Wie is hulle? Waarom is hulle uitverkore? Wat hou die toekoms vir hulle in?


Wat weet u werklik van die uitverkore volk? Hoe raak die begrip hiervan u lewe? Het sekere beskawings eenvoudig hierdie idee bedink en ontwerp om hulle selfrespek te bevorder of om hul grootse begeertes te regverdig? Is die Jode die enigste aanspraakmakers op hierdie titel? Kan u deel wees van ’n volk wat God uitverkies het?

Deur die jare is baie geskryf oor die uitverkore volk – maar baie het vergete gebly! Konings, koninginne, politici en presidente het eens diep in hierdie begrip geglo en het hul volke daarvolgens gelei. Nietemin besef weinig vandag hoe hierdie idee die beloop van die geskiedenis gestuur en die lewens van miljoene mense op die aardbol beïnvloed het – omdat hulle nooit ingelig is nie! Skole, kerke en regerings wat eens die bestaan van ’n “uitverkore volk” erken het ignoreer nou die idee geheel en al. Hedendaagse akademici en teoloë verwerp die onderwerp as wensdenkery van fanatici en veronderstel en beweer dat dit deeglik gediskrediteer is – sonder om die onderwerp ooit te bestudeer!

Sommige onlangse boeke maak daarop aanspraak dat die idee van ’n uitverkore volk nie alleen denkbeeldige fiksie is wat gebaseer is op valse veronderstellings nie, maar dat dit ’n gevaarlike, verleidende en verdelende begrip is wat partydigheid bevorder, ’n valse gevoel van meerwaardigheid skep en ’n ernstige bedreiging vir wêreldvrede inhou! Hierdie veel beswadderde en misverstane onderwerp werp egter merkwaardige lig op die verhaal van die mensdom. Die begrip van ’n “uitverkore volk” verduidelik waarom sekere nasies floreer het en andere nie. Soos een joernalis geskryf het, “die Godsdienstige dimensie het in die verlede vrae beantwoord oor die nasionale identiteit en doel wat nog steeds nie bevredigend beantwoord word op enige ander manier nie” (Chosen People, Longley bl. 10). Hierdie begrip is ’n sleutel tot insig in Bybelprofesie wat onthul hoe belangrike gebeure wat binnekort voorlê die lewens van bykans almal wat nou op aarde leef sal tref. Ons kan nie bekostig om hierdie onderwerp te ignoreer nie!

’n Bybelse idee

Een rede waarom die idee van ’n “uitverkore volk” so misverstaan word is omdat dit direk uit die Bybel kom. Talle studies dui aan dat die meerderheid mense vandag – selfs in sogenaamde “Christen” nasies – min weet van die eintlike inhoud van die Skrifte. Wanneer baie die uitdrukking “die uitverkore volk” hoor, dink hulle net aan die Jode, tog is dit ’n ernstige wanbegrip wat ignoreer wat die Bybel eintlik sê en verduister ’n baie groter beeld.

God se eerste “uitverkore volk” was die Israeliete. In die boek van Eksodus, sê God vir Moses: “Sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei ... en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ’n God wees” (Eksodus 6:6-7). God sê later aan die Israeliete: “As júlle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou sal julle my eiendom uit al die volke wees ... En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Eksodus 19:5-6). Pas voor hulle die Beloofde Land binnegaan, sê Moses vir die kinders van Israel: “Want jy is ’n volk heilig [eenkant geplaas] aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees” en “jou het die HERE uitverkies om sy eiendomsvolk te wees ... en dat Hy jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies” (Deuteronomium 7:6-7; 14:2; 26:18-19).

