Is u geroep? Wat doen u met daardie roeping?
Die Bybel praat van mense wat deur God geroep word, maar wat beteken dit? Presies wat is ’n roeping? Is u geroep? Roep God u tans? Hoe sal u weet? Watter bewys het u? Is elkeen wat in God glo, deur Hom geroep? Waarom roep God mense? Roep God mense vir ’n ander doel as om Hom bloot te ken en lief te hê? Is ’n roeping dieselfde as bekering?
In hierdie artikel sal ons ondersoek instel na wat die Bybel oor ’n roeping onthul. Ons sal uitvind wat ’n roeping behels en waarom dit so ’n unieke geleentheid is. Ons sal ook te wete kom waarom dit noodsaaklik is om te verstaan wat die Bybel onthul oor hierdie belangrike onderwerp. Baie vrae wat verdeeldheid onder Christene veroorsaak, steek vandag kop uit omdat sommiges vergeet het - óf nooit verstaan of geglo het nie - wat die Bybel duidelik onderrig oor ’n roeping nie.
’n Ou Testamentiese roeping
In die boek Jesaja vind ons verskeie verwysings na ’n roeping van God. Jesaja verwys na ’n “Kneg” van God, ’n “Uitverkorene”, wat deur God geroep is om “’n verbond van die volk” en “lig van die nasies” te wees (Jesaja 42:1-6). Hierdie verse praat profeties van Jesus Christus en die rol wat Hy moes vervul. Dit blyk egter dat hulle ook ’n tweeledige verwysing na die volk van Israel bevat, wat in die vorige hoofstuk die “kneg” van God genoem word (Jesaja 41:8-10). Ons vind dieselfde parallelle verwysing na Christus en Israel ook in Jesaja 49:1-6, waar die kneg van God “geroep” is om ’n lig vir die nasies te wees. Die Hebreeuse woord wat vertaal is as “geroep” is qara, wat beteken “genooi, versoek, beveel.” Hierdie teksverse dui aan dat God beide Christus sowel as die volk van Israel vir ’n doel geroep het - om ’n werk te verrig. Ons sal sien dat hierdie selfde betekenis - om vir ’n doel geroep te word - oorgedra is in die Nuwe Testament.
Jesus verduidelik
In die boek Mattheus lees ons “Uit Egipte het Ek My Seun geroep” (Mattheus 2:15). Josef en Maria het na Egipte gevlug met die baba Jesus, om Sy lewe te red (Mattheus 2:13-14). Hierdie toevlug na Egipte was egter net tydelik van aard, totdat die gesin na hul tuiste in Nasaret kon terugkeer (verse 19-23). Jesus is uit Egipte geroep om ’n sending te volbring - om die evangelie te verkondig, dissipels op te lei, Sy lewe as ’n offer te gee vir die sondes van die mensdom en om ’n Kerk te stig om met Sy werk voort te gaan. Soos ons sal sien, roep God mense na Sy Kerk, nié om van die wêreld weg te kruip - of om bloot sosiaal te verkeer nie - maar om deel te hê in ’n noodsaaklike sending.
Aan die dissipels wie Hy geroep het, verduidelik Jesus die doel van ’n roeping duidelik. Die Griekse woord wat as “geroep” vertaal is, beteken om “genooi te word” of “om ’n uitnodiging te ontvang”. Christus het die dissipels genooi om Hom te “volg” en “vissers van mense” te word (Mattheus 4:18-22). Hulle is genooi om Sy voorbeeld en opdragte te volg en om Sy werk te doen. Hulle is nie genooi om hul Leraar te bevraagteken, te kritiseer of Sy woord in twyfel te trek nie. Hulle is nie genooi om Sy opdrag om die evangelie te verkondig te ignoreer of om nuwighede aan te bring aan Sy leringe nie. Hulle is vir baie belangrike redes geroep en om ’n bepaalde beloning te ontvang!
