Almal van ons word kragtig beïnvloed deur die wêreld om ons. Dit is duidelik dat ons almal grootliks deur ons families, gemeenskappe en kultuur gevorm word. Daarbenewens is ons dag-tot-dag bestaan dikwels ’n reeks reaksies tot die mense en gebeure wat ons daagliks teëkom.
Die meeste van ons vind dit redelik maklik om met ’n beleefde wuif en “hallo” te reageer teenoor vriende wat ons hartlik groet. Ons kan gewoonlik glimlag vir dié wat vir ons glimlag. Wanneer ons deur ’n aangename en vreedsame omgewing omring word, kan die meeste van ons ’n vredeliewende en welwillende gesindheid handhaaf. Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Wanneer iemand onbedagsaam is en ons onbeskof behandel, is dit bloot natuurlik om opgeruk te raak en in weerwraak te wil vergeld. Almal van ons het al gesien hoe maklik ander mense die beste of die slegste in ons te voorskyn kan bring. Dit gebeur tuis, by die werk en in Kerkgemeentes.
Het u al ooit gedink oor wat deurslaggewend was in Jesus Christus se lewe? Het Hy deur Sy lewe gegaan deur bloot net te reageer op Sy omgewingsfaktore? Het Hy met woede en afkeer uitgevaar teenoor diegene wat Hom op die een of ander wyse probeer leed aandoen het? Indien nie, waarom nie?
Terwyl dit vir die mens natuurlik is om te reageer op die wêreld om ons, het Jesus Christus homself so ingestel dat Hy altyd reageer het volgens wat “bo” is. Hy het altyd daarna gestreef dat Sy Vader in die hemel Hom moes lei eerder as om toe te laat dat ander mense Sy gemoedstoestand en gedrag bepaal.
“Wel,” mag u dink “Hy was Jesus Christus en Hy kon dit regkry, maar ek is net ’n mens!” Dit bring ons by ’n gedeelte van die betekenis van die Pinkster-seisoen. Pinkster herinner ons aan die uitstorting van die Heilige Gees wat Jesus Christus aan Sy dissipels beloof het (Handelinge 2:1-4). Dit is deur die Heilige Gees dat Jesus Christus as ’t ware dieselfde in my en u lewe kan leef wat Hy bykans 2,000 jaar gelede geleef het (verg. Galasiërs 2:20).
Of die deurslaggewende faktor dit wat “om” ons of dit wat van “bo” kom is, is ’n belangrike vraag wat elkeen van ons moet aanspreek. Indien ons bloot deur die lewe gaan deur te reageer op die wêreld om ons, is ons besig om volgens die vlees te wandel en sal ons uiteindelik vergaan (Romeine 8:13). Indien ons egter daarna streef om deur die lewe te gaan deur voortdurend te reageer op dít wat “bo” is - ongeag van die mense en omstandighede om ons - word ons deur die Gees van God gelei en is ons onderweg na die ewige lewe (vers 14). Om te reageer op dit wat “om” ons is, is baie maklik - dit is tog op stuk van sake natuurlik! Om dag en nag te reageer op dit wat van “bo” is, is geestelik en nie natuurlik nie.
Wat is die verskil tussen natuurlike optrede en om geestelik te reageer? Hoe verskuif ons die klem van die natuurlike na die geestelike? Kan ons as mense verhoed dat ons omgewing deurslaggewend is in ons lewens?
Die antwoorde op hierdie vrae word duidelik gemaak in die bladsye van die Skrif. Wanneer u werklik hierdie antwoorde verstaan en toepas sal dit al u verhoudings herskep! Hierdie herskepping word moontlik gemaak deur die Heilige Gees wat binne-in u woon.
Omskryf deur die omgewing?
Jesus se dissipels was verbouereerd en angsbevange die aand toe Hy gevange geneem is deur wagte van die Hoë Priester. Toe Judas Jesus omhels, het die wagte Hom gou gearresteer. Simon Petrus se onmiddellike reaksie was om na sy swaard te gryp en die wag naaste aan hom aan te val. Met ’n swaaihou na die Hoë Priester se dienskneg Malchus, het sy swaard die voornemende teiken gemis en ’n oor afgekap (Johannes 18:10). Toe Malchus sy hand na die kant van sy kop gelig het, het bloed begin afstroom en het hy die skerp pyn begin voel weens die sny wat hy toegedien is. Jesus het vinnig die afgesnyde oor aangeraak en Malchus gesond gemaak (Lukas 22:50-51)!
