Navorsers het die afgelope jare waargeneem dat jong mense groot hoeveelhede van hul tyd spandeer aan elektroniese media – tot ’n mate wat ongekend was in vorige geslagte. Sommige beramings stel jong mense se daaglikse gebruik van elektroniese media op 7-8 ure (“Young people spend 7 hours 38 minutes a day on TV, video games, computer”, Los Angeles Times, 28 Januarie 2010). Een opname het bevind dat 38% van studente nie tien minute kon wag sonder om een of ander soort elektroniese toestel aan te skakel nie.
Ongelukkig dra hierdie toestelle dikwels vernietigende en gevaarlike waardes aan hul gebruikers oor. Dink daaraan dat sommige van die gewildste video-speletjies titels het soos “Grand Theft Auto”, “Modern Warfare”, “Mortal Combat”, “Street Fighter” en “Resident Evil”. Sommige studies dui daarop dat die video-speletjies aggressie kan verhoog en studente se vermoë om op skoolwerk te konsentreer kan verminder. Omrede hierdie speletjies meer gewild is onder jong mans as onder jong vrouens, is hulle te blameer vir die groter wordende verskil in akademiese prestasie tussen mans en vrouens.
Vir ouer mense wat grootgeword het in ’n wêreld waar “aangesigtyd” die norm was (sien ons artikel “Aangesigtyd” elders in hierdie uitgawe), kan die verskynsel van “SMS” [texting] ’n raaisel wees. Terwyl die gebruik van SMS nie uniek is aan jong mense nie, gebruik hulle dit baie meer as volwassenes. Die Marknavorsing firma, Lab 42, berig: “71% van tieners verkies ’n SMS bo ’n gesprek en 45% van tieners stuur ten minste 30 SMS-boodskappe per dag”. Meisies is meer geneig om te SMS. Terwyl die gemiddelde volwassene bo 18 jaar 10 keer per dag ’n SMS stuur, stuur seuns tussen 14 en 17 jaar 30 keer per dag ’n SMS en meisies tussen 14 en 17 jaar 100 SMS-boodskappe per dag, volgens die Lab 42-studie.
Skokkend, maar stuur van SMS-boodskappe verander soms in seksboodskappe of “sexting” in Engels. Beramings dui daarop dat 15% van tieners al ’n seksueel suggestiewe multimedia boodskap van iemand wat naak of byna naak is, ontvang het. In hul gewilde duet, “Dirty Picture”, sing Kesha en Taio Cruz “take a dirty picture for me”, asof dit ’n normale deel van romantiese hofmakery sou wees. ’n 2010 Super Bowl advertensie het die aktrise Megan Fox in ’n borrelbad vertoon, waar sy ’n selfoon foto van haarself neem en daaraan dink om dit te stuur, terwyl twee mans hulle vergaap. Geen wonder dat tieners nou dink dat “sexting” normaal en selfs “cool” is nie.
Afgesien van seksuele boodskappe, sou geen oorsig van die risiko’s verbonde aan die hedendaagse media-gebruik volledig wees sonder om oorweging te skenk aan die plaag van pornografie nie. Die wêreldwye “Internet porn” bedryf word geskat om $4.9 miljard per jaar wins te maak. Sowat 12% van al die webwerwe is pornografies. Dan is 25% van al die soekenjins pornografie-verwant. Soveel as 40 miljoen Amerikaners is gereelde besoekers van porno-webwerwe, en hul eerste blootstelling was dikwels vroeg – 93% van seuns en 62% van meisies is blootgestel aan aanlyn pornografie gedurende puberteitsjare.
Ja, tegnologie speel ’n rol om groot skade te berokken aan ons moderne samelewing in die algemeen, aan jong mense in die besonder. Tog is daar ’n ander gesig van tegnologie.
As gevolg van moderne tegnologie, kan my kinders met hulle grootouers oor die telefoon praat, hoewel hulle myle ver weg woon. Deur middel van moderne tegnologie kan baie van ons, deur middel van ’n eenvoudige Google-soektog, na foto’s van die mooiste plekke op aarde kyk. Ons kan kyk na die prag van verre sterrestelsels en die binneste werkinge van die kleinste selletjies. Soos ’n koning in hofsitting, kan ons die beste musikante in die land ontbied en na hulle luister – in stereo. Ons kan deur die lug vlieg, vinniger as enige voël in die lug.
