God wil hê dat mense die weg na ware sukses fisies en geestelik leer. Laat u Bybel u die pad aantoon na ’n meer oorvloedige en vervulde lewe!

Is u op soek na rykdom, mag en plesier? Behoort u na iets meer te soek?


Is u suksesvol? Het u ’n groot huis? ’n Mooi motor – of twee? Het u beleggings herstel van die ekonomiese afswaai wat in 2008 begin het? Het u genoeg geld vir aftrede?

Dit is ’n paar van die algemene doelwitte en maatstawwe van sukses. Ander omskryf sukses as die aantal vriende, of die invloed wat hulle het oor ander mense. Vir sommige mense is om “goed te voel” die maatstaf van sukses – of daardie doel bereik is op natuurlike en wettige wyse, of op onwettige en onnatuurlike middele en praktyke.

Wat is dus u idee van sukses? U Bybel onthul die waarheid aangaande die drie algemene kriteria vir sukses – rykdom, status en sensuele plesier – dit toon hoe onvolledig die drie standaarde van sukses is.

Rykdom en besittings?

Carlos Helú is ’n Mexikaanse sakeman wie se netto waarde beraam word op byna $70 biljoen (VSA), wat hom die rykste man in die wêreld vanaf laat 2012 maak. Is hy die wêreld se grootste sukses, meer as die Amerikaanse miljardêrs Bill Gates en Warren Buffett, Chinese miljardêrs Li Ka-shing en Lee Shau Kee, of Indiese miljardêrs Mukesh Ambani en Lakshmi Mittal? Is Australië se Georgina Rinehart, met ’n rykdom wat op $18 biljoen (VSA) beraam word, ’n bietjie meer suksesvol as Kanada se Thomson-familie, wie se rykdom, volgens gerugte, net meer as $17 biljoen (VSA) is?

God wil beslis hê dat ons getroue rentmeesters moet wees. Hy wil hê ons moet ons natuurlike hulpbronne en ons God-gegewe talente gebruik om andere te help. Carlos Helú is beskryf as ’n “strategiese filantroop” wat miljarde dollars toewys aan liefdadigheid om onderwys en gesondheidsorg te ondersteun in sy geboorteland, Mexico. Bill Gates en Warren Buffett het groot gedeeltes van hulle rykdom gewy aan liefdadigheidsdoeleindes, in stede daarvan om dit op hulself en hul gesinne te spandeer. God verwag natuurlik van mans en vrouens om hul Godgegewe verantwoordelikhede teenoor hul gesinne na te kom, om te werk as hulle daartoe in staat is, om voorsiening te maak vir hul behoeftes. Die apostel Paulus gee hierdie raad: “Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet” (2 Thessalonicense 3:10-12).

Daar is egter veel meer verbonde aan sukses as blote finansiële voorspoed. Dit is bekend dat die olie-magnaat J. Paul Getty, vyf keer getroud en geskei, gesê het dat hy met plesier sy miljarde dollars aan rykdom sou verruil vir net een gelukkige huwelik. Hy het self geleer dat rykdom nie geluk kan koop nie – ’n les wat koning Salomo van ouds duisende jare vroeër ontdek het. Volgens 1 Konings 11:3, het Salomo 700 vroue en 300 byvroue gehad – maar het hy ware geluk bereik? Salomo skryf: “Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook ’n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het. Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en ’n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly” (Prediker 2:7-9).

Salomo het daarna gestreef om “die lewe voluit” te ervaar. Wat was egter die gevolg van sy ervaring? “En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het – en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie” (Prediker 2:10-11). Ja, alles was “’n gejaag na wind”.

Die wysste en rykste man van sy tyd het tot die gevolgtrekking gekom dat al sy plesier en rykdom “vergeefs [was] en ’n gejaag na wind”. Hy het besef dat menslike bedrywighede sonder God neerkom op ydelheid – betekenloos en nutteloos.

Baie jare gelede het ek ’n vriend gehad wat as toppresteerder in sy klas gegradueer het met ’n ekonomie-graad aan ’n gesogte universiteit in die ooste van die Verenigde State van Amerika. Hy het ’n Corvette met afslaankap besit en ’n lewe geniet, gevul met vroulike geselskap, goeie kos en die beste wyn. Tog het hy aan my bely dat iets ontbreek. Sy rykdom en suksesvolle besigheid het vir hom geen geluk gebring nie.

Ons behoort almal daardie fundamentele les van die lewe te leer. Jesus het Sy dissipels geleer van wat die gelykenis van die ryk dwaas genoem word – ’n les wat baie toepaslik is vir ons huidige tydperk. “’n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik” (Lukas 12:16-19).