Jesus het aan Petrus gesê om sy swaard weg te sit en hom gewaarsku dat diegene wat met die swaard leef met die swaard sal sterf. Daarna het Hy Petrus daaraan herinner dat Hy Sy vader vir twaalf legioene engele kon vra indien Hy wou (Mattheus 26:52-53).
Sowat 30 jaar later skryf Petrus ’n brief aan Israelitiese Christene wat aan die suidelike kus van die Swart See woon (verg. 1 Petrus 1:1). Sy woorde illustreer die verskil tussen Christus se reaksie en sy eie daardie aand. “Omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” skryf hy (1 Petrus 2:21). Petrus was ’n ooggetuie van Jesus se voorbeeld, “wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (vers 23).
Hoeveel keer moes Petrus nie deur die daaropvolgende jare die gebeure van daardie aand in sy gedagtes herleef nie? Terwyl hy aan sy reaksie gedink het en hoe totaal verskillend dit was van Christus se reaksie, het hy besef hoe Jesus eintlik besig was om vir Sy dissipels ’n voorbeeld te stel. Hy het nie toegelaat dat ander mense se gesindhede of gedrag die bepalende faktor in Sy lewe word nie. Ure later, toe Jesus aan die paal vasgespyker was waaraan Hy sou sterf, het Hy afgekyk na ongevoelige soldate wat aan die voet van Sy kruis gehurk en Sy klere tussen hulle verdeel het en lootjies getrek het vir Sy naatlose jas. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie,” het Hy gebid (Lukas 23:34).
“Maar Jesus was die Seun van God” mag u dalk dink. “Sekerlik kan dit nie van ’n normale vleeslike wese verwag word om op dieselfde wyse te reageer nie!” Tog lees ons in Handelinge 7 van Stefanus, die eerste Christen martelaar. Hy was na buite die mure van Jerusalem geneem om gestenig te word en tog was sy laaste woorde: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie” (vers 60). Met sy dood het hy die voorbeeld van sy Verlosser gevolg. Stefanus was nie gekenmerk deur bloot te reageer en uit te vaar teen die onregverdigheid om hom heen nie. Ten spyte van alles het hy eerstens op God reageer en die voorbeeld van Jesus Christus gevolg.
Hierdie is dramatiese voorbeelde van wat dit is om op God te reageer ten tye van ’n ernstige krisis. Die meeste van ons het onsself nog nie in sulke dramatiese konfrontasies bevind nie, so hoe is hierdie voorbeelde dan op ons van toepassing? Ons bevind onsself bykans daagliks in situasies wat ons dwing om te kies hoe ons gaan reageer. In daaglikse omstandighede, met ons gesinne en by die werk, hoe hanteer ons die lewe se frustrasies en pyne? In watter mate is ander mense bepalend in ons lewens?
Om die self te probeer beskerm
Ons reaksies word telkemale gemotiveer deur begeertes om die self te beskerm en te bevoordeel. Ons raak betrokke in selfverdedigings-strategieë omdat ons nie seergemaak wil word deur ander mense nie. Dit is natuurlik, maar dit is nie die benadering wat Christus gekies het nie!
Let op die instruksies wat Jesus aan Sy dissipels gee in Mattheus 16:24-25 en Lukas 9:23-24. Hy verduidelik dat enigeen wat ’n ware begeerte het om Sy dissipel te wees, homself moet verloën, daagliks sy kruis moet opneem en Hom volg op die tog van die lewe. Dink oor wat dit werklik beteken, omdat dit geheel en al teenstrydig is met die self-gesentreerde gees van ons tydvak.
Selfverloëning vereis ’n gees van opoffering. Dit beteken dat ons erken dat ’n saak van veel groter waarde is as enigiets wat ons hier en nou kan bereik. Die profeet Jesaja het dit soos volg uitgedruk: “Die aarde [sal] soos ’n kleed verslyt en sy bewoners soos muskiete sterwe; maar my heil sal vir ewig bestaan” (Jesaja 51:6). Hierdie teenstelling tussen die tydelike en die ewige behoort ons keuses in perspektief te plaas.
Die Christelike lewenspad begin met ’n gesindheid van self-verloëning eerder as een van self-vervulling. Dit behels ’n bereidwilligheid om nee te sê vir ons menslike begeertes en plesiertjies sodat ons die Werk kan doen waarvoor God ons geroep het.
Jesus se gehoor was goed vertroud met die kruis as Romeinse martelings-instrument. Hulle het die staande pale op die heuwels gesien waar die Romeine diegene gehang het wat as vyande van die staat beskou was. Die Romeine het ’n openbare skouspel gemaak van die teregstellings en het selfs ’n veroordeelde man gedwing om sy eie martelings-instrument na die plek te dra waar hy sou sterf. Dit is in hierdie konteks dat Christus gesê het Sy dissipels bereid moet wees om daagliks hulle las te dra. Eenvoudig gestel moet ons Hom volg. Sy voorbeeld is van opperste belang en een wat ons moet nastreef om as Christene te volg.