God het die kinders van Israel gekies as Sy uitverkore volk en gesê dat hy hulle sal ophef bo alle volke op aarde. Baie mense vergeet egter dat die nasie van Israel bestaan het uit twaalf stamme. Die Jode kom van net een van daardie stamme – die stam van Juda. Toe God sy verbond met Israel gemaak het, was al twaalf stamme ingesluit – nie net die Jode nie! Die Bybel openbaar ook dat die Israeliete nie gekies was omdat hulle meerderwaardig was nie – maar omdat hulle “die geringste van al die volke” was (Deuteronomium 7:7). Hulle is gekies om te leer om te leef volgens die wette van God om sodoende ’n praktiese voorbeeld aan die mense van die wêreld te stel van die voordele wat spruit uit gehoorsaamheid aan die wette van God (Deuteronomium 4:1-10). God sê dat hulle Sy “kneg ... ’n lig van die nasies” moes wees (Jesaja 49:3-6). Hulle was uitverkies om ’n beter leefwyse aan die wêreld te toon – dit was nie omdat hulle beter was nie!

Nuwe-Testamentiese uitverkore volk

Die gedagte van ’n “uitverkore volk” is ook ’n belangrike tema in die Nuwe Testament. Jesus het twaalf manne uitverkies om Apostels te wees (Lukas 6:12-16) en hy sê aan hulle “julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16). Jesus sê ook: “want baie is geroep, maar min uitverkies” (Mattheus 20:16), en dat Hy sal terugkeer om sy “uitverkorenes” byeen te bring (Mattheus 24:22-31). Die apostel Paulus voeg ’n geestelike dimensie by toe hy verwys na die Nuwe-Testamentiese kerk as “die Israel van God” (Galasiërs 6:16). Paulus dui aan dat heidene ook geestelike Jode kan word – deel van geestelike Israel – deur bekering (Romeine 2:28-29; Galasiërs 3:29). Hierdie kosbare waarheid het egter daartoe gelei dat baie mense verkeerdelik aanvaar dat die gedagte van ’n “uitverkore volk” slegs ’n geestelike konsep is en dat dit nie meer toepaslik is dat God die Israeliete as Sy uitverkore volk uitverkies het nie. Tog ignoreer so ’n verkeerde opvatting die Bybelse en geskiedkundige bewyse agter ’n konsep wat die weg van die geskiedenis gebaan het en wat ’n dramatiese impak op die toekoms sal hê. Is dit moontlik om die Israelitiese nasies vandag te identifiseer? Indien wel, waarom is dit belangrik?

Bybelse bewyse

Die Bybel dui aan dat Jesus, die Messias, sal voortspruit uit die stam van Juda (Genesis 49:10; Hebreërs 7:14). Die Bybel sê egter duidelik dat die Israeliete deurslaggewende fisiese beloftes sal erf wat aan Abraham en sy nageslagte gemaak is (Romeine 9:1-5; Galasiërs 3:29). Wat was hierdie beloftes? Hulle sou ’n groot en vrygewige nasie word wat bystand verleen en seën wêreldwyd versprei (Genesis 12:1-3). Hulle sou vermenigvuldig en baie nasies en die stamvader word van konings (Genesis 15:4; 17:5-7). Hulle sou die poorte van hul vyande in besit neem (Genesis 22:17-18; 24:60) – byvoorbeeld Gibraltar, Suez en Singapoer. Hulle aansien sou dié van ander nasies oorskry (Genesis 27:28-29) en hulle sal oor die aardbol versprei as ’n groot koloniserende volk (Genesis 26:3-4; 28:13-14).

Antieke Israel het bestaan uit tien stamme wie se afstammelinge vandag hoofsaaklik aangetref word tussen die nasies van noordwes Europa en tussen die volke van Engelse afkoms, insluitende dié van die Verenigde State, Kanada, Australië asook Suid-Afrika. Genesis 49 bevat ’n merkwaardige reeks profesieë omtrent besondere karaktereienskappe van die Israelitiese stamme wat gesien sou word in “die laaste dae”. Hierdie profesieë verwys na nasies in noordwes Europa. Vir verdere inligting oor hierdie “verlore” tien stamme, lees gerus ons artikel “Profesie word vervul – waar is die “verlore” stamme van Israel?” in hierdie einste uitgawe.

