Is die huwelik uitgedien? Is dit selfs toepaslik in ons moderne tyd? Hoekom tree mense nog steeds in die huwelik, ten spyte van so baie aanslae op hierdie eens kosbare instelling? Die Bybel gee kragtige insig wat u waardering van die huwelik kan verdiep!
Waarom die huwelik? Wat is die doel daarvan? Dit mag na ’n vreemde vraag klink, maar dink vir ’n oomblik daaroor na. Die huwelik as ’n instelling is ’n raaisel vir baie mense. Sekerlik trou baie mense elke jaar – die Verenigde State van Amerika lei die wêreld in die jaarlikse getal huwelike (asook in die aantal egskeidings). Meer as 90% Amerikaners sal op een of ander stadium in hul lewens trou.
Waarom trou mense dan? Dit blyk asof baie getroude pare nie regtig weet waarom hulle getrou het nie. Moontlik is dit die rede waarom so baie Amerikaanse huwelike – ongeveer 50% – misluk. ’n Man en vrou kon moontlik oor die algemeen voel dat hulle mekaar lief het, of hulle het dalk gevoel dat dit die “regte ding” was om te trou. Delf hulle egter dieper as dit? Miskien is een rede waarom so baie mense verkies om nie te trou nie, omdat hulle verward is oor die doel daarvan.
Vanaf 1970 tot 1994, het die aantal ongetroude paartjies wat saam woon in Amerika met bykans 550% toegeneem. Teen 2007 was buite-egtelike geboortes, vir die eerste keer in die Amerikaanse geskiedenis, 40% van alle geboortes. Hierdie tendense is egter nie slegs beperk tot die Verenigde State van Amerika nie. In baie hedendaagse Westerse nasies is die huwelik aan die afneem. “Die huwelik is aan die afneem in groot dele van Noord-Europa, vanaf Skandinawië tot Frankryk ... [In 2005] was 59% van alle Franse eers-gebore kinders gebore van ongetroude ouers, die meeste daarvan uit eie keuse, nie per toeval nie” (“L’amour without marriage”, Molly Moore, Washington Post, 21 November 2006). In Engeland, Frankryk en Amerika gaan “saamwoon in ongeveer die helfte of meer van alle gevalle, gewoonlik die huwelik vooraf. In Swede is saamwoon besig om die norm te word; sowat een-derde van alle paartjies woon saam in stede daarvan om te trou” (The Marriage Problem, James Q. Wilson, bll. 3-4). Skrywer Glenn Stanton het opgemerk dat paartjies wat trou nadat hulle eers saamgewoon het, ’n 80% hoër kans het om te skei as diegene wat nie voor die huwelik saamgewoon het nie (Why Marriage Matters, bl. 59).
Selfs baie mense wat hulself Christene noem, is verward oor die ware grondslag van die huwelik. Selfs in die godsdienstige wêreld, is die skakel tussen die huwelik en die Bybel heeltemal te los van mekaar: “Sonder ’n teoretiese raamwerk om oor die huwelik te dink, sal die skatkamer van die handelinge rakende die huwelik grootliks verarm wees ...Protestante, veral evangeliesgesindes, het ’n psigologie van die huwelik, maar geen teologie nie” (Stanton, bl. 173).
Dus, wat is die doel van die huwelik? Het u Bybel die antwoorde? Die bemoedigende en duidelike antwoord is: Ja!
In die begin was die huwelik
Die huwelik as ’n instelling het nie oor miljoene jare van natuurlike seleksie ontwikkel, soos sommige mense ewe dwaas aanvaar nie. Dit was op ’n spesifieke tyd in die geskiedenis geskep, terwyl slegs twee mense bestaan het – ’n man en ’n vrou. Let op wat Genesis sê aangaande die eerste man en vrou: “Toe het die Here God ’n diepe slaap op die mens laat val ... En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou en bring haar na die mens” (Genesis 2:21-22).
Daar was geen groot bal, swart tuxedo of slepende bruidsgewaad nie – maar daar was die eerste huwelik. Adam en Eva was bymekaar gebring om man en vrou te wees. Hoekom dan?
God het Adam en Eva beveel om “een vlees” te word. “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24). Hulle moes eksklusief seksuele intimiteit met mekaar hê, wat nie met ander gedeel is nie. Dit is die getroue, totdat-die-dood-ons-skei huwelik wat God ingestel en geseën het (Hebreërs 13:4).
