Die Verenigde State van Amerika is besig om ’n gevaar, meer verwoestend as die kragtigste kernwapen, tegemoet te gaan. Indien die “skuldbom” ontplof, sal dit die ekonomie verwoes – nie net van die V.S.A. nie, maar van die hele wêreld. Is u voorbereid vir wat gaan kom? Is die wêreld se finansiële toestand besig om die vorm van ’n “kernbom” aan te neem?
Die kalmte van die New Mexico-woestyn het op 16 Julie 1945 aan skerwe gespat toe Amerika die eerste atoombom, kodenaam “Trinity”, laat ontplof het. Hierdie atoombom het die ekwivalent van 18 kiloton TNT (ongeveer 36 miljoen pond) vrygestel en die kerntydperk begin. Sewe jaar later, op 1 November 1952, het tegnici by die Amerikaanse Stille Oseaan Toetsgronde die eerste waterstofbom – “Ivy Mike” – laat ontplof. Die massiewe versmeltingreaksie het ’n ontploffing veroorsaak, na skatting gelykstaande aan tot 12 megaton TNT – tot soveel as 240 miljard pond – ongeveer 600 keer groter as die eerste smeltbom. Net die vuurbal alleen was 3.25 myl wyd. Inderdaad kernterreur!
Byna 60 jaar later, het die VSA nog ’n skrikwekkende tipe “bom” vervaardig, wat op sy eie manier net so plofbaar mag wees as hierdie vroeëre instrumente van verwoesting. Ons kan dit die “Skuldbom” noem – en die lont is reeds aangesteek, die horlosie tik.
Ontploffende tekorte
Volgens die Kongres se Begrotingskantoor (“CBO”), was die Amerikaanse fiskale tekort in 2009 – die verskil tussen die regering se inkomstes en uitgawes – $1.416 biljoen, of 10,0% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP). In 2010 was die tekort $1.294 biljoen – of 8,9% van die BBP. Hierdie tekorte, as ’n persentasie van die BBP, is die land se hoogste sedert die Tweede Wêreldoorlog.
Erger nog, die fiskale tekort vir 2011 styg selfs nog hoër! Soos die CBO Monthly Budget Review berig: “Die Kongres se Begrotingskantoor beraam dat die federale regering ’n begrotingstekort van $830 miljard opgeloop het in die eerste ses maande van die fiskale jaar 2011 – $113 miljard meer as die tekort wat aangeteken is gedurende dieselfde tydperk die vorige jaar” (7 April 2011). Beramings dui daarop dat die totale federale begrotingstekort vir 2011 $1.6 biljoen sal bereik! Saam met hierdie ontnugterende nuus, het die Internasionale Monetêre Fonds geprojekteer dat die totale Amerikaanse skuld die land se jaarlikse produksie van goedere en dienste een of ander tyd in 2012 salverbysteek!
Herbert Stein, ’n bekende ekonoom, wat voorsitter was van die Raad van Ekonomiese Adviseurs onder Amerikaanse Presidente Nixon en Ford, het die vanselfsprekende vermeld met wat hy “Herbert Stein se wet” noem. Eenvoudig gestel, het hy gesê: “Indien iets nie vir ewig kan aangaan nie, sal dit ophou”. Daardeur bedoel hy dat uiterste toestande wat nie volhoubaar is nie, hul eie ondergang sal bewerkstellig. ’n Goeie voorbeeld hiervan sou wees die fiskale probleme wat die nasie van Griekeland in die gesig staar, wat groot tekorte opgehoop het toe daar maklike toegang tot geld was. Toe die skuldeisers begin het om hoër rentebetalings op lenings te eis, was die nasie gedwing om te poog om streng besparingsmaatreëls in te stel in ’n poging om wanbetaling van sy skuld te probeer verhoed. Dit het die Griekse ekonomie onder druk geplaas en gelei tot opstande en sosiale onrus – selfs tot sterftes. Om te kon byhou, moes die nasie betekenisvolle beheer oor sy fiskale beleid aan die Europese Unie prysgee in ruil vir ’n tydelike borgskap.
Dissiplineerder van die verbandmark
In Mei 2011, ten spyte van besparingsmaatreëls en EU-beheer, was die “krediet-gradering” van Griekeland se skuld afgegradeer na “B” – wat baie na is aan ’n “rommel”-verbandgradering – wat maak dat Griekse lenings vir versigtige beleggers meer ongewens is as ooit. Dit het Griekeland se koste om geld te leen nog verder opgestoot – wat nou 15% oorskrei vir tweejaar effekte – terwyl versigtige krediteure voortgaan om ontslae te raak van Griekse soewereine skuld. “Wees versigtig vir Griekeland se verbande” het ’n internasionale grap geword.
