Hoe oorloë sal eindig en vervang word deur vrede.
Toe Brittanje se laaste soldaat van die Eerste Wêreldoorlog gesterf het, wat het nog saam met hom gesterf? Het die wêreld die lesse van oorlog geleer – en sal dit ooit die lesse van vrede leer? U Bybel bevat die antwoord!
Manskap Harry Patch was die oudste man in die Verenigde Koninkryk toe hy op 24 Julie 2009 op die ouderdom van 111 oorlede is. Hy was egter meer as dit, hy was Brittanje se laaste oorlewende soldaat wat die gruwels van die loopgrawe gedurende die Eerste Wêreldoorlog verduur het.
U mag moontlik nie weet wie hy was nie, maar sy dood was betekenisvol, veral in die Verenigde Koninkryk. Die Koningin en die hele nasie het sy dood betreur. Prins Charles, Eerste Minister Gordon Brown en baie ander het hulde gebring aan Harry as ’n voortreflike voorbeeld van opoffering, moed, uithouvermoë en pligsgevoel wat sy geslag gekenmerk het in die strewe na vryheid. Baie mense het klem gelê op die belangrikheid van opoffering in die verdediging van blywende waardes en vryhede, waarvan manskap Patch en baie ander soos hy gedurende die oorlogsjare kenmerkend was.
Harry was ’n tienderjarige “Tommie” in die Eerste Wêreldoorlog en het in die Britse weermag diens gedoen in die loopgrawe van noordelike Frankryk. Met sy dood op die ouderdom van 111 jaar, is die Verenigde Koninkryk se laaste oorblywende skakel met die Eerste Wêreldoorlog beëindig. Dit is nogal werklik belangrik. Dit beteken dat daar niemand meer oor is wat eerstehands deur persoonlike ondervinding kan beskryf, wat werklik gebeur het nie – hoe dit werklik was, wat ons deur dit alles kan leer nie.
Vir die grootste deel van sy lewe was Harry vasbeslote om nooit die dinge wat hy gedurende die oorlog beleef het, te bespreek nie. Nogtans, op ouderdom 100 het hy hom laat oorreed om sy stilswye te verbreek – en hy het ’n uitgesproke en ikoniese segsman oor die nutteloosheid van oorlog geword. Hy het sy bekendheid gebruik om dankbaarheid en respek aan te moedig jeens almal, aan alle kante, wat in die oorlog diens gedoen het. Hy was egter besonder passievol in sy pleidooie dat geskille besleg moet word op ander maniere as geweld en oorlog.
’n Eeu van oorlog
Om en by die tyd van die Eerste Wêreldoorlog, het die aard van oorlogvoering self dramaties begin verander. Tegnologiese en wetenskaplike vooruitgang het verseker dat die dood van medemense uitgevoer kon word op ’n werklike industriële skaal. In 1901, in sy eerste toespraak as lid van die Parlement, het die 26-jarige Winston Churchill, nog vars in sy geheue uit sy ondervinding van oorlog in Suid-Afrika, oor hierdie neiging gewaarsku: “Ons moet nie oorlog met ’n moderne moondheid beskou as ’n soort speletjie waarin ons kan deelneem en met goeie geluk en goeie bestuur vir ’n aand behendig kan speel en daarna veilig huistoe kan kom met wat ons gewen het nie”.
Churchill het voorafwetend die oorloë beskryf wat hy oor die horison sien kom het: “’n Europese oorlog kan niks anders wees as ’n wrede, hartverskeurende stryd wat, as ons ooit die bitter vrugte van oorwinning gaan smaak, moontlik verskeie jare gaan opeis, die hele manlikheid van die nasie, die algehele opskorting van vreedsame industrieë, en die konsentrasie aan een kant van elke noodsaaklike energie in die gemeenskap” (A History of the Twentieth Century, Vol. 1, deur Martin Gilbert, bl. 51). Churchill het oorlog, selfs die kleineres onder die dekmantel van minder belangrike konflikte, as afskuwelik en verskriklik beskou. Wie sou kon voorsien dat slegs 13 jaar later, die hele wêreldgedompel sou wees in ’n venynige en bloedige oorlogsbrand wat miljoene lewens sou kos?
