Van Frigië het die aanbidding van die Groot Moeder gekom; van Sirië die opstandingsdrama van Adonis; van Thrasië, moontlik, die kultus van Dionisus, die sterwende en verlossende god ... Die Mitriese rituele het soveel met die eucharistiese offerande van die mis ooreengestem, dat Christenvaders die Duiwel aangekla het dat hy hierdie ooreenkomste uitgedink het om verswakte verstande te mislei. Christendom was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld ... [Die Nagmaal] was ’n gedagte wat lankal deur tyd geheilig is; die heidense verstand het geen skoling nodig gehad om dit te aanvaar nie; deur die insluiting van die “misterie van die Mis” het Christendom die laaste en grootste van die misteriegodsdienste geword (The Story of Civilisation, Vol. 5, Durant, bl. 595, 599).

Paul Johnson, die hoogsgerespekteerde geskiedkundige, tel onder baie wat openlik erken dat die Bybelse sewendedag Sabbat wat deur Christus en die oorspronklike Apostels onderhou is, verander is: “Baie Christene het nie ’n duidelike onderskeid getref tussen hierdie sonkultus en hul eie nie. Hulle het na Christus verwys waar Hy “Sy strydwa deur die lug ry”, hul dienste op Sondag gehou, na die Ooste gekniel en hul kersfees op 25 Desember gevier, die verjaardag van die son met die wintersonstilstand [in die Noordelike Halfrond]. Gedurende die latere heidense herlewing onder keiser Julianus, het baie Christene dit maklik gevind om afvallig te raak as gevolg van hierdie verwarring; die Biskop van Troje het aan Julianus gesê dat hy altyd in die geheim tot die son gebid het. Konstantyn het nooit afstand gedoen van sonaanbidding nie en die son op sy munte behou. Hy het Sondag ’n dag van rus gemaak” (A History of Christianity, Johnson, 1976, bl. 67-69, klem ons eie).

Wat het gebeur na Konstantyn? Die wydbelese, algemene godsdiensskrywer, Jesse Lyman Hurlbut, verduidelik: “Die vorms en seremonies van heidendom het geleidelik in die aanbiddingsdienste ingesluip. Party van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met verandering in naam en aanbidding. Rondom 405 n.C. het beelde van heiliges en martelare in kerke begin verskyn, eers as herdenkings en toe in volgorde eerbiedig, vereer en aanbid. Die aanbidding van die maagd Maria vervang aanbidding van Venus en Diana; die Nagmaal raak ’n offer pleks van ’n herdenking; en die ouderling (opsiener) ontwikkel van prediker na priester ... Die kerk en die staat het een geword toe Christendom aangeneem is as die godsdiens van die ryk en dié onnatuurlike eenwording het twee euwels voortgebring, een in die oostelike en een in die westelike provinsies. In die Ooste het die staat die kerk oorheers totdat dit alle energie en opbouende lewe verloor het. In die Weste [“Rome”, Red.], soos ons sal sien, het die kerk geleidelik wederregtelik mag oor die staat toegeëien en die gevolg was nie Christendom nie, maar ’n min of meer korrupte hiërargie wat die nasies van Europa beheer het, deur die kerk hoofsaaklik ’n politieke masjien te maak” (The Story of the Christian Church”, bl. 79-80).

’n Hedendaagse “Babilon” geskep

Waarheen lei dit alles dan? Het die leiers van die Protestante Hervorming werklik die belydende Christenkerk “terug op die spoor gebring” na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas vers 3) – terug na die ware Christenskap van Jesus en die oorspronklike Apostels? Hoewel hulle sonder twyfel opreg was, het die Protestante hervormers die meeste van die anti-wet, anti-gehoorsaamheid gesindhede oorgedra wat hulle in hul rebellie teen “Moeder Rome” aangeneem het. Tog, soos Rome, was hulle steeds betrokke by ’n heidense stelsel van vals leerstellings, foutiewe Heilige Dae en vals konsepte van God, wat God Self in Openbaring 17:4-5 beskryf: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”.

Met hierdie vorm van “Christendom” as staatsgodsdiens, het hordes voormalige heidene “tot bekering gekom”. Baie het dit gedoen uit gerief eerder as oortuiging en het hul ou geloof in die geheim onderhou. Ander het tot die nuwe sinkretistiese geloof gekom sonder om kennis te dra van sy oortuigings en kon slegs die mees basiese onderrig ontvang.