Die Skrif verduidelik egter dat die fisiese seëninge van die geboorteregbeloftes op die afstammelinge van Josef se twee seuns, Efraim en Manasse sou konsentreer. Manasse sou ’n groot volk word en Efraim sou ’n menigte [of gemenebes] van nasies word (Genesis 35:10-12; 48:19). Hierdie uiters spesifieke beloftes het hul vervulling gevind in die Verenigde State van Amerika en die nasies van die volke van Engelse afkoms (Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika). Amerika het die magtigste nasie geword wat die wêreld ooit gesien het en die Engelse het ’n ryk en ’n gemenebes wat die aardbol omgord het, bymekaar gebring. Geen ander nasies op aarde het hierdie antieke beloftes vervul en dit op die presiese tydstip gedoen soos in die Skrif voorspel is nie – 2,520 jaar nadat Israel in Babiloniese ballingskap weggevoer is. Vir meer besonderhede oor hierdie onderwerp, versoek gerus u gratis kopie van die leersame boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

Toe die Bybel in Engels vertaal is, het talle Engelse hul ware identiteit as Israeliete begin insien. Dit was egter nie ’n nuwe ontdekking of ’n eienaardige uitvindsel deur Protestante, soos sommige kritici beweer nie. Gildes, ’n Brit wat in die 6de eeu skryf – ’n duisend jaar voor die Hervorming – beskryf Brittanje as God se “laaste-dag Israeliete” (The Ruin of Britain, Winterbottom, bl. 28). Die Bybelse verband – dat Amerika en die volke van Engelse afkoms die afstammelinge van die broers Efriam en Manasse is – voorsien ’n ware grondslag vir die “spesiale band” wat bestaan tussen die Anglo-Amerikaanse volke.

Geskiedkundige bewyse

Van die duidelikste en insiggewendste gegewens wat die volke van noordwes Europa met hul Israelitiese wortels verbind is plekname en antieke legendes met betrekking tot nasionale afkoms. Die Bybel teken aan dat die kinders van Israel in om en by 720 v.C. weggevoer is as gevangenes na die hedendaagse Noord Irak tussen die Swart en Kaspiese Seë. Geskiedkundige skrywers beskryf golwe van verhuising na Europa van die ooste af in latere eeue, wat die Israelitiese stamme sou insluit. Die Bybelse beskrywing van die stam van Dan as “’n slang ... op die weg” (Genesis 49:17) verwys na sy gewoonte om sy naam op besette plekke na te laat (Josua 19:47). Plekname soos Dardenelle, Danube, Driester, Danig en Denemarke verskaf bewyse van Dan se swerwinge oor Europa. Terwyl sommige kritici voorstel dat hierdie sommer maar net woordspeling is, ignoreer sulke kritiek die geskiedkundige belangrikheid van antieke plekname. Die Danube en Driester Riviervalleie was vername trekroetes vanaf die Swart See na sentraal Europa. Danig (Gdansk) was ’n hoofhawe op die Baltiese See by die monding van die Vistula Rivier en Denemarke was ’n afspringplek vir volke op pad na die Britse Eilande. Hierdie spoor is nie moeilik om te volg nie.

