Is belydende Christenleraars besig om “hul oë weg te keer” van die einste teken wat God gegee het om Sy mense te identifiseer? Deur wie se gesag is die vierde gebod verander of mee “weggedoen”?


Groot kerkgenootskappe is verdeeld oor sake soos homoseksualiteit, aborsie en die gesag van die Bybel. Duisende “algemene” kerke val in by bykans enige leerstelling of gedrag solank hulle hul mense kan leer om “Jesus lief te hê”.

Watter Jesus het hulle egter in gedagte? Hoe sal al hierdie dinge u eie lewe in die nabye toekoms op dramatiese wyse raak?
Die meeste lesers van die Wêreld van Môre het ongetwyfeld ’n opregte begeerte om God se wil te doen en om die Jesus Christus van die Bybel te eer. U besef waarskynlik dat ons ganse samelewing in gevaar staan en dat ons Skepper binnekort kragtig in mensesake gaan ingryp. U sal dalk uit die studie van Openbaring 12 onthou waar God onthul hoe Hy Sy getroue diensknegte bonatuurlik sal beskerm gedurende die komende Groot Verdrukking. Wie is hierdie mense wat deur God beskerm sal word? ’n Noodsaaklike sleutel tot hul identiteit word in vers 17 gegee: “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou”. Die geïnspireerde apostel Johannes identifiseer ook God se ware heiliges in Openbaring 14:12: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in [of beter vertaal “van”] Jesus bewaar”. Let daarop dat God se mense nie net geloof in Jesus het nie, maar Jesus Christus se eie geloof het – geloof om te doen wat die Vader sê, selfs in moeilike omstandighede!

Baie van u het aangeneem dat “Sondagviering” ’n korrekte manier is om die vierde gebod te gehoorsaam. U is moontlik opreg hierin, want dit is hoe die meeste van u geleer het! U kan egter nie verder verkeerd wees nie! God se ware Sabbat, soos deur Jesus Christus en al die vroeë Apostels onderhou is, is die sewende dag van die week! Kyk daarna op u almanak. Watter dag is die sewende dag? Twee ernstige sondes – afgodery en Sabbatontheiliging – was die hoofredes waarom God die antieke Israeliete swaar gestraf en hulle in slawerny laat wegvoer het (Esegiël 20). Hierdie selfde nasionale straf sal ons nasies tref indien ons ons nie bekeer en aan ons Skepper begin erkenning gee deur Sy gebooie en Sy ware Sabbatte te onderhou nie!

Die Jesus Christus van die Bybel waarsku duidelik: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Jesus Christus onderrig voortdurend gehoorsaamheid aan al tien van die Tien Gebooie. As God van die Ou Testament, was dit Hy wat daardie gebooie aan Israel gegee het (1 Korintiërs 10:4) en Hy het nie later “van plan verander” nie. In die “Bergpredikasie”, Sy fundamentele lering oor Nuwe-Testamentiese Christenskap, sê Jesus: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie ... elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:17-19).

Toe begin Jesus verduidelik dat Sy volgelinge selfs verder as die letter van die Wet moes gaan. Nie bloot is hulle verbied om ’n ander persoon dood te maak nie; hulle moes nie eens haat koester nie (verse 21-22). Hulle is verbied om egbreuk te pleeg, maar Jesus vergroot hierdie Wet deur die stelling: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (vers 28).

Klink dit asof Jesus met Sy Vader se groot geestelike Wet, die Tien Gebooie, wou wegdoen? Dink u vir een oomblik dat Christus, nadat Hy die voorafgaande uitsprake gemaak het, omgedraai het en die Vierde Gebod – die gebod om die sewende-dag Sabbat te onderhou – afgeskaf het? Indien u gewillig is om die eenvoudige, Bybelse Waarheid te aanvaar, lees verder!

Wat die Bybel duidelik sê

Die meeste van u wat hierdie artikel lees, is gepeper met allerhande soorte leringe en redenasies wat u óf vertel dat die Tien Gebooie mee “weggedoen” is óf dat hulle op die een of ander manier verander of “verwater” is sodat die Vierde Gebod nie meer letterlik onderhou hoef te word nie! Dit is op die een of ander manier reg uit die Tien Gebooie – waar dit altyd was – “gepluk” en wegverduidelik as deel van die “Wet van Moses” of andersins doeltreffend mee weggedoen deur die een of ander slim plan.

Is dit reg? Is dit wat die Bybel onderrig? Ons moet eerlik wees!

