Daar is baie vreemde beskouings aangaande die lewe na die dood! In die naam van Christelikheid word baie teenstrydige idees onderrig. Wat gebeur werklik wanneer u sterf?
Almal van ons is persoonlik besorg oor lewe en dood. Party van ons is baie bekommerd oor ons toekoms na die dood. Sal ons in helvuur beland sodra ons ons laaste asem uitblaas? Miskien verwag ons dat ons hemel toe sal gaan om saam met die Here te wees.
Die wetenskap het sy eie antwoorde op dié vraag. Tog erken wetenskaplikes dat hulle nie die geestelike ryk kan meet of toets nie. Danksy die kriogeniese wetenskap het sommige individue groot somme geld betaal om hul liggame met hul dood te laat blitsvries, met die hoop dat die wetenskap eendag ’n manier sal vind om hulle te laat herleef tot ’n lang lewe.
Die wetenskap kan egter nie – en sal ook nooit – aan enigiemand die ewige lewe kan gee nie! Nogtans het baie mense ’n “blinde geloof” in die wetenskap, selfs wanneer dit eenvoudige redenasie weerspreek. Die wetenskaplike en Nobel Prys-wenner, George Wald, maak in die Scientific American tydskrif ’n verstommende erkenning in ’n 1954 artikel, “The origin of life”: “Die redelike sienswyse was om in spontane opwekking te glo; die enigste alternatief, om te glo in ’n enkele, primêre daad van bonatuurlike skepping. Daar is geen derde standpunt nie. ’n Mens moet net die groot omvang van hierdie taak oorweeg om toe te gee dat spontane opwekking van ’n lewende organisme onmoontlik is. Tog glo ek dat ons hier is as gevolg van spontane opwekking”.
Ongelooflik! Hy erken dat spontane opwekking “onmoontlik” is en dring tog daarop aan dat dit waar moet wees. Die waarheid is dat die wetenskap en die Bybel, wanneer dit behoorlik verstaan word, in perfekte harmonie is. Die Bybel onthul egter ook ’n almagtige God wat alle dinge geskape het. Dit onthul diep geestelike en ewige waarhede wat die wetenskap erken hulle nie kan ontdek nie.
Hoop vir onsterflikheid?
Of die dood nou vriende of familielede tref, ervaar ons die pyn van verlies. Dan wonder ons: “Sal ons hulle ooit weer sien?” Wanneer ons die onvermydelike einde van die lewe bedink, vra ons: “Is daar enige hoop vir die toekoms?” Genadiglik is die antwoord: “Ja!” Die Almagtige God – die Skepper van die lewe self – openbaar ons ware hoop in die Bybel!
Hier is wat die apostel Paulus skryf: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie” (1 Thessalonicense 4:13-15).
Let daarop dat Paulus die dooies “ontslapenes” noem. Hy beskryf nie dooie Christene as aktief of lewendig in die hemel nie. Hulle is eerder “ontslape”, of dood, tot en met Christus se Wederkoms. “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (verse 16-18).
Toe die Sanhedrin Paulus per geleentheid ondervra het, was die opstanding die belangrikste aangeleentheid in sy reaksie: “En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg” (Handelinge 23:6).
Paulus het uitgesien na die opstanding van die dode met Christus se Wederkoms. Hy sien uit: “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Filippense 3:10-11).
In Hebreërs 11, wat dikwels die “geloofshoofstuk” genoem word, lees ons van talle helde en heldinne van die geloof. Het hulle met hul afsterwe hemel toe gegaan? Wat sê die Skrif? “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry [van die ewige lewe en om die aarde te beërwe], maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” (Hebreërs 11:13). Later lees ons: “En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie” (verse 39-40).
Getroue Christene wat gesterf het, wag in die graf op Christus se Wederkoms! “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Johannes 5:28-29).
Hierdie “opstanding tot oordeel” vind plaas ná die duisendjarige regering van Jesus Christus en die heiliges (Openbaring 20:5-6). Dan volg die Laaste Oordeel – die tyd ná die Millennium wanneer geestelik verblinde mense wat nie voorheen die Waarheid geken het nie, sal opstaan en hul eerste werklike geleentheid kry om werklik Jesus se opoffering te aanvaar. Diegene wat dit verwerp, sal in die poel van vuur gewerp word om te sterf – vir ewig.