Jesus verklaar ook: “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Mattheus 9:13). Ons word nie geroep weens ons goedheid of omdat ons verdien om geroep te word nie, maar omdat ons moet verander! Die Bybel stel dit duidelik dat “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Ten spyte van die boodskap van ’n ou Protestantse gesang, word ’n persoon nie geroep om te bly “nes ek is” nie. Ons word geroep om onsself te bekeer en te verander, om te groei, te oorwin en te leer om volgens die wette van God te leef - vir ’n werklik ontsagwekkende doel wat in verskeie Bybelverse uitgewys word.
Jesus vertel Sy geroepe dissipels dat daar aan hulle geestelike begrip gegee is wat nie beskikbaar is aan ander mense nie - selfs nie eens aan diegene wat hul geloof in God bely nie. Toe Hy deur Sy dissipels gevra is waarom Hy in gelykenisse praat, antwoord Jesus: “Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle [ander Jode van daardie tyd] is dit nie gegee nie” (Mattheus 13:10-11). Jesus haal dan die Ou Testamentiese profesieë aan wat aandui dat mense wie nie geroep is nie, nie sou sien of verstaan wat Sy geroepe dissipels sou verstaan nie (Mattheus 13:12-16). Die gelykenis van die saaier waarsku daarteen om ’n roeping as vanselfsprekend te aanvaar, ons roeping gedurende beproewinge op te gee en om die sorge van hierdie wêreld toe te laat om ons aandag van ons roeping af te lei (Mattheus 13:18-23). Jesus sê aan die dissipels wat Hy reeds geroep het: “as julle nie verander nie … sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!” (Mattheus 18:3), waarin hy onthul dat ’n roeping nie sinoniem is met bekering nie. Jesus waarsku ook, “baie is geroep, maar min uitverkies” (Mattheus 20:16). Die kern van die saak is dat Hy sê dat ’n roeping nie beteken dat ’n persoon outomaties in die Koninkryk van God sal wees nie!
In die boek Johannes, maak Jesus nog ’n verbasende opmerking oor ’n roeping. Hy maak dié stelling: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek [roep] nie” (Johannes 6:44, 65). Met ander woorde, ten spyte van wat mense vandag vertel word, kan ’n mens nie ’n ware Christen word deur slegs die kerk van u keuse by te woon nie. ’n Roeping is nie net ’n kwessie van besluit om u hart aan die Here te gee nie. God moet u eers roep en begrip aan u verleen! Jesus stuur dan ’n baie geestelike gesprek van stapel wat baie van Sy dissipels nie verstaan het nie (sien Johannes 6:60). Diegene wat nie verstaan het nie, het bloot opgehou om Hom te volg (verse 63-66). Dit beteken dat, hoewel mense opreg in Christus mag glo, indien hul verstand nie geopen is om die plan van God en verborgenhede van die Koninkryk van God te begryp nie, hulle nie nou geroep word nie. Miljoene belydende Christene en mense glo in God. Maar as hulle die Waarheid verwerp - dat Kersfees ’n heidense uitvindsel en beledigend teen God is, dat die beloning van ’n Christen nie is om hemel toe te gaan nie, dat God nie ’n drie-eenheid is nie, dat die Heilige Gees nie ’n persoon is nie en dat die Sabbat en ander Heilige Dae vandag nog deur Christus se volgelinge onderhou moet word - is hulle eenvoudig nie geroep nie. ’n Roeping, wat God vir ’n spesifieke rede toestaan, is ’n baie spesiale uitnodiging deur God om Sy plan en die doel met die mens se lewe te verstaan.
Merkwaardig soos dit mag blyk, het Jesus nie agter volgelinge aangehardloop wat nie Sy boodskap verstaan het nie, om hulle so vêr te kry om van plan te verander, sodat hulle gered kon word nie! Jesus het geweet dat God diegene roep wat aan Hom gegee is en dat andere eenvoudig nie op daardie tyd geroep is nie. Ander teksverse onthul dat hul roeping - hul geleentheid om te verstaan - op ’n later stadium sal kom.
