Geleerdes en Bybelstudente wonder lank reeds oor waar die Verlore Stamme van Israel hulself bevind. Baie het aangeneem dat hulle na ’n tydperk van gevangenskap in antieke Assirië uit die geskiedenis verdwyn het of dat hulle na Jerusalem terug gedwaal en as Jode bekend geword het. Ander beweer dat hulle die Verlore Stamme in die een of ander afgeleë uithoek van die aarde “opgespoor” het. Hierdie bespiegelende idees laat egter na wat die Bybel onthul en wat in die geskiedenis opgeteken staan oor die Israelitiese stamme.
Die meeste hedendaagse geleerdes begryp eenvoudig nie die belangrikheid van Bybelprofesieë wat die huidige liggings aandui van die sogenaamde Verlore Stamme nie. Hoewel baie profesieë verseël is “tot die tyd van die einde” (Daniël 12:4), is voorspellings oor die stamme van Israel bedoel om verstaan te word net voor die Wederkoms van Jesus Christus! Hierdie merkwaardige profesieë word vandag vervul!
Spesifieke eienskappe
God het byna 4,000 jaar gelede spesifieke eienskappe aan Jakob openbaar wat sy 12 seuns se afstammelinge sou identifiseer “in die laaste dae” (Genesis 49:1). Moses het sowat drie eeue later soortgelyke profesieë aangeteken (Deuteronomium 33).
Hoewel baie belydende Christene aanneem dat hierdie Ou-Testamentiese profesieë nie meer van toepassing is nie, is niks verder van die waarheid nie! Ons leef in ’n tyd waar ons kan terugkyk op gebeure en herken hoe hierdie antieke profesieë deur nasies wat vandag bestaan, vervul is!
Die skrif het voorspel dat Juda die Messias sou voortbring; mense met donker oë wat bekend is daarvoor dat hulle die Ou-Testamentiese wette van God aanhang en soos ’n opgejaagde leeu aan die nek van hulle vyande sal wees (Genesis 49:8-12) – ’n gepaste beskrywing van die Jode in die hedendaagse nasie Israel. Maar wat van die ander stamme?
Nie altyd verlore nie
Dit is belangrik om te besef dat die sogenaamde “verlore” stamme nie altyd verlore was nie. Jesus het aan Sy 12 dissipels gesê: “gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel” (Mattheus 10:6). Om aan hierdie opdrag te kon voldoen, moes die Israelitiese stamme se gebied waar hulle hul bevind het, bekend gewees het! Die boek Jakobus is opgedra “aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is” (Jakobus 1:1). Jakobus het aan ’n bekende gehoor geskryf. Josephus, ’n Jood, het in die eerste eeu n.C. geskryf: “Die tien stamme is steeds oorkant die Eufraatrivier en is ’n groot menigte” (Antiquities of the Jews, 11:5:2). Hulle was in Partië – die gebied suid van die Kaspiese See – waar die Israeliete eeue tevore in gevangenskap was.
In die vroeë 4de eeu n.C. het Eusebius geskryf dat die apostel Thomas na Partië en Andréas na Skitië gegaan het – gebiede naby die Swart- en Kaspiese Seë waar die Israeliete hulle bevind het (History of the Church, 3:1:1). Vroeë tradisies koppel ook die bediening van Bartholoméüs en Filippus aan hierdie selfde gebiede wat daarop dui dat die Apostels geweet het waar die Israelitiese stamme in hulle tyd gevestig was.
Om vandag profesieë te verstaan is dit van kardinale belang om te weet wat die identiteit en ligging van die hedendaagse Israelitiese nasies is, aangesien stormagtige gebeure gaan plaasvind net voor Christus se Wederkoms wat almal in hierdie nasies gaan raak (sien Jeremia 30:7).
Die profeet Jesaja beskryf die verstrooide stamme se terugkeer na Jerusalem as volg: “Kyk, hulle hiér kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete” (Jesaja 49:12). Die verstrooide stamme moet noord en wes van Jerusalem wees, maar hoe kan ons onderskei tussen hulle? Dit is een rede waarom die nasionale eienskappe wat in Genesis 49 en Deuteronomium 33 voorkom, belangrik is.
