Agthonderd jaar gelede het koning Johannes se rustelose en ontevrede Normaanse baronne in St. Albans, Engeland, ’n reeks onderhandelings met die koning se verteenwoordigers gehad. Die gesprekvoering het vir twee jaar lank voortgesleep. Op 15 Junie 1215, in ’n bekende laagte met die naam Runnymede, het die koning se verteenwoordigers en die baronne ingestem tot ’n “Great Charter” – ’n formele koninklike vergunning gestempel met die koning se Groot Seël van goedkeuring.
Hierdie ikoniese en befaamde dokument, die Magna Carta genoem, word algemeen beskou as die fundamentele dokument van Engelse vryheid en die belangrikste verdediging teen eiemagtige en onregverdige heerskappy in die nasie. Dit mag nogtans as ’n verrassing kom om te verneem dat dit nie begin het met so ’n roemryke afkoms nie. Trouens, die oorspronklike dokument het baie min omvangryke beginsel-verklarings bevat. Dit het eerder hoofsaaklik oor ’n reeks praktiese toegewings gehandel wat uit ’n onwillige koning gedwing is deur baronne wat vasbeslote was om sy mag te beperk.
’n Handves van blywende belang in wording
Koning Johannes het vinnig die Runnymede-dokument verwerp, veral omdat een van die bepalings daarin aan die baronne die reg gegee het om beslag te lê op die koning se eiendom indien hy sou versuim om die bepalings van die handves na te kom. Pous Innocent III het die Magna Carta nietig verklaar in ruil vir die koning se onderwerping aan universele pouslike gesag. Engeland het gou in ’n burgeroorlog verval.
Indien koning Johannes nie ’n jaar later gesterf het nie, sou die Magna Carta vir ewig verlore gewees het. Sy seun en opvolger, die negejarige Henry III, het egter die dokument aanvaar (via sy kurator), om steun tussen die baronne te bou. Die oorspronklike dokument van 1215 is spoedig verander deur herroeping van die bepalings wat die koning die meeste beperk het. Die veranderde Magna Carta het in 1225 wet geword. In 1297 is dit op die wetboek van Engeland en Wallis geplaas, waar dit tot vandag toe nog is.
Namate Engeland se leenstelsel met verloop van tyd verander het, het die dokument se wetlike toepassing verminder omdat, afgesien van ’n paar, al die bepalings daarvan óf herroep óf vervang is. Die oorblywende bepalings wat nog steeds in die Engelse regstelsel van krag is, is soos volg:
• Die Engelse kerk sal vry wees, sy regte sal onverminderd en sy vryhede onaangeraak wees.
• Die stad Londen, tesame met ander stede, munisipaliteite, dorpe en hawens, sal al hulle vryhede en vrye gebruike van ouds behou.
• Geen vry man sal gevange geneem, onteien, verbied of verban word sonder die wettige regspraak deur sy gelykes of deur die wet van die land nie. Ons sal aan niemand reg of geregtigheid verkoop nie en dit aan niemand weier of dit vertraag nie.
Wat egter behoue gebly het is die oorheersende beginsel wat agter die dokument se bepalings is – dat regering deur die koning onderhewig moet wees aan die wet. Niemand moes bo die wet verhewe wees nie.
“Magna Carta was die eerste hervormingsprogram in die Engelse geskiedenis”, skryf die historikus David Horspool in sy boek, The English Rebel. Dit was die eerste dokument wat ’n koning van Engeland gedwing het om sy magte te beperk en die voorregte van die feodale baronne te beskerm. Dit het die aanvaarding van die grondwetlike reg dwarsdeur die Engelssprekende wêreld beïnvloed en het die Verenigde State se grondwet sterk beïnvloed.
Magna Carta, God en die Bybel
Die 800ste herdenking van Magna Carta sal ’n geleentheid bied om die ideale van individuele vryheid, burgerlike vryheid, reg en geregtigheid te herbevestig in ’n wêreld waar sulke ideale nie altyd gerespekteer word nie. Ons behoort egter nie die besonder sterk verband tussen Magna Carta, God en die Bybel te vergeet nie.
Magna Carta het erken dat koning Johannes deur “die genade van God” regeer het. Die bepalings van die handves was vir “die gesondheid van ons siele en dié van ons voorvaders en erfgename, tot eer van God, die verheffing van die heilige Kerk en beter reëling van ons koninkryk”. Met daardie woorde het die handves die onderworpenheid van die partye aan God se heerskappy oor die mensdom vir laasgenoemde se beswil, uitdruklik bevestig. Die handves erken God se bestaan en streef daarna om konsekwent volgens Sy wil te wees. “Aangesien ons al hierdie dinge aan God toegeken het, vir die beter reëling van ons koninkryk ...” Tot ’n groot mate volg Magna Carta die Bybelse patroon van regering deur verbondsluiting.
Dit is jammer dat, terwyl die Engelssprekende nasies voorberei vir die herdenking van hierdie geëerde handves, hulle geloof in God en in Sy woord – die Bybel – vinnig besig is om af te neem. Nogtans is die Bybel, waaruit die skrywers van die Magna Carta hulle gesag probeer aflei het, die uiteindelike en mees uitmuntende wetlike dokument in die wêreld se geskiedenis.
Die Magna Carta was ’n handves wat bedoel was om die regte, vryhede en tydelike ongebondenheid van die Engelse te bewaar teen ’n tiran van ’n koning. Die Bybel verteenwoordig niks minder as ’n Groot Handves vir die hele mensdom nie en kondig die uiteindelike geestelike vryheid van die dood en die tirannie van Satan, die huidige god van hierdie wêreld, aan. Nogtans, terwyl Magna Carta teësinnig en onder dwang deur Engeland se koning toegestaan is om ’n ietwat groter mate van geregtigheid te bewerkstellig, het God Sy Groot Handves vryelik aan die mensdom gegee – soos beplan is van die begin van alle tye af en volmaakte geregtigheid vir almal gewaarborg, vir die verlede, die hede en die toekoms!
Al is dit onder eed deur alle partye bekragtig, kon Magna Carta net so betroubaar wees as die brose en onbestendige menslike natuur waarop sy ondertekenaars staatgemaak het. Aan die ander kant is God se Groot Handves heeltemal betroubaar en berus dit op Sy onveranderlike beloftes wat bevestig is deur Sy onaantasbare eed (Hebreërs 6:13-20). Terwyl Magna Carta wettig en bindend gemaak is deur die koning se Groot Seël, is God se Groot Handves wat Hy Sy “ewige verbond” noem, permanent verseël met die gestorte bloed van Jesus Christus (Hebreërs 13:20-21 NV).
As ’n formele koninklike toegewing deur Engeland se koning aan sy mense, het Magna Carta die hoeksteen geword van tydelike vryheid vir diegene wat daarna streef om volgens die onderliggende beginsels daarin te leef. In teenstelling daarmee is God se verbondsbepalings vir die hele mensdom. Dit kom neer op ’n formele koninklike vergunning deur die Koning van die konings – die hoeksteen