Nog ’n skakel tussen die Israeliete en die Britse Eilande betrek van die vroegste volke wat hulself in Ierland gevestig het – die Tuatha de Danaan. Hedendaagse geskiedskrywers beskryf hierdie setlaars as mitologiese volke van die godin Danu en verdoesel die vanselfsprekende Bybelse verband met die stam van Dan. Hedendaagse geleerdes verwerp die antieke legendes dat hierdie Danitiese volk in nagenoeg Moses se tyd, via Griekeland en Spanje, uit Egipte gekom het (sien The Story of the Irish Race, MacManus, hoofstuk 3), as ongegronde fabels. Tog haal Josefus, ’n Joodse geskiedkundige in Romeinse tye aan uit briewe tussen die Griekse Spartane en Jode in Jerusalem waarin erken word dat hulle verwant is (Antiquity of the Jews, XIII:V:8). Die antieke legendes lui ook dat Danitiese skepe ’n Joodse prinses en ’n klip na Ierland gebring het, waaroor Ierse konings gekroon was – ’n gebruik wat ook deur antieke Israeliete beoefen was (2 Konings 11:12-14). Die legendes sê dat hierdie klip uiteindelik na Scone in Skotland gebring was, waar Skotse konings oor die klip gekroon was vir honderde jare. In die 1300’s het Edward 1 die klip na Londen vervoer, waar ook Britse koninklikes daaroor gekroon was – ’n voortsetting van hierdie antieke Israelitiese gebruik vir eeue voordat die klip in 1996 teruggestuur is Skotland toe.

Bykomende bewyse rakende die nasionale oorsprong van volke in die Britse Eilande dui op dieselfde tendens. In die Skotse Deklarasie van Onafhanklikheid wat in 1320 n.C. te Arbroath uitgereik is, beskryf die Skotte hul herkoms: “Ons weet en in die kronieke en boeke van die antieke vind ons ... die Skotte ... het gereis van Groter Skithië verby die Middellandse See en die Pilare van Herkules en het vir ’n lang tyd in Spanje vertoef ... Daarvandaan het hulle gekom; 1,200 jaar na die volk van Israel die Rooi See oorgesteek het, tot by hul tuiste in die weste waar hulle vandag woon”. Hierdie was geen niksbeduidende dokument nie. Dit was ontwerp deur geleerde leiers van Skotland en is aan die Pous in Rome afgelewer as deel van ’n beroep om die pogings van Edward 1 om Skotland te onderwerp, teen te werk. Terwyl Edward in Engeland en op die Kontinent prokureurs in diens geneem het om sy reg te ondersteun om beslag op Skotland te lê, het die Pous uiteindelik ten gunste van die Skotte besluit. Hierdie gedeelte van die Deklarasie van Arbroath word deesdae byna nooit aangehaal nie omdat geskiedskrywers verkies om dit as ’n fabel te beskou wat deur die Skotte opgemaak is (sien A History of Britain, Sharma, bl. 218). Die Britse geskiedskrywer, Bede, wat egter 500 jaar vroeër geskryf het, meld ook dat die vroeëre volke van Skotland van Skithië afkomstig is (The Ecclesiastical History of the English Nation, bl. 5). Skithië was die gebied tussen die Swart en Kaspiese Seë, waarheen die kinders van Israel in gevangenskap gegaan het.

Talle bronne dui ook aan dat die Britse en Engelse nasies wat hulle in Engeland gevestig het, oorspronklik van Skithië afkomstig was. Die Anglo-Saxon Chronicles, wat dateer uit die tyd van Alfred die Grote (880 n.C.), vermeld dat die Britte afkomstig was van antieke Armenia (die gebied tussen die Swart en Kaspiese Seë – waarna verwys word as Skithië). Teen ongeveer 800 n.C., het die Walliese geskiedskrywer Nennius aangeteken dat die Engelse van Skithië afkomstig is. Die Griekse skrywer Herodotos noem die Skithiërs “die Sacae” (The Hystories, 4:76) wat afgelei is van die Hebreeuse naam Isak (die seun van Abraham) – ’n benoeming wat die Bybel sê op God se volk betrekking het (Genesis 48:16). Die Behistan Klip wat in drie tale gegraveer is in die tyd van Darius, koning van Persië (tydgenoot van die profeet Daniël), verwys na die Skithiërs as Cimmerië (of Gimiri). Die Seltiese Walliese bewaar vandag nog hierdie naam en verwys na hulself as die Cymry of Cymru. Die skakel tussen antieke Israeliete – God se uitverkore volk – en die bewoners van die Britse Eilande, is beslis nie verregaande of fiksie nie. Die familiebetrekkings is beslis daar!