Om Christus se voorbeeld na te streef sal beslis kritiek en veragting van die wêreld om ons uitlok. Diegene wat egter Christus se dissipels wil wees moet aan Jesaja se vermaning gehoor gee: “Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is! Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie” (Jesaja 51:7). Met wie is ons die meeste beïndruk - met God of met ander mense? Ons antwoord hierop sal bepaal watter besluite ons neem.
Dink aan baie van die Joodse geloofsleiers van Jesus se tyd. Bykans almal van hulle het sommige van Sy preke gehoor en baie het te hore gekom of het eerstehandse kennis gedra van Sy wonderwerke en genesings. Het u geweet dat heelwat van hulle werklik geglo het dat Jesus die Messias was maar stilgebly het omdat hulle hul status en reputasie belangrik geag het en nie die risiko wou loop om verstoot te word deur die “belangrike” mense in hulle gemeenskap nie (Johannes 12:42-43)?
Neem die voorbeeld van Nikodémus, ’n vooraanstaande Fariseër wat in die geheim na Jesus gekom het aan die begin van Sy bediening (Johannes 3:1-2). Ons lees van ’n voorval wat sowat twee-en-’n-half jaar later gebeur het gedurende die herfs Feestyd van 30 n.C. Van die leidende Fariseërs en Hoë Priesters het soldate gestuur om Jesus te laat haal vir ondervraging, maar hulle het met leë hande teruggekeer. Toe hulle gevra is om te verduidelik waarom dit die geval was het die verstomde soldate geantwoord dat hulle nog nooit iemand hoor preek het soos Jesus gepreek het nie (Johannes 7:46). Die ontstoke Fariseërs het afbrekend geantwoord met die vraag: “Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs?” (vers 48). Die antwoord op daardie vraag was eintlik “ja” - maar hulle het dit nie geweet nie! Nikodémus wat teenwoordig was as deel van die geselskap het hulle nooit vertel van sy geloof nie. Toe hy ’n gematigde vraag vra in ’n poging om hulle benadering teenoor Jesus te versag, is hy dadelik stilgemaak (vers 50-52). Hy het nie gestry of enigiets verder gesê nie. Nikodémus en Josef van Arimathea asook ander was “geheime” dissipels, moontlik uit vrees vir die geloofsleiers of omdat hulle hul goedkeuring wou hê (verg. Johannes 19:38).
Hierdie vrees vir verstoting en vel kritiek het ’n uiterlike ooreenkoms by baie gelowige Jode in Jesus se tyd tot gevolg gehad. Aan die een kant het hulle erken dat hierdie Leraar uit Galilea van God afkomstig was maar was nogtans baie huiwerig om enigiets te sê of te doen wat hulle direk sou verbind met so ’n omstrede persoon. Hulle moes egter uiteindelik almal hierdie kwessie aanspreek: “Wie se opinie tel nou eintlik?” Was dit God se goedkeuring of dié van hul mede-Jode wat die belangrikste was?
Met Jesus se arrestasie, verhoor en teregstelling moes Nikodémus en Josef van Arimathea in die openbaar standpunt inneem (Johannes 19:38-39). Op hierdie laagtepunt het hulle na vore getree en hulself as dissipels en vriende geïdentifiseer deur Sy liggaam op te eis om te begrawe. Nadat hulle vir sowat drie jaar geworstel het met hul vrees van wat ander mense sou sê, het hulle besef dat wat God sou sê baie belangriker was.
Herbert W. Armstrong moes bykans 80 jaar gelede daardie selfde toets trotseer toe hy aanvanklik bekeer is. Nadat hy uitgevind het dat sy vrou van plan was om die Bybelse sewende-dag Sabbat te onderhou, was hy bekommerd oor wat sy besigheidskennisse sou dink. Dit het fanaties geklink en hy was bekommerd oor afkeur en verwerping deur mense vir wie hy ’n hoë agting gehad het. Hy het eindelik by die punt gekom waar die goedkeuring van mense onbelangrik was in vergelyking met dié van God. Slegs wanneer ons by daardie punt kom kan ons onsself onvoorwaardelik oorgee aan God. Die opinies en verwagtings van mense om ons kan nie deurslaggewend wees wanneer ons terselfdertyd die algehele dienskneg van Jesus Christus wil wees nie!
