Beide die Ou en die Nuwe Testament vermeld die Samaritane. Terwyl die wêreld in die algemeen daarvan hou om op die gelykenis van “die barmhartige Samaritaan” te fokus, word daar nie gefokus op dít wat die Samaritane (en selfs die Israeliete wat hul verkeerde waardes gedeel het), verteenwoordig het nie. Het die Samaritane goedheid of getrouheid aan God verteenwoordig, of iets heel anders? Die Bybel @ die basis vir leerstellings (2 Timotheus 3:16) @ gee ons die antwoord.
Ou Testamentiese Samaritane
Samaria was ’n gebied noord van Jerusalem. Die eerste keer dat Samaria in die Bybel genoem word, is in 1 Konings waar ’n uitspraak van ’n “man van God” bespreek word (1 Konings 13:31): “Want die woord sal sekerlik uitkom wat hy deur die woord van die HERE uitgeroep het teen die altaar wat in Bet-el is, en teen al die tempels van die hoogtes wat in die stede van Samaría is” (vers 32). Dit was God se waarskuwing teen vals aanbidding in Samaria.
Selfs voor die Assiriese gevangenskap het God Sy misnoeë te kenne gegee oor die Israeliete wat in Samaria gewoon het. Meer as 25 jaar voordat Israel in gevangenskap geneem was, skryf die profeet Hosea: “... [toe] word die ongeregtigheid van Efraim openbaar en die booshede van Samaría; want hulle pleeg bedrog” (Hosea 7:1). “Jou kalf, o Samaría, is afskuwelik; my toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees? Want dit is ook uit Israel: ’n smid het dit gemaak, en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word @ die kalf van Samaría” (Hosea 8:5-6). Die profeet Hosea sê ook: “Samaria sal daarvoor boet, omdat hy weerspannig was teen sy God; hulle sal val deur die swaard, hulle kinders sal verpletter en hulle swanger vroue oopgesny word” (Hosea 14:1). Let daarop dat die kinders van Israel, in Eksodus, toe hulle die goue kalf aanbid het, daarop aanspraak gemaak het dat hulle eintlik die ware God aanbid (Eksodus 32:8). Tog was God nie gelukkig met hul aansprake of hul aanbidding nie (vers 9).
Nadat Israel ’n belangrike oorlog verloor het en in Assiriese gevangenskap geneem was, was Samaria hoofsaaklik bewoon deur nie-Israeliete. “En die koning van Assirië het uit Babel en uit Kuta en uit Awa en uit Hamat en Sefarváim mense ingevoer en laat woon in die stede van Samaría, in die plek van die kinders van Israel” (2 Konings 17:24). Aan die begin het hierdie nuwe bewoners van Samaria geen vrees vir God gehad nie en toe hulle deur leeus omsingel was, het hulle die koning van Assirië om hulp gevra, omdat hulle besef het dat hulle die “verpligting teenoor die God van die land nie ken nie” (2 Konings 17:26). In reaksie stuur die koning van Assirië een van die Israelitiese priesters wat in ballingskap geneem was om die Samaritane die ware aanbidding van die God van Israel te leer (vers 27).
Hoe het die Samaritane toe gereageer? Het hulle die ware aanbidding van die God van Israel aanvaar? Nee! Volgens 2 Konings 17:29 het hulle voortgegaan met hul afgodery: “Maar hulle het, elke nasie, sy eie god gemaak en in die tempels van die hoogtes opgestel wat die Samaritane gebou het; elke nasie in hul stede waarin hulle woonagtig was”.
Daar was iets ongewoon aan hierdie groep mense. “Hulle het die HERE gevrees en hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die nasies waar hulle vandaan weggevoer is. Tot vandag toe handel hulle volgens die vroeëre gebruike: hulle vrees die HERE nie, en handel ook nie volgens hulle insettinge en volgens hulle gebruike nie, of volgens die wet en volgens die gebod wat die HERE die kinders van Jakob beveel het, aan wie Hy die naam Israel gegee het. Tog het die HERE met hulle ’n verbond gesluit en hulle bevel gegee en gesê: Julle mag geen ander gode vrees of julle voor hulle neerbuig of hulle dien of aan hulle offer nie. Maar die HERE wat julle uit Egipteland laat optrek het met groot krag en met ’n uitgestrekte arm, Hom moet julle vrees en voor Hom buig en aan Hom offer. En die insettinge en die verordeninge en die wet en die gebod wat Hy julle voorgeskrywe het, moet julle altyd sorgvuldig onderhou, maar ander gode mag julle nie vrees nie. En die verbond wat Ek met julle gesluit het, mag julle nie vergeet nie, en julle mag ander gode nie vrees nie. Maar die HERE julle God moet julle vrees, en Hy sal julle verlos uit die hand van al julle vyande. Hulle het egter nie geluister nie en volgens hul vroeër gebruik gehandel. So het hierdie nasies dan die HERE gevrees en hulle gesnede beelde gedien; ook hulle kinders en hulle kindskinders doen soos hulle vaders gedoen het, tot vandag toe” (2 Konings 17:33-41).