Selfs ’n leidende Rooms-Katolieke kardinaal erken die waarheid in die saak. James Cardinal Gibbons, aartsbiskop van Baltimore, skryf duidelik: “U kan egter die Bybel van Genesis tot Openbaring lees en u sal nie ’n enkele reël vind wat die heiliging van Sondag magtig nie. Die Skrif pas godsdienstige onderhouding van Saterdag toe, ’n dag wat ons nooit heilig nie. Die Katolieke Kerk onderrig met reg dat ons Heer en Sy Apostels sekere belangrike pligte van godsdiens ingeskerp het wat nie aangeteken is deur die geïnspireerde skrywers nie. Byvoorbeeld, die meeste Christene bid tot die Heilige Gees, ’n praktyk wat nêrens in die Bybel gevind word nie. Daarom moet ons aflei dat die Bybel alleen nie ’n genoegsame riglyn en geloofsreël kan wees nie, omdat dit nooit binne die bereik van elke ondersoeker is nie en op sigself nie duidelik of verstaanbaar is nie, selfs nie in aangeleenthede van die grootste belang nie en ook omdat dit nie al die waarhede wat nodig is vir saligmaking bevat nie” (Faith of our Fathers, 1876).

Gibbons stel hier die algemene vals idee voor dat die mens kan byvoeg of wegneem van wat die Bybel onderrig, met die verskoning dat die geïnspireerde Bybel “op sigself nie duidelik of verstaanbaar” is nie. Arme God, blykbaar kon nie een van hierdie teoloë Hom “opvoed” oor hoe om dinge te verduidelik nie!

Tog sal hierdie selfde teoloë erken dat Jesus Christus, die Seun van die lewende God, sê: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Soos ons vroeër gesien het, sê Jesus ook: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:19).

’n Jongman kom na Christus en vra: “Watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” Wat is Jesus se antwoord? Sê Jesus: “Gee net jou hart aan my” of “Maak jou besluit vir Christus”?

Beslis nie!

Die Seun van God sê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:16-17). Naby die einde van die geïnspireerde Bergpredikasie, sê Jesus ook: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

Waarom “pik” teoloë dikwels op die Sabbat?

Waarom blyk dit dat die mens van al die Tien Gebooie die hardste streef om “weg te doen” met God se gebod rakende die Sabbat? Hoewel antagoniste probeer om die Sabbat ’n “juk” van slawerny te noem, sou dit in ’n waarlik Christelike samelewing die maklikste gebod wees om te onderhou. “Hoe kan dit moontlik wees?” mag u vra. Dit is omdat ware Christene heeldag lank – vir sewe dae van die week – nie betrokke moet raak in seksuele losbandigheid, haat, leuens of begerigheid nie, maar vir slegs een dag van die week, gebied word om te rus en hul Skepper te aanbid.

Wat ’n “juk”!

Tog het die onsigbare “god” van hierdie wêreld, Satan die duiwel (2 Korintiërs 4:3-4), daarin geslaag om miljoene mense te mislei om te dink dat God se Sabbat verskriklik moeilik is om te onderhou en, trouens, dat dit ’n “juk” van ’n aard is. Die waarheid is natuurlik presies die teendeel! Indien die ganse wêreld die ware sewende-dag Sabbat sou onderhou, sou ongekende miljoene mans en vroue uiteindelik ’n sin vir vrede en vryheid op ten minste een dag van die week geniet. Die ganse mensdom sou ook elke week herinner word om die Skepper te aanbid, die Een ware God wat aan almal lewe gee. Dit is omdat die Sabbat op die Skepping dui, soos die volle geskrewe gebod duidelik aandui: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het HY gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Eksodus 20:8-11).

Indien die ware Sabbat allerweë onderhou sou word, sou alle mense oral tot die waarheid van die ware God, die Skepper, gebring word. Soos Hy antieke Israel herinner het: “Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ’n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig” (Eksodus 31:13). Ons moet onthou dat lank voordat antieke Israel ooit bestaan het en voordat daar enige “wet van Moses” gegee is, die Skepper ’n sekere tydperk geheilig het. “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Genesis 2:2-3).