“Babilon” is ’n simbool van verwarring. Die ontstaan van die Rooms-Katolieke Kerk en die latere verskyning van talle “dogterkerke” het beslis ’n geestelike slapte van teenstrydige kerklike organisasies, leerstellings, credo’s en praktyke meegebring – alles veronderstel om “Christelik” te wees. Tog stem nie een van hulle naastenby ooreen met die Christenskap wat die oorspronklike Apostels en die vroeë Kerk van God gevolg het vir dekades na die dood van Jesus van Nasaret nie. Hulle het almal talle heidense idees en praktyke behou wat vir die vroeë Kerk heeltemal vreemd sou wees!

Gedurende die 1940’s het ’n bekende skrywer, Alexander Hislop, sy deurslaggewende boek, The Two Babylons, geskryf. Hoewel dit voorkom asof Hislop tot en met sy dood ’n Protestant gebly het, het hy noukeurig uitgewys – met baie geskiedkundige dokumentasie – dat die hedendaagse Rooms-Katolieke Kerk ’n voortsetting is van die antieke Babiloniese geheimsinnige sisteem en dat haar godsdiensfeeste en die meeste van haar praktyke direk van die Babiloniese godsdiens en priesterskap afkomstig is. Hislop tref gedeeltelik die verband met die “dogterkerke” wat uit Rome gekom het, maar hy was blykbaar verblind vir die volle betekenis van wat met hedendaagse “Christendom” gebeur het.

Na aan die begin van sy boek lê Hislop die basiese tesis uit wat hy dan ten volle dokumenteer:

“Dit was nog altyd bekend dat die Pousdom gedoopte Heidendom was; maar God maak dit nou duidelik dat die Heidendom wat deur Rome gedoop is, in al sy wesenlike elemente die einste Heidendom is wat oorheers het in die antieke letterlike Babilon, toe Jehovah voor Cirrus die tweebladhekke van koper oopgemaak en die ysterstawe uitmekaar gesny het ... Haar oordeel kom nou duidelik vinnig nader en namate dit nader kom, maak die Voorsienigheid van God, wat saamsnoer met die Woord van God, dit al hoe duideliker deur die lig wat van alle kante instroom, dat Rome inderdaad die Babilon van Openbaring is; dat die wesenlike karakter van haar stelsel, die grootse voorwerpe van haar aanbidding, haar feeste, haar leerstelling en dissipline, haar gebruike en seremonies, haar priesterdom en hul ordes, alles afgelei is van antieke Babilon; en laastens, dat die pous self waarlik en na regte die regstreekse verteenwoordiger van Belsasar is. In die oorloë wat gevoer is teen die oorheersende aansprake van Rome, is dit alte dikwels as genoegsaam beskou om bloot haar aanmatigende grootpratery gestand te doen en oor die hoof te sien, dat sy die moeder en minnares van alle kerke is – die een Katolieke Kerk, buite wie se grense daar geen verlossing is nie. Indien daar ooit ’n verskoning was om sodanig met haar te handel, sal daardie verskoning nie meer geldig wees nie. Indien die posisie wat ek uitgelê het volgehou kan word, moet sy heeltemal van haar naam as Christenkerk gestroop word; want indien dit ’n Kerk van Christus was wat daardie nag byeengekom het toe die pouslike koning van Babilon te midde van sy duisend maghebbers ‘die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys [het]’ (Daniël 5:4), dan is die Kerk van Rome geregtig op die naam van ’n Christenkerk, maar nie andersins nie. Dit sal vir party mense ongetwyfeld ’n baie verstommende posisie blyk te wees, maar dit is ’n posisie wat hierdie werk ten doel stel om te vestig en laat die leser vir homself oordeel of ek nie voldoende bewyse bring om my standpunt te ondersteun nie” (The Two Babylons, bl. 2-3).

Later beskryf Hislop hoe die Katolieke “biegstoel” van die heidendom geleen is om die priesters groter gesag oor die lekelidmate van die kerk te gee. Hy verduidelik dat die heidense feeste van Kersfees en Paasfees eeue nadat Christus die volle Waarheid aan Sy Apostels onthul het, in “Christendom” ingebring is. Hislop skryf: “Dit word inderdaad deur die meeste geleerde en openhartige skrywers van alle partye erken dat die dag van ons Heer se geboorte nie vasgestel kan word nie en dat ’n fees soos Kersfees ongehoord was binne die Christenkerk tot die derde eeu en dat dit eers laat in die vierde eeu veel eerbiediging verwerf het. Hoe het die Roomse Kerk dan 25 Desember as die Kersfeesdag vasgestel? Waarom, dus: Lank voor die vierde eeu en lank voor die Christenera self, is ’n fees onder die heidene gevier, presies op daardie tyd van die jaar, ter ere van die geboorte van die seun van die Babiloniese hemelkoningin en dit mag met billikheid aangeneem word dat, ten einde met die heidene te versoen en die aantal aanhangers van Christendom in naam te laat toeneem, dieselfde fees deur die Roomse Kerk aangeneem is deur net die naam van Christus daaraan te koppel. Hierdie neiging van Christene om heidendom halfpad tegemoet te kom, is baie vroeg reeds ontwikkel” (The Two Babylons, bl. 92-93).

