Miljoene mense het die “hoofstroom” Protestantse kerke verlaat! Waarom? Wat hou die toekoms egter in?


Waarom het miljoene opregte mense oor die laaste aantal jare uit Protestantse kerke padgegee? Waarom is so baie van diegene wat agtergebly het, gewillig om die Bybel te ignoreer en om idees van Boeddhisme, Hindoeïsme en “New Age” teorië en gebruike te aanvaar?

Waarom?
’n Onlangse opname van Amerika se godsdienstige affiliasie het ontdek: “Ou hooflyn kerke van Protestantisme is statistiese verdigsels van hul gryswordende verbeeldings. Die Episkopale Kerk verteenwoordig 1.1% van die bevolking. Internet-vetes het ’n miljoen gemeentelede weggedryf – omtrent een-derde – van 2001 tot 2008. Die aantal ‘ongespesifiseerde Christene’ het gegroei van 8 miljoen in 1990 tot 16 miljoen in 2008, maar die verskuiwing in gesindheid is selfs groter ... Inderdaad, die idee van ’n persoonlike God verloor veld teenoor ’n vae, deïstiese mag” (Charlotte Observer, 24 Maart 2009).

Miljoene kerkgangers is in verwarring en beoefen dikwels ’n soort “kafeteria” benadering tot godsdiens – hulle kies ’n bietjie van dit en ’n bietjie van dat. Noemenswaardige getalle vind dat hul aangetrokke voel tot Rooms-Katolieke leerstellings oor homoseksuele gedrag, die heiligheid van ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou, die algehele manlike priesterdom en die streng verbod teen aborsie, owerspel en ontug. Dit is belangrik om te besef dat Pous Benedict XVI onlangs uitgereik het na vervreemde Anglikane en hul hartlik uitgenooi het om terug te keer na Rome terwyl hulle baie van hul onderskeidende tradisies mag behou – insluitend getroude priesters!

Baie waarnemers besef dat die klaarblyklike stabiliteit van Rooms-Katolisisme dit toenemend meer aanloklik maak vir voormalige Protestante wat moeg geword het vir hul eie sekte se “gegorrel” oor so baie kwessies. Studente van Bybelprofesie sal nie verbaas wees om honderde van duisende en selfs miljoene mense in die volgende paar jaar te sien terugkeer na hul “moederkerk” nie!

Die Sleutelkwessie

Vir diegene met begrip is die werklike kwessie die feit dat die Protestantse hervormers en hul opvolgers nie werklik hul mense teruggedraai het na die “... geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” nie (Judas 3). Onthou die gereelde gesegde van die bekende Protestantse teoloog, William Chillingworth: “Die Bybel, die hele Bybel en niks anders as die Bybel nie, is die godsdiens van die Protestante” (Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, artikel “Chillingworth, W”). Nogtans het die meeste Amerikaanse kerkgangers – sowel as Britte – byna geen kennis van die besonderhede van die Bybel nie!

Jesus Christus het Sy volgelinge beveel: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). “Nogtans weet Amerikaanse burgers omtrent niks van die Bybel nie. Alhoewel die meeste dit as die woord van God beskou, lees baie min dit nog. Selfs evangeliesgesindes van die Bybelbelt is meer daarop toegespits om Jesus lief te hê, as om te leer wat Hy te sê gehad het” (Charlotte Observer, 18 Maart 2007).

Vang die laaste sin u aandag? Dit is uiters belangrik! Dit is waar dat selfs “Christene in die Bybelbelt” baie meer daarop ingestel is om “Jesus lief te hê” as op wat Hy te sê gehad het! Dit is waarom hulle so verward, so verdeeld en onkundig is oor wat die geïnspireerde Woord van God probeer sê aan hulle. Hulle bestudeer eenvoudig nie hul Bybel soos ’n boek oor geskiedenis, wiskunde of kwantumfisika nie. Hulle benader dit slegs met ’n sentimentele gesindheid en lees stukkies en brokkies – maar lees nie die hele Bybel met ’n begeerte en biddend vir begrip nie en vra ook nie God vir die gewilligheid om gehoorsaam te wees aan dit wat Hy vir hulle in die bladsye van die Bybel sê nie!

Mens kan letterlik honderde voorbeelde hiervan in koerante en tydskrifte vind. In Junie 2006 het die 75ste Algemene Konvensie van die Episkopale Kerk in Amerika ’n besluit uitgevaardig waarin “die Bybel hoofsaaklik veroordeel word as ’n ‘anti-Joodse’ dokument. Die resolusie probeer nie slegs om die persepsies van anti-Joodse vooroordele in die Bybel en Episkopale liturgie aan te spreek nie, maar stel voor dat sodanige vooroordele in werklikheid ‘uiting vind in ... die Christelike Skrif en liturgiese tekse’” (VirtueOnline.org, 15 Junie 2006).

