Om sin te maak van ons wêreld kan ’n groot uitdaging wees. Om sin te maak van die Christendom kan moeiliker wees as wat die meeste mense besef. Weet u hoekom?

Was u in staat om die waarheid saam te stel uit die stukkies wat u gevind het?


Het u al ooit probeer om ’n groot prentjie-legkaart te bou – die soort wat gekry word as honderde los stukkies in ’n kartondoos? Gewoonlik is daar buite op die doos ’n foto van hoe die legkaart sal lyk wanneer dit ten volle aanmekaar gesit is, sodat u kan weet hoe die finale produk sal lyk nadat u daaraan gewerk het om elkeen van die verskillend-gevormde stukkies in sy regte plek in te pas. Dit kan baie uitdagend wees, omdat elke stukkie in presies die regte plek van die prentjie moet kom anders sal dit nie die regte resultaat oplewer nie. Dit kan egter baie bevredigend wees wanneer elke stukkie stewig in sy behoorlike plekkie inglip, om ’n volledige prentjie te vorm.

 

In die samestelling van hierdie soort legkaarte is dit moontlik om eers die buiterandstukke in te pas om so die buitekant van die prentjie te vorm, maar daarna moet u staatmaak op hoe u weet die prentjie moet lyk, ten einde die magdom stukkies in hul regte plekke te kan inpas. Wat daarvan as u die legkaart moet saamstel sonder ’n foto buite op die doos? Dit sou baie moeilik wees. Dink net hoeveel moeiliker dit sou wees as nog ’n komplikasie bygevoeg word – indien iemand sommige van die oorspronklike stukkies uit die doos verwyder het, dan ’n klompie stukkies van ’n ander legkaart bygevoeg het? Daardie nuwe stukkies sal nêrens inpas nie. U sal óf ’n gedeeltelike prentjie vol gate saamstel, óf u sal ’n deurmekaar prentjie saam forseer, waarin baie stukkies sal lyk of hulle nie goed inpas nie. U sou nooit weet hoe die oorspronklike prentjie veronderstel was om te lyk nie.

’n Ander soort legkaart

Vandag se wêreld is vol godsdienstige verwarring en mense voel dikwels asof hulle besig is om ’n moeilike legkaart te bou. Indien u op ’n Sondagoggend na die televisie kyk, sal u prediker na prediker sien wat verskillende leerstellings voorhou. Dit lyk asof daar net soveel verskillende “evangelies” is as wat daar predikante is. Hul uiteenlopende leerstellings bied verskillende weergawes van wat God kwansuis van ons sou verwag, sowel as allerhande soorte idees oor ons toekoms. U mag ’n boodskap hoor aangaande “die ewigheid in die hemel”, of “die sosiale evangelie”, of “die welvaart evangelie”.

Indien u na die verskillende idees luister, mag u wonder: Sal Christus werklik terugkeer om die Koninkryk van God op die aarde te vestig, soos die Bybel ons leer? Of is dit bloot ’n versinnebeelding vir ’n “koninkryk” in mense se harte, soos sommige predikers beweer? Sal die koninkryk van God sy hoofkantoor in Jerusalem hê? Of is dit ’n bestaande organisasie met sy hoofkantoor in Rome? Die baie teenstrydige idees kan nie almal waar wees nie, dit kan baie verwarrend wees vir diegene wat op soek is na die waarheid. Gelukkig weet ons uit die Skrif: “... God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges” (1 Korinthiërs 14:33).

God wil nie hê dat Sy mense verward moet wees nie. Ons behoort dus in staat te wees om “die legkaart te kan bou” en die prentjie te sien wat God wil hê ons moet sien. Sal die meeste mense egter in staat wees om dit te doen? Die Skrif sê hulle sal nie. God het die profeet Jesaja geïnspireer om die situasie van die wêreld só te beskryf: “Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie. Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ’n vreemde tong met hierdie volk spreek, Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die Here vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word” (Jesaja 28:9-13).

Stukkies verwyder, bygevoeg en verander

Historici weet dat valse leraars na Jesus Christus se opstanding baie stukkies van die “Christelike” legkaart deur die jare heen grootliks verander het. Protestantse skrywer Jesse Lyman Hurlbut erken die grondliggende verandering wat plaasgevind het in die Christelike Kerk. Hy skryf: “Vir 50 jaar na Paulus se lewe hang ’n gordyn oor die kerk, waardeur ons vergeefs streef om na te kyk; wanneer dit in 120 n.C. uiteindelik lig met die geskrifte van die vroegste kerkvaders, vind ons ’n kerk wat in vele aspekte baie verskil van dié in die dae van Petrus en Paulus” (The Story of the Christian Church, bl. 33).