Hierdie “oorlog om alle oorloë te beëindig”, soos dit bekend geraak het, het egter gefaal om ’n einde aan oorlog te maak! Met tyd het ons dit herdoop na die “Eerste Wêreldoorlog” – want ’n ander, meer verskriklike wêreldoorlog, sou spoedig volg. Die blom van ’n hele geslag was verlore op die slagvelde van noordelike Europa. Nogtans het die weersin wat so baie mense gekoester het teenoor die loutere gruwel en tragiese vermorsing van menselewens, nie ’n einde gemaak aan oorlog nie. Soos ’n jong diplomaat wat die rampspoedige gevolge van die oorlogsverskuiwings wat in 1919 deur die Paryse Vredeskonferensie te Versailles vasgestel is voorsien het, en aan President Woodrow Wilson gesê het: “Ons regering het nou ingestem om die lydende volke van die wêreld aan nuwe onderdrukkings, onderwerpings en verdelings uit te lewer – ’n nuwe eeu van oorlog” (The Great Influenza, deur John M. Barry, bl. 388).
Was dit waarlik so ’n groot verrassing dat die twintigste eeu uitgedraai het presies soos voorspel? Dit het met oorlog begin en dit het met oorlog geëindig. “Nie ’n jaar het verbygegaan sonder dat soldate en burgerlikes gedood is in oorlog of geworstel het om van die verwoesting daarvan te herstel nie” (Gilbert, bl. 2). Waarom behoort die een-en-twintigste eeu enigsins anders te wees? Het die mensdom dalk uiteindelik die lesse van oorlog geleer, soos Harry Patch so graag wou hê – om ons geskille op ’n ander manier as deur geweld op te los? Of is die tydlose wysheid wat in die Bybel te vinde is, wanneer die menslike aard bespreek word, dalk meer korrek: “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie” (Romeine 3:15-18). Daar word iets wat diepliggend ontbreek openbaar deur die geweldadige neigings van die menslike natuur. Kan dit moontlik gekoppel word aan die minagting en verwaarlosing van God se denkwyse en weë?
Waarom die verlede onthou?
Waarom is die dood van ’n man soos Harry Patch van soveel belang? Wanneer die laaste lewende skakel met die gebeure van die verlede verbreek word, is iets onvervangbaar verlore. Herinnerings vervaag onafwendbaar en daarmee saam die werklikheid van daardie gebeure van die verlede. Dit word aan historici oorgelaat om sodanige gebeure te boek te stel. Die gevolg is dat hul rol belangrik en noodsaaklik is.
Die plig van historici is om alle feite van die verlede noukeurig te versamel en oor die betekenis daarvan na te dink, sodat toekomstige geslagte dit kan onthou. Die probleem is egter dat ons in ’n geslag lewe wat hoofsaaklik leef vir opwinding, plesier en besorgdhede van die hede en hulle is grootliks gladnie bekommerd oor die verlede nie. Oorweeg die uitgangspunt van een so ’n beroemde historikus, Eric Hobsbawm: “Die totnietmaking van die verlede … is een van die mees karakteristiese en onheilspellende verskynsels van die afgelope twintigste eeu. Die meeste jong mans en vrouens teen die einde van die eeu, het grootgeword in ’n soort van permanente hede sonder enige organiese verhouding met die openbare verlede van die tye waarin hulle leef. Dit maak historici, wie se werk dit is om te onthou wat andere vergeet het, aan die einde van die tweede millennium meer noodsaaklik as ooit tevore” (Age of Extremes, bl.3).
Deesdae is daar onder die huidige geslag ’n soort van kollektiewe geheueverlies wat werklik ontmoedigend en uiters sorgwekkend is. Die Spaans-gebore Amerikaanse filosoof, George Santayana merk op: “Diegene wat nie die verlede kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal” (The Life of Reason, vol. 1). Indien ons nie die geweldadige neigings van die menslike natuur konfronteer en dit verwerk nie, is ons gedoem. Veral in ’n wêreld waar die vernietigende potensiaal van oorlog blykbaar teen ’n tempo toeneem.
Ons behoort nooit die nutteloosheid en vernietigende vermoë van oorlog te vergeet of die lesse wat ons daaruit kan leer nie. Neem as ’n voorbeeld die Nazi’s se volksmoord gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Party mense bespiegel daaroor of so ’n monumentale gruwel ooit weer kan gebeur. Ander weer, skokkend soos dit mag wees, betwis dat dit ooit gebeur het. Dit was so verskriklik, so afgryslik, so totaal ondenkbaar dat dit hele geslagte wat daarop gevolg het, geskend het. Vir baie het dit makliker en meer gerieflik geword om te vergeet en om hulself te oortuig dat dit nooit plaasgevind het nie.