Hanteer die lewe korrek
Die Bybel is vol verhale waarin mense hulle vrese en frustrasies verkeerd aangespreek het. Dit is betreklik maklik om na behore te reageer wanneer dit tot ons voordeel strek. Satan het gedink dat Job God slegs gehoorsaam het as gevolg van al die beskerming en seëninge wat hy ontvang het (Job 1:9-11). Job se ganse wêreld is meteens omvergewerp deurdat hy sy gesin, sy rykdom, sy sosiale stand en selfs sy gesondheid kwytgeraak het. Selfs al het hy baie gefrustreerd geraak en moed verloor, het hy nooit bitter geraak teenoor God soos wat Satan voorspel het nie. In sy diepe leed verklaar Job steeds: “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan” (Job 19:25). Job het uitgesien na die opstanding en na die tyd wanneer hy God uiteindelik sou sien (vers 26-27).
Die wete dat God ’n werklikheid is, is noodsaaklik ten einde die lewe reg te hanteer. Die apostel Paulus stel dit soos volg in Hebreërs 11:6: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek”. Die mans en vroue wie se lewens in Hebreërs 11 opgeteken is het die diepgaande werklikheid van hul Skepper besef. Daardie kennis het al die toetse en beproewings wat hulle moes trotseer in perspektief geplaas.
Waarom was Moses nie geïntimideer en met ontsag vervul deur die prag en praal van antieke Egipte nie? Omdat God en Sy krag vir hom ’n baie groter realiteit was (Hebreërs 11:27). Moses het die besluit geneem om eerder beproewing te verduur saam met God se mense as om die tydelike genot van sonde te geniet (vers 25). Hy het die werklike waarde van hierdie belonings begryp. Die skatte van Egipte het geen houvas op hom gehad nie omdat hy die veel groter waarde van God se beloftes ingesien het. Deur geloof het Moses sy opsies in perspektief geplaas en het geen probleem gehad om te besluit wat werklik belangrik was nie.
Ander mense het weer ’n heel ander benadering gevolg. Toe Jerobeam nog ’n jong en belowende offisier van Koning Salomo was wat gejaagd heen en weer gehaas het vir regeringsake, het die profeet Ahìa hom met die verbysterende nuus gekonfronteer dat hy bestem was om die grootste deel van sy meester se koninkryk te erf (1 Konings 11:26-37). Ahìa het God se belofte oorgedra dat, sou Jerobeam God getrou dien en Sy gebooie onderhou soos Koning Dawid gedoen het, sy koningshuis permanent ingestel sou word (vers 38). Met die verloop van die volgende paar jaar het al hierdie dinge waar geword en Jerobeam het hom as koning oor ’n groot nasie bevind. Dit was egter nie lank nie of Jerobeam het begin bekommerd raak oor die toekoms. Hy het begin vrees dat die mense met die jaarlikse togte na Jerusalem om God se Feeste te onderhou, helaas nostalgies sou begin raak oor “die goeie ou dae” en besluit om die land te herenig onder Dawid se vorstehuis (1 Konings 12:26-27).
Jerobeam se bevreesdheid oor die toekoms (en sy begeerte vir sekuriteit vir hom en sy nageslag) het daartoe gelei dat hy ’n menslike strategie gevolg het wat die hele nasie in afgodery laat verval het. God en Sy beloftes was nie vir Jerobeam ’n werklikheid soos wat dit dekades vantevore vir Koning Dawid was nie. Jerobeam het die weg gevolg wat vir hom reg gelyk het eerder as om God se beloftes te glo en op sy Skepper te vertrou om alles te laat uitwerk.
Dit is natuurlik om op die wêreld om ons te fokus en toe te laat dat ons besluite en gedrag daardeur bepaal word. Dit is heel natuurlik om op ons omgewing te reageer - die mensdom doen dit op stuk van sake dan al sedert die tyd van die Tuin van Eden, toe Eva na Satan se “pleidooi” geluister het en Adam sy vrou gevolg het! Om dít te doen wat natuurlik kom, eindig egter in die dood.
Aan die ander kant bied God ons Sy Heilige Gees sodat ons die trekkrag van die vlees kan oorkom en dít wat natuurlik kom kan weerstaan. As ons die leiding van die Gees volg is ons op die pad na die ewige lewe (Romeine 8:12-13).
In welke mate reageer ons nét op wat rondom ons aangaan en doen ons wat van nature kom? Of gebruik ons God se Gees om die natuurlike weg te verstoot en die geestelike weg te volg en te reageer op dít wat van “bo” is? “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (vers 14).
Wat is deurslaggewend in u lewe - dit wat óm u is of dit wat van “bo” is?