Paulus se perspektief
Die apostel Paulus is geïnspireer om bykomende besonderhede rakende ’n roeping te onthul. Hy verduidelik: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28). Hy verduidelik dat God in Sy plan van redding voorbestem (of vooraf vasgestel) het om ’n aanvanklike groep mense te roep wat deur Christus se opoffering geregverdig sou word om verheerlikte geesteswesens te word as eerstevrugte in God se Koninkryk (Romeine 8:23-30). Paulus dui aan dat indien ons daardie roeping aanvaar en gewillig is om deur God se Gees gelei te word (te volg waar God ons gedagtes open om te verstaan), ons die geleentheid gegun sal word om “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” te word (Romeine 8:14-17). Soos ons sal sien, is dit ’n ontsagwekkende geleentheid!
Paulus beklemtoon voorts dat ’n mens moet reageer op die evangelie wat verkondig word deur God se ware leraars - leraars wat deur God “gestuur” word (Romeine 10:13-15). “Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” (vers 15). Slegs diegene wat “die Here aanroep”, die evangelie glo en daarop reageer, sal gered word.
Paulus verduidelik ook dat God “uitverkorenes” (Romeine 11:7) kies, maar dat Sy eie landsgenote, hoewel hulle in God glo, tydelik verblind is van die volle begrip van God se plan omdat hulle nie geglo het dat Jesus Christus die Messias was nie (Romeine 11:8-25). Paulus verduidelik dat hoewel hul roeping (om die uitverkore mense van God te wees) onherroeplik is, hulle tans in ’n staat van ongehoorsaamheid verkeer, in teenstelling met die uitverkorenes wat nou geroep word (Romeine 11:28-32), om te leer om volgens elke woord van God te leef.
Paulus skryf aan die Korintiërs: “let op jul roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, … nie baie edeles nie, … het God uitverkies …” (1 Korintiërs 1:26-27). God roep slegs diegene wat nederig genoeg is om Sy opdragte te volg soos in Sy woord vervat word - die Bybel. God kan nie met mense werk wat daarvan hou om oor die Skrif te redekawel of wat die Bybel wil vertolk volgens hul eie gevoelens nie. Paulus herhaal Jesus se woorde dat die Heilige Gees spesiale geestelike begrip van die verborgenhede van God gee aan diegene wat geroep word - begrip wat nie op hierdie tydstip aan andere in die wêreld beskikbaar is nie (1 Korintiërs 2). Hierdie is ’n sleutelaspek van ’n roeping van God. Indien u duidelik kan sien wat die Bybel as God se plan onthul - indien die evangelie van die Koninkryk van God vir u sin maak - dan het u tasbare bewyse dat u deur God geroep word! Die vraag is egter wat u met daardie roeping doen? Ons word ook in die Skrif vertel dat God Sy Gees aan diegene gee wat Hom gehoorsaam (Handelinge 5:32; Johannes 14:14-15). Dit beteken dat indien ons die waarheid van God betwyfel, met die Skrif argumenteer en ons eie idees volg, ons die onderskeiding wat God se Gees aan ons verleen, gaan begin verloor (2 Timotheus 1:6-7). Ons kan dan mislei word en ons roeping mis!
Paulus se briewe bespreek ook ander aspekte van ’n roeping. Hy vertel aan die Korintiërs wat geroep is, maar steeds in slawerny is of ’n onbekeerde eggenote het: “Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is” (1 Korintiërs 7:20). ’n Persoon wat as slaaf geroep is, mag vryheid nastreef (vers 21), maar vryheid self is nie die uiteindelike doelwit van ’n ware Christen nie. Ons word nie geroep om die wêreld nou te verander nie - dit sal in die toekoms gebeur - ons word nou geroep om onsself te verander! Die hoof doel van ons roeping is om te leer om volgens die gebooie van God te leef (vers 19). Paulus moedig die Efesiërs aan: “wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is” in nederigheid, sagmoedigheid, geduld en liefde (Efesiërs 4:1). Hy verduidelik dat ons geroep is in een verenigde liggaam en een geloof - nie baie verskillende groepies en weergawes van die waarheid nie (Efesiërs 4:3-6). Hy waarsku geroepe Efesiërs om nie mislei te word deur na die werke van die duisternis terug te keer waaruit hulle geroep is nie (Efesiërs 5:1-14).