Het mense die “kluts” heeltemal kwyt geraak? Wanneer dit werklik bestudeer en selfs halfpad verstaan word, is die Bybel heeltemal pro-Joods en is dit eintlik ’n relaas van hoe God aan Sy mense in die Ou Testament ’n basiese lewenswyse gegee het – hoewel slegs in die letter van die Wet – en hoe Jesus Christus, ’n Jood (Hebreërs 7:14; Openbaring 5:4-5) gekom het om die Wet in die Nuwe Testament “groot en heerlik te maak” (Jesaja 42:21).

Jesus Christus – wat elke regdenkende persoon behoort te erken as die werklike Outeur van ware Christelikheid – het herhaaldelik na die Ou Testament verwys as “Skrif”. Hy het Sy stempel van goedkeuring daarop geplaas en sekerlik ook op wat ons die Nuwe Testament noem. Vandag egter word die basiese Christelike begrip van die Bybel as “die geïnspireerde Woord van God” in Amerika en Brittanje “afgewater”, gekritiseer en feitlik verwyder uit ons belydende “Christelike” kultuur! In werklikheid leer die oorgrote meerderheid hedendaagse predikante en godsdienstige leiers hul volgelinge dikwels gesindhede en idees wat heeltemal teenstrydig is met wat die Bybel eintlik sê! In plaas daarvan om te erken dat dit slegs hul eie “filosofie” is, verkondig hulle hul idees in die naam van “Christelikheid”! Waarom moet hulle Christus se naam daarby insleep, wanneer dit niks met Christus te make het of wat Hy verkondig het nie?

’n Totaal foutiewe model

’n Fundamentele fout wat veroorsaak het dat Protestantisme gefaal het om terug te keer na die waarheid van die Bybel, is omdat hulle begin het met’n verkeerde model of “paradigma”. ’n Paradigma word omskryf as “’n algehele begrip aanvaar deur die meeste mense in ’n intellektuele gemeenskap, soos in een van die natuurwetenskappe, as gevolg van die doeltreffendheid daarvan om ’n komplekse proses, idee of stel data te verduidelik” (vryelik vertaal uit Webster’s New World College Dictionary).

In plaas daarvan om die geïnspireerde Woord van God te gebruik as die fundamentele paradigma of “model” van wat hy graag wou herstel, lyk dit asof Martin Luther – algemeen aanvaar as die belangrikste stigter van Protestantisme – in opstand was teen sekere Rooms-Katolieke gebruike. In werklikheid was dit nogtans sy voorneme omvoort te gaan met baie van die basiese leerstellings van Katolisisme, behalwe daardie paar waarmee hy persoonlik verskil het! Protestantisme het dus ’n “sameflansing” van verskillende idees geword. Sommige daarvan was oorgedra uit heidense gebruike wat deel was van die vroeëre Rooms-Katolisisme. Ander was afgelei uit selektiewe gebruik van sekere Skrifgedeeltes terwyl ander gedeeltes geïgnoreer was. Party weer, was weinig meer as ’n gier van Luther en sy kollegas, sonder enige voordeel van die Skrif! Dit lyk of dit nooit by hulle opgekom het dat, indien hulle werklik die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer was” wou herstel, hulle werklik ten volle na die leerstellings van die Bybel moes terugkeer nie!

Dit is dus merkwaardig dat terwyl hy die leerstelling van transsubstansiasie (gedaanteverandering) verwerp het, Luther die absolute gesag van die Bybel in gevalle van geloof en gebruike verklaar het. Hy het gesê: “Alles wat aanvaar word sonder die gesag van die Skrif of bewese openbaring, mag beskou word as ’n opinie, maar daar is geen verpligting om dit te glo nie ... Transsubstansiasie ... moet beskou word as ’n uitvinding van menslike redenasie, aangesien die nóg op die Skrif, nóg op grondige beredenering gegrond is” (Documents of the Christian Church, red. Bettenson, bl. 280).

Indien Luther tog maar net hierdie soort skriftuurlike toets op al sy leerstellings toegepas het, sou die wêreld vandag ’n ander soort plek gewees het! Toe hy egter aangespreek is omdat hy die woord “sola” (slegs of alleen) in Romeine 3:28 ingevoeg het, het hy hooghartig verklaar: “Sou u Pous homself enige onnodige wroeging oor die woord “sola” gee, kan u dadelik sê: Dit is die wil van Dr. Martin Luther dat dit so moet wees” (Manual of Universal Church History, bl. 199). Ons mag ook op goeie gesag byvoeg dat geen ander rede ooit verskaf was vir sodanige onskriftuurlike veranderings soos hierdie nie. Wanneer dit by Luther se eie, persoonlik dogmatiese oortuigings gekom het, was Martin Luther werklik ’n baie eiesinnige man.