Was die skeppingsverhaal ’n mite, soos baie mense vandag aanvaar? Nie volgens Jesus Christus wat die Bybelse verslag as ’n feit behandel het toe Hy omtrent die huwelik geleer het nie: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Mattheüs 19:4-6).
Wat beteken dit egter om “een vlees” te wees? Het dit net betrekking op die seksuele eenwording van ’n man en vrou?
Waarom “een”?
Jesus Christus verduidelik dat die opdrag om “een vlees” te wees veel verder strek as net die seksuele daad. Dit beskryf ’n man en vrou wat saam werk om ’n ryk en betekenisvolle lewenslange doel te bereik. Dit beteken dat hulle “een” moet wees in ’n wedersydse vennootskap wat gebou is om die storms van die lewe te kan weerstaan. Christus se visie van ’n huwelik is dié van ’n toegewyde man en vrou wat in harmonie saamwerk, terwyl hulle die laste en vreugdevolle ervarings van die lewe deel.
Selfs meer ongelooflik, is dat die eenheid tussen ’n man en vrou bedoel is om die eenheid tussen God en Christus, en die eenheid wat die verheerlikte heiliges na die opstanding sal ervaar, uit te beeld. Net voor Sy kruisiging het Jesus hierdie woorde gebid: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees” (Johannes 17:20-22). ’n Man en vrou behoort daarna te streef om – hoe onvolmaak ookal – die liefde en eenheid wat God en Christus in hulle harmonieuse verhouding met mekaar het, te weerspieël. Mans en vrouens behoort daarna te streef om werklik onbaatsugtig te wees in hul optrede teenoor mekaar; terwyl elke gade leer om die ander een lief te hê – hul naaste naaste – soos hulself (Mattheüs 22:39).
God wil graag hierdie “eenheid” in getroude paartjies sien – vir die voordeel en welsyn van die egpaar sowel as vir die grootmaak van goddelike kinders.
Die huwelik: Goed vir mans sowel as vrouens
In die Bybel beskryf die apostel Paulus sommige van die mees insiggewende aanhalings aangaande die huwelik. Waarom het God die huwelik ingestel? Paulus verduidelik: “Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Efesiërs 5:31-32). Paulus leer ons dat die rolle van mans en vroue in die huwelik ’n daaglikse herinnering moet wees – op ’n klein, fisiese manier – van die verhouding wat Jesus Christus met Sy Kerk sal hê vir alle ewigheid.
Waarom sien sommige mense dan die huwelik as ’n middel om te onderdruk? As dit volgens God se manier beoefen word, was dit nooit so bedoel nie. Moderne navorsers ontdek nou wat baie gelukkige getroude paartjies baie lank al intuïtief weet: “Die veronderstelde ‘slawerny’ van hierdie historiese en eerbare instelling is nie so skadelik vir al die betrokkenes as die ‘vryheid’ van ons huidige sedes nie” (Stanton, bl. 12). Navorsing het gereeld getoon dat die huwelik ’n algemeen positiewe uitwerking het op ’n man en vrou se welstand. “Mense wat getroud is, het nie net ’n hoër inkomste en geniet groter emosionele ondersteuning nie, hulle is geneig om gesonder te wees. Getroude mense leef langer as ongetroudes, nie net in die Verenigde State nie, maar ook in die buiteland” (Wilson, bl. 16).
Om die voordele van ’n suksesvolle Christelike huwelik te geniet, kos toewyding en opoffering. Dit vereis dat beide mans en vrouens die verantwoordelikhede aanvaar en die rolle vervul wat God bepaal het vir huweliksukses. Paulus beveel baie duidelik wat die man se plig in die huwelik is: “In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself” (Efesiërs 5:33).
Manne, wat beteken “sy eie vrou liefhê” vir u? Die Skrif sê aan ’n man om sy vrou te koester en te versorg – om haar te beskerm, voorsiening te maak vir haar en haar te ondersteun, nie om haar af te kraak of te verkleineer nie. Dit is natuurlik maklik om te doen wanneer die vrou van nature goed, bedagsaam en ondersteunend is, en as sy mooi lyk – nie waar nie? Wat dan daarvan as sy ’n besondere slegte dag gehad het? Paulus plaas geen beperkings op die opdrag nie – hy beveel mans om hul vroue lief te hê en te koester in die slegte oomblikke sowel as in die goeies. Mans moet poog om hul vroue lief te hê, selfs wanneer dit nie maklik is om hul lief te hê nie. Dit is wat dit verg om die harmonie, eensgesindheid en “eenheid” wat God verlang, te bereik. Wees lief vir haar, selfs wanneer sy kortaf met u is; selfs wanneer sy “omgekrap” is. Na alles, “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8), en mans behoort die self-opofferende aard van Jesus Christus in hul eie huwelike te weerspieël.