Inderdaad.
Om heidendom halfpad tegemoet te kom “is baie vroeg ontwikkel” skryf Hislop! Tog sê God duidelik vir ons voorvaders: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met ’n byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie” (Jeremia 10:2-4). Tog gaan hedendaagse kerkgangers voort om presies dit te doen – en dan het hulle die vermetelheid om die naam “Christen” buite op hierdie pakkie van heidense oortuigings en gebruike te stempel! Diegene wat waarlik belangstel in die basiese geskiedenis van hierdie verhouding tussen antieke Babilon en moderne belydende Christendom moet, indien moontlik, die boek The Two Babylons opspoor en lees en vir hulself bewys dat hedendaagse “kerkedom” bloot ’n voortsetting is van die ou Babiloniese godsdiens, met die naam “Christen” buite op gestempel!

Wat nou voorlê

Al hierdie inligting is nie bloot ’n filosofiese argument teen ware heidense praktyke nie, hoewel dit ook belangrik is. Die begrip van hierdie aangeleentheid kan ook help om opregte en ywerige Christene te beskerm teen die komende “Groot Slagting” wat in die Bybel as die Groot Verdrukking beskryf word – mits hulle sal optree! Die briljante skrywer Adrian Hilton beskryf die agtergrond van wat nou aan die gang is:

“Jesus het gesê dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreldorde was nie en het baie gepraat oor die wêreld en die Kerk wat koppe stamp tot Sy Wederkoms. Dit was nie totdat Konstantyn ’n proses van sinkretisme begin het, wat Christene die aard van die dier begin verstaan het wat aan die ontwikkel was nie. Die Joodse Sabbat van Saterdag is vervang met Konstantyn se edik wat werk verbied het op die ‘eerwaardige dag van die son’ [Sondag] en die viering van Pasga is onwettig verklaar – dit was strafbaar met die dood. Dit is vervang met ‘Paasfees’ [Easter], wat op ’n Sondag gevier en oorgeërf is van ’n Babiloniese kultus van die godin Ishtar. Die Romeinse vals Christendom het veroorsaak dat baie getroue gelowiges die berge van Europa en Klein-Asië ingevlug het om vervolging en dood vry te spring en daar het hulle voortbestaan, uit die oog van die wêreld, as die ware Kerk van Christus. Die meerderheid van Christene het egter in ontsag gestaan van die universele invloed van die nuwe eenheid. Daar was een Ryk onder een Keiser wat een Kerk onder een God gelei het. Baie gelowiges het begin wonder of hulle nie die konsep van die Koninkryk van God misverstaan het nie – dit kon dalk die Kerk self of selfs die gekerstende Ryk gewees het. Sodoende is die noodlottige eenheid van Kerk en Staat bekragtig – ’n eenwording wat die ontwikkeling van Europa vir eeue in die toekoms sou vorm” (The Principality and Power of Europe, bl. 23-24).

Later gaan Hilton voort:
“Ewe belangrik vir die verenigingsproses is die uitwerking van die suksesse van die Hervorming. Selfs party prominente Evangeliesgesinde Christenleiers het hierdie gewigtige beweging van God as een van die grootste tragedies voorgehou wat ooit met die Kerk gebeur het en sê dat Protestante die “eenheid van Christendom” vernietig het. Hulle versuim om die ware aard van die Pouslike godsdiensstelsel, die dieptes van geestelike duisterheid waarin sy haar volgelinge hou en die lynregte teenstelling met ware Bybelse Christendom te noem. Dit blyk dat eenheid belangriker is as die waarheid. Die konsep van Christendom, hoe onbybels die gebruike ook al, belangriker blyk te wees as die nasionale grense wat gestel is tussen een vorstedom en ’n ander, ongeag die vryhede wat daardie grense sou beskerm.

Terwyl hy in 1983 in Oostenryk besoek afgelê het, spreek die pous hom uit teen die ‘nasionale en kunsmatige grense’ regdeur Europa. Hy voeg by:

‘Europeërs moet die dreigende internasionale konfrontasies van state en bondgenootskappe oorwin en ’n nuwe, verenigde Europa skep, van die Atlantiese Oseaan tot aan die Oeralgebergte’.

