Die huidige ekonomiese krisis het pyn in die lewens van ontelbare miljoene mense in Amerika en oor die wêreld gebring. Met soveel onsekerheid egter in die lug, kan ons ’n vinnige herstel verwag – of nog ’n sprong in selfs ’n dieper ekonomiese verknorsing? Wat sê u Bybel?


Vandag se nuusberigte is vol van ekonomiese agteruitgang. Joernaliste en gerespekteerde ekonome sê ons is in, soos die New York Times se rubriekskrywer Paul Krugman dit onlangs gestel het, “die ergste finansiële krisis sedert die Groot Depressie” (“Bankers without a Clue”, 14 Januarie 2010).

Sedert die resessie in Desember 2007 begin het, het meer as 7.2 miljoen werkers in Amerika hul werk verloor (Bloomberg News, 21 Januarie 2010). Aandele se pryse het geval, waarvan hulle nog nie weer herstel het nie; die Standard & Poor 500 se aandele-indeks het ’n laagtepunt van 666.69 in Maart 2009 bereik – minder as die helfte van hul Oktober 2007 se hoogste waarde. Aandele het nogtans van hul laagtepunte begin styg en party ekonome sê dat die resessie teen die einde van 2009 tegnies geëindig het.

Dus, wat gaan aan? Het Amerika se ekonomie begin herstel? Of is daar nog problematiese tendense in plek wat onderliggende probleme openbaar in ’n ekonomie op die pad na ineenstorting? Namate China en Europa ekonomiese mag bekom, wat gaan met Amerika, as die wêreld se finansiële “masjienkamer”, gebeur? Is Amerika se dae van uitnemendheid ná aan sy einde? Wat gaan dit vir die res van die wêreld beteken?

Hoe het ons hier gekom?

Om die toekoms te kan verstaan, moet ons eers na die verlede kyk. Die meeste mense neem nou die mag en invloed van Amerika en die nasies van Britse afkoms in die wêreld-ekonomie as vanselfsprekend aan. Dit was egter nie altyd so nie. Hoe het die Engelssprekende volke dan die wêreld se welvarendste nasies geword – en wat dui die Skrif aan, is die uiteindelike lot van hierdie nasies se ekonomie?

Voor die jaar 1800 was Amerika maar een van baie nasies wat gewedywer het om invloed op die wêreldverhoog. Brittanje het sy 13 kolonies aan die ooskus van Noord-Amerika verloor en was diep in die skuld. Die Spaanse Ryk het meer grondgebied gehad as Brittanje. In Europa was Frankryk op die punt om heerskappy te behaal.

Nogtans, in ’n baie kort tyd wat rondom 1800 begin het, het die gety gedraai en die grootste wêreldryk in geskiedenis het so te sê in Groot Brittanje “se skoot geval”. Nadat dit op sy grootste was, het omtrent ’n kwart van die wêreld se landoppervlakte – en ’n soortgelyke verhouding van die wêreld se bevolking – onder die heerskappy van die Britse Ryk geval.

Byna gelyktydig het die Industriële Rewolusie in Groot Brittanje begin, wat aan die nasie rykdom, hulpbronne en werktuie gegee het om regdeur die 19de eeu en tot diep in die 20ste eeu, die oorheersende wêreldmag te word. Op sy kruin het die Britse Ryk omtrent al die wêreld se seepoorte besit, uitgesonderd dié wat deur Amerika beheer was. Wat vir eeue slegs ’n klein eilandnasie was, het die wêreld se magtigste en invloedrykste – maar ook rykste – nasie geword. Londen, die hoofstad, het die finansiële en handelshoofstad van die wêreld geword.