Op ontelbare maniere is ons wêreld beter gemaak deur “tegnologie”. Dink aan Jesus Christus se opdrag aan Sy dissipels om te “waak” en wêreldgebeure dop te hou (Lukas 21:36). Deur middel van die Internet, televisie, gedrukte media en radio, is ons in staat om die omvang van wêreldsake te verstaan, soos geen ander mense voor ons nie. Profesieë wat in die bladsye van die Bybel opgeskryf is, word vir ons lewendig deur gebruik te maak van moderne tegnologie. Daardie selfde tegnologie stel ons in staat om die Goeie Nuus wat in daardie bladsye opgeteken is, te verkondig. Ons kan vandag gehoor gee aan Christus se opdrag op maniere waaraan die Apostels van die eerste eeu nie kon dink nie (Mattheüs 24:14).
Aangesien tegnologie gebruik kan word vir beide goed en kwaad, wat moet ons doen? Ons lees in die Skrif: “... want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:6). Hier is dus ’n paar Bybelgebaseerde beginsels om ons te help om tegnologie met wysheid te gebruik:
Stel reëls vas. Dit is ouers se verantwoordelikheid om reëls te maak. Ouers word beveel om hulle kinders te leer en op te voed (Deuteronomium 6:7), dit behels die stel van perke. Reëls behoort die individuele gesin se waardes te weerspieël, wat God se waardes moet weerspieël. Ons gesin se reëls vir tegnologie behoort die volgende in te sluit: Waar ons toegang tot die Internet toelaat, wanneer ons toegang tot die rekenaar toelaat, asook hoeveel tyd toelaatbaar is – op die rekenaar, die speletjies-konsole, of die foon (SMS of gesels). ’n Gesinsreël kan byvoorbeeld wees dat ons nie “gebruik maak” van ’n gehoorstuk wanneer ons saam met ander gesinslede is nie. Nog ’n reël kan wees dat toegang tot die Internet slegs in die algemene gesins-areas toegelaat word. ’n Ander nuttige reël mag wees dat al ’n kind se wagwoorde (tot sosiale media-webwerwe, e-pos rekenings, rekenaar inskakelings, selfone, ens.) aan die ouers bekend is. Kinders sal ’n vertrouensverhouding met hul ouers ontwikkel as hulle wysheid betoon in hul kommunikasie met ander mense, en ouers sal nie graag ’n verantwoordelike jong persoon se kommunikasie wil “mikro-bestuur” nie. Indien u kinders egter die “privaatheid” eis om sonder toesig ’n donker, onbekende stegie te bewandel, sal u hulle dit laat doen, tensy hulle bewys het dat hulle hulself kan verdedig? Ouers moet nie bang wees om gebalanseerde ouerlike verantwoordelikheid uit te oefen nie.
Weerstaan groepsdruk. Hierdie punt is vir ouers. Volwassenes kan onder druk geplaas word om die verkeerde soort tegnologie te aanvaar, en vir die verkeerde redes. Ons eie gebruikmaking van tegnologie kan deel wees van die probleem. Het ons regtig grootskerm televisiestelle in die woonkamer en in die slaapkamer nodig? Het ons kinders regtig private televisies in hul slaapkamers nodig? Raak ons so behep met die jongste slimfoon of tablet, die jongste kabel-TV plan of “movie streaming service”, dat ons minder aandag gee aan ons kinders as wat ons behoort te doen? Ons kinders het ons “aangesig tot aangesig tyd” nodig, en hulle let op ons voorbeeld. Dink aan Christus se vermaning: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheüs 5:16).
Oorweeg oorsaak en gevolg. “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3). Ons handelinge het gevolge. Wil ons video-speletjies hê om ure van ons kinders se tyd in beslag te neem? Nee! Is dit dan raadsaam om ’n speletjie-konsole vir ons kinders te koop? Wil ons hê dat ons seuns aan pornografie verslaaf moet raak? Natuurlik nie! Moet ons hulle dan toerus met ’n rekenaar wat hulle in die privaatheid van hul kamers tot laat in die nag kan gebruik? Gee ons om as ons dogters “sexting” boodskappe ontvang? Beslis! Dus moet ons in staat wees om die gebruik van “slimfone” te monitor wanneer dit nodig is. Dit is nodig dat ouers moet onthou dat tegnologie nie ’n “reg” is waarop ons kinders kan aanspraak maak nie. As ouers moet ons erken dat toesig oor ons kinders ons verantwoordelikheid is, as deel van ons ouerlike plig.
Tegnologie het twee gesigte. Die uitvindings van die mens kan vir goed of kwaad gebruik word. Mag God aan ons die wysheid gee om die goeie te kies en die kwade te verwerp.