Die Samaritane van die Ou Testament word dus duidelik beskryf as ’n groep mense wat die werklike God nie waarlik aanbid het of Sy gebooie onderhou het nie en wat heidense rituele in hul aanbidding ingesluit het. Sommige Samaritane het wél pelgrimstogte na die tempel in Jerusalem onderneem (vergelyk Jeremia 41:5), maar selfs die Samaritaanse tempelaanbidding het verheidens. Dit kan gesien kan word in hul daarstelling van ’n aparte tempel by die Berg Gersim in die vierde eeu voor Christus, waar Samaritaanse aanbidding voortgeduur het tot nadat Johannes Herkanus daardie tempel in 129-128 v.C vernietig het (vergelyk Eerdmans Bible Dictionary, bl. 907).
Nuwe Testamentiese Samaritane
Smith’s Bible Dictionary maak die stelling: “Sekere ander Joodse afvalliges het van tyd tot tyd by die Samaritane skuiling gaan soek; gevolglik het die Samaritane tot sekere mate aanspraak op Joodse bloed gemaak, veral wanneer dit in hul eie belang was”. Nie net het die Jode Samaritane nie as egte Jode beskou nie, maar die Nuwe Testament teken aan dat “die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie” (Johannes 4:9). Let daarop dat “Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ’n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel” (Mattheus 10:5-6). Jesus het dus die Samaritane blykbaar in dieselfde lig as ander heidene beskou. Later, na Christus se opstanding, het Hy natuurlik Sy volgelinge spesifiek opdrag gegee om die evangelie na Samaria te neem (Handelinge 1:8) en die Kerk daar, het toegeneem (Handelinge 9:31).
Jesus was baie duidelik oor wat Hy van die Samaritane en hul vals aanbidding gedink het. Toe Jesus met die Samaritaanse vrou praat (Johannes 4:7) wat beweer het dat haar mense van aanbidding geweet het (vers 20), verklaar Hy: “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:22-24). Jesus het die Samaritane veroordeel, omdat hulle nie geweet het wat hulle aanbid nie. Ware aanbidding behels nie fisiese heidense rituele nie, dit behels aanbidding in waarheid! Jesus het die Samaritane se vorm van aanbidding as onaanvaarbaar beskou en Hy haal ook teenoor die Fariseërs ’n gedeelte uit Jesaja aan, wat op die Samaritane van toepassing kon wees: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheus 15:8-9).
Dit is moontlik om ’n Samaritaan te wees en iets goeds te doen (Lukas 10:33, 37), maar beteken dit dat die Samaritaanse godsdiens vir God aanvaarbaar is? Soos baie ander teksverse aandui, is die antwoord duidelik: “Nee”!
Moderne Samaritane
Is daar vandag enige godsdienstige mense soos die Samaritane, wat “goeie dade” doen ten spyte daarvan dat hulle ’n vals godsdiens beoefen? Het Jesus voorspel dat daar vals Christene sou wees? Hy sê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23). Indien hulle wetteloosheid beoefen, selfs al het sommige klaarblyklik wonderwerke of goeie dade gedoen, sê Jesus dat Hy hulle nooit geken het nie. Dit is interessant dat Jesus ook sê: “Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg @ Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het” (Openbaring 3:9). Hier word na vals Christene verwys as vals Jode, net soos Samaritane elders as vals Jode beskou is!
Vandag maak baie mense daarop aanspraak dat hulle Christus aanbid, tog reken hulle dat God hulle gebruik van onbybelse praktyke in hul aanbidding van Hom, aanvaar. Hulle reken dat God hulle mensgemaakte vakansiedae as geldige alternatiewe vir die Heilige Dae wat in Levitikus 23 aangeteken, is aanvaar; selfs al is dit uit die aanbidding van ander gode geneem. Hierdie kerkgangers reken dat hulle nie die gebooie van God hoef te onderhou om Christene te wees nie. Hulle verstaan klaarblyklik nie Openbaring 12:17 nie: “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou”. Dit toon duidelik dat diegene wat die getuienis van Jesus Christus het, die gebooie van God onderhou. Soos die Samaritane van ouds, weet moderne Samaritane nie wat hulle aanbid nie en ongelukkig wil hulle God nie in waarheid aanbid nie. In hierdie lig beskou, is baie mense wat vandag vals Christenskap beoefen, in effek soos moderne Samaritane.