Ander EU-lande se graderings is ook afwaarts aangepas. Kan iets soortgelyks op die horison wees vir die V.S.A. en Groot-Brittanje, wat lank reeds trots is op hul AAA-graderings? Die eerste teken dat die verbandmark ’n verkwistende nasie dissiplineer, is ’n dalende kredietgradering. Baie van die versigtige beleggers sal slegs in besit wees van skuld met die hoogste kredietgradering. Wat sal gebeur as die kredietwaardigheid van die V.S.A. of Brittanje afgegradeer word? In April 2011 het Standard & Poor’s die huidige Amerikaanse “AAA”-gradering ’n “negatiewe vooruitsig” gegee – ’n vonnis wat dikwels ’n afgradering voorafgaan. Indien Amerika sy gesogte AAA-gradering verloor, sal rentekoerse skielik styg namate beleggers begin skarrel om hul los te maak van hul Amerikaanse verpligtinge, en die Amerikaanse Tesourie sal probleme ondervind om bykomende skuld te maak. China en Japan sal veral geraak word, aangesien hulle die houers is van groot bedrae Amerikaanse soewereine skuld in die vorm van Tesourie-effekte.
Fitch Ratings, soos Standard & Poor’s en Moody’s, is een van die vernaamste verband-graderingsagentskappe. David Riley, hoof van soewereine skuldgraderings by Fitch, het onlangs kommentaar gelewer oor die Amerikaanse situasie. Sy werkgewer voorspel dat “die Amerikaanse AAA-skuldgradering waarskynlik die stryd sal oorleef oor hierdie jaar se begroting en skuldplafon, maar die ware toets vir die land se kredietwaardigheid lê nog voor ... Fitch voorsien dat die Amerikaanse fiskale tekort, insluitende dié van staats- en plaaslike regerings, hierdie jaar sowat 10 persent van die bruto binnelandse produk sal bereik, die hoogste van enige AAA-gegradeerde soewereine staat. Die regering se skuldlas sal waarskynlik in 2012 100% van die BBP bereik, ook die hoogste las onder enige AAA-gegradeerde land” (“US rating to survive budget row, real test ahead – Fitch”,Reuters, 7 April 2011).
Meer as ’n jaar gelede het Moody’s ’n soortgelyke waarskuwing uitgereik. Die New York Times se “Economix” blog berig: “Die vergulde kredietgradering van die Verenigde State – ’n teken van vertroue regoor Amerika, en inderdaad ook regoor die wêreld – mag in die komende jare in gevaar wees namate die nasie worstel met sy groeiende skuld ...Moody’s het gesê die Verenigde State en ander groot Westerse lande, veral Brittanje, het ‘aansienlik’ nader aan die verlies van hul vergulde graderings beweeg” (“Moody’s Says U.S. Debt Could Test Triple-A Rating”, 16 Maart 2010).
In Londen berig The Telegraph dat Brittanje ook gewaarsku is. “Moody’s, die graderingsagentskap, het gesê Brittanje se AAA-kredietgradering kan gevaar loop indien stadiger groei dit moeilik maak vir die regering om sy begrotingstekort in toom te hou” (“Moody’s warns Britain over triple-A credit rating”, 24 Maart 2011).
Om in ’n netelige posisie te wees met die V.S.A.
China en Japan is senuweeagtig oor die Amerikaanse skuldsituasie. In Januarie 2011 het China $1,154.7 biljoen aan Amerikaanse Staatseffekte gehou – meer as die $889.0 miljard van Januarie 2010! Eweneens het Japan $885.9 miljard gehou in Januarie 2011 – meer as die $765.2 miljard in Januarie 2010. Algemeen gesproke het hierdie twee lande aankope van Amerikaanse Tesourie-effekte gebruik om hulle groot handelsoorskotte met die Verenigde State te verreken.
Japan het egter massiewe fiskale tekorte van sy eie. Soos die New York Times berig: “Verlede Mei het Moody’s Japan se AAA-gradering teruggesny na AA2, namate die mark toenemend ongemaklik geraak het met Japan se skuldlas” (“Moody’s Warns on AAA Ratings”, 15 Maart 2010).