Onsterflikheid: ’n Gawe van God
Ons sou dood bly indien God ons nie opwek nie. As mense besit ons nie reeds onsterflikheid nie. Onsterflikheid is ’n gawe van God! “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Indien ons reeds onsterflik was, sou ons dit nie nodig gehad het as ’n gawe van God nie. Ons ontvang die gawe van onsterflikheid wanneer ons met die opstanding ’n dramatiese gedaanteverwisseling ondergaan.
Paulus skryf: “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Korintiërs 15:51-54).
Ja, tensy ons met onsterflikheid “beklee word” deur die gawe van God met die opstanding, kan ’n siel sterf! Die profeet Eségiël maak dit duidelik wanneer hy skryf: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eségiël 18:4, 20). Die Hebreeuse woord vir “siel” is nephesh, wat verwys na fisiese lewe; dit is dieselfde woord wat in Genesis 1:21 gebruik word om dierelewe te beskryf.
“Maar dit is in die Ou Testament,” mag u dink. “Wat sê die Nuwe Testament omtrent die siel?” Jesus onderrig dieselfde. “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel [Grieks psuche, “lewe”] sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [gehenna vuur]” (Mattheus 10:28). Glo u u Bybel? Glo u wat Jesus gesê het? God kan beide siel en liggaam in die “hel” – gehenna vuur – vernietig.
Die Bybel leer duidelik dat siele sterflik is – nie onsterflik nie. God het egter ’n wonderlike plan van verlossing vir die ganse mensdom – u inkluis! Hy wil hê dat u vir alle ewigheid deel van Sy gesin word. God is liefde en Hy het aan u die genadegawe van Sy Seun Jesus Christus gegee om vir u sonde te betaal. Sonde bring die doodstraf oor almal van ons. “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).
Ons sonde het vir ons die doodstraf verdien, maar God het Sy Seun gestuur om daardie straf te betaal, sodat ons met God versoen en deur Hom teruggekoop kan word. Deur Sy gawe kan ons ’n nuwe lewensweg bewandel en ’n nuwe verhouding met ons Skepper hê! Elkeen van ons is na die ewebeeld van God geskape om ’n ewige en liefdevolle verhouding met Hom te hê. Dit is egter God wat eerste Sy liefde aan ons betoon het! U is moontlik vertroud met die bekende “goue vers” van die Bybel: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16).
God het ons na Sy ewebeeld geskape – na Sy gelykenis. Hy wil ’n verhouding met ons hê, maar ons het onsself van Hom geskei. “Julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God” (Jesaja 59:2). Christene is egter met God versoen deur die dood van Sy Seun; deur Christus se gestorte bloed. As Christene is ons nie meer verwyderd nie – ons het direkte toegang tot God deur ons Saligmaker Jesus Christus.
Is u iemand na God se eie hart? Koning Dawid van Israel is nog ’n “held van geloof” wat in Hebreërs 11 genoem word. God noem hom “’n man na my hart” (Handelinge 13:22). Het hy hemel toe gegaan of is hy nog in die graf?
In die Koninkryk van God wat nog na hierdie aarde toe moet kom, sal Koning Dawid heerser wees oor al die stamme en volkere van Israel en Juda (verg. Esegiël 37:24; Jeremia 30:9). Dawid moet sekerlik in die hemel wees as die regverdiges, die oomblik wanneer hulle sterf, soontoe gaan. Tog wys die Bybel baie duidelik dat hy nie daar is nie! Op Pinksterdag – die einste dag dat die Nuwe-Testamentiese Kerk gestig is – sê die apostel Petrus: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe” (Handelinge 2:29). Na die dood, begrafnis en opstanding van Christus, was Dawid steeds dood en begrawe! Petrus gaan voort en verduidelik: “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (vers 34)! Dawid, soos al die ander getroue heiliges, wag op die opstanding!
Vir baie gelowige mense is die vals konsep van die onsterflike siel geleer en as gevolg daarvan is hulle bang, nie net vir hul eie toekoms nie maar ook vir dié van hul vriende en familie wie, vrees hulle, tans in ’n ewige hel gemartel word. Die waarheid is egter dat geen mens wat ooit geleef en gesterf het nou in ’n helvuur gemartel word nie!