Soos Jesus Christus sê: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie” (Markus 2:27). Die Sabbat is nie slegs vir die Jood gemaak nie, maar vir “die mens” en dit is gemaak toe die mens gemaak is! Wie is die “Heer” van die sewende-dag Sabbat, daardie selfde Sabbat wat die Jode in Jesus se tyd onderhou en wat Hy met party van hulle leiers bespreek het? “Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (vers 28). 
Dit is belangrik om kennis te neem dat Jesus in die bogemelde teksvers niks genoem het van die sewende-dag Sabbat wat “verander” na die eerste dag van die week, die “dag van die son” nie. Hy verduidelik eerder dat die Sabbat “vir die mens” geskape is, as ’n seën vir die mens, nie as ’n “juk” nie, soos sommige van die Fariseërs dit gemaak het deur soveel “moets en moenies” by te voeg wat nie deel was van die Sabbat soos dit deur God gebied is nie.

Waarom het misleide mense dan gedurende die Middeleeue probeer om God se ware Sabbat te verander en dit te verskuif na Sondag, die “Dag van die Son” en ’n dag wat algemeen deur heidene vereer is? Die verandering is deur ’n heidense Romeinse keiser, Konstantyn, “bekragtig”, wat Christenskap “bely” het, maar g’n stuk meer ’n ware Christen was as die man in die maan nie! Onder Konstantyn se leiding is die Raad van Nicea in 325 n.C. gehou. Hoewel hy nog nie gedoop was nie, het Konstantyn as voorsitter opgetree in die raad se openingsitting en deelgeneem aan die besprekings, vas oortuig dat dit sy plig as keiser was om toesig te hou oor die daarstel van leerstellings vir die kerk. Het Konstantyn egter as voorsitter opgetree oor die raad as ’n voormalige heiden wat nou Christen geword het? Of het hy die Raad van Nicea gebruik om sy heidense agtergrond te voeg by dit wat “amptelike” Christendom sou word? Die gesiene geskiedkundige, Paul Johnson, merk die volgende op rakende Konstantyn se godsdienssienings:

“Daar bestaan effens twyfel oor die omvang van Konstantyn se gedagteverandering ... Hyself blyk ’n sonaanbidder te gewees het, een van ’n aantal laat-heidense kultusse wat soortgelyke vieringe as die Christene gehad het. So het die volgelinge van Isis ’n madonna aanbid wat haar heilige kind voed; die kultus van Attis en Cybele het ’n dag van bloed en vas onderhou, gevolg deur die Hilaria opstandingsfees, ’n dag van vreugde op 25 Maart; die uitverkore Mitriaste, waarvan baie senior weermagoffisiere was, het ’n heilige maaltyd geniet. Konstantyn was feitlik seker ’n Mitrias en sy triomfantlike boog, wat na sy “bekering” gebou is, getuig tot die Songod, of ‘onoorwinlike son’. Baie Christene het nie ’n duidelike onderskeid getref tussen hierdie sonkultus en hul eie nie. Hulle het verwys na Christus wat ‘sy strydwa deur die lug aandryf’, hul dienste op Sondag gehou, na die ooste gekniel en hul geboortefees op 25 Desember gevier, die geboorte van die son met die winterson-keerpunt [in die noordelike halfrond]. Gedurende die latere heidense herlewing onder keiser Julianus het baie Christene dit maklik gevind om afvallig te raak as gevolg van hierdie verwarring; die Biskop van Troje het aan Julianus gesê dat hy altyd in die geheim tot die son gebid het. Konstantyn het nooit sonaanbidding laat vaar nie en het die son op sy munte behou. Hy het Sondag ’n dag van rus gemaak ....” (A History of Christianity, Johnson, 1976, bll. 67-69; klem ons eie).

Soos Jesse Lyman Hurlbut in The Story of the Christian Church vertel: “Solank die kerk meestal Joods gebly het, is die Hebreeuse Sabbat onderhou, maar namate dit al hoe meer nie-Joods geraak het, het die eerste dag geleidelik die plek van die sewende dag ingeneem” (bl. 4; klem ons eie).

Hierdie onbybelse optrede is duidelik gevolg om dit makliker te maak vir die omliggende heidene om “Christene” te word. Tog, deur God se ware Sabbat en Sy Wet te verwerp, het dit gelei tot ’n “Christendom” wat geensins werklik Christelik was nie! Soos Hurlbut erken: “Die aanbiddingsdienste het in praal vermeerder, maar was minder geestelik en hartlik as dié van vroeër. Die gedaante van seremonies van die heidendom het geleidelik in die aanbidding ingekruip. Sommige van die ou heidenfeeste het kerkfeeste geword met verandering van naam en aanbidding. Rondom 405 n.C. het beelde van heiliges en martelare in die kerke begin verskyn, eers as herdenkings en toe in volgorde vereer, gelief en aanbid” (bl. 79).

