Baie lande het aan hul mense identifiserende name gegee. Nieu-Seelanders noem hulself “Kiwis” terwyl die Australiërs graag “Aussies” genoem wil word. Die Britte dan? Wel, hulle het ’n stoïsynse naam vir hulself. Hulle noem hulself “Britte”. Dit dra ’n sekere soliede, betroubare klank.
Die posisie van die “Britte” oor die wêreld heen word toenemend uitgedaag deur meer aktiewe, opkomende ekonomieë wat nie soseer gebuk gaan onder die las van maatskaplike welsynskoste, enorme skuld en verouderende infrastruktuur nie. Hierdie opkomende lande is in staat om met selfvertroue te beweeg in die markte wat die Westerse wêreld vir meer as ’n eeu oorheers het. Hulle kompeteer deur gebruik te maak van goedkoop arbeid en namate tegnologie- en onderwysvlakke styg, is hulle goed toegerus om dit tot hul voordeel te gebruik.
Op China se Hainan-eiland, is daar onlangs ’n vergadering gehou deur die leiernasies wat betrokke is in hierdie wêreldwye magsverskuiwing. China, die wêreld se opkomende swaargewig aanspraakmaker, het ander “aspirant” groot name na die vergaderings genooi, wat aanleiding gegee het tot ’n nuwe naam wat u seker meer dikwels in die toekoms sal hoor. Die spelers is Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (gesamentlik bekend as BRICS).
Die “BRICS” is die tuiste van 3 miljard mense, 40 persent van die wêreld se bevolking. China het alreeds die wêreld se grootste uitvoerder geword deur baie te spandeer aan ingevoerde grondstowwe, veral olie. China se gulsige aptyt vir handel het Rusland ook gedruk om ’n belangrike uitvoerder van vervaardigde goedere te word. Intussen verkoop Brasilië ongeëwenaarde hoeveelhede ystererts aan China vir die gebruik in staalfabrieke.
Wêreldwye verskuiwing van rykdom en mag
’n Honderd jaar gelede het China die einde van sy dinastiese era bereik, Rusland was nog regeer deur die Romanovs, en Indië was onder Britse heerskappy. In 1911 was Brasilië ’n minder-bekende Suid-Amerikaanse land en Suid-Afrika was ’n plek vir Britse en Amerikaanse nyweraars om goud en diamante te ontgin. Groot-Brittanje het in 1911 nog meer as 50 persent van die wêreld se skeepsvaart beheer en die Koninklike Vloot het oor die “golwe regeer”.
’n Eeu gelede het die Verenigde State van Amerika, net na die avonture in die Filippyne en Panama, gestyg na wêreld-moondheid status – ’n status wat bevestig sou word na die Tweede Wêreldoorlog. Teen daardie tyd het Groot-Brittanje die wêreld se grootste debiteer-nasie geword en Amerika was die grootste krediteer-nasie. Brittanje het voordeel getrek, tot in die omgewing van $26 miljard, uit die Amerikaanse Lend-Lease “wapens-op-krediet”-skema. Daarbenewens het Brittanje die grootste aandeel van die Marshall-plan se hulp ontvang, meer as enige ander Europese land.
Amerikaanse hulp het egter nie sonder vangplekke gekom nie. Om ’n 1945 Amerikaanse lening van $3.7 miljard teen 2% rente te ontvang, was Brittanje gedwing om die “Imperiale Voorkeurstelsel” waarvolgens meer as 50% van internasionale betalings in pond sterling gemaak moes word, te beëindig. Voortaan sou die Amerikaanse dollar die wêreld se valuta uitruilstandaard wees.
Die voorwaardes van die transaksie het woede en wrokkigheid in die Britse Parlement veroorsaak. Die tydskrif Economist, het snydend geskryf: “Dit is skreiend om te vind dat ons beloning vir die verlies van ’n kwart van ons nasionale rykdom is om vir ’n halwe eeu hulde te bring aan daardie mense wat deur die oorlog verryk is” (Reluctant Europeans, Gowland en Turner, bll. 14-18).
Die teësinnige Britte moes ’n verlies van prestige en mag aan hulle klein broertjie afstaan. Die historikus Niall Ferguson wys daarop dat die Amerikaanse oorlogsdoelstellings “in baie opsigte meer openlik vyandig [was] teenoor die Britse Ryk as enigiets wat Hitler ooit gesê het” (Empire, bl. 344). Dit is dan geen verrassing dat, as ’n voorwaarde vir voortgesette Amerikaanse hulpverlening, die Koloniale Kantoor, oor die daaropvolgende 20 jaar, dikwels met onbehoorlike haas, hulself moes ontledig van die laaste oorblyfsels van die grootste ryk wat die wêreld nog ooit geken het. Amerika sou nooit openlik die mantel van die imperiale grootheid opneem nie. Veel eerder sou dit ekonomiese imperialisme in die wêreld uitoefen, met reuse Amerikaanse maatskappye wat die wêreldhandel oorheers.