Vroue, wat is u rol en verantwoordelikhede? Paulus verduidelik, “en die vrou moet die man eerbiedig” (Efesiërs 5:33). Dit mag dalk ouderwets en naïef klink, maar Paulus dring daarop aan. Wat beteken “eerbiedig u man”? Dit beteken om sy goddelike leiding te volg. Dit beteken om aan hom eer te bewys, nie net wanneer dit maklik is om hom te respekteer en te bewonder nie, maar ook wanneer hy geïrriteerd of kwaad, moeg of selfsugtig is. Dit beteken nie word ’n “deurmat” of om mishandeling te aanvaar nie. Dit beteken egter om te leer om sy besluite te aanvaar selfs wanneer hulle nie ooreenstem met u eie nie, om hom te ondersteun eerder as om hom te ondermyn, te bespot of om hom te beledig. Let daarop dat, net soos vir mans, Paulus geen voorbehoud stel op sy opdrag aan vroue nie – die opdrag is om haar man te respekteer in sy swakker oomblikke sowel as in sy goeies. Ja, dit is soms ’n uitdaging! ’n Wyse en bedagsame vrou sal nogtans alles in haar vermoë doen om haar man te ondersteun en op te bou, nie om hom af te breek nie (Spreuke 14:1). Sy sal ’n lewensdoel daarvan maak om hom te help om sukses te bereik en met liefde, deernis en genade teenoor hom op te tree (Spreuke 31:26).
Vroue, is julle mans volmaak? Natuurlik nie! Indien u tóg kan leer om u nou aan ’n onvolmaakte man te onderwerp, sal u hom help om te leer om die bedagsame en ondersteunende man te wees wat u graag wil hê en nodig het. Baie belangrik ook, u sal aan u volmaakte Verlosser kan bewys dat u ook bereid sal wees om Jesus Christus se leiding te volg, as die “bruid ... die vrou van die Lam”, vir alle ewigheid (Openbaring. 21:9).
Die huwelik: Goed vir kinders
Die “eenheid” in ’n goddelike huwelik hou ook voordele in vir kinders. Ons lees dat “... die Here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond. Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ’n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie” (Maleagi 2:14-15).
Ja, ’n man en vrou wat ’n liefdevolle en toegewyde verhouding deel, is in staat om ’n stabiele en veilige omgewing vir die volgende geslag te voorsien. Toe God die eerste paartjie saamgebring het as man en vrou, het Hy aan hulle hierdie opdrag gegee: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28). God wou hê dat die mense kinders hê, en vermeerder tot families, stamme en nasies.
God het reeds duisende jare gelede geweet wat maatskaplike wetenskaplikes nou ook konsekwent bevestig: Die instelling van die huwelik is die beste omgewing vir die opvoeding van kinders. “Hulle is minder geneig om onwettige dwelms te gebruik, minder geneig om te druip, minder geneig om die skool te verlaat, minder geneig om selfmoord te pleeg, minder geneig om in armoede te verval, minder geneig om jeug-misdadigers te word en vir die meisies, minder geneig om tienermoeders te word. Hulle is beide emosioneel en fisies gesonder selfs dertig jaar later – as diegene wat nie so geseënd was met tradisionele ouers nie” (Marriage Under Fire, Dr. James Dobson, bl. 54).
Alhoewel sommige mense probeer om dit te ontken, is daar kragtige getuienis dat kinders geweldig bevoordeel word wanneer hulle grootword in ’n huishouding waar beide vader en moeder teenwoordig is. American Enterprise Institute se navorser Karl Zinsmeister rapporteer: “Daar is ’n berg wetenskaplike bewyse wat toon dat wanneer gesinne verbrokkel, kinders dikwels gelaat word met intellektuele, fisiese en emosionele letsels wat lewenslank voortduur ... Ons praat oor die dwelmkrisis, die onderwyskrisis, die probleem van tienerswangerskap en jeugmisdaad. Al hierdie euwels kan hoofsaaklik teruggespoor word na een bron: Gebroke gesinne” (Stanton, bl. 100).