Wysigings het oor die volgende twee eeue toegeneem, tot die punt waar, in 364 n.C., by die Raad van Laodicea, verskeie fundamentele kernoortuigings van Christelikheid asvervloek verklaar is deur die opvolgende Roomse kerk. In baie gevalle is oorspronklike leerstellings en praktyke wat deur Christus en die Apostels geleer is, vervang met “verchristelike” weergawes van heidense gebruike, wat toe die nuwe “ortodoksie” geword het. Gedurende hierdie tydperk in die geskiedenis is gesien hoe baie mense wat vasgehou het aan “die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3) vervolg en doodgemaak is.

Soos die gerespekteerde historikus, Will Durant, skryf: “Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie, maar dit aangeneem. Die sterwende Griekse verstand het tot ’n transmigreerde lewe gekom in die teologie en liturgie van die kerk; ... Ander heidense kulture het bygedra tot die saamgesmelte resultaat. Die idees van ’n goddelike drie-eenheid het gekom vanaf Egipte ... en ’n persoonlike onsterflikheid van beloning en straf; van Egipte kom ook die verering van die Moeder en Kind en die mistieke teosofie wat Neoplatonisme en Gnostisisme gemaak en die Christelike geloof verberg het; vandaar het ook die Christelike kloosterwese sy voorbeelde en oorsprong gevind. Van Frigië het die aanbidding van die Groot Moeder gekom; van Sirië die opstandingsdrama van Adonis .... Christelikheid [soos die meeste mense dit vandag verstaan] was die laaste skepping van die antieke heidense wêreld ... die Christendom het die laaste en grootste van die geheimsinnige godsdienste geword” (The Story of Civilization, Vol. III, bll. 595, 599).

Die Bybelse Sabbat

Een belangrike “verlore stukkie” wat min mense vandag besef, is dat Jesus en sy eerste volgelinge onderhouding van die sewende-dag Sabbat verkondig en uitgeleef het (Lukas 4:16; Handelinge 17:1-2). Deur die onderhouding van Sondag volg u nie Christus se voorbeeld nie. Dit is ’n geskiedkundige feit dat die oorspronklike, eerste eeuse Kerk van God al tien van die Tien Gebooie onderhou het, insluitende die een wat lui: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig”. Daardie gebod gaan voort om ons presies te sêwanneer ons dit moet doen en herinner ons daaraan dat die sewende dag die “sabbat van die Here jou God” is. Ons word dan aangesê om die dag op ’n besondere wyse heilig te hou: “... dan mag jy géén werk doen nie” (Eksodus 20:8-11). Om op die Sabbat te werk, ontheilig iets wat heilig is.

Is hierdie ’n Nuwe-Testamentiese lering? In die Nuwe-Testamentiese boek Hebreërs, leer Paulus Christene: “Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9). Nêrens in die Ou of die Nuwe Testament word ons geleer dat die Sabbat ooit ontheilig was nie. Trouens, Paulus het die Sabbat heilig gehou na Jesus se dood en opstanding (Handelinge 13:14, 27, 42), die Skrif wys daarop dat die sewende-dag Sabbat deur alle mense heilig gehou sal word in die Koninkryk van God (Jesaja 66:23).

Wat het verander? Historici weet dat, veral nadat die Romeinse leërs die tweede Tempel in Jerusalem in 70 n.C. vernietig het, baie mense wat hulself Christene genoem het, toenemend probeer het om te voorkom dat hulle geassosieer word met die vervolgde Jode. Een manier om dit te doen, was om ’n ander dag van aanbidding aan te neem. Die gevolg hiervan was, soos die historikus Edward Gibbon skryf: “Die ernstige aard van die Joodse Sabbat is oorgedra na die Christelike Sondag wat dit vervang het in die tweede eeu” (The Decline and Fall of the Roman Empire, vol. 1, bl. 599). Die eerste eeuse Kerk het die Sabbatdag geheilig, maar teen die tweede eeu het toenemende getalle afgedwaal van wat Christus en die Apostels geleer en beoefen het.

Volgens watter gesag kon die dag van aanbidding verander word van dít wat Jesus Christus ons Self geleer het? Die Rooms-Katolieke Kerk erken ruiterlik dat die verandering gemaak is op eie gesag. Let op hierdie uittreksel uit The Convert’s Catechism of Catholic Doctrine: “Vraag: Watter dag is die Sabbatdag? Antwoord: Saterdag is die Sabbatdag. Vraag: Hoekom onderhou ons Sondag in plaas van Saterdag? Antwoord: Ons onderhou Sondag in plaas van Saterdag omdat die Katolieke Kerk, in die Raad van Laodicea [ca. 364 n.C.] die eerbiedwaardigheid van Saterdag oorgedra het na Sondag” (3de uitgawe, bl. 50).

