Wat lê in die volgende paar jaar vir die lede van God se Kerk voor, namate profesie ontvou? Vir dekades het ons die samekoms van die Diermag in Europa afgewag, gekoppel aan die afname in Amerika en Brittanje se mag en ’n groeiende krisis in die Midde-Ooste, wat op Jerusalem gemik is. U Bybel het hierdie dinge voorspel en nou sien ons dit werklik gebeur! Hoewel dit opwindend kan wees om hierdie verwikkelinge dop te hou, kan dit ook ietwat vreesaanjaend wees, omdat ons weet dat voor Jesus Christus se wederkoms hierdie vervulde profesieë die wêreld uiteindelik sal dompel in dít wat die Bybel die Groot Verdrukking noem - ’n tyd van smarte erger as enigiets in mense heugenis (Mattheus 24:21). Wat voorspel hierdie toekomsgebeure vir u en u geliefdes? Sal u deur die afgryse soos dié van die Groot Slagting van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog moet gaan?
In besprekings van eindtyd gebeure, praat baie Kerklidmate reeds dekades al daarvan om na ’n “plek van veiligheid” te gaan. Andere reken weer dat God ons kan beskerm, waar ookal ons is. Praat die Skrif werklik van ’n “plek van veiligheid”? Indien wel, wie sal daarheen gaan? Terwyl sommige mense seker is dat hulle na Petra gaan, is ander net so oortuig dat hulle in hul eie huise beskerm gaan word, of in verskillende plekke en deur ander moontlike scenario’s.
Kan ons werklik weet wat die antwoord op sulke vrae is? Wat onderrig die Bybel werklik oor hierdie onderwerp? Namate ons al nader kom aan die einde van hierdie tyd en aan die verskriklike gebeure waarvan die Bybel ons van vertel wat sal plaasvind in die jare net voor ons, raak begrip van hierdie onderwerp al meer belangrik.
Let op een van die mees algemene besware wat geopper word deur diegene wat glo dat daar nie ’n spesifieke plek van veiligheid is nie: “God kan ’n mens in jou eie huis beskerm, Hy het nie nodig om almal na een spesifieke plek te neem nie.” Die antwoord hierop is dat God ons natuurlik op enige plek en wyse wat Hy verkies, kan beskerm. Hy is op stuk van sake God! Die eintlike vraag is nie “Wat kan God doen?” nie, maar eerder “Wat onthul die Bybel sal Hy doen?”
Die Bron van verlossing
Is daar enigiets mee verkeerd om die gebeure van die Groot Verdrukking te wil vryspring? Jesus Christus Self het daardie vraag ’n paar dae voor Sy kruisiging beantwoord. Terwyl Hy op die Olyfberg sit en met Sy dissipels praat oor die verskriklike gebeure wat die einde van hierdie tydperk en Sy wederkoms as Koning van konings sal aandui, vermaan Jesus hulle om te bid en altyddeur te waak en op die uitkyk te wees. Hy sê vir hulle dat, deur dit te doen, hulle waardig geag mag word om daardie dinge vry te spring en voor Hom te staan met Sy wederkoms (Lukas 21:36). Christus het duidelik geweet dat Sy volgelinge die begeerte sou hê om die verskriklike ellende wat oppad is, vry te spring - en Hy vertel hulle dat dit moontlik is om dit te doen.
Deur die eeue wou God nog altyd hê dat Sy mense na Hom moet kyk as hul Verlosser. Koning Dawid van ouds het hierdie les baie goed geleer. Hoewel hy reeds as tiener as toekomstige koning van Israel gesalf is, het Dawid die grootste deel van sy twintiger-jare deurgebring as ’n voortvlugtige met ’n losprys op sy kop. Grootliks aangevuur deur vrees en jaloesie, het Koning Saul hom gejag en wou hom doodmaak. Wat het Dawid geleer gedurende daardie jare van wegkruip en jagmaking deur vyande en hoe is daardie lesse vandag op ons van toepassing?
Die Skrif dui aan wat Dawid se gevoelens was in die nadraai van hierdie beproewings: “En Dawid het die woorde van hierdie lied tot die Here gespreek op die dag toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. En hy het gesê: Die Here is my rots en my bergvesting en my redder” (2 Samuel 22:1-2). Die kern van die Bybelse lering rondom ’n eindtydse plek van veiligheid vir God se mense, is dat ons werklike beskerming van God kom - nie van enige fisiese plek nie. Hy is ons Rots, ons Bergvesting en ons Verlosser - nou sowel as gedurende die toekomstige swaarkry.