In 1988 sit hy hierdie tema voort wanneer hy die Europese Parlement in Straatsburg toespreek; ’n geleentheid waar baie mense gevra het waarom iemand wat as ’n geestelike leier beskou word, die vraagstukke van politieke eenwording aangespreek het. In 1991 som die Sunday Telegraph die pous se planne vir die ‘evangelisering’ van Europa op. Dit lees:

‘Hy is kalm besig om voor te berei om die mantel op te neem wat hy plegtig glo sy Goddelike Reg is – dié van nuwe Heilige Romeinse Keiser, wat heers van die Oeralgebergte tot aan die Atlantiese Oseaan’” (bl. 36-37).

’n “Nuwe” Heilige Romeinse Ryk?

Die pous wil, soos die Britse Sunday Telegraph berig het, oor ’n nuwe Heilige Romeinse Ryk “regeer”. Die belangrikste vraag is egter: sal dit werklik “heilig” wees? Of sal dit eintlik ’n herlewing wees van ’n antieke, heidense, Babiloniese kerk-staatstelsel wat God verdoem?

In ’n profesie vir ons tyd beskryf die profeet Jesaja ’n hedendaagse maagdelike “dogter” van antieke Babilon, wat haar eie mense sou ontheilig (Jesaja 47:1-9). God beskryf hierdie hedendaagse Babilon duidelik as “gebiedster van die koninkryke” (vers 5). Dan sê God: “En [sy] sê: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie. Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! EK sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie. Hierdie twee dinge sal dan in ’n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe” (verse 7-9).

Let nou op hoe hierdie presiese stellings teen die hedendaagse Babilon gebruik word wat Christus met Sy Wederkoms sal beveg! “Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie – daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel” (Openbaring 18:7-8).

Dit is die eerskomende kerk-staatstelsel in Europa wat uiteindelik teen die Amerikaanse en Britse afstammelinge sal draai en die Groot Verdrukking sal meebring! Dit sal ’n herlewing wees van antieke Babilon – met sy priesterlike stande, sy heidense rituele en leerstellings en sy algehele minagting van die gebooie van God. Dit sal ’n slim vervalsing wees van ware Christendom. Vir miljoene mense sal dit egter soos die ware Jakob lyk!

Waarom?
Omdat die oorgrote meerderheid van belydende Christene oor die algemeen nie die Bybel bestudeer nie. Hulle delf nie werklik diep en probeer om alle dinge te “bewys” soos God beveel nie. Daarom sal selfs baie evangeliesgesinde Christene – en hul leraars – uiteindelik opgevang word in die euforie van hierdie kragtige Babiloniese stelsel! Dit sal deel wees van die “ekumeniese beweging”. Dit sal voorkom asof dit “die ding is om te doen”.

Onthou asseblief Jesus se eie woorde: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheus 7:13-14).

Die Jesus Christus van u Bybel gee ook hierdie kragtige waarskuwing: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

Die pragtige skynvertoon, die musiek, die prag en praal en intimiderende mag van hierdie komende Babiloniese stelsel sal baie indrukwekkend wees. Slegs diegene wat werklik die wil van God doen en Sy gebooie onderhou – al tien daarvan – sal in Christus se eerskomende Koninkryk wees. “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12).

Heel aan die einde van Sy geïnspireerde Woord, vertel ons Skepper ons eenvoudig: “Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen” (Openbaring 22:14-15). Die godsdienstowery en afgodediens van die Babiloniese stelsel sal vir baie miljoene mense aanloklik wees. Die oorgrote meerderheid sal daardie weg volg. Die bostaande skrifdeel waarsku egter enigeen wat “leuens liefhet en doen”. Die leringe van hedendaagse “Babilon” is vol van ’n reeks leuens, misverstande en heidense gebruike.

Tog beskryf God se Woord die tydelike rykdom en mag van hierdie stelsel: “Want jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (Openbaring 18:23-24). En hoe sal dit eindig? “En een sterk engel het ’n klip opgetel soos ’n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ’n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie” (vers 21).

God waarsku: “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls” (vers 2). Dan beveel God: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (vers 4).

In hierdie tydskrif sal ons voortgaan om die profetiese gebeure te verduidelik wat nou ontvou om die herlewing van Babilon én die toekomstige Koninkryk van God mee te bring. Ons boodskap sal nie gewild wees nie! Ons sal geteister, gespot en vervolg word omdat ons aan u die eenvoudige waarheid bring oor wat werklik in wêreldsake aan die gebeur is.

Mag God u help om te reageer op hierdie boodskap terwyl u nog die geleentheid het. Mag God u help om vir uself te begin bewys wat die Bybel werklik sê en om meer te wete te kom – en om dit te vervul – oor die ware doel van en vir u lewe.

“Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:7-8).