Die Raad van Laodicea het almal vervloek verklaar wat geweier het om te werk op die sewende-dag Sabbat of die jaarlikse Bybelse Heilige Dae, wat ook Sabbatte van rus is (Levitikus 23:1-4). Hierdie verklaring het vervolging van diegene wat steeds vasgehou het aan Christus se oorspronklike leerstellings vererger, diegene wat nie as ketters doodgemaak is nie, het verstrooid geraak. Sondag-onderhouding het die nuwe ortodoksie geword, ’n belangrike “stuk” van die ware Christelike prentjie was verruil vir ’n nuwe stuk wat ’n heel ander prentjie voorstel.

Die Evangelie van die Koninkryk van God

Nog ’n lewensbelangrike stukkie van die legkaart behels Christus se werklike boodskap: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie vandie koninkryk van God verkondig” (Markus 1:14). Dus, wat is die “evangelie van die koninkryk van God”? Moderne predikante bied ’n verskeidenheid van “evangelie”-boodskappe.

Waarom soveel verwarring? Die apostel Paulus waarsku aangaande hierdie situasie: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Galasiërs 1:6-7). Dít is die evangelie waarop ons saligheid berus. Wat is dit? Christus se evangelie – Sy “goeie nuus” – verkondig die toekomstige Koninkryk van God, waarvoor Hy sal terugkeer na die aarde om Hom te vestig en te regeer vanaf Sy troon.

Die Ou en Nuwe Testamente beskryf beide die Koninkryk van God as ’n regering hier op die aarde, hoewel die meeste belydende Christene hierdie siening in die eerste paar eeue na Christus verwerp het. Die historikus Gibbon skryf: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbind met die tweede koms van Christus. Soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, is hul duurte in hul huidige staat, volgens ’n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf is, vasgestel op 6,000 jaar. Deur dieselfde analogie word afgelei dat hierdie lang periode van arbeid en twis, wat nou byna verstreke is, opgevolg sal word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar, en dat Christus, saam met die triomfantlike groep heiliges en uitverkorenes wat die dood vrygespring het, of wat wonderbaarlik opgewek is, op die aarde sal heers tot die vasgestelde tyd van die laaste en algemene opstanding ... Die opbou van die kerk was egter byna voltooi toe die tydelike ondersteuning ter syde gestel is. Die leerstelling van Christus se heerskappy op aarde was eers beskou as ’n diepgaande versinnebeelding, met verdrag was dit beskou as ’n twyfelagtige en nuttelose opinie, en laastens verwerp as die absurde uitvinding van dwaalleer en dweepsug” (Gibbon, hoofstuk 15, bll. 403-404).

Dit was nie sommer ’n obskure leerstelling nie, selfs die apostel Johannes het die profesie van die vestiging van God se koninkryk op die aarde aangeteken: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Jesus het toe Hy met Sy dissipels gepraat het, gesê: “En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30). Dit is duidelik dat Jesus ’n letterlike Koninkryk – op die aarde – beskryf het, die goeie nuus wat Hy en Sy dissipels verkondig het. Die Bybel praat van voor tot agter van hierdie Koninkryk.

Opstanding of onsterflikheid van die siel?

Die aard van die menslike siel is ’n ander verlore stukkie in die meeste mense se prentjie van Christelikheid. Ons het almal beskrywings gehoor van mense se sogenaamde onsterflike siele wat opvaar na die hemel of neerstort in ’n vurige hel, die oomblik van afsterwe. Volgens hierdie siening sal liggaamlose siele wat tussen wolke ronddryf of vir ewig in vlamme brand, nooit ophou om te bestaan of om hul bewussyn te verloor nie.

In die lig van hierdie algemene prentjie, kan u wonder hoekom die Bybel so duidelik en konsekwent die dooies se opwekking beskryf asof hulle opgewek word uit ’n soort van bewustelose slaap. Die geskiedenis toon dat baie belydende Christene, deurtrek met Griekse idees van die onsterflike siel, hierdie oortuiging ingevoer het in die veranderende panorama van geloof wat hulle “Christelikheid” genoem het, al word so ’n oortuiging nêrens in die Bybel onderrig nie.