Selfs terwyl Brittanje na wêreldvoorrang gestyg het, het haar voormalige Amerikaanse kolonies tot ’n groot moondheid ontluik. Die 19de eeu het gesien hoe die Verenigde State Noord-Amerika oorspan, ekonomiese en militêre mag opbou en teen die Eerste Wêreldoorlog kon hulle Europa as ’n sentrum van wêreldmag uitdaag. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Amerika meer vervaardigde goedere geproduseer as al die ander nasies saam. Die dollar was die wêreld se belangrikste reserwe geldeenheid, gerugsteun deur goud, en was sterk in aanvraag. Die Amerikaanse Tesourie het meer as 60% van die wêreld se geldreserwes besit en 65% van die wêreld se goudreserwes.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Amerika en Brittanje saam die wêreld oorheers in feitlik elke belangrike gebied van welvaart en produktiwiteit. Ekonomiese bedrywighede in Amerika het floreer, werkloosheid was laag, rentekoerse op spaargeld was positief, persoonlike inkomste het gestyg, inflasie was onder beheer, rentekoerse was redelik en die handelsbalans het groot oorskotte getoon.

Hoe het dit gebeur? Was dit as gevolg van die vernuf van die Amerikaanse en Britse volke? Of was daar ’n ander faktor wat aanleiding gegee het tot die verstommende opkoms van hierdie twee broer-nasies, tot ’n vlak van mag en welvaart ongeëwenaard in die wêreld se geskiedenis? God het die Israeliete gekies om “’n volk vir Homself” te wees, nie omdat hulle die grootste was nie – nóg in getal, nóg op enige ander manier – maar omdat Hy hulle liefgehad het en “die eed gehou het wat Hy ... gesweer het” aan die voorvaders Abraham, Isak en Jakob (Deuteronomium 7:6-8).

God het aan Abraham beloof dat hy die vader sou wees van vele uitsonderlik vrugbare nasies (Genesis 17:4, 6). Abraham het God gehoorsaam en hierdie seën was oorgedra aan sy seun Isak (Genesis 26:3). Die seën was weer oorgedra aan Isak se seun Jakob (ook bekend as Israel). Jakob se afstammelinge sou “uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide”, so veelvuldig soos die “stof van die aarde” (Genesis 28:13-14). In effek sou Abraham se nageslag die aarde beërwe (Romeine 4:13). Dit beteken hulle sou die oorheersende invloed hê en die keurigste dele gegee word (vgl. Deuteronomium 32:10-14). Hierdie seën was oorgedra aan Josef se twee seuns Efraim en Manasse, wat saam Josef se dubbele gedeelte gedeel het (Genesis 48:15-16, 19-20, 22; 49:22-26).

Nadat God Israel uit Egipte uitgelei het, het Hy die seëninge wat Hy aan Abraham se nakomelinge beloof het, deel gemaak van die verbond wat by die berg Sinaï gesluit was. God het seëninge belowe vir gehoorsaamheid (Deuteronomium 28:1-6, 8, 11-13). Hy het egter gewaarsku dat, indien Israel sou volhard in ongehoorsaamheid, die nasie sewevoudig [“seven times”] gestraf sou word (Levitikus 26:14-25). In Bybelse profesie is ’n “time” gelykstaande aan ’n jaar (vergelyk Daniël 7:25, 12:7; Openbaring 12:14, 17, 13:5, 7) of te wel 360 dae, en op die “dag vir ’n jaar” beginsel (Esegiël 4:4-6) kan “seven times” [sewevoudig] wel ’n tydperk van 2,520 jaar van straf wees – waartydens die beloofde seëninge uitgestel sou word.

Seëninge uitgestel en verkwis

As gevolg van ongehoorsaamheid het antieke Israel in 721 v.C. in ballingskap gegaan en het God Israel “van Sy aangesig verwyder” (2 Konings 17:23). Dit beteken dat dit teen ongeveer 1800 n.C. – 2,520 jaar later – sou wees voor God Sy beloftes gestand sou doen en weer aan Israel guns sou verleen en die seëninge van Abraham sou herstel. Watter wêreldveranderende dinge het op presies daardie tyd gebeur? Dit is die tyd toe Brittanje en Amerika – hedendaagse nakomelinge van antieke Efraim en Manasse – vinnig opgang gemaak het en wêreldoorheersing ten opsigte van mag en welvaart verkry het.