Kinders van Josef
Hierdie profesieë openbaar dat die kinders van Josef – Manasse en Efraim – teen die einde van hierdie tydvak wat in ongeveer 1800 n.C. begin het, die prominentste Israelitiese volke sal wees – 2,520 jaar nadat hulle in gevangenskap geneem is. Dit is voorspel dat die nageslag van Manasse ’n groot nasie sal word en dat Efraim ’n menigte van nasies sal word (Genesis 35:11; 48:19). Saam sou hulle die uitgesoekte plekke op aarde beërwe, die poorte van hul vyande besit, regoor die wêreld kolonies stig en vrygewige mense wees wat bydra tot die welstand van die mensdom (Genesis 22:17-18; 49:22-26).
Hierdie beloftes is vervul deur die Verenigde State, die Britte en die nasies van die Britse Gemenebes. Geen ander nasies kom naby daaraan om hierdie eindtyd beskrywings te pas nie. Die besonderhede van hierdie onderwerp is heeltemal te ingewikkeld om volledig in ’n kort artikel te dek. Vir meer inligting aangaande hierdie onderwerp, skryf gerus vir ’n gratis kopie van ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?
Verloklike leidrade
Ander kort beskrywings wat in Genesis 49 gegee word openbaar verloklike leidrade omtrent die hedendaagse afstammelinge van die “verlore” stamme.
Die stam van Ruben sou ’n dig bevolkte nasie word wat die mag en waardigheid van ’n eersgeborene vertoon, maar “soos stormwater ... onstuimig” sou wees met ’n neiging om seksuele hartstog te wil bevrediging (Genesis 49:3-4; Deuteronomium 33:6). Die hedendaagse Frankryk, die afstammeling van Gallië wat oorspronklik van Israel was, pas goed by hierdie beskrywing. Wanneer ’n Franse eerste-minister openlik ’n minnares aanhou, knip niemand ’n oog nie. Frankryk was vir eeue ’n koloniale moondheid en Frans was die taal van diplomasie. Frankryk se voorrang het egter gekwyn ten gunste van die VSA en die Britse Gemenebes.
Die stam van Dan was voorspel om “’n slang op die pad” te wees (Genesis 49:17); hul swerwende mense sou hulle merk laat op plekke soos Denemarke.
“Sebulon woon by die strand, by die strand waar skepe is” (vers 13) en “verheug jou, Sébulon, oor jou togte” (Deuteronomium 33:18-19). Dit stel ’n seevarende nasie voor wat aan die kus woon en handel dryf – soos die Nederlanders.
Gad “lê soos ’n leeu” en speel ’n leidende rol tussen die nasies soos een wat “die bepalings van die Here nagekom [het]” (verse 20-21). Dit laat mens dink aan Switserland, wat sedert die 1500’s neutraal staan, tot die tande gewapen is met die klem op verdediging en die tuiste van baie internasionale organisasies is.
Símeon en Levi moes onder die stamme verstrooi word weens hul gewelddadige geaardhede en eiewillige dade (Genesis 49:5-7). Die Leviete moes egter leermeesters van God se insettinge en verordeninge aan die stamme wees (Deuteronomium 33:8-11) en was gekies om in die tempel te dien weens hul musikale talente (1 Kronieke 15:16-22).
Aser se “spys is vet, en hy lewer koninklike lekkernye” en dryf handel in yster, koper en olie (Genesis 49:20; Deuteronomium 33:24-25). Issaskar word beskryf as “’n sterk pakdier [wat] gaan lê tussen sy twee saalsakke” (Genesis 49:14-15). Náftali is “soos ’n wildsbok so vry ... wat mooi woorde laat hoor” (vers 21) en Benjamin soos “’n wolf wat verskeur” (vers 27).
Hierdie antieke profesieë – wat bedoel is om in die laaste dae verstaan te word – verduidelik die ligging en eindtyd rolle van die hedendaagse Israelitiese nasies. Die Kerk wat Jesus Christus gevestig het, het die opdrag gekry om die mense van hierdie nasies in te lig waarom hulle geseën was en wat die toekoms vir hulle inhou.