Die term “onsterflike siel” is nie eens in die Bybel te vinde nie, en baie agtenswaardige geleerdes erken dat die onsterflike siel nie ’n Bybelse leerstelling is nie. Selfs Martin Luther, die bekende “vader van die Hervorming”, sê oor hierdie saak. “Dit is moontlik, volgens my opinie, dat, met baie min uitsonderings, die dode inderdaad slaap in volslae onbewustheid, tot op die dag van oordeel ... Op watter gesag kan gesê word dat die siele van die dooies moontlik nie slaap nie ... op dieselfde manier as wat die lewendes die tyd verwyl in diepe slaap vandat hulle in die aand gaan lê totdat hulle weer wakker word in die oggend”? (Michelet, Life of Luther, Bohn se uitgawe, bl. 133).

Die Lutherse kerk, (net soos die meeste ander Protestante) aanvaar egter nie hierdie perspektief nie en aanvaar in die plek daarvan die onbybelse idee dat ’n “onsterflike siel” wat by die oomblik van afsterwe, óf na die hemel óf na die hel gaan.

Wat het die Jode van Jesus se tyd oor hierdie saak geleer? “Die oortuiging dat die siel bly voortbestaan na die ontbinding van die liggaam is ’n kwessie van filosofiese of teologiese spekulasie, eerder as eenvoudige geloof en word gevolglik nêrens uitdruklik in die Heilige Skrif geleer nie ... Die geloof in die onsterflikheid van die siel het na die Jode gekom deur kontak met die Griekse denke en hoofsaaklik deur die filosofie van Plato. Hy was die vernaamste eksponent daarvan en was daartoe gelei deur Orfiese en Eleusinianiese geheimenisse waarin Babiloniese en Egiptiese sienswyses vreemd vermeng is” (Jewish Encyclopedia, 1906 ed.). Met ander woorde, Jode wat hierdie geloof aangeneem het, het dit van die omliggende heidense godsdienste aangeneem.

Wat leer die Bybel ons aangaande die siel? In die Ou Testament lees ons: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die Nuwe Testament leer ons: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring” (1 Thessalonicense 4:13-14). Die Skrif leer ons die dooies moet “met onsterflikheid beklee word” (1 Korinthiërs 15:53) met hul opstanding in die Koninkryk van God tydens die wederkoms van Jesus Christus as “die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit” (1 Timótheüs 6:15-16).

Let op hoe hierdie “stukkie legkaart” koppel aan ander stukkies. Opgewekte Christene besit nie onsterflike siele wat “in die hemel ronddryf met niks om te doen nie” – hulle sal Jesus Christus bystaan in die Koninkryk van God!

U kan “die prentjie verstaan”

Die eerste eeuse Kerk van God is geleer “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Hulle moes “stry”, want dit sou ’n stryd wees om vas te hou aan wat Jesus Christus en die Apostels hul geleer het. Hulle het alreeds “die hele raad van God” ontvang (Handelinge 20:27). Hulle het dus besit wat hulle nodig gehad het om aan vas te hou toe vals leraars begin het om stukkies van die legkaart weg te neem, selfs om die prentjie te verander.

Ons kan ook dieselfde prentjie sien wat God aan die eerste Christene gegee het. Om dit egter te doen, moet ons bereid wees om die stukkies wat nie daar hoort nie, uit te gooi en die oorspronklike stukkies weer terug te plaas. Die ware Kerk van God het nog altyd die oorspronklike stukkies gehad, en hulle kan in die Bybel en in die geskiedenis opgespoor word.

Wat openbaar die prentjie? Soos ons gesien het bereik dit ’n hoogtepunt in die Koninkryk van God, wat Jesus Christus met Sy wederkoms sal vestig. Terwyl ons op daardie Koninkryk wag, het God aan ons Sy plan vir die mensdom geopenbaar. Ons word elke jaar daaraan herinner deur die onderhouding van die Pasga en die jaarlikse Heilige Dae wat in Levitikus 23 gelys word. Hierdie dae beeld die verwydering van sonde uit ons lewens, die ontvangs van die Heilige Gees, die wederkoms van Christus, die binding van Satan, die toekomstige duisendjarige heerskappy van Christus en die finale oordeel van almal wat nog ooit gelewe het, uit. Die vroeë kerk het hierdie feeste onderhou (Handelinge 2:1-4; 18:21; 1 Korinthiërs 5:8), en die Kerk van God – “geestelike Israel” – onderhou dit nog steeds vandag. Die weeklikse en jaarlikse Sabbatte is deel van die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” en is lewensbelangrik vir ons om te verstaan.

Wanneer ons al die stukkies van die legkaart saamgevoeg het, kan ons sien wat die eerste eeuse Christelikheid werklik was, asook verstaan wat God se Kerk vandag moet doen. Indien God u denke geopen het vir Sy waarheid, kan wat eens ’n legkaart was, ’n duidelike prentjie word wat u lewe vir ewig sal verander!