Wanneer enige mens of beweging geoordeel word, het Jesus gesê: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheüs 7:20).

Indien mens eerlik en objektief die werklike “vrugte” oorweeg van die gebruike van Protestantisme – of vir dieselfde prys, Katolisisme – in enige nasie of plek in die wêreld, word dit duidelik dat waaragtige Christelikheid in geeneen van daardie plekke herstel was nie. Soos almal wat geskiedenis bestudeer weet, het baie van die groot oorloë in die laaste klompie honderd jaar in Europa plaasgevind. Ons lees van Protestante wat teen Protestante veg, Katolieke wat teen Katolieke veg. Aan elke kant sou biskoppe of priesters die troepe “seën” terwyl hulle gereed maak om oor die rant te storm om die vyand met bajonette aan te val en sy ingewande uit te steek. Nogtans kon daardie “vyand” moontlik ’n persoon uit hul eie godsdienstige geloof gewees het!
Christelikheid?

Waarom nie volg wat Christus geleer het nie?

Nóg Protestantse nóg Katolieke teoloë as geheel het ooit die eenvoudige, ondubbelsinnige leringe van Jesus Christus ernstig opgeneem, want toe ’n jong man aan Jesus Christus die weg na die ewige lewe gevra het, was Sy antwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). In die alombekende Bergpredikasie het Jesus duidelik gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheüs 5:17-19).

Baie Christene snap nie die belangrikheid van daardie woorde nie. Met betrekking tot die Wet, sê Jesus dat “nie een jota of een titteltjie” – die kleinste merkies in die Hebreeuse skrif – daaruit sou verdwyn totdat die hemel en die aarde verbygegaan het nie. Aangesien die hemel en die aarde nog nie verbygegaan het nie, behoort ons te verstaan dat die Wet nog steeds geldig is. Het Sy “vervulling” van die Wet op een of ander manier hierdie gebooie verander, of het hulle verander ná Christus se opstanding? Nee! Die hemel en die aarde het nie verbygegaan met Sy opstanding nie. Ons sien ook dat dit Jesus se eie voorbeeld was om al Tien Gebooie te onderhou – insluitende die sewende dag Sabbat (Lukas 4:16).

In hierdie Skrifgedeeltes het Jesus duidelik van God se Wet gepraat – God se geestelike Wet – die Tien Gebooie. Ten opsigte hiervan verwys Hy uitdruklik na die gebod: “Jy mag nie doodslaan nie” (Lukas 18:20). Soortgelyk verwys Hy na God se gebod om nie egbreuk te pleeg nie, en sê dan: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheüs 5:28). Jesus het dus nie net die Tien Gebooie as die basis vir Christelike gedrag bekragtig nie, maar het ook getoon dat indien ’n man ’n vrou selfs net begeer, dan het hy die gees van die Wet verbreek – en dat, indien hy haat in sy hart omdra, pleeg hy geestelik moord(Mattheüs 5:21-22).

Petrus se waarskuwing

In sy laaste brief, heel aan die einde van sy lewe, het die apostel Petrus spesifiek gewaarsku oor hoe misleide mense die leringe van die apostel Paulus mag verdraai as verskoning om weg te doen met God se Wet! Petrus beskryf Paulus se sendbriewe as deel van die Skrif – hoewel as die deel “... wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf. Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie” (2 Petrus 3:16-17).

Dit is uiters belangrik dat ons almal een basiese konsep moet verstaan: Protestantisme het die spoor bystergeraak omdat verwarde leiers deur die onsigbare Satan die duiwel gelei was om God se Wet te verwerp – die Tien Gebooie – as die grondslag vir alle korrekte Christelike gedrag! Hulle het eerder die idee van “genade”, soos hulle dit verstaan het, as die metode gebruik om op een of ander manier “weg te doen” met die nodigheid om die Tien Gebooie – al tien van hulle – letterlik te gehoorsaam. Soos hierbo aangedui, was Petrus teen die heel einde van sy lewe deur God geïnspireer om alle lesers van die Bybel kragtig te waarsku dat “wettelose mense” ander sal laat afwyk van gehoorsaamheid aan God.