Verseker toon baie kinders merkwaardige aanpasbaarheid en is in staat om baie moeilike uitdagings wat die lewe op hul pad bring te oorwin. Baie ouers wat hulle in minder-as-ideale omstandighede bevind, doen die heel beste in hulle vermoë om ’n veilige en positiewe tuiste vir hul kinders te voorsien. Dit verminder egter nie die feit dat daar geenbewys is ter ondersteuning van die agenda van diegene wat wil voorgee dat “alternatiewe” woonreëlings gelykstaande of beter is as die tradisionele gesin nie.
Die uiteindelike doel: ’n Geestelike gesin!
God wil beslis hê dat mans en vrouens vervulde lewens moet lei en kinders in ’n gesonde, twee-ouer gesin opvoed. U Bybel onthul egter eintlik nog ’n groter doel vir die huwelik. Mans en vroue is nie net besig om fisiese gesinne te bou nie, hulle beeld God se plan uit om ’n geestelike gesin te bou!
God word ons “Vader” in die hemel genoem (Mattheüs 6:9). As ons Vader, bied Hy aan die mens geestelike kindskap en sê: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:18). Die apostel Paulus verduidelik verder hierdie gesinsverhouding: “... van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efesiërs 3:14-15).
Wie is bevoeg om deel van die Godgesin te wees? Nie die diere nie. Selfs nie eens die engele nie. “Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ’n Vader wees, en Hy sal vir My ’n Seun wees? En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid” (Hebreërs 1:5-6). Wonder bo wonder, uit God se hele skepping, het net mense die ontsagwekkende potensiaal om geestelike seuns en dogters van God te word! Net soos ’n menslike vader fisiese kinders verwek deur middel van sy fisiese “saad”, so verwek ons hemelse Vader geestelike kinders deur Sy Gees. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Romeine 8:14). Eweneens: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (vers 16).
Nadat hulle deur ontvangs van die Heilige Gees verwek is, sien vandag se Christene daarna uit om in God se Gesin “gebore” te word tydens die opstanding, soos Christus aan Nikodémus verduidelik het (Johannes 3:3-8).
Mede-erfgename van Christus
Dus, waarom is God besig om geestelike kinders te verwek om in Sy geestelike Gesin gebore te word? Omrede Hy Sy skepping wil deel! Paulus verduidelik: As Sy kinders, is ons “erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:17).
Wat sal God se kinders “erf” met die opstanding? Die geleentheid om Geestelike wesens te wees met nimmereindigende lewe. Ja, ons besit nie die ewige lewe inherent nie, dit is God se geskenk. “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). God se kinders sal ook hulle Vader se “eiendom” erf – die ganse heelal! Soos Paulus verduidelik: “Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:8).
Die implikasies van hierdie vers is werklik verbysterend. God bring “baie kinders na die heerlikheid” (vers 10) sodat hulle in Sy hele skepping kan deel en saam met Hom oor die groot heelal kan heers!
Geen terugkeer?
Sommige mense glo dat die huwelik in die Westerse wêreld noodlottig geknou is en nooit sal herstel nie. Met haar kommentaarlewering oor ’n opname wat neigings in Amerika openbaar, het professor Stephanie Coontz opgemerk dat daar “onweerlegbare tekens is dat daar geen terugkeer is na ’n wêreld waar ons kan aanvaar dat die huwelik die belangrikste instelling is wat mense se lewens reël nie”.
Die huwelik mag inderdaad in duie stort in die Westerse wêreld. Indien wel, sal ons nasies saam daarmee in duie stort. Gelukkig kan ons verheug wees dat Jesus Christus – na Sy triomfantlike wederkoms as Koning van konings om vrede na die hele wêreld te bring – ’n herlewing vir die huwelik en die gesin sal inlui. Deur die profeet Jesaja voorspel God aangaande Christus se heerskappy wat aan die kom is: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9).
Die huwelik sal inderdaad ’n hoeksteen word van die samelewing onder die heerskappy van Christus. Mans en hul vrouens sal leer om mekaar lief te hê en te ondersteun, en om hul rolle en verantwoordelikhede teenoor hul Verlosser te vervul. Saam sal hulle hul kinders opvoed “in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Dit sal alles heenwys na hul uiteindelike lotsbestemming – om in die ware Gesin van God gebore te word.
Waarom die huwelik? Vir diegene wat oë het om te sien, is dit geen raaisel nie.