Dit word steeds erger. Die BBC berig: “Vroeg in 2011 het Moody’s Investor Services sy vooruitsigte vir Japan se kredietgradering verander van “stabiel” na “negatief”, kommer oor skuldvlakke is as rede aangevoer ... In Januarie het die mededingende graderingsagentskap, Standard & Poor’s, Japan se kredietgradering afgradeer van AA na AA- en ook kommer oor die skuld as rede aangevoer (“Japan’s credit outlook is cut to negative by Moody’s”, BBC News, 22 Februarie 2011)”. Om en by dieselfde tyd is “Japan deur China verbygesteek as die wêreld se tweede grootste ekonomie. Japan het probeer om sy ekonomiese groei aan te wakker en staatsbesteding en lenings het gevolglik toegeneem. Moody’s het gesê die regering behoort meer te doen om leenvlakke te beperk. Japan het tans die hoogste staatskuld vlakke van enige industriële nasie” (ibid.).
Dit lyk of Amerika dieselfde pad volg en nie in staat is om terug te draai nie.
“Alreeds genoeg belas”?
Die kwessie van tekorte het ’n politieke speelbal geword in Washington. Die Obama-administrasie het geweet dat die massiewe stimulerende besteding wat wet geword het aan die begin van president Obama se ampstermyn, rekord tekorte sal meebring. Hulle het gehoop om die tekorte te gebruik om groot nuwe belastingverhogings af te dwing en herverdeling van inkomste te bevorder. Baie kommentators glo dat die doel van die administrasie was om ’n belasting op toegevoegde waarde af te dwing – ’n soort nasionale verkoopsbelasting – wat ’n nabootsing sou wees van die sosiale demokrasieë in Europa. Hierdie alternatief, ’n “BTW”, is algemeen bespreek in Washington. Daar is in effek gehoop dat die rekord tekorte ’n “skuldbom” sou skep wat slegs ontlont kon word deur ’n nuwe en verreikende belastingstelsel – of, ten minste, deur aansienlik hoër effektiewe belastingkoerse.
’n Nuwe verskynsel het op die Amerikaanse politieke toneel na vore gekom – ’n beweging wat bekend gestaan het as Die Tee Partye. Die naam verwys na die “Boston TeaParty” in 1773, toe nedersetters beswaar gemaak het teen ’n Britse belasting op tee deur ’n vrag van die Britse tee in Bostonhawe te gooi. Sommige Tee Partybeswaarmakers dra plakkate waar TEA gebruik word as ’n akroniem vir “Taxed Enough Already”. Min mense in Washington het hierdie beweging op voetsoolvlak en die gevolglike invloed daarvan verwag.
Oor die algemeen is lede van die Tee Party onversetlik gekant teen nuwe belasting en groei in die regering. Hulle het nou noemenswaardige invloed in Washington en hul stemme het ’n aantal Kongreslede óf in- óf uitgestem in die laaste verkiesing. Daardie politici wat van hulle afhanklik is – en ander wat vrees om in die volgende verkiesing uit te val – sal dit baie moeilik vind om vir enige nuwe belasting te stem. Die Republikeine verwerp nuwe belastings en die Demokrate is gekant teen aansienlike inkortings van maatskaplike besteding. Die konserwatiewe Republikeinse Party beheer die Huis van Verteenwoordigers waar nuwe wetsontwerpe oor belasting en besteding kan ontstaan, maar die liberale Demokrate beheer die Senaat en die presidensie. Die Senaat moet enige inkorting van besteding goedkeur en die President kan ’n wet waarvan hy nie hou nie, veto. Die Kongres het dus ’n dooiepunt bereik. Multi-biljoen dollar se tekorte word nie effektief bestuur nie en gevolglik neem die tekorte toe.