God het nogtans die Israeliete gewaarsku om Hom nie te vergeet in hul tyd van voorspoed nie (Deuteronomium 8:10-20). Hy het gewaarsku dat, indien hulle aan Hom ongehoorsaam sou wees, Hy Sy seëninge van hulle sal wegneem (Deuteronomium 28:15-20, 43-53, 63, 68).

 Hoe het Amerika God se seëninge hanteer? Terwyl hulle eens die wêreld se grootste krediteurnasie was, het Amerika, sedert die Tweede Wêreldoorlog, die wêreld se grootste skuldenaar geword. Omdat hulle nie meer die wêreld se grootste uitvoerder van goedere en dienste is nie, ervaar Amerika al vir jare voortdurend handelstekorte. Beide Duitsland en China voer nou meer vervaardigde goedere uit as Amerika. Die gesamentlike handelsware uitvoer van slegs drie van die leidende EU-lande – Duitsland, Frankryk en Italië, is meer as dubbeld die handelsuitvoer van Amerika. Die Amerikaanse handelstekort in 2006 was meer as $817 miljard. Soos analis Craig Harrington opgemerk het: “Geen ander land in die geskiedenis het al ooit ’n handeltekort so groot as dié van Amerika as ’n persentasie van die BBP of in totale dollarwaarde gehad, sonder om ’n groot ineenstorting te ervaar nie” (“Examining the Trade Deficit”, 10 Desember 2009, www.economyincrisis.org).

Die Amerikaanse tekort op sy lopende rekening in 2007 was by verre die grootste van enige nasie op aarde, teen ’n skokkende $747 miljard. In teenstelling daarmee het China ’n oorskot op sy lopende rekening van $363 miljard. In die afgelope jare het Amerika dikwels ’n negatiewe spaarkoers gehad, wat beteken dat mense meer spandeer as wat hulle verdien het. Vir ’n paar dekades nou al het Amerikaanse ekonomiese uitbreiding berus op ’n nie-volhoubare siklus van leen en spandeer van verbruikersgoedere. Amerika se buitelandse geldeenheidreserwes het gekrimp van 60% tot ongeveer 1% van die wêreld se reserwes – laer as Libië, Pole en Turkye. Amerika het meer as $12 biljoen in nasionale skuld opgehoop (meer as $39,000 vir elke landsburger) met omtrent, $2 biljoen bygevoeg net in 2009. Amerikaanse skuldenaars skuld ook bykans $1 biljoen aan kredietkaartskuld en ongeveer $14 biljoen aan ander lande. Tesame skuld Amerika en Brittanje ongeveer 40% van die totale eksterne skuld van al die nasies van die wêreld. Amerika hou ook groot onbefondste verpligtinge, insluitende Maatskaplike Welsyn en Mediese Sorg, wat deur verskillende bronne geskat word op tussen $55 biljoen tot meer as $106 biljoen. Indien ’n wet op gesondheidsorg deur die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat aanvaar word, sal hierdie verpligtinge nog verder die hoogte inskiet!

’n Gevolg van so ’n ontsaglike groot skuldlas is dat buitelanders wat dollars hou, dit meer en meer gebruik om Amerikaanse maatskappye en vaste eiendom te koop, of om dit te “dump” ten gunste van goud of ander bates wat meer betroubaar is. Soos God gewaarsku het, is Amerikaners vinnig besig om die “stert” te word, selfs binne hul eie grense, terwyl ander nasies in hulle plek ekonomiese mag en invloed bekom. “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronomium 28:43-44). Dwase ekonomiese beleid sal dié antieke beginsel beklemtoon: “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7).