Psalm 46 verskaf ook ’n direkte profesie van eindtyd gebeure en die beskerming wat beskikbaar is vir God se mense. Ons word vertel: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see” (verse 2-3). Let op die profetiese tydsindeling vir hierdie Psalm. Dit vind plaas gedurende ’n tyd dat die nasies sal bruis en koninkryke wankel (vers 7). Dit is die tyd wanneer God oorloë op hierdie aarde sal laat ophou (vers 10), ’n tyd wanneer God verskriklike dinge oor die aarde bring deur Sy oordeel (vers 9). Hierdie poëtiese profesie van gebeure wat lei tot die koms van die Messias, beklemtoon dat God ons toevlug is en dat ons nie bang hoef te wees nie, selfs al is ons omring deur rampspoedige, aardskuddende gebeure.
Christus het dit duidelik gemaak dat sommige mense waardig geag sou word om hierdie verskriklike tyd van swaarkry in die mensdom se geskiedenis te ontvlug (Lukas 21:36; Mattheus 24:21-22). Hy het vir Sy dissipels twee sleutel vergelykings gegee wat ons kan help om hierdie onderwerp te verstaan. In Lukas 17:26-27 vergelyk Christus die tyd voor Sy wederkoms met die tyd van Noag. Hy maak dit duidelik dat ten spyte van Noag se werk om die wêreld te waarsku, mense die boodskap geïgnoreer en hul alledaagse aktiwiteite nagejaag het. Hulle was onbewus daarvan dat hul wêreld binnekort om hulle sou ineenstort. Hulle het hulself besig gehou met hul eie besigheid en plesier totdat Noag en sy gesin die ark - húlle plek van veiligheid - binnegegaan het. Nadat Noag gered is, het die oordeel oor die wêreld gekom.
Christus het ’n tweede vergelyking getref met die beskrywing van Lot en sy gesin wat uit Sodom gered is (verse 28-29). Weereens was die bevolking van Sodom in die algemeen onbewus van God se ingryping in wêreldgebeure en het voortgegaan om hul eie besigheid en plesier na te jaag totdat God Sy oordeel op hulle uitgestort het.
Die eerste gemene storielyn wat deur hierdie vertellings loop, is dat die wêreld onbewus was van God se naderende ingryping in wêreldsake sowel as van Sy oordeel. Die tweede is dat God diegene wat aan Hom getrou was, gered het en na ’n plek geneem het waar hulle beskerm sou word. Die derde is dat, nadat Hy Sy getroue mense gered het, God Sy oordeel op ’n God-verwerpende en korrupte samelewing uitgestort het.
Kyk nou van naderby na Lukas 17:30-37. Beskryf hierdie verse die tyd van Christus se werklike wederkoms of beskryf hulle God se mense wat na ’n plek van veiligheid gaan? Vergelyk hierdie verse met Christus se woorde in Mattheus 24:17-22 en ons sien dat Lukas ’n tyd beskryf waarin God se mense vir hul lewens moet vlug voor die aanvang van die Verdrukking - nie die oomblik van die opstanding nie. Niemand hoef ten tye van die opstanding gewaarsku te word om nie terug te gaan om persoonlike besittings uit sy huis te gaan haal nie! Dit sal egter ’n versoeking wees wanneer ons die vooruitsig in die gesig staar om ons huise na te laat en na ’n ander fisiese woonplek te gaan. Dit is waarom dit so belangrik is om Lot se vrou te onthou - sy kon nie haar rug op haar “wêreld” keer en nie terugkyk nie. Haar gehegtheid was te groot.
Na ’n plek geneem
Openbaring 12 beskryf die wisselwerking tussen Satan en die Kerk van God. Die ware Kerk se oorsprong is die Kerk in die Woestyn (wat 12 keer in die Ou Testament as die Gemeente van YHVH of die Gemeente van Elohim genoem word), en voortgegaan het as die Nuwe Testamentiese Kerk van God. Die Ou Testamentiese Kerk word as ’n vrou uitgebeeld wat die Messias voortbring. Satan wou Christus vernietig, maar was onsuksesvol in sy poging om Hom direk na Sy geboorte te vernietig, hoewel hy Herodes aangehits het as sy instrument om dit te probeer bereik. Uiteindelik het die Messias opgevaar na God se troon en wag daar op Sy wederkoms na hierdie aarde. Na Christus se hemelvaart wat in vers 5 beskryf word, skuif die verhaal terug na die vrou, simbolies van die ware Kerk. Daarna lees ons van die Kerk wat na die woestyn vlug, weg van die bevolkte dele van die Romeinse Ryk, waar sy deur God gevoed was gedurende die Middeleeue.
