Die Israeliete het vir 40 jaar deur die Sinai-woestyn getrek. Die oudste deel van die volk het herinneringe as tieners van die lewe in Egipte gehad en ’n lewe in die woestyn was al wat die oorgrote meerderheid van die Israelitiese bevolking geken het. Nou het die volk laer getrek op die vlakte oos van die Jordaanrivier en berei hulle voor om die land binne te gaan wat God oorspronklik, eeue tevore, aan hulle voorvader Abraham beloof het.
Die Sinai-woestyn is ’n baie onherbergsame area. Dit is onvrugbaar met bitter min water of weiveld vir vee en kleinvee. Trouens, toestande was van so ’n aard dat, indien God nie ingegryp het om die Israeliete op wonderbaarlike wyse van kos en water te voorsien nie, hulle gedurende daardie jare van omswerwinge sou omkom. Nou het hulle gereed gemaak om ’n land binne te gaan wat in skerp kontras staan met waar hulle hul lewens tevore deurgebring het. In die Beloofde Land was volop water en grasryke weivelde, woude en landerye, tesame met veelvuldige minerale afsettings (Deuteronomium 8:7-9). God noem dit ’n “land van melk en heuning”. Dit het selfs wonings gehad wat reeds opgerig was en groot dele van die land was omhein en verbou (Deuteronomium 6:10 -11).
Na baie jare van omswerwinge het die Israeliete uiteindelik op die punt gestaan om die “rus” wat Moses so baie jare tevore beloof het, binne te gaan. Moses het die volk vertel dat hy nie die een sou wees om hulle uiteindelik in die Beloofde Land in te lei nie, maar sy assistent, Josua, sou hulle die res van die weg lei. Josua sou die een wees wat hulle rus bring (verg. Deuteronomium 3:28; 31:7-8, 23). Die apostel Paulus lewer baie eeue later hierop kommentaar en verduidelik dat die rus wat Josua gegee het, nie die finale vervulling van God se belofte was nie, maar dat die finale rus vir God se mense nog in die toekoms lê (Hebreërs 4:8-9). Paulus demonstreer dit deur Psalm 95 aan te haal; dit wat Dawid geskryf het eeue nadat Josua Israel die land Kanaän binnegelei het. Paulus se punt was dat die werklike rus vir God se mense steeds voorgelê het. Wanneer ons by die Loofhuttefees bymekaarkom, kyk ons terug oor die jare wat Israel in die woestyn was (Levitikus 23:42-43) en ook vooruit na Christus se millenniale regering wanneer die hele wêreld uiteindelik rus sal vind (Jesaja 14:7).
Om in rus in te gaan is volgens die Bybel direk gekoppel aan gehoorsaamheid. Dit is waarom God aan Israel van ouds die belang van die onderrig van Sy wet gedurende die feestyd beklemtoon het. Die Loofhuttefees is veel meer as ’n vakansietyd vir God se mense. Dit is ’n tydperk vir ons om jaar na jaar herinner te word aan die “rus” van die Koninkryk van God wat voorlê - en die belang daarvan om hier en nou die wette waarop daardie Koninkryk gebasseer sal wees, te beoefen en te leer. Ons moet die lesse wat God van ouds aan Israel geleer het, in die konteks van die lentefeeste, beter verstaan en ook daardie aangeleenthede wat baie in ons gedagtes moet wees, namate ons ons gereed maak vir die 2003 Loofhuttefees.
Die rus wat Josua gegee het
In Hebreërs 3 en 4 vergelyk die apostel Paulus die Christenkerk met die mense van God wat uit Egipte uitgebring is. Beide groepe het God se beloftes ontvang. Paulus beklemtoon egter dat diegene wat nie met geloof en gehoorsaamheid op God se beloftes reageer nie, nie Sy rus sal binnegaan nie. Dit is belangrik om te verstaan dat geloof en gehoorsaamheid onafskeidbaar is. Indien u God se woord werklik glo, sal u dit gehoorsaam. Trouens, die enigste soort gehoorsaamheid wat die proef van tyd sal deurstaan, is dít wat van ’n hart kom wat God werklik liefhet en vertrou!