“Wetteloos?”
Dink u vir een oomblik dat Petrus van verkeerswette gepraat het? Natuurlik nie! Hy het van die geestelike Wet van God gepraat – die Tien Gebooie. Dit is duidelik dat God vooruit geweet het dat valse leermeesters na vore sou kom – net soos Petrus en Paulus herhaaldelik gewaarsku het – om mense te laat afwyk van ’n lewensweg wat geskoei is op die Tien Gebooie, dít wat God beoog het, alle Christene moet volg. Nog ’n hele artikel sal nodig wees om duidelik Paulus se leringe te verduidelik. Paulus het egter konsekwent God se wette gehoorsaam – die weeklikse Sabbatte en die Heilige Dae onderhou – en nooit een enkele maal gesê dat God se geestelike Wet afgeskaf was nie! Andersins, sou hy homself weerspreek het toe hy in God se geïnspireerde Woord geskryf het: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Korinthiërs 7:19).

Die oorspronklike Apostels van Christus en die Jerusalem Kerk van God het die geïnspireerde “patroon” of paradigma vir ware Christelikheid vasgestel! Anders as die lasterlike Protestantse idees dat die apostel Paulus deur God gebruik was om Christelikheid “te herontwerp”, het die ware apostel Paulus van die Bybel voortdurend diepe respek vir die oorspronklike Apostels gehad en hom na die leierskap in Jerusalem gewend in alle belangrike sake (Galasiërs 2:1-2).

Soos die befaamde historikus, Edward Gibbon, geskryf het: “Die eerste vyftien biskoppe van Jerusalem was almal besnede Jode; en die gemeente waaroor hulle voorgesit het, het die wet van Moses verenig met die leerstelling van Christus. Dit was natuurlik dat die primitiewe tradisie van ’n kerk wat slegs veertig dae na Christus se dood gestig was en wat vir omtrent net soveel jaar regeer was onder die onmiddellike toesig van Sy apostel, aanvaar sou word as die standaard van ortodoksheid. Die afgeleë kerke het hul baie dikwels beroep op die gesag van hul eerbiedwaardige Ouer” (The Decline and Fall of the Roman Empire, hoofstuk 15, seksie 1, bl. 389).

Eerlikwaar, die “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) – die ware Kerk van God – het altyd die noodsaaklikheid verstaan om sigself te skoei volgens die leringe en voorbeelde van Christus en die oorspronklike Apostels.

Baie min mense was egter ooit gewillig om waarlik vol te hou met hierdie basiese konsep van Christelikheid. Soos Professor Rufus M. Jones geskryf het – toe hy die aandag gevestig het op hoe die ware leringe van Christus gou losgemaak was van die godsdiens wat Sy naam dra:

“Indien Christus Self enigsins deur Sy latere volgelinge as die model en voorbeeld van die nuwe weg geneem was, en indien ’n daadwerklike poging aangewend was om Sy lewe en leerstellings as die standaard en norm vir die Kerk te stel, sou Christelikheid iets HEELTEMAL ANDERS gewees het as wat dit geword het. Dan sou “dwaalleer”, wat dit nie nou is nie, beteken het afdwaling van Sy weg, Sy leerstelling, Sy Gees, Sy Koninkryk ... Wat ons inderdaad “Galilese Christelikheid” kan noem, het ’n baie kort leeftyd gehad, alhoewel daar merkwaardige pogings was om dit op te wek en te laat herleef, en daar hier en daar geestelike profete was wat volgehou het dat enigiets anders as die eenvoudige Galilese godsdiens in werklikheid “dwaalleer” was; het die hoofrigting van historiese ontwikkeling ’n ander koers ingeslaan en die klem heeltemal verskuif” (The Church’s Debt to Heretics, Jones, 1924, bl. 15-16).

Wanneer enige instelling of samelewing die geestelike Wet van die Skepper en die geïnspireerde voorbeeld van Jesus Christus as die absolute grondslag van alle regte gedragverwerp, is dit gedoem tot mislukking! Dit word al hoe meer duidelik namate ons Amerikaanse en Britse samelewings begin ineenstort – en die res van die wêreld toenemend in ’n tyd van chaos, oorlog en algehele vernietiging gedompel word, tensy God ingryp (Mattheüs 24:21-22).