Kritieke foute

Inaggenome die Bybel se klem op God se uitverkore volk, die duidelike beskrywing van hulle rol – en die melding van bepaalde eienskappe wat die 12 stamme in die laaste dae sal hê – waarom is dit dat hierdie onderwerp deur die meeste teoloë en geskiedskrywers verwerp word? Die hoofrede is omdat dit direk uit die Bybel kom en die Bybel word nie meer as ’n bron van waarheid beskou nie! Rasionalisme, evolusionêre wetenskap en sekulêre wêreldmenings het twyfel laat ontstaan oor die bestaan van God en die geloofwaardigheid van die Bybel. Liberale intellektuele wat die gebiede van onderwys, literatuur, godsdiens en die media oorheers neem nie Bybel onderwerpe ernstig op nie. Teoloë neem nie meer die Bybel letterlik op nie. Ongelowige akademici en skeptici in die media is dikwels vyandig gesind teenoor godsdienstige onderwerpe. Indien die Bybel nie letterlik opgeneem hoef te word nie is dit onnodig om jou te kwel oor wie God as Sy volk mag gekies het. Indien daar geen God is nie, is daar vanselfsprekend geen volk wat Hy verkies het nie!

Geskiedskrywer Edwin Jones (’n Walliese Katoliek) tel onder dié wat die idee dat die Engelse ’n gekose volk is betwis. Hy beskou die idee dat Amerika en die Engelssprekende volke die hedendaagse Israeliete is as ’n bekrompe Anglo-Sentriese Protestantse wêreldmening, wat op vals en misleidende veronderstellings gebaseer is. Hy beweer dat hierdie idee ’n “groot mite” is wat die Engelse gevange hou en isoleer van hul Europese bure, omdat ’n sin van meerderwaardigheid, ’n valse identiteit en vreemdelingevrees onder die Engelse gekweek is. Volgens Jones se siening, “word baie Amerikaners geteister deur die ou “Engelse kwaal” – omdat hulle aan hulself dink as “uitverkorenes”; anders en ’n meerwaardige volk” (The English Nation: The Great Myth, bl. 362). Deurdat hy die rol van God in die geskiedenis ignoreer, skryf Jones die opgang van Engeland en Amerika na groot magstatus alleenlik toe aan die invloed van geskiedenis en geografie. Hy dui aan dat die idee van ’n uitverkore volk “nou dood” is onder geleerdes (bl. 292) en bestempel word as “dwepery” deur ekumeniese teoloë. Hy blyk verbonde te wees om die idee dat hulle die erfgename van God se beloftes is, uit die Engelse se gedagtes te wil wis. Professor Jones gaan dan voort om ’n “nuwe” mite aan te bied – dat Engeland se eintlike toekoms by die Europese Unie lê – in teenstelling met wat Bybelprofesie openbaar!

Joernalis Clifford Longley erken die anti-Bybelse en anti-bonatuurlike partydigheid van hedendaagse geleerdes wat neig om die onderwerp van hedendaagse Israel te verban tot die terrein van ekstremiste en fanatici – tog val hy in dieselfde lokval. Nadat hy sy eie twyfel in God en die Bybel uitgespreek het, kom hy tot die gevolgtrekking, betreffende die idee van God se “uitverkore volk” dat “hoewel dit nog invloedryk is, is dit eenvoudig nie waar nie – en was ook nooit” (Longley, bl. 281). Longley vermoed dat daar geen uitverkore volk is nie omdat hy aanneem – teenstrydig met wat die Skrif openbaar – dat “God (as ons saamstem dat daar ’n God is) nie op hierdie wyse optree nie” (ibid.0 bl. 277). Hy redeneer dat die idee van ’n “uitverkore volk” sekere volke (Britte, Amerikaners, Nederlanders, ens.) toegelaat het om te glo dat hulle die reg het om hul eie belange na te streef ten koste van ander en dat “indien die Uitverkore Volk teorie waar was, daar op God gereken kon word om die volke te straf wat hulle bevoorregte status misbruik het ... in die werklike wêreld word daar [egter] geen sodanige Goddelike teregwysings toegepas nie” (bl. 281). Dit is ’n gevaarlike aanname!