Dit alles het waarskynlik nou tot ’n einde gekom, aangesien Amerika nou is waar Groot-Brittanje was na die Tweede wêreldoorlog – die wêreld se grootste dibiteer-nasie, net soos Groot-Brittanje 65 jaar gelede was. Die BRICS weet dit, en is gretig om groter mag oor ekonomiese gebeure te aanvaar. Sal hulle egter? Sal Amerika sy terugbetaling ontvang, net soos Brittanje na die Tweede wêreldoorlog?
Ons ondervind tans ’n massiewe wêreldwye magsverskuiwing van seismiese afmetings. Dit is ’n tyd wanneer verrekening van die finansiële rekeninge van nasies moet geskied. Die grootsheid van die ryke, of sogenaamde ryke, tel niks wanneer hulle koffers leeggemaak is nie. Spanje het sy imperiale invloed verloor toe sy bron van goud en silwer uit Suid-Amerika nie meer beskikbaar was nie. Die Franse was die verloorders toe Britse imperialisme hulself laat geld het na die Napoleontiese oorloë. Selfs in die onlangse verlede, het Japan se ekonomiese invloed afgeneem terwyl China baie van sy markte oorgeneem het.
Wie sal die menigte regeer?
Die BRICS lande sien hulself as die erfgename van ’n nuwe wêreldorde. Verhoudings tussen lede van die spelersklub was nie altyd so rooskleurig soos dit mag voorkom terwyl hulle moes wedywer om dieselfde skaars hulpbronne nie. Indië en China kyk mekaar al vir baie jare lank met afgunstige oë aan en in 1969 het ’n hewige uitbarsting tussen Rusland en China plaasgevind.
Een wêreldmag wat gebeure fyn dophou, is die Europese Unie – in die besonder, hul ekonomiese dryfkrag, Duitsland.
Bybelprofesie gee aan ons insig oor waar die wêreld se rykdom en mag uiteindelik sal berus. Diegene wat die Wêreld van Môre se duidelike insig oor wat in die wêreld aangaan gevolg het, sal verstaan dat ’n herlewing van die “Babiloniese” stelsel nou besig is om in Europa gevorm te word. Dit is nie net besig om te herrys as ’n aanspraakmaker op Amerikaanse leierskap nie, maar sal inderdaad, vir ’n kort tydjie, die hele wêreld oorheers. Die boek Openbaring gee aan ons ’n unieke perspektief op die jare wat voorlê.
In Openbaring 17 word ons bekendgestel aan ’n vrou wat op ’n skarlakenrooi dier ry. Dit is Bybelse simboliek vir ’n kerk in beheer van ’n regering (ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring, sal aan u ’n vollediger begrip van hierdie simbole gee). Hierdie regering kan geïdentifiseer word met ’n verenigde Europa wat uiteindelik die beheer van die wêreld se monetêre stelsel en die internasionale handel sal oorheers.
Ons lees ’n relaas oor die tyd wanneer die hele Europees-beheerde stelsel in duie stort: “En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar omdat niemand hulle koopware meer koop nie” (Openbaring 18:11). Dan, die voltooiing van die prentjie, “... omdat in een uur soveel rykdom verwoes is! En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan” (verse 16-17).
Die prentjie is duidelik. Die wêreld se ekonomiese orde is in ’n aanpassingsproses; dit sal nie beheer word deur BRICS nie, maar eerder deur ’n opkomende Europese moondheid. Na 200 jaar van Anglo-Amerikaanse oorheersing, sal dit Europa wees – nie ’n Asiatiese/Suid-Amerikaanse/Afrika blok nie – wat sal opstaan en vir ’n ruk lank beheer sal oorneem van die wêreld se rykdom.
Die goeie nuus is dat voordat al hierdie dinge verby is, Jesus Christus sal terugkeer as Koning van die konings en Here van die here om regverdige ekonomiese orde aan die wêreld te bring. Dan sal die hele wêreld deel in die oorvloed van ’n billike en regverdige stelsel. Ons moderne “Babilon” sal vernietig word en deur die Koninkryk van God vervang word.