Aan die Israeliete was rus van hul slawerny en hul daaropvolgende omswerwinge in die woestyn, beloof. Tog het feitlik die ganse volwasse bevolking wat uit Egipte gekom het, gesterf as straf vir hul tekort aan geloof en gevolglike ongehoorsaamheid aan God. In Numeri 13 lees ons dat Moses leiers van elk van die 12 stamme verkies en hulle na die Beloofde Land, op ’n verkenningstog gestuur het. Hierdie gebeurtenis vind plaas in die somer van die tweede jaar van die uittog. Numeri 1:1-2 beskryf ’n volkstelling wat geneem was aan die begin van die tweede maand van die tweede jaar, net meer as ’n jaar nadat hulle Egipte by die Rooi See agtergelaat het en die Sinai-woestyn binnegegaan het. Numeri 13:20 vertel dat spioene die land binnegegaan het aan die begin van die druiwe-oes en dit begin gewoonlik rondom die einde Julie. Hulle het vir 40 dae die land ondersoek (Numeri 13:25); hulle keer dus teen middel September terug en lewer hul verslag aan die volk, moontlik net voor die begin van die lente feestyd in die suidelike halfrond. Net toe die volk van Israel dus op die punt was om hul tweede Loofhuttefees te vier, staar hulle die besluit in die gesig of hulle hul Skepper sal glo en Sy beloofde rus sal binne gaan.
Die meeste van u is bekend met die verhaal van die 12 spioene wat terugkeer en hul verslag gee. Die volk het aan vrees toegegee en gekies om in die beloftes van die Ewige God te twyfel. Toe hulle die stories hoor van moeilikhede wat tussen hulle huidige toestand en hul ontvangs van die beloftes van God lê, word hulle bang vir die toekoms en beskuldigend teenoor God en Sy ware diensknegte. Gevolglik gee God die bevel dat ’n ganse geslag van Israeliete hul leeftyd in omswerwings in die woestyn sal deurbring en dat hul kinders diegene sou wees wat uiteindelik die Beloofde Land binnegaan. Terloops, hierin lê die begrip waarom Openbaring 21:8 sê dat die vreesagtiges nie in die Koninkryk sal wees nie. Die vreesagtiges is te bang om te volg waarheen God hulle lei en om te doen wat Hy sê. Hulle het ’n desperate behoefte aan die volmaakte liefde van God wat vrees sal verdryf (1 Johannes 4:18) en hulle in staat sal stel om die gebooie van God waarlik te onderhou (1 Johannes 5:3).
Bykans 40 jaar na die uittog, praat Moses met die tweede geslag wat op die punt staan om die rus binne te gaan (Deuteronomium 3:20; 12:9-10). God vervul hierdie profesie tydelik en die volk Israel word rus gegee (Josua 21:44), maar eers nadat die volk ses jaar moes neem om die heidenvolke van die land te onderwerp. Die tydsverloop word duidelik gemaak deur Josua 14:6-10 noukeurig te lees. Ons het vroeër gesien dat die spioene gedurende die tweede jaar na die uittog, die land verken en hul verslag aan die volk gedoen het. Kaleb en Josua was die twee spioene wat ’n verslag teruggebring het - gegrond op geloof in God. Terwyl die res van die geslag gedurende die jare van omswerwinge gesterf het, is Josua en Kaleb ’n erfenis in die land Israel beloof. Toe Kaleb voor Josua kom om aanspraak te maak op die erfenis wat Moses hom beloof het, was dit 45 jaar nadat hy en Josua die getroue verslag teruggebring het en daarom 46 jaar na die uittog. Dit beteken ses jaar nadat hulle die Jordaan onder leiding van Josua oorgesteek en die land “onderwerp” het, is die volk uiteindelik gereed om die rus binne te gaan. Dit dui op die begin van die eerste sabbatsjaar, wat in die lentefeestyd aan die begin van die sewende jaar, afgekondig is.
Die Bybel gee ons selfs meer inligting oor hierdie geleentheid waar Israel die rus binnegaan. In Deuteronomium 12 dra Moses God se opdragte aan die volk oor, dat wanneer hulle die Beloofde Land binnegaan en God hulle rus gee, Hy vir hulle ’n plek sou kies waar Hy Sy naam sou plaas - waar hulle voor Hom moes kom met hul tiendes en offergawes en waar hulle Sy feeste sou vier (verse 7-12). Josua 18:1 vertel van die vervulling van hierdie opdrag, toe die volk by Shilo vergader en die eerste tabernakel daar opgerig het. Toe hy saam met die volk by Shilo vergader het, werp Josua die lot voor God en die oorblywende stamme word hul erfenis toegeken. Op hierdie stadium kondig Josua ook vir die verteenwoordigers van die stamme van Reuben, Gad en die halfstam Manasse aan, dat God nou aan hul broeders die rus gegee het wat Hy beloof het en dat dit hulle vry gestaan het om terug te keer na die erfporsie oos van die Jordaan, wat Moses aan hulle toegeken het (Josua 22:1-4; verg. Numeri 32:18).