As gevolg van hul geestelike blindheid en omdat so baie van hul leiers onwillig skyn te wees om werklik “vir iets te staan”, is miljoene Protestante gedoem om terug te keer na die groot “moederkerk”! Nogtans, soos Luther en die vroeëre Protestantse Hervormers duidelik besef het, is die Roomse kerk se grondslag ook heeltemal onbybels! Alhoewel Luther, Calvyn, Wesley en ander groot Protestantse leiers dit verstaan het, het hulle steeds ’n sekere mate van simpatie vir hul vorige geloof gehad – en was onwillig om te erken dat Rome dus in werklikheid baie leerstellings wat heeltemal teenstrydig is met die leringe van die Bybel, bely. Protestantse leiers het dus gekompromitteer – soos hulle vandag nog in baie gevalle doen. Luther het gesê: “Niemand kan ontken dat ons al die dinge in ooreenstemming met die ou Kerk aanhang, glo, sing en bely nie, dat ons niks daarin nuut maak of iets daartoe byvoeg nie, op hierdie manier behoort ons aan die ou Kerk en is een daarmee” (Lindsay, A History of the Reformation, Vol. 1, bl. 468).

Deur hul eie verklarings word dit dus bewys dat die Protestante hulself eenvoudig beskou as ’n voortsetting van die historiese Rooms-Katolieke Kerk, maar onder ’n ander en veronderstelde “gesuiwerde” vorm. Luther het self vurig hul essensiële eenheid met die Rooms-Katolieke Kerk bevestig! Net so, met betrekking tot Johannes Calvyn, vertel die kerkhistorikus, George Park Fisher: “Hy het nie ontken dat die Christelike gemeenskappe wat die Pous erken, ‘kerke van Christus’ is nie ... Hy het heftig ontken dat hy hom onttrek het van die Kerk” (History of Christian Doctrine, bl. 304). Inderdaad, rakende die sigbare of historiese Katolieke Kerk, het Calvyn geskryf: “Omdat dit ons huidige oogmerk is om die sigbare Kerk te plesier, kan ons selfs die titel van moeder van haar leer, hoe nuttig en selfs noodsaaklik dit vir ons is om haar te ken!” (Schaff, History of the Christian Church, Vol. VIIl, bl. 450).

Protestantse leiers se aandrang op hul basiese eenheid met die Katolieke Kerk – en hul vereenselwiging met Rome as hul “moeder”-kerk – is heel insiggewend!

God identifiseer die Roomse Kerk

In vroeëre uitgawes van Martin Luther se vertaling van die Nuwe Testament is daar baie illustrasies wat die “Babilon” van die boek van Openbaring uitbeeld as die Rooms-Katolieke Kerk. Met die verduideliking van hierdie interpretasie wat algemeen verstaan was, sê historikus Roland Bainton aan ons: “Gevalle Babilon is duidelik Rome” (Here I Stand, bl. 258).

Ontelbare Protestantse boeke, pamflette en traktate maak vandag dieselfde identifikasie. Hullebrandmerk die Rooms-Katolieke Kerk as die “groot hoer” van Openbaring 17. Nogtans het die meeste van die “hooflyn” Protestantse denominasie skrywers opgehou met hierdie identifikasie. Hoekom? Hulle het in die verleentheid gekom deur die besef dat hulle op hulself klik, as “dogters” van daardie “hoer”!

Sal kerk of u predikant na Rome terugkeer? In baie gevalle kan dit baie gouer gebeur as wat u mag dink! Ontsaglike groot magte is aan die werk om ’n “terugkeer na Rome” te bewerkstellig! ’n Opkomende “Dier”-moondheid in Europa is in sy beginstadium en ’n volgehoue gehamer op die noodsaaklikheid vir daardie nasies om “terug te keer na hul geestelike wortels”, word herhaaldelik gehoor.

Nogtans het God iewers op hierdie aarde wel ware predikers wat sal verkondig wat die Bybel werklik sê. Sy ware Kerk word in Lukas 12:32 die “klein kuddetjie” genoem. Dit is die Kerk wat volgens beskrywing in Openbaring 12, in die Donker Eeue na veiligheid moes “vlug”. Dit is die Kerk wat na ’n plek van veiligheid op hierdie aarde geneem sal word teen die eindtyd (Openbaring 12:12-14). Maak dus seker dat u Bybel bestudeer soos nooit tevore nie! Indien u belangstel om baie meer te leer oor wat met die Waarheid gebeur het – en wat die Waarheid van die Bybel eintlik is – maak verseker met ons kontak by die streekskantoor die naaste aan u (soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif), of gaan aanlyn na www.wvm.co.za om u gratis kopie van ons kragtige boekie, Hervestig die CHRISTENSKAP van die APOSTELS, aan te vra. Hierdie insiggewende boekie sal u werklik help om die hele kwessie volledig te verstaan – moontlik meer as enigiets wat u al gelees het. Mag God u help om te reageer op die Waarheid wat Hy nou aan u openbaar, terwyl daar nog tyd is!