U Bybel verwys duidelik figuurlik na die dood as ’n slaap. Jesus verwys na Sy vriend Lasarus se dood as ’n slaap (vgl. Johannes 11). Die dooies het geen bewussyn nie. “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die dooies ondervind geen bewuste tydsverloop nie. In die volgende breukdeel van ’n sekonde van hul bewussyn, sal hulle in die opstanding ontwaak.
Die gees van die mens
Ons word nie gebore met ’n onsterflike siel nie, maar ons het wel ’n menslike siel. Soos die apostel Paulus skryf: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God” (1 Korintiërs 2:11). Die stamvader Job maak dié stelling: “Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak” (Job 32:8). Daardie gees, in samewerking met die menslike verstand, gee aan mense “breinkrag” wat glad nie vir diere beskore is nie. Die menslike gees is egter nie ’n siel nie en het nie bewustheid wanneer dit van die mens se verstand verwyder is nie. Wanneer iemand ’n ware bekeerde Christen word, werk die Heilige Gees saam met die gees van die mens en word ons verwekte kinders van God. Daarna neem die bekeerde Christen toe in die genade en kennis van Christus (vgl. 2 Petrus 3:18). Deur Christus wat in ons leef, word ons verander na die einste aard en denke van Christus. Ons het God se karakter, liefde en aard!
Hoe is dit dat ons so ’n verstommende seën kan bekom? Omdat die Verlosser van die wêreld dood, begrawe en herrese is. Petrus skryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd” (1 Petrus 1:3-5).
Ons het ’n lewende hoop omdat Christus uit die dood opgestaan het. Party mense glo verkeerdelik dat Jesus in die hel vir geeste gaan preek het terwyl Sy liggaam in die graf gebly het. Dit is heeltemal onwaar! Jesus sê duidelik dat Hy dood was toe Hy gesterf het! “Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood” (Openbaring 1:17-18). Voordat Jesus vlees geword het, preek Hy vir die “geeste in die gevangenis” gedurende die dae van Noag “toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is” (1 Petrus 3:20). Jesus was vir drie dae en drie nagte dood en in die graf, of in “die hart van die aarde”, net soos Hy in Mattheus 12:40 beloof het. Indien Hy nie werklik gesterf het nie, het ons geen Saligmaker nie. (Vir meer inligting oor hierdie grootliks misverstaande onderwerp, sien “Die Opstanding was nie op Paassondag nie” wat elders in hierdie uitgawe verskyn).
Vir ewig verlore?
Wat gebeur met die biljoene mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit Christus se opoffering te aanvaar? Is hulle vir ewig verlore? Nee! God is billik en regverdig. Hy sal nie geestelik verblinde mense na die poel van vuur stuur sonder om hulle ooit ’n geleentheid op verlossing te gee nie. God sal daardie sondaars hul eerste werklike geleentheid op verlossing gee tydens die “Laaste Oordeel”. Die apostel Johannes skryf: “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:12).
Vandag is almal wat egter ooit gesterf het, behalwe Jesus Christus, sonder lewe of bewussyn, wagtend op die opstanding. Ware getroue Christene sal in die eerste opstanding wees wanneer Christus terugkeer. “Die res van die dode” sal met die tweede algemene opstanding opgewek word vir oordeel in die Laaste Oordeel. Biljoene mense sal dan hul eerste geleentheid op verlossing hê deur Christus. Hul oë sal geopen word en hulle sal die ware evangelie verstaan. Hulle sal ’n leeftyd gegun word om hulself te bekeer en hul lewens aan Christus te wy. Aan die einde van hierdie tydperk van oordeel sal diegene wat opstandig is en hul gewetens verstomp het, wat die onvergeeflike sonde pleeg, in die poel van vuur vernietig word en die pynlike “tweede dood” sterf waarvan daar geen opstanding is nie (Openbaring 20:14-15).
Dank God dat geeneen van u afgestorwe vriende of familie nou die foltering van helvuur verduur nie. Hulle sal egter opgewek word vir oordeel om óf die gevolge te dra omdat hulle God se Waarheid verwerp het, óf om vir die eerste keer aan daardie waarheid blootgestel te word, mits God hulle nie voorheen na die Waarheid gebring het nie. Word u nou geroep? Indien wel, kan u nie wag nie; God wil u in die eerste opstanding hê: “’n Beter opstanding” (Hebreërs 11:35). Mag God u seën met Sy ware begrip van lewe en dood en Sy hoop vir u toekoms.