Dit is interessant om na te dink oor dít wat deur die toekenning van die erfporsie, aan die verskeie stamme van Israel by daardie groot Loofhuttefees in Josua se tyd, vooraf uitgebeeld is. Christus se wederkoms sal die “tyd van verkwikking” en die “tyd van herstel van alle dinge” (Handelinge 3:19-21) inhuldig. ’n Deel van dít wat herstel sal word, is dat elke volk sal terugkeer na sy goddelik bedoelde erfporsie wat deur God se wet van die Jubileum beskerm word (Levitikus 25:8-13, 23). Daar sal geen hartseer gevalle meer wees van die swakkes wat deur die sterkes beroof word nie. Die grondverdeling wat op daardie vreugdevolle Fees onder leiding van Josua plaasgevind het, is ’n sinnebeeld van wat op veel groter skaal sal plaasvind wanneer Jesus Christus sal terugkeer. Die Loofhuttefees dui op ’n tyd wanneer die ganse mensdom ’n geleentheid gegun sal word om rus binne te gaan. Daar kom ’n tyd wanneer almal hul eie wingerdstok en vyeboom in die land van hul erfenis sal hê en niemand sal hulle bevrees maak nie (Miga 4:4).
Salomo se regering – Israel te ruste
Met die groot feesviering van Josua se tyd gaan Israel die rus binne wat God beloof het. Teen die einde van daardie sewende jaar, toe die volk by Shilo vergader was vir die Loofhuttefees, neem Josua en Eleasar die dienste waar dwarsdeur die sewe dae lange fees, waartydens die hele wetboek vir die mans, vroue en kinders wat daar teenwoordig was, gelees was. Ons weet dat dit plaasgevind het omdat dit deel van Moses se afskeidsopdragte aan Josua en die kinders van Israel was (Deuteronomium 31:9-12) en ons is vertel dat Josua nie nagelaat het om enige van die instruksies wat deur Moses gegee is, uit te voer nie (Josua 11:15). Aan die einde van die eerste sabbatsjaar was die volk herinner dat, om in aanmerking te kom om deel te hê aan die rus wat God aangebied het, dit noodsaaklik was om Sy wet te gehoorsaam.
Soos die verhaal van Israel se lewe in die Beloofde Land deur die boek Rigters voortgaan, word dit vinnig duidelik dat die rus en vrede wat deur God gegee is, gou versteur was. Teen die tyd dat Josua en die oudstes van die volk wat saam met hom gedien het, dood was, wyk Israel van God se wet af (Rigters 2:7-12). Die tydperk van die rigters was ’n stormagtige tyd waartydens Israel se rus in die Beloofde Land versteur was deur invalle en oorloë op ’n gereelde grondslag - net omdat hulle nagelaat het om die Skepper en Sy wette te gehoorsaam.
Dit was eers gedurende die heerskappy van koning Dawid dat al Israel se vyande uiteindelik onderwerp is. Teen die einde van Dawid se lewe was sy seun, Salomo, as sy opvolger gekroon. Salomo se naam is afgelei van die Hebreeuse woord vir vrede en sy heerskappy was geprofeteer om ’n tyd van vrede en rus vir die volk te wees. Let op die rekord wat in 1 Konings 4:20-21, 24-25 opgeteken staan: “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly. Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte; hulle het belasting aangebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe ... Want hy het geheers oor alles wes van die Eufraat, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat, en vrede gehad aan alle kante rondom; sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo”. Die heerskappy van koning Salomo is duidelik ’n sinnebeeld van die millenniale regering van die Messias.
Die groot gebeurtenis wat die toon aangegee het vir Salomo se manjifieke heerskappy word in 2 Kronieke 5-7 beskryf. Dit was die inwyding van dít wat ongetwyfeld die pragtigste en mees manjifieke gebou in die antieke wêreld was, die Tempel van God in Jerusalem. Volgens 2 Kronieke 7:8-10 het hierdie inwyding met die Loofhuttefees plaasgevind. Let op wat gebeur: “En al die manne van Israel het by die koning saamgekom op die fees, dit was die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel daar kom, het die Leviete die ark opgeneem ... Verder het die priesters die verbondsark van die HERE na sy plek in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, gebring, onder die vlerke van die gérubs in” (2 Kronieke 5:3-4, 7).
Die godsdiensbelang van die ark was enorm. Dit het die kliptafels bevat waarop die Tien Gebooie geskryf was en is deur die versoendeksel, simbolies van God se eie Troon, bedek. Toe die ark in die tempel geplaas word, gebeur iets ontsagwekkends. Vuur daal uit die hemel neer en steek die offer op die altaar aan die brand en die heerlikheid van God versprei soos ’n wolk en vul die tempel sodat die priesters verskrik was en nie kon binnegaan nie (2 Kronieke 7:1-2). Koning Salomo doen ’n spesiale gebed om die tempel aan God te wy en God reageer op ’n wonderbaarlike wyse. Hierdie oorvloedige Loofhuttefees in koning Salomo se tyd was toegespits op die inwyding van die plek waar God Sy Naam geplaas het en van waar die Messias uiteindelik al die nasies sal regeer.