Ontleder Harrington het geskryf: “In die tien jaar tot 2004, het die verhouding Amerikaanse korporatiewe effekte wat deur uitlanders besit word, gegroei van 6% tot 12%. In die geval van Amerikaanse korporatiewe verbande het die verhouding toegeneem van 12% tot 24% en in die geval van Amerikaanse skatkisobligasies, van 18% tot 43%. Asof dit nie ontstellend genoeg was nie, oorweeg ook die volgende feit: In die geval van baie van hulle korporatiewe beleggings, spits uitlanders hulle daarop toe om beheer te verkry oor sleutel “wurgpunt” tegnologië, soos byvoorbeeld daardie wat nodig is om gevorderde wapens, vliegtuie en rekenaars te vervaardig” (“Examining the Trade Deficit”, 10 Desember 2009, www.economyincrisis.org).

In die vroeë 2007 het beleggingsadviseur Peter D. Schiff ’n boek gepubliseer (Crash Proof: The Coming Economic Collapse) waarin hy die ineenstorting van die sub-prima huisverbandmark voorspel het asook dat die ineenstorting sou uitbrei na die algemene huisverbandmark en dan ’n wye ekonomiese kredietkrisis sou word. Dit is presies wat in 2008 gebeur het.

In ’n meer onlangse boek sê dieselfde skrywer dat die leen-en-spandeer ekonomie nie volhoubaar kan wees nie en dat die Verenigde State uiteindelik afstuur op hiperinflasie en ekonomiese ineeneenstorting. Hy vergelyk die Amerikaanse ekonomie met ’n “kaartehuis” – ’n ekonomie wat op ’n “valse fondament van skuld-gefinansierde verbruik” gebou is (The Little Book of Bull Moves in Bear Markets, bl. xxxiii-xxxiv). Hy sê, vroeër of later sal nasies moet terugkeer na “spaar en produseer, eerder as leen en verbruik” (ibid., bl. 20). Die boek van Haggai toon wat gebeur as mense nalaat om God se wil te doen: “... julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ’n stukkende beurs te steek” (Haggai 1:6). Saam met baie ander beleggingsadviseurs en waarnemers van ons ongesonde ekonomiese beleid, waarsku Schiff teen massiewe inflasie, namate die regering desperaat probeer om die onvermydelike af te weer deur altyd maar die geldvoorraad te vermeerder en die geldeenheid daardeur op te blaas (dus die waarde te verminder). “Die Amerikaanse dollar sal voortgaan om sy koopkrag te verloor solank die ekspansionistiese monetêre beleid, in ’n vergeefse poging om ons verbruikersgebaseerde ekonomie te laat herleef, verdere inflasie veroorsaak ... is die dollar op ’n duidelike pad na ineenstorting” (ibid., bl. xxiv-xxv). Hy, soos baie ander beleggingsadviseurs, beveel aan dat welvaart bewaar word deur goud, handelsartikels en sekere soorte aandele te koop.  

Wat gebeur volgende?

Terwyl ons voortsnel op ’n pad na ekonomiese ramp, is daar geen aanduiding dat ons verander na ’n meer verantwoordelike manier van optrede nie. Waarlik, soos Schiff voorspel het, is ons regering besig om onverskillig en roekeloos te spandeer, te leen en geld te druk teen ’n meer kolossale tempo dan ooit. Daar is sekerlik ook geen aanduiding dat ons, as ’n nasie, van plan is om te bekeer van ons sondes nie. Bowendien, buitelandse nasies sal waarskynlik nie sit deur passief te wag vir ons om terug te keer na gesonde waardes nie.