Soms vind ’n nasie homself so beswaard deur sy verlede dat die leiers daarvan die geskiedenis selfs uit die skoollesse verwyder, ten gunste van stories wat meer aanvaarbaar is. Vra ’n tipiese Japanese skoolkind en ’n tipiese Chinese skoolkind uit oor Japan se inval in Mantsjoerye in 1931, en luister na twee heeltemal verskillende “geskiedkundige” relase oor wat gebeur het.
Dit is een rede waarom Generaal Dwight D. Eisenhower, hoofbevelvoerder van die Geallieerde magte gedurende die Tweede Wêreldoorlog, daarop aangedring het dat die gruwels van die Nazi’s se doodskampe tot in die fynste besonderhede verfilm moes word vir latere geslagte. Duitsland en Duitsbeheerde Poland was die terrein van wreedaardighede wat vir baie mense moeilik is om te glo. Sewentig jaar nadat Duitsland Pole binnegeval het, wat die begin van die Tweede Wêreldoorlog aangedui het (Lees “Pole en die erfenis van die Tweede Wêreldoorlog” elders in hierdie uitgawe), sleep die verwoestende uitwerking van daardie jare nog steeds voort.
Heeltemal bewus van die menslike vermoë tot ontkenning, het Eisenhower daarop aangedring dat inwoners van die omliggende dorpe en stede na die doodskampe geneem moes word, om die stank te ruik en vir hulself die skokkende werklikheid te sien van dit wat die Nazi-regering bedryf het. Het hy dit nie gedoen nie, sou baie mense onbewus gewees het van die waarheid. Eisenhower het besef dat toekomstige geslagte in die versoeking mag kom om dit uit hul kollektiewe geheue te wis as gevolg van die blote ondenkbare gruwelikheid daarvan. So was dit dan ook. Eisenhower was vasbeslote om sy deel te doen om dit nooit te laat gebeur nie.
Een van die lesse van oorlog wat heilig bewaar word deur die afsterwe van Harry Patch, is dat ons tyd moet maak om oor die gebeure van die geskiedenis te leer, sodat ons nooit vergeet en nooit ontken wat gebeur het nie – uit afsku of walging – of om watter rede ook al!
Meer as ’n geskiedenis boek!
Dit bring ons by die geskiedenisboek van alle geskiedenisboeke – waarna reeds verwys is – die Heilige Bybel. Anders as ander geskiedenisboeke, is die gesag, die omvang, die diepte en verskeidenheid van ondervinding en advies daarin ongeëwenaard. Waarom gee so min mense deesdae aandag daaraan? In ’n toenemend Goddelose tydperk het dit mode geword om wat God se woord sê, te ignoreer en dit selfs te vergeet.
Die Bybel voorsien ons egter van baie meer as geskiedenis. Dit maak daarop aanspraak om direk deur God geïnspireerd – deur God ingegee (2 Timotheüs 3:16) – en om op elke manier voordelig te wees. Dit is God se tydlose boodskap van wysheid oor die hele spektrum van menslike ondervinding aan die mensdom. Die Bybel se boodskap is onskatbaar. Ons behoort weer die belangrikheid daarvan te leer en meer aandag te skenk aan die boodskap daarvan.
Byvoorbeeld, terwyl ons nou by die onderwerp van oorlog is, voorsien dit aan ons ’n eenvoudige begrip van die oorsake van oorlog: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:1-3).
Ons kom nie verby hierdie waarneming nie, dat oorlog en geweld integraal deel is van die selfsugtige menslike natuur wat alte dikwels die toevlug neem tot een of ander vorm van geweld om te verkry wat begeer word. Terselfdertyd weier ons om die gebooie en prioriteite van ’n liefdevolle God te onderhou wat ons beveel om nie ons geskille deur geweld te besleg nie. “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie ... leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here ... Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Romeine 12:17-21).
Baie van ons pas hierdie advies toe so goed ons kan op ons intieme, persoonlike verhoudings. Die groter uitdaging is om maniere te vind om hierdie advies ook op al ons ander verhoudings toe te pas. Hoe kan hierdie beginsels toegepas word om te voorkom dat ’n nasie teen ’n ander nasie opstaan – selfs om konflik te voorkom wat ons hele beskawing op die knieë kan dwing – of nog erger?
Soos Harry Patch so sterk daaroor gevoel het, moet daar ’n ander manier wees. Daar is wel – as ons net gewillig is om ons lewens te leef in harmonie met wat God van ons vra.
