In hierdie vinnig-bewegende goddelose samelewing behoort elkeen van ons tyd in te ruim om te besluit waarin ons werklik glo – waarvoor ons werklik sal “veg” en indien nodig, sal sterf. Vandag se materialistiese, wêreldse beskawing het ’n byna oorweldigende invloed op die meeste mense wat hulself Christene noem.
Die meeste van ons verwarring of twyfelende geloof lê in die feit dat ons gewoonlik nooit die moeite doen om te bepaal waarin ons regtig glo nie. Die meeste mense is “kompromiste” – hulle gaan saam met hul vriende en familie en bekommer hulle nie veel oor waarin hulle werklik glo of waarvoor hulle eintlik staan nie. Hulle is beslis “gawe” mense, maar hulle staan nooit werklik vir enigiets nie.
Daar was ongetwyfeld miljoene “gawe” mense in Duitsland toe Adolf Hitler in die vroeë 1930’s sy opgang na mag begin het. Baie van hulle het heelwaarskynlik nie gehou van Hitler en sy stormtroepe se dierlike taktiek nie. Hulle het egter niks daaromtrent gedoen nie. Die gevolg van hulle gebrek aan oortuiging was traagheid – ’n onwilligheid om te stry teen daardie boosheid en te voorkom dat Hitler absolute mag inpalm. Ons ken almal die tragiese gevolge: Wêreldoorlog II – die grootste en mees verwoestende oorlog in die geskiedenis.
Die slagting van die Jode [Holocaust] het plaasgevind as gevolg van gebrek aan oortuiging aangaande basiese ordentlikheid en respek teenoor diegene wat etnies verskillend is. Toe die Nazi’s eers in beheer was, het hulle openlik uitvoering gegee aan hulle gesproke dreigemente en ses miljoen Jode en miljoene ander mense vermoor, insluitend Pole, Franse, Dene, Nederlanders, Belge, Slowake en Noorweërs. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het die meeste Duitsers ongetwyfeld die grootskaalse moord van onskuldige mense afgekeur toe hulle daarvan te hore kom. Teen daardie tyd was dit egter reeds te laat. Weereens, waarom het daardie tragedie plaasgevind? Omdat mense in Duitsland en – in werklikheid – regoor die wêreld, nie duidelik uitbeeld waarvoor hulle staan – en waarvoor hulle nie sal staan nie!
Soos ek opgemerk het in my artikel elders in hierdie uitgawe (“Wie se opinie tel?”), raak dit vir baie mense duideliker dat die morele optrede van “goeie kerkgangers” in ons hedendaagse wêreld, nie baie verskil van die res van die samelewing nie. In werklikheid is sommige van dié wat die hoogste vlak van “Christelike” betrokkenheid bely, meer geneig om te skei as wat dit die geval is met ateïste en agnostici, asook om rassevoorkeure te hê. Mense wat hulself Christene noem word al hoe meer gelykvormig aan die wêreld, in plaas daarvan om ligte vir die wêreld te wees, in hulle stryd om by te hou te midde van finansiële, morele en persoonlike onrus in hierdie uitdagende tye.
Die lewe word al hoe moeiliker vir die meeste mense in hierdie selfsugtige samelewing – ’n samelewing wat God “die teenwoordige bose wêreld” noem (Galasiërs 1:4). Hoe behoort ware Christene egter te reageer? Die probleme rondom ons behoort ons al hoe meer op ons knieë te dwing en te maak dat ons uit daardie samelewing “wil padgee”. Dit behoort ons aan te spoor om werklik die Bybel te bestudeer sodat ons God regtig kan leer “ken” en absoluut seker kan wees wat ons glo en waarvoor ons lewens staan. Ons moet weet – en weet dat ons weet!
Alhoewel so baie mense wat hulself “Christene” noem, gewillig is om afgewaterde leerstellings en benaderings te aanvaar wat glad nie Bybels is nie, behoort ons wat ware Christene is, ons ywer vir die volle Waarheid te behou. Ons behoort diegene rondom ons te laat weet – eintlik nie net weet nie, maar te laat sien ook – dat ons vir iets staan. Dat ons nie met die basiese waarhede en gebruike wat in God se Woord geopenbaar word, sal kompromitteer nie. Dat ons volgens hierdie gedragskode sal leef en, indien nodig, volgens hierdie kode sal sterf.
God sê aan ons Sy ware Kerk is “’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Timotheüs 3:15). Ons by die Wêreld van Môre is vasbeslote om aan die Waarheid vas te kleef – om nie deel te hê aan die afwatering daarvan nie. Ons, saam met ons getroue ondersteuners, is op ’n kruistog om daardie Waarheid aan al die nasies van die wêreld te verkondig (Mattheüs 28:18-20).
In hierdie kruistog is ons in ’n sekere sin “Christelike krygsmanne”. Die apostel Paulus het gesê: “Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het” (2 Timotheüs 2:3-4).