Eweneens adviseer Paulus die kerk by Thessalonika dat ons almal tot heiligmaking geroep is (1 Thessalonicense 4:7). Dit behels vermyding van die luste en euwels van die wêreld (1 Thessalonicense 4:1-7). Indien ons ’n lewenswyse volgens God se instruksies verwerp, sal ons, in wese, God en Sy roeping verwerp! Ons verstaan dat dit Paulus was wat in Hebreërs diegene wat tot saligheid geroep is vertel: “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebreërs 1:14; 2:1). Paulus vra dieselfde gehoor van geroepe individue: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid verontagsaam?” (Hebreërs 2:3). Die Skrif onthul duidelik dat ’n roeping nie iets is om ligtelik op te neem nie!
Petrus se beginsels
Die apostel Petrus herhaal talle van dieselfde punte wat Jesus en Paulus gemaak het oor ’n roeping. Petrus skryf ons is uit duisternis (ons vorige godsdienstige of ongodsdienstige agtergrond) geroep om ’n spesiale volk te wees “om te verkondig die deugde van Hom wat julle … geroep het” (1 Petrus 2:9). Hy waarsku dat sommiges oor die woord van God mag stamp (struikel) (1 Petrus 2:8), deur betrokke te raak in vrugtelose argumente of deur twyfel te laat ontstaan en hul roeping te mis. Petrus wys voorts (soos Paulus in Efesiërs 5 gedoen het) dat ons roeping behels om te leer om God se opdragte uit te voer. Ons moet ons onderwerp aan regering, diensknegte moet hulle onderwerp aan hul meesters, vroue moet hulle onderwerp aan hul mans, mans moet hul vroue liefhê, kinders moet hul ouers eer en ons moet almal eensgesind wees (1 Petrus 2; 3). Ons word geroep om God se lewenswyse te leer sodat ons dit aan andere kan leer - beide nou (1 Petrus 3:15) en in die toekomstige Koninkryk van God (Jesaja 30:20-21).
Petrus benadruk die “grootste en kosbare beloftes” wat ons geroep is om te ontvang; beloftes van die ewige lewe, ’n kennis van God se doel vir menselewens, om deelnemers aan die goddelike natuur te wees [lede van God se familie te word], en om die korrupsie [misleiding en verdorwenheid] wat hierdie aarde deurweek te ontvlug - as ons gedagtes eers geopen is (2 Petrus 1:1-4). Petrus vermaan ons om “jul roeping en verkiesing vas te maak” deur sekere eienskappe tot ons karakter toe te voeg - deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug en broederliefde (2 Petrus 1:5-11). Petrus sê dat God nie alles vir ons doen nie! Daar is dinge wat ons moet doen om seker te maak van ons roeping!
Petrus verduidelik voorts dat diegene wat geroep is “die profetiese woord wat baie vas is” gegee sal word, sodat hulle hul sending om die wêreld te waarsku teen gebeure wat die wederkoms van Jesus Christus sal voorafgaan, kan volbring (vers 19). Hy stel dit ook duidelik dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie (vers 20). Petrus waarsku ook dat diegene wie geroepe is, versigtig moet wees om te voorkom dat hulle mislei word deur valse profete wat dwaalleer versprei, gesag verafsku en eiesinnig is, wat vryheid belowe en self slawe van die verdorwenheid is (2 Petrus 2:1-19). Hy merk op dat Christene wie gewilliglik tot dwaalleer terugkeer nadat hulle geroepe is, soos ’n hond is wat omgedraai het na sy eie uitbraaksel (vers 22). Dit is ’n kragtige stelling, maar dit is hoe God die persoon beskou wat sy rug op Sy roeping keer! Maar waarom roep God tans ’n spesiale groep mense voordat Hy die res van die mensdom roep? Wat is die uiteindelike doel van ons roeping?
’n Roeping - die uiteindelike doel!