Hierdie ryk man het sy vertroue gestel in die sekuriteit van sy besittings wat hom die lewe se plesier laat geniet het. Let op na die “wekroep” wat hy ontvang het: “Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie” (Lukas 12:20-21). Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn (2 Korinthiërs 5:10; Romeine 14:10). Om u vertroue te stel in finansiële gewin lei op die ou end tot pyn, hartseer, afgodery en die dood. Soos Jesus gesê het: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan ​​nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Inteendeel, Christus was vol lof vir die arm weduwee wat twee geldstukkies gegee het. Hy het haar ’n meer vrygewige gewer genoem as die baie ryk mense wat opsigtelik aan die tempel gegee het (Markus 12:41-44).

Salomo het die bekende stelling gemaak: “... alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” (Prediker 1:2). Die woord “nietigheid” of “tevergeefs” kom omtrent 30 keer voor in die boek Prediker. Het u al ooit gevoel dat u lewe geen betekenis het nie? Salomo gaan voort: “Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie” (Prediker 1:8).

Is die mens weliswaar ooit tevrede? Kry hebsugtige mense ooit “genoeg”? In die konteks van Prediker beteken “nietigheid” en “tevergeefs” enigiets wat nie blywende waarde het nie! Rykdom, op sigself, gee nie waarde aan die lewe nie.

Status, mag en posisie?

Wêreldse wysheid propageer die idee dat mans en vroue daarna moet streef om tot die toppunt van die korporatiewe leer te klim ten koste van ander, maak nie saak wat hulle moet doen om daardie doel te bereik nie. Baie mense sien sukses in terme van die hoë posisie wat hulle kan bereik in besigheid of politiek – of eenvoudig in terme van die roem wat so ’n posisie bied.

Selfs die moeder van Jakobus en Johannes, twee van Jesus se dissipels, het Hom gevra om haar seuns hoë posisies te gee in Sy koninkryk. “Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand. Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie” (Mattheüs 20:21-22). Hy het verduidelik hierdie posisies is vir wie dit deur God die Vader berei is (vers 23).

Jesus openbaar toe ’n sleutel tot ware sukses: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mattheüs 20:25-28) .

Wie sal die grootste wees? Die een wat in ’n hoë regeringspos is en oor ander heers? Nee! Die grootste is ’n ware dienaar – iemand wat werklik omgee vir ander en hul help! Let daarop dat die Seun van God, Jesus van Nasaret, klein kindertjies in Sy arms geneem het. Hy het neergebuk om die voete van Sy dissipels te was (Johannes 13). Jesus Christus het Sy lewe opgeoffer vir ons almal! “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). Jesus se voorbeeld was een van diens, opoffering en liefde. “Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Romeine 5:10).

Watter posisie ons ook al in hierdie lewe beklee, dit sal nooit ware sukses bring nie, tensy ons dit gebruik in diens aan ander. Jesus het die beginsel van diens geleer: “Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees” (Mattheüs 23:11). Let ook op hierdie waarskuwing aan diegene wat die belangrikste sitplek wil opeis: “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word” (vers 12). Een van die maatstawwe van ware sukses is die mate van diens wat iemand bereid is om te gee. Vals sukses hang af van die ontvang-beginsel – die standaard karaktertrek van die menslike natuur!

Om mens se intellektuele vaardigheid te ontwikkel – versameling van kennis – is ’n onvolledige maatstaf van sukses. God wil hê dat ons ons verstand en intellek moet gebruik om ware waardes en ware kennis aan te leer. Tensy ons leer om ware nederigheid te beoefen, kan ons materiële kennis lei tot intellektuele ydelheid – ’n gevoel van meerderwaardigheid en selfs van arrogansie. “Die kennis maak opgeblase”, soos die apostel Paulus skryf in 1 Korinthiërs 8:1. Deesdae volg honderde miljoene mense onderrig na wat God geheel en al ignoreer of verwerp. Hul kennis mag hulle tot nut wees in hierdie huidige tydelike lewe, maar sonder God is dit blote ydelheid! Paulus skryf: “Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang; en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is” (1 Korinthiërs 3:18-20).

 Hoe dikwels het u gesien dat sogenaamde “kundiges” hul kennis gebruik om die eenvoudige waarheid van die Skrif te verdraai of te ignoreer? Waarlik, “die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God”. In sy brief aan die Griekse Korinthiërs (hulle “soek wysheid”, soos hy vroeër opgemerk het) skryf Paulus: “... want die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Korintiërs 1:22-25).