Vanaf Openbaring 12:7 betree ons die opeenvolging van gebeurtenisse aan die eindtyd. ’n Finale oorlog in die hemel lei tot Satan se uitsetting. Wetende dat hy min tyd oor het (vers 12), loods hy die finale eindtydse vervolging van die ware Kerk, wat tot die Groot Verdrukking lei. In Openbaring 12:14, lees ons dat die vrou - die Kerk - “die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou [die Kerk] gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd.” Duidelik word die Kerk na ’n plek geneem waar God haar bonatuurlik sal voed en beskerm gedurende die finale drie-en-’n-half jaar tydperk voor Christus se wederkoms.
Dit sluit aan by Openbaring 3:10 waarin Christus die Kerk van Filadelfia beloof dat Hy haar sal beskerm van die “uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom”. In teenstelling waarsku Hy die Kerk van Laodicèa in Openbaring 3:16 dat Hy hulle uit Sy mond sal spuug. Hierdie is “haar ander nakomelinge” teen wie Satan oorlog voer in Openbaring 12:17. Hierdie oorblyfsel is deel van die ware Kerk, omdat hulle die gebooie hou en Christus se getuienis het, maar hulle is lou, nie vol ywer en vurig nie. As gevolg hiervan sal Christus hierdie individue direk in die Verdrukking uitspuug, om hulle wakker te skud en tot bekering te bring!
Die Bybel dui ’n duidelike teenstelling tussen twee groepe van God se mense in die eindtyd aan. Die een groep, sê Christus, sal “die woord van my lydsaamheid bewaar” (Openbaring 3:10) en deur “’n geopende deur” (vers 8) gaan om die evangelie te verkondig. Die ander groep konsentreer op hulself en is louwarm in hul benadering tot God en Sy weë. Hierdie onderskeid stel vas wie God in “haar plek in die woestyn” sal voed, terwyl andere met die Groot Verdrukking gekonfronteer word.
Die profeet Sefanja, wie se naam “Die Verstekeling van die Ewige God” beteken, praat van die eindtyd en beskryf diegene wie God sal verberg. “Soek die Here, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid - miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die Here” (Sefanja 2:3). Sommige mense sal dus die verborgenes van die Here wees.
Psalm 91 beskryf dat diegene wat in die “skuilplek van die Allerhoogste” is, beskerm sal word, en die rampe wat plaasvind slegs sal sien. Die siekte-epidemies en skrikwekkende oorlog wat die wêreld gedurende die eindtyd tref, sal nie toegelaat word om diegene wat deur God beskerm word, te vernietig nie. Omdat hulle God deur geloof hul toevlug en rotsvesting gemaak het, sal hierdie toegewyde dienaars van God Sy beskerming gedurende hierdie gruwelike tyd geniet.
Die Skrif maak dit duidelik dat God aan Sy ywerige mense in die eindtyd beskerming teen die Verdrukking beloof. Maar waarom het so baie mense in die Kerk oor die jare geglo dat die plek waar God Sy mense gaan beskerm, Petra mag wees? Maak die Bybel melding van hierdie bekende plek en indien wel, wat onthul dit daaroor?
In drie spesifieke verwysings, blyk dit dat die Bybel Petra assosieer met God se eindtydse plek van veiligheid vir Sy mense, maar hierdie teksverse is ietwat vaag en kan op meer as een manier vertolk word. Indien hierdie verse egter nie na Petra verwys nie, wil dit voorkom dat God werklik nie vir ons enige aanduiding gegee het waar Hy Sy mense gedurende die finale drie-en-’n-half jaar tydperk sal voed nie.
“Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu! Laat hulle aan die Here die eer gee en sy lof in die eilande verkondig! Die Here sal uittrek soos ’n held; Hy sal die ywer opwek soos ’n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar” (Jesaja 42:11-13). Hierdie vers beskryf die tyd wanneer die Messias met mag sal kom en die nasies onderwerp. Die rotsbewoners wat jubel en God op daardie tyd eer gee word genoem. Sela, soos baie kantverwysings in baie Bybels aandui, is die Hebreeuse naam vir die area wat hedendaags beter bekend staan as Petra, die Griekse naam vir Sela. Wie sal hierdie eindtydse inwoners van Petra wees wat jubel tydens Christus se koms?
Jesaja 33 fokus ook op gebeure rondom Christus se tweede koms. Let op vers 10: “Nou sal Ek opstaan, sê die Here; nou sal Ek My verhef, nou sal Ek My oprig.” Gedurende daardie onrustige tyd sal sondaars sidder (vers 14), diegene wat regverdig is sal “op die hoogtes woon, rotsvestings [Hebreeus Selah of in Grieks Petra] is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis. Jou oë sal die Koning in sy skoonheid beskou …” (verse 16-17). Is hierdie ’n verwysing na die plek van God se getroues in die eindtyd?
Nog ’n verwysing is in Jesaja 16. Hier vertel God die Moabiete, wat die area van Sela of Petra regeer (vers 1) om Sy mense wat verdryf is, te beskerm. “Laat my mense wat verdryf is, by jou vertoef! Aangaande Moab, wees vir hulle ’n skuilplek vanweë die verwoester. Want gedaan is die verdrukker, klaar is dit met die verwoesting, weg is die vertrappers uit die land! En opgerig is deur goedgunstigheid ’n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, ’n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid” (verse 4-5). Die gebeure wat in hierdie verse beskryf word verwys na die tyd wat Christus se wederkoms onmiddellik voorafgaan. Wie is diegene wat God as “my mense wat verdryf is” beskryf in hierdie paragraaf? Is dit ’n verwysing na Sy eindtydse getroues?
Wie sal God se beskerming geniet?
Terwyl die Skrif duidelik aantoon dat God Sy getroue en ywerige mense van die aanslag van die Groot Verdrukking sal beskerm, maak dit nie al die besonderhede duidelik waaroor ons gereeld wonder nie. Die meeste van ons sou verkies het dat daar duidelike, ondubbelsinnige verwysings was na en besonderhede van die plek waar God se mense gevoed en beskerm sal word teen Satan se woede. Waarom het God gekies om nie die fisiese besonderhede duideliker te maak nie?
Daar is ’n belangrike rede voor. Omdat ons fisiese skepsels is, is dit vir ons baie makliker om opgewonde te raak oor die fisiese eerder as die geestelike. Ons moet almal verstaan dat dit nie moontlik is vir enigeen van ons om hom- of haarself te red van die eindtydse ellende wat gaan ontvou nie. God is ons Rots, ons Rotsvesting en ons Verlosser. Hy wil hê dat ons ons gedagtes op Hom vestig en op Hom staatmaak, nie bloot op die dinge wat ons kan sien nie.
In Maleagi 3:16-17 inspireer God Sy profeet om te skryf: “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor Sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en Sy Naam eer. En hulle sal My tot ’n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelye hê soos ’n man medelye het met sy seun wat hom dien”.
God neem kennis van diegene wat Hom werklik eer; hulle is betrokke daarby om God se wil te doen en Sy Werk te volbring, net soos Jesus Christus was (vergelyk Johannes 4:34). God neem kennis van hul gesprekke om mekaar aan te moedig en skryf dit in Sy gedenkboek. Wanneer hierdie wêreld op die randjie van die verskriklikste tyd in mense heugenis staan, sal God diegene spaar wie se name Hy aangeteken het.
Terwyl die besonderhede van hoe en waar God Sy mense sal beskerm fassinerend is, moet ons in gedagte hou dat in die uiteindelike sin, ons beskerming nie afkomstig is van enige plek nie - maar van God af. Indien ons waaksaam en op die uitkyk bly, voortdurend tot God bid en met Hom wandel, kan ons waardig geag word om hierdie dinge wat gaan gebeur, vry te spring. Diegene wat deur die Verdrukking gaan, is hulle wie God nie op ’n makliker wyse genoegsaam kon aanwakker en tot bekering bring nie.
Ons hoef nie bang te wees vir die tyd wat kom nie. Pleks daarvan kan ons eerder ons vertroue in God plaas, leer om op Hom te vertrou en Hom met ons hele hart te dien. Dan kan ons werklik sê dat God ons toevlug en rotsvesting is - Hy is ons Rots!