Ewenwel, slegs God kan die langtermyn toekoms gesaghebbend voorspel. God sê aan ons, tensy ons ons bekeer, sal ons rykdom as buit deur ons vyande weggeneem word. “Jou rykdom en jou skatte sal Ek as buit gee, sonder betaling; en dit weens al jou sondes en in jou hele grondgebied. En Ek sal jou jou vyande laat dien in ’n land wat jy nie ken nie; want ’n vuur is aangesteek in my toorn, oor julle sal dit brand” (Jeremia 15:13-14). Dan: “My berg in die veld, jou rykdom, al jou skatte sal Ek as buit gee saam metjou hoogtes, weens die sonde in jou hele grondgebied. En jy sal uitval – en dit deur jouself – uit jou erfenis wat Ek jou gegee het, en Ek sal jou jou vyande laat dien in ’n land wat jy nie ken nie; want julle het ’n vuur aangesteek in my toorn, tot in ewigheid sal dit brand” (Jeremia 17:3-4). Alhoewel hierdie woorde spesifiek aan antieke Juda geskryf was, is hulle ook van toepassing op die hedendaagse nakomelinge van Juda en die Huis van Israel (Jeremia 2:14-15) – insluitende die Amerikaners en nasies van Britse afkoms (sien ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?).

Die Bybel praat van die opkoms van ’n nuwe ekonomiese supermag – ’n mag wat vandag in wording is. Baie Amerikaners besef dit nie, maar slegs drie van die leidende Europese nasies saam, voer alreeds twee maal soveel goedere uit as die Verenigde State. Die Skrif onthul dat daar aan die einde van hierdie tydvak ’n Europese kragreus die wêreld se handel vir ’n kort tydjie sal oorheers. Hierdie “Dier” sal vir ’n tyd mag hê “oor elke stam en taal en nasie” (Openbaring 13:7). Wat leer ons nog oor hierdie Dier? “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (Openbaring 13:16-17, 18:3, 11-19). Om meer te leer oor hierdie verstommende profetiese tyd, bestel gerus u gratis kopie van ons kragtige boekie, Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid? van die Streekskantoor die naaste aan u, soos gelys op bladsy 2 in hierdie tydskrif, of bestel dit aanlyn by www.wvm.co.za.

Die Europese leiers dring alreeds aan op ’n nuwe ekonomiese orde wat van Amerika en Engeland sal vereis om die ekonomiese mag en invloed wat hulle vir meer as 200 jaar geniet het, prys te gee. God sal toelaat dat die hedendaagse afstammelinge van Efraim en Manasse weer hul lesse sal leer deur ’n tyd van nasionale ballingskap. Alle nasies sal uiteindelik voor God verootmoedig word. (Jesaja 2:5-7, 10-11, 19-21). Geld sal hulle nie red nie (Spreuke 11:4). Hy sal egter uiteindelik die nasies red uit die dieptes van ellende (Jeremia 30:4-20). Die seëninge van Abraham sal herstel word aan die moderne afstammelinge van antieke Israel (Jesaja 60:1, 5-6, 11, 17-22) en die hele wêreld sal voorspoedig wees onder die duisendjarige liefdevolle heerskappy van Jesus Christus.

Ons weet nie presies hoe lank dit vir hierdie scenario sal neem om af te speel nie. Die finale ekonomiese ineenstorting mag dalk nie so gou plaasvind as wat sommige mense verwag nie. Alle aanduidings toon egter dat ons wel afstuur op ineenstorting – tensy ons nasies hulle weë drasties verander. Die Bybel se profesieë toon aan dat Europa en die Asiatiese nasies toenemend welvarend sal word, terwyl Amerika dit minder en minder sal wees. Uiteindelik sal ’n nuwe ekonomiese supermag duidelik na vore kom en sal werklik die volke van Amerika in nasionale ballingskap neem – ’n straf wat nie sal eindig tot en met Jesus Christus se wederkoms nie, wanneer ekonomiese welvaart, vrede en God se hele lewensweg op die planeet Aarde herstel sal word, en die hele aarde uiteindelik sal juig (Psalm 14:7; 96:10-13; 97:1; 98:3-4).