Ware kennis wat verder strek as nietigheid, is slegs beskikbaar vir diegene wat hulself verneder om te lewe volgens God se wysheid, eerder as dié van die wêreld. Soos Jesus gebid het: “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het” (Mattheüs 11:25). Klein kindertjies in Christus sal oor groter wysheid en begrip beskik. “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand” (Psalm 111:10). Die teken van ware sukses is nie hoë status en invloed nie; dit is diens en gehoorsaamheid aan God.

Najaag van sensuele plesier?

Sommige mense jaag plesier na as die lewe se uiteindelike doel. Koning Salomo, wat “alles gehad het”, skryf: “Ek het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs” (Prediker 2:1). Deesdae soek miljoene mense genot deur seksuele onsedelikheid, dwelmmisbruik, alkoholmisbruik en skynbaar elke denkbare vorm van stimulasie. Tog het die apostel Johannes gewaarsku: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). Ware sukses is blywend – dit gaan nie verby nie – maar wellus en trots sal tot ’n einde kom en diegene wie hierdie soort ydelheid najaag, sal die prys betaal.

Seks buite die huwelik word deur baie mense in vandag se samelewing as “normaal” beskou. Dink egter aan die gedeelte uit die boek van Spreuke – ’n vader se waarskuwing aan sy seun, waarin hy by hom aandring om hoere te vermy: “... want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos ’n swaard aan weerskante skerp. Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe ... Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie, sodat jy nie jou bloei aan ander gee ... nie ... en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is” (Spreuke 5:3-11).

Miljoene – selfs miljarde – mense is mislei en geruïneer deur seksuele versoekings. Hulle saai in die vlees en, soos Galasiërs 6:8 waarsku, sal hulle uit die vlees verderf maai. God keur dit goed dat ons seksuele genot ervaar – maar binne die huwelik! Plesier op sigself is nie sukses nie; God wil hê dat ons die lewe ten volle moet geniet binne Sy wette en Sy insettinge. Jesus Christus het gekom dat ons lewe en oorvloed kan hê (Johannes 10:10). God se manier bring vervulling vandag, sonder om môre berou en lyding te ervaar. “Die seën van die Here – dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie” (Spreuke 10:22).

Na al sy eksperimentering het Koning Salomo tot ’n finale gevolgtrekking gekom: “En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees. Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:12-14). Die Nuwe Vertaling stel die laaste deel van vers 13 só: “Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word”.

Sommige belydende Christene neem aan dat dit onmoontlik is om God se gebooie te onderhou. Hulle bedink ongelooflike interpretasies om hul gebrek aan gehoorsaamheid aan God die Vader en Jesus Christus te verskoon. Nogtans verklaar die apostel Paulus: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Christene wat die krag van God – die Heilige Gees – binne-in hulle het, kan staatmaak op God se krag om gehoorsame en werklik suksesvolle lewens te leef!

Die Skrif openbaar die onsigbare en onveranderlike wette van die lewe. Wanneer ons in harmonie is met daardie beginsels en voorskrifte, is ons suksesvol. Van die begin van die Bybel af tot die einde daarvan, sien ons dat gehoorsaamheid aan God se lewenswyse seëninge bring. Ongehoorsaamheid bring vloeke. Sonder God bring die wêreld se maatstawwe van sukses – besittings, mag, posisie en plesier – net pyn, lyding, mislukking en dood. Diegene wat sukses meet aan selfbevrediging, selfbevordering en selfgesentreerdheid benadeel op die ou end hulself en ander mense.

God wil hê dat ons gelukkige, oorvloedige lewens moet leef. Baie mense maak egter die fout deur geluk as ’n einddoel of doel op sigself te stel. Hulle raak gevolglik gefrustreerd. Kommentator Dennis Prager gee hierdie beginsel: Een “geheim” tot geluk “is om te besef dat geluk ’n neweproduk is van iets anders. Die mees voor-die-hand-liggende bronne is daardie strewes wat ons lewens betekenis gee – enigiets van die bestudering van insekte tot die speel van sagtebal. Hoe meer passies ons het, hoe meer geluk is ons geneig om te ervaar” (“A Simple Truth About Happiness”, Reader’s Digest, Junie 1998, bl. 99). Die grootste geluk kom natuurlik as ’n neweproduk van die grootste doel – die soeke na God se Koninkryk.

Ware sukses kom net deur die Verlosser van die wêreld, Wie ons geleer het om te leef volgens elke woord van God. Wanneer ons dit doen, deur die krag van die Heilige Gees – God se geskenk aan diegene wat hulle bekeer en laat doop – dan leef ons werklik gelukkige en suksesvolle lewens in liefde en diens teenoor ander mense, terwyl ons onsself voorberei vir toegang tot die Koninkryk van God en die huisgesin van God.