Alhoewel “Christelike krygsmanne” nie veg met die wapens van hierdie wêreld nie, kan ons baie lesse leer van uitstaande wêreldse krygsmanne wat oor groot vermoëns en goeie karakter beskik het, in soverre hulle begrip gehad het. Een van die uitnemendste van hierdie krygsmanne in hedendaagse tye was Generaal Douglas MacArthur. Indien u baie van Amerikaanse geskiedenis weet, dan weet u dat Generaal MacArthur ’n uitstaande patriot en leier was – omdat hy ’n man was wat werklik vir iets gestaan het.
Na aan die einde van sy roemryke loopbaan het hy vir die laaste keer na West Point Militêre Akademie teruggekeer en ’n toespraak gelewer wat nog steeds beskou word as een van die beste toesprake van die 20ste eeu. Nadat hy grootliks vereer is by West Point, het Generaal MacArthur die Kadettekorps en baie hoogwaardigheidsbekleërs wat teenwoordig was, toegespreek:
“Geen mens kan anders as om diep geraak te wees deur so ’n huldeblyk soos hierdie, wat kom van ’n professie wat ek so lank gedien en van mense wat ek so lief gehad het nie. Dit vul my met ’n emosie wat ek nie kan beskryf nie. Hierdie toekenning is egter nie hoofsaaklik bedoel vir ’n indiwidu nie, maar om ’n groot morele kode te simboliseer – die kode van gedrag en ridderlikheid van diegene wat hierdie geliefde land van beskawing en antieke afkoms beskerm.
“Plig, eer, vaderland – hierdie drie gewyde woorde dikteer eerbiediglik wat u wil wees, wat u kan wees, wat u sal wees. Die drie gewyde woorde is die beginpunt om moed te skep wanneer dit lyk asof moed verflou, waar geloof herwin word wanneer dit lyk of daar min rede vir geloof is, waar hoop geskep word wanneer hoop verval in wanhoop ... Hierdie is egter slegs ’n paar van die dinge wat hierdie woorde bou. Hulle bou u basiese karakter. Hulle vorm u vir u toekomstige rol as die bewakers van die nasie se verdediging. Hulle maak u sterk genoeg om te weet wanneer u swak is, en dapper genoeg om uself in die oë te kyk wanneer u bang is ... ”.
Later sluit Generaal MacArthur sy historiese toespraak af: “Die skadu’s word vir my al langer. Die skemering is hier. My dae van die verlede het verdwyn – kleure en skakerings. Hulle gaan flikkerend deur die drome van dinge van weleer. Hulle herinnering is een van wonderlike skoonheid, natgemaak deur trane en gevlei en geliefkoos deur die glimlagte van gister. Dan luister ek, maar met verlange, na die betowerende melodie van beuels wat die wekroep in die verte blaas en die veraf gedreun van tromme. In my drome hoor ek weer die geratel van kanonne, die gerammel van geweervuur, die vreemde, droewige geluide van die slagveld. In die aandskemering van my herinnering kom ek egter weer terug na West Point. Altyddeur weerklink dit: Plig, eer, vaderland. Vandag is my laaste presensie met julle. Ek wil tog hê dat julle moet weet dat wanneer ek die rivier oorsteek, my laaste bewuste gedagtes sal wees aan die korps, die korps en die korps. Ek roep julle vaarwel”.
Natuurlik is ware Christene, anders as Generaal MacArthur en die West Point kadette, betrokke in ’n geestelike oorlog. Nieteenstaande is dit egter oorlog! Baie van ons by die Wêreld van Môre is – soos Generaal MacArthur op sy dag – “oudstryders!” Ons het baie slagvelde van geestelike bloed en slagting gesien. Ons het Satan se vernietigende aanvalle gesien en weerstaan – op onsself, op ons vriende en op God se Werk – oor en oor.
Ons weet en verstaan dit grondig: “... ons burgerskap is in die hemele” (Filippense 3:20). Dit – nie Amerika of Brittanje of enige ander fisiese nasie nie – is die “vaderland” waarvoor ons veg! Ons weet dat ons oorlogvoering nie deel is van die “Korps” van West Point nie, maar van die Werk van die Lewende God!
Ons kan dus, in daardie lig, ons waarlik vereenselwig met Generaal MacArthur se woorde: “Plig, eer, vaderland”. Met dit in gedagte, laat ons nooit vergeet waarom ons hier is nie. Laat ons ons hoofde hoog hou namate ons dag en nag vorentoe beur om God se Werk met ywer, toewyding, moed en opoffering te ondersteun.
Geen militêre sending was ooit so deurslaggewend nie. Geen oorlogvoering was ooit so belangrik nie. Geen beloning was nog ooit so manjifiek as die een wat ons sal ontvang as ons onsself en Satan oorwin en as ons vol ywer en getrou is in ons verkondiging van Christus se boodskap aan ’n wêreld wat regtig sy pad bystergeraak het nie.