Die veiligheidskeerpunt
Die Bank vir Internasionale Skikkings, BIS, word dikwels beskou as “die sentrale bank vir sentrale banke”. Hulle het ’n nugter beoordeling van die vinnig-ontwikkelende probleem van soewereine skuld in die V.S.A. en ander skuld-belaaide lande, gepubliseer:
“Die finansiële krisis wat uitgebreek het in die middel van 2008 het gelei tot ’n ontploffing van openbare skuld in baie gevorderde ekonomieë ... Ons projeksies van openbare skuldverhoudings bring ons tot die gevolgtrekking dat die pad wat gevolg word deur fiskale owerhede in ’n aantal industriële lande nie volhoubaar is nie. Drastiese maatreëls is nodig om die vinnige groei van die huidige en toekomstige verpligtinge van regerings te monitor en om hul negatiewe gevolge vir langtermyn-groei en monetêre stabiliteit te verminder ... [Wanneer] die rentekoers groter is as die groeikoers, sal die skuldverhouding ontplof by gebrek aan ’n groot genoeg aanvanklike oorskot ... Ons ondersoek na die toekoms van openbare skuld lei ons na verskeie belangrike gevolgtrekkings. Eerstens, fiskale probleme waarmee industriële ekonomieë te kampe het, is groter as wat beweer word deur amptelike skuldsyfers wat die implikasies van die finansiële krisis en resessie vir fiskale balanse toon. So skrikwekkend as wat dit is om daaraan te dink dat openbare[Amerikaanse Tesourie] skuld kan toeneem na meer as 100 persent van die BBP [soos dit teen 2012 in die VSA sal wees], steek ’n nog groter gevaar die kop uit, naamlik ’n vinnig ouerwordende bevolking. Die verwante onbefondsde laste is groot en word meer ... [en] staatsinkomste sal laer wees en uitgawes hoër, wat konsolidasie nog moeiliker sal maak. Tensy aksie geneem word om fiskale beleid op ’n volhoubare grondslag te plaas, kan daardie koste maklik skerp en skielik styg” (BIS Working Papers 300, The Future of Public Debt: Prospects and Implications, Stephen G. Cecchetti, M.S. Mohanty en Fabrizio Zampolli, Maart 2010).
Die BIS-ekonome waarsku dat Amerika moontlik nou ’n “balanseerpunt” nader waar rente op skuld groter is as ekonomiese groei, en daardeur ’n spiraal van meer lenings en tekorte afdwing. Dit gebeur rondom die punt waar die regering se skuld die bruto binnelandse produk oorskry – presies waar Amerika vandag is. Die BIS het ook gewaarsku dat aan die negatiewe kant van die balanseerpunt, rentekoerse “skerp en skielik”, die hoogte kan inskiet, wat die probleem sal vererger en die afwaartse beweging sal laat versnel. Dit kan veroorsaak word deur ’n afgradering van Amerika se soewereine skuld.
Die Lehman Brothers effek
Lehman Brothers was een van die grootste van die Wall Street beleggingsondernemings en het baie belê in subprima-verbande. Hulle het op beleggings-vlak, ’n “A”-kredietgradering gehad tot op die oomblik van hul aansoek om bankrot verklaar te word op 15 September 2008. Toe die vermoë van Lehman se subprima portefeulje om sy skuld terug te betaal in gedrang gekom het, is Lehman se kredietgradering deur die graderingsagentskappe verlaag. As gevolg hiervan het hul leners vinnig hul kredietlimiete ingekort. Lehman was dadelik bankrot en hulle moes die beskerming soek van hoofstuk 11 aangaande bankrotskap. Dit het baie vinnig gebeur.
Daar is egter geen bankrotskap-hof om nasies te beskerm nie. Voordat dit gebeur dat die nasies nie hul soeweriene skuld kan betaal nie, verhoog hul skuldeisers gewoonlik die terugbetalingskoerse of hou heeltemal op om aan hulle geld te leen. Dalende kredietgraderings en stygende rentekoerse is die tekens om dop te hou. Kan so iets met Amerika gebeur? Kan Amerika of Brittanje se AAA-gradering verlaag word en die leners dan terugstaan? Die klein nasie van Griekeland was deur die Europese Unie geborg, maar wie kan Amerika of Groot-Brittanje borg?
Nog ’n waarskuwing van lank gelede
Die Verenigde State en Groot-Brittanje is grootliks deur God geseën en in vroeëre geslagte het die leiers en die bevolking oor die algemeen erken dat hulle seëninge van God kom. God sê aan ons dat dit Hy is wat vir ons verkryging van rykdom moontlik maak, maar Hy waarsku ons ook daaroor: “Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder – en jou hart hom dan verhef, dat jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het … en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, soos dit vandag is” (Deuteronomium 8:11-14, 17-18).
’n Nasie wat deur God geseën word in die skepping van rykdom is dikwels ’n nasie wat aan ander nasies uitleen. Dit was in die verlede die geval met Amerika en die Verenigde Koninkryk. “En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees. En die Here sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat die Here aan jou vaders met ’n eed beloof het om aan jou te gee. Die Here sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. En die Here sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die Here jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen” (Deuteronomium 28:10-13).
Wat sê God egter sal gebeur wanneer Hy Sy seëninge onttrek? Onder andere sal skuld vermeerder. “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal laer en laer afsak. Hy sal aan jou leen, maar jy sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronomium 28:43-44).
Sommige nasies het nodig om op die harde manier te leer dat “hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7). Amerika het ’n “skuldbom” vervaardig en sukkel nou om dit onskadelik te stel – en die lont brand al korter!.