Te midde van hierdie vieringe, gedurende ’n tyd van vrede en oorvloed, herinner God Salomo daaraan dat die voortsetting van hierdie seëninge afhanklik was van opregte gehoorsaamheid aan Hom. Die oorvloed wat deur die Loofhuttefees uitgebeeld word, kan slegs geniet word deur diegene wat in God se weë wandel. Weer eens is gehoorsaamheid nodig om in God se rus in te gaan. Ongelukkig het dit geblyk dat Israel se rus weer eens kortstondig was. In sy bejaardheid het Salomo se hart van God weggedraai en het God teenstanders teen hom opgerig. Na Salomo se dood word sy koninkryk verdeel en onderwerp aan gedurige oorloë en invalle. Uiteindelik, minder as 375 jaar na daardie manjifieke inwydingsermonie by die lentefeestyd, vroeg in Salomo se heerskappy, oorwin die Babiloniese koning Nebukadneser Jerusalem en vernietig beide die stad en die tempel wat Salomo gebou het. God se heerlikheid, wat die tempel in Salomo se tyd gevul het, het uiteindelik van beide die stad en die tempel gewyk (verg. Esegiël 10:18; 11:23). God sal nie voortgaan om te midde van onreinheid te woon nie!
God se heerlike rus
Sewe dekades na Nebukadneser se vernietiging van die tempel en wegvoering van die Joodse volk na Babilon, open God uiteindelik vir hulle die weg om terug te keer en te herbou. Sagaria was een van die profete wat Zerubbabel, die nuutaangestelde Persiese goewerneur, vergesel en hom en die volk aanmoedig om God se tempel in Jerusalem te herbou. Terwyl hy rondom hom kyk na die vernietiging van die stad in sy tyd, sien Sagaria ’n toekomstige tyd wanneer God Jerusalem weer sal verkies (Sagaria 1:17). Dit sal ’n tyd wees wanneer baie volke by God sal aansluit en Sy mense sal wees. Dit sal ook ’n tyd wees wanneer die God van Israel werklik in Jerusalem sal woon (Sagaria 2:10-11). Sy troon sal in ’n toekomstige tempel wees, wat in die laaste hoofstukke van die boek Esegiël beskryf word (verg. Esegiël 43:1-7).
In hierdie glorieryke toekomstige tyd sal al die nasies van die wêreld na Jerusalem gaan om die Loofhuttefees te vier en om die Here van die leërskare te aanbid (Sagaria 14:16). Dit sal gedurende ’n tyd wees wanneer God se wet van Jerusalem sal uitgaan en die kennis van Sy weë die aarde sal bedek, soos die water die seë. Dit sal ook ’n tyd van rus wees - ware rus - vir die ganse mensdom.
Jesaja 14:3 beloof dat die dag kom wanneer die Ewige God “jou rus [sal] gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het”. Hartseer, vrees en harde werk se oorsprong word in Genesis 3 beskryf en is die gevolg van sonde. Dit was eers nadat hy gesondig het wat Adam bang geword en homself weggesteek het. Hy en Eva was beide vertel van die hartseer en harde, moeitevolle arbeid wat hulle lewens sou deurtrek, as deel van die vloek van die sonde. Vrees, hartseer en harde arbeid was sedert daardie noodlottige dag in die tuin die algemene lot van die mensdom. Daar kom ’n tyd wanneer die mensdom uiteindelik rus gegee sal word; die hele wêreld sal inderdaad tot rus kom (Jesaja 14:7).
Slegs diegene wat God se woord glo en daaraan gehoorsaam is, sal in staat wees om Sy rus binne te gaan, soos Paulus in Hebreërs 3 en 4 verduidelik. Die Loofhuttefees herinner ons aan die tyd wanneer die wêreld uiteindelik vrede en rus sal ken en die Ewige God “vir al die volke ... ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” berei (Jesaja 25:6). Daar was dramatiese rustye vir God se mense wat in die verlede deur die Loofhuttefees ingewy was. Wat God egter in die tye van Josua en Salomo gegee het, blyk kortstondig te gewees het. As gevolg van ongehoorsaamheid het die mense daardie rus wat deur God gegee was, verbeur.
Terwyl ons hierdie jaar by die Loofhuttefees bymekaarkom, moet ons gedurig onthou van die gebeure wat ons uitbeeld - die tyd wat in Jesaja 11:9-10 beskryf word: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees”. Laat ons God van ganser harte gehoorsaam, sodat ons in Sy rus kan ingaan!