In die skrywe van die apostel Johannes in die laaste boeke van die Bybel, vind ons van die mees opwindende besonderhede rakende ’n roeping. Johannes onthul dat ons “kinders van God genoem kan word” en “as Hy verskyn, [ons] aan Hom gelyk sal wees” (1 Johannes 3:1-3). Die doel waarvoor ons geroep word, is om te leer om soos God te word - om te dink en te reageer soos Hy doen. Dit sal ernstige inspanning van ons kant verg (1 Johannes 3:4). Diegene wat hierdie roeping aanvaar om te bekeer, te verander en te groei in hul begrip en toepassing van God se wette, sal die geleentheid gegun word om as konings en priesters saam met Jesus Christus te regeer, wanneer Hy terugkeer om die Koninkryk van God op hierdie aarde te vestig (Openbaring 1:6; 5:10; 11:15-18). Diegene wat geroep word, word nou uitgenooi om die eerstelinge te word - ’n klein, spesiaal-opgeleide kern van individue om wie God Sy Koninkryk sal begin bou (Openbaring 7:1-4; 14:1-4). Hulle sal stigterslede word van ’n wêreldheersende regering wat Jesus in Jerusalem sal opstel om vrede en geregtigheid na hierdie planeet te bring (Jesaja 2:2-4; 9:6-7). Hulle sal die geleentheid hê om God se lewenswyse aan die hele mensdom te leer (Jesaja 2:2-4; 11:9).
Maar wat sal dit verg om hierdie ongelooflike doelwit te bereik? Wie sal eintlik die voorreg hê om Jesus te vergesel met Sy wederkoms? Weereens onthul die apostel Johannes se geïnspireerde skrywes die antwoord. In die boek Openbaring word ons vertel dat Jesus triomfantlik na hierdie aarde sal terugkeer as Koning van die konings en Here van die here, “en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” is (Openbaring 17:14). Soos ons reeds gesien het, word aan diegene wat geroepe is spesiale geestelike begrip gegee wat nie nou al aan die res van die mensdom beskikbaar is nie. Hierdie begrip stel hulle in staat om die ware doel van menselewe en die algemene uitleg van God se plan te verstaan. Diegene wat uitverkore is, het hul roeping aanvaar, hulle bekeer en word gelei deur die Heilige Gees om te groei en verander. Hulle het geleer om volgens elke woord van God te leef sodat hulle andere kan leer. Diegene wat getrou is, sal deur die beproewinge en versoekinge van hierdie lewe volhard. Hulle sal hul nie laat mislei deur vals leraars nie en sal nie hul aandag laat aflei en laat afdwaal deur die sorge van hierdie wêreld nie. Hulle sal vasklou aan die waarheid en nie die oortuigings waarvoor God hul verstand geopen het, prysgee nie. Hulle sal die beloning van die ewige lewe ontvang (1 Korintiërs 15:20-22, 50-54) om op die aarde te regeer as verheerlikte geesteswesens, om deel te vorm van die heel eerste lede van God se groeiende familie. Dit is die uiteindelike beloning vir diegene wat geroep word en getrou bly aan daardie roeping!
Vriende, sien u u roeping? Verstaan u werklik waarom u geroep word? Begryp u die ongelooflike geleentheid wat u gebied word - om onder die eerstelinge in God se plan te wees? Is u vasbeslote om daardie roeping te benut? Namate ons die einde van hierdie tyd nader, moet u nie u roeping ligtelik opneem nie! Moenie die unieke geestelike begrip wat God u verleen het as vanselfsprekend aanvaar nie! Moenie toelaat dat die sorge van hierdie wêreld u aandag aflei van daardie merkwaardige roeping nie. Moenie dat enigiemand u mislei en u van u kroon beroof nie. Maak u roeping en verkiesing seker deur die kennis, karakter en vaardighede te ontwikkel wat God kan gebruik in die jare wat nou voorlê. U is geroep om in ’n ontsagwekkende beloning te deel - die geleentheid om ’n hoofrol te speel in die vestiging van die Koninkryk van God op hierdie aarde. Moenie hierdie spesiale uitnodiging wat God u bied misloop nie! Dit is nóu die tyd om die vraag te oorweeg: “Wat doen u met u roeping?”