’n Verrassende toekoms

Ten spyte van die weifeling en teorieë van hedendaagse geleerdes, is daar ’n ware God wat bekend gemaak het wat voorlê vir Sy volk en vir die volke van die wêreld (vir meer oor hierdie onderwerp, versoek asseblief ons gratis boekie, Die ware God: bewyse en beloftes). God het lank gelede gewaarsku dat Israelitiese eienskappe – om selfstandig denkend, hardnekkig en opstandig te wees, om ’n neiging te hê om hul verbond met God te vergeet en korrupte heidense gebruike na te jaag (Deuteronomium 9:6-13), hedendaagse Israel in groot moeilikhede sou inlei “aan die einde van die dae” (Deuteronomium 4:30; 31:27-29). Misleide leiers sal invloedryk wees in die misleiding van Israelitiese volke. Eségiël beskryf ’n “sameswering” tussen leiers wat die wette van God skend [ontheilig] en “hul oë sluit” vir Bybelse waarhede, wat visioene van die toekoms bedink en leuens uitdeel om mag en invloed te bekom of te behou – en dat hierdie valse idees geglo sal word (Esegiël 22:25-29; asook Jeremia 5:31). Die woorde van misleide leiers tesame met die Israelitiese neiging om “hul eie ding te doen” (Rigters 21:25; Jeremia 7:24; 11:8) en om hul besluite te rasionaliseer (Jeremia 23:17) sal lei tot wydverspreide ongeloof, ongehoorsaamheid en uiteindelik ’n staat van nasionale blindheid ten opsigte van die plan van God en hul seëninge as Sy volk (Jesaja 1:2-3; 29:9-14; Jeremia 5:20-21; Romeine 11:8-10, 20-32) – die presiese toestand wat ons vandag sien!

Jeremia verduidelik dat omdat die hedendaagse Israeliete God se wette verwerp, verswelg is in seksuele bevrediging en die begrip van Goddelike teregwysing bespot, God vreemde volke sal gebruik om hulle te tugtig (Jeremia 5). Daar word verwys na hierdie tydperk van verdrukking as “’n tyd van benoudheid vir Jakob [Israel] (Jeremia 30:7). God se tugmiddel sal bestaan uit tien nasies in die hartjie van Europa wat deur Duitsland gelei sal word (Jesaja 10:5-11; Openbaring 17:12) – wat op hulle beurt getugtig sal word vir hul hoogmoed (Jesaja 10:12). Die skielike en rampspoedige heengaan van hedendaagse Israel (Jesaja 29:4-7; Jeremia 6:26; 15:1-8; Hosea 5:5) en die gevolglike heengaan van herleefde heidense magte in Europa sal ’n ontnugterende getuienis aan die wêreld wees dat daar ’n ware God is wat in mensegeskiedenis ingryp en dat Sy voornemens sal staan (Deuteronomium 29:24-29).

Die Bybelse konsep van God se uitverkore volk is nie ’n geringe kwessie nie. Dit verduidelik waarom sekere volke die ontvangers was van so baie fisiese seëninge. Die Skrif onthul waarom God Israel as Sy volk gekies het en verskaf leidrade tot hul huidige identiteit en plekbepaling. Bybelprofesieë dui aan dat die hedendaagse Israelitiese volke die spit sal afbyt tydens die komende verdrukking weens hul nasionale sonde. Nietemin, ongeag enigiemand se nasionale erfenis sal almal wat hulself bekeer – hul leefwyse verander – en begin leef volgens God se wette, deel kan word van God se uitverkore volk (1 Petrus 2:9) en saam met Christus regeer in die komende Koninkryk van God.