Daar is egter nogtans meer. Merkwaardig, die Bybel vermeld ook wat ons mag noem, geskiedenis vooruit geskrywe. Dit word profesie genoem – God se voorspellende siening van die toekoms. God gee in die Bybel ’n raamwerk van die manier waarop wêreldgebeure sal uitdraai. Dit is nie ’n mooi prentjie nie. Die Bybel boekstaaf die eindresultaat van menslike natuur – ’n oorlog om waarlik alle oorloë te beëindig: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:21-22).
Christus se woorde verwys in die laaste instansie na ’n tyd van moeilikhede wat erger sal wees as die vernietigende kranksinnigheid van die wêreldoorloë wat die twintigste eeu so geskend het. Aangesien Hy hierdie woorde tot ons lering gespreek het, behoort ons hulle te erken as betroubaar en waar – ten spyte van die aakligheid wat hulle aankondig – tensy ons as individue en nasies die lesse van oorlog kan leer. Die Skrif verduidelik wat ons sal ervaar, tensy ons die menslike natuur wat so vyandiggesind is teenoor God en Sy geopenbaarde weë, kan verander – en wat die onderliggende oorsaak is van oorloë (Romeine 8:7; Jeremia 17:9).
Indien ons oë het om te sien, maak God dit vir ons baie duidelik hoe die menslike natuur kan en moet – en mettertyd sal – verander!
’n Deel van God se opdrag aan Sy Kerk is om ons geslag te waarsku van wat Hy die Groot Verdrukking noem, die oorlog wat ’n einde sal maak aan hierdie huidige tydperk van die mens en wat tot ’n beter tydperk in die Koninkryk van God sal lei. Die Wêreld van Môre-tydskrif word uitgegee as deel van die poging om daardie opdrag uit te voer deur hierdie boodskap na elke hoekie van die aardbol uit te dra.
Vrede is aan die kom!
Ware vrede is aan’t kom na hierdie oorlogverskeurde en oorlogmoeë wêreld. Die terugkerende Jesus Christus sal kom om ’n einde te maak aan oorloë. Sy geprofeteerde heerskappy oor die hele aarde sal blywende en algehele vrede bring, soos wat ons wêreld nog nooit voorheen ondervind het nie. Onder Jesus Christus se leiding, sal die mensdom leer om anders te dink. Die menslike natuur wat nie die weg na vrede ken nie, sal van aangesig tot aangesig gebring word met God se manier van dink, wat vrede sal verseker. Bybelse profesieë toon aan dat hierdie wonderlike tyd in die nie-te-verre toekoms sal aanbreek (vir meer oor Bybelse profesieë en hoe u dit kan verstaan, lees asseblief ons artikel “Vyf sleutels tot profetiese begrip” elders in hierdie uitgawe).
Hoe sal daardie wonderlike tyd wees? Daardie Christene wat God vandag roep, sal ’n spesiale rol speel deur Jesus Christus by te staan in Sy heerskappy oor die aarde. Om meer te leer oor hierdie glorieryke toekoms, skryf asseblief om u gratis kopie van ons besielende boekie: “The World Ahead: What Will It Be Like?”
Soos ons sien uit die lewe van Harry Patch, is dit belangrik om die gang van vervloë geskiedenis te leer en te onthou, deur na diegene te luister wat nog lewe – wie se herinneringe saam met hul leef. Wanneer hulle weg is, kan ons voortgaan om te leer uit die geskiedenisboeke wat aanhou om die gebeure van die verlede getrou te boekstaaf. Ons kan ook veral die groter lesse wat die geskiedenis ons leer, uit die rykdom en diepte van die Bybel leer.
U en ek kan egter nog verder gaan – ons kan, uit die Bybel, weet wat die gang van toekomstige geskiedenis sal wees. Dit is God se geskenk aan u. Sodoende kan u leer. U kan dus verander. U kan dus die vernietiging van toekomstige oorloë ontduik. U kan dus leer om u deel ten volle te doen deur te help om ’n permanente einde te maak aan oorloë.
Ons moedig u derhalwe aan om u Bybel af te stof en te begin om uit die tydlose wysheid wat dit bevat, te put. Bly grawe in die oorvloed Bybelse inligting wat in hierdie tydskrif voorsien word, ook in die Tomorrow’s World se beeldsendings en in ons webtuiste www.wvm.co.za; en pas dan die beginsels wat u geleer het toe in u daaglikse lewe.
Ons behoort mense soos Harry Patch en wat hul verteenwoordig, te onthou. Onthou die verlede en leer daaruit. Moet uself nie begrawe in die selfsugtige genot van die hede nie (2 Timotheüs 3:1-5). Meer nog as dit, leer wat die toekoms inhou vir u en vir die wêreld. Gaan oor tot aksie! Vandag nog!