Die uiteindelike rede waarom mense hul dag van aanbidding verander het van God se Sabbat na die heidense Sondag, is omdat die Vors van Duisternis, Satan, die duiwel, enigiets en alles in sy vermoë sal doen om die mensdom te mislei en die mens af te sny van die kennis en aanbidding van die ware God. Aanbidding op die sewende dag, wat God “geheilig” het, die dag wat Christus en die oorspronklike Apostels altyd onderhou het, moes “uitgewis” word weens Satan se begeerte om hierdie wêreld te verwar en die mensdom af te sny van die Skeppergod. Na Christus se Wederkoms na hierdie aarde, sal Hy ’n engel stuur om Satan vir ’n duisend jaar te bind, “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Openbaring 20:1-3).

Die ganse wêreld sal die Sabbat onderhou!

Wanneer Christus terugkeer as “Koning van konings” (Openbaring 17:14), sal daar ’n “wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” begin (Handelinge 3:21). Die onderhouding van die ware Sabbat sal weereens as leefwyse beoefen word soos God dit nog altyd vir die mensdom beoog het: “En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE” (Jesaja 66:23).

Wat is dus fout met die Sabbat? Die waarheid is dat God se beveelde dag van rus en aanbidding aan die einde van elke week – op die sewende dag – ’n groot seën sou wees indien dit nou allerweë onderhou sou word. Die Bybel vertel ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8); dieselfde Christus wat die Tien Gebooie aan antieke Israel gegee het. Daar is nie met God se groot geestelike Wet [die Tien Gebooie] weggedoen nie en dit mag nie “verander” word deur rebelse mense onder die invloed van Satan die duiwel nie!

Met betrekking tot die Sabbat maak God se geïnspireerde Woord dit duidelik dat selfs die “uitlanders” – die Grieke – geseën sou word vir onderhouding van die ware Sabbat: “En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees – elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke” (Jesaja 56:6-7).

Ondanks die Bybelse en geskiedkundige rekords van die beproewings van God se ware Nuwe-Testamentiese Kerk, het baie van diegene wat deur God geroep is, later geloof verloor en die Sabbat versaak deur hulle tot verkeerde leerstellings te wend. Hulle is verlei deur vals leraars. Desondanks het Jesus Christus, die oorsprong en voleinder van ons geloof, God se Sabbatte onderhou (Markus 1:21; 6:2; Lukas 4:16, 31; 6:6; 13:10). Die gewoonte van Paulus, die “Apostel van die Grieke”, was om op elke Sabbat te aanbid en selfs die Grieke te onderrig (Handelinge 13:42-44; 17:2; 18:4). Paulus het nooit weggedraai van gehoorsaamheid aan God se Wet nie, ten spyte van die vrugbare verbeeldings van baie geleerdes. Paulus skryf: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Korintiërs 7:19). Regdeur die geskiedenis was Sabbatonderhouding ’n baie belangrike identifiserende teken om voor uit te kyk, ten einde die afkoms van die ware Kerk van God wat Jesus gebou het, te identifiseer. Wat van u? Slaag u God se toets? God het nie verander nie (Maleagi 3:6; Hebreërs 13:8).

Indien u selfs meer Bybelse en geskiedkundige bewyse wil hê oor God se ware Sabbat, skryf gerus vir ons of skakel en versoek ’n eksemplaar van ons insiggewende boekie met die titel, Watter Dag is die Christelike Sabbat? Hierdie kragtige boekie is vol Bybelse en geskiedkundige inligting en bewyse oor die geskiedenis en betekenis van God se ware Sabbat. Dit behoort u te help om hierdie lewensbelangrike onderwerp te verstaan. Indien u dus opreg wens om ware Christenskap te beoefen en die spesiale seën en beskerming van u Skepper wil geniet in die gevaarlike maande en jare wat voorlê, versoek dan hierdie boekie en bestudeer dit met ’n oop gemoed. Soos al ons literatuur, sal dit absoluut gratis op u versoek aangestuur word.

Indien u persoonlike berading wil hê oor hoe om die Sabbat te onderhou of waar u ander mense kan ontmoet wat daarin glo om die Christenskap van Christus en die vroeë Apostels te beoefen, skryf gerus aan of skakel die Streekskantoor naaste aan u wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys is. Niemand sal u skakel of besoek sonder dat u eers ’n afspraak gemaak het vir ’n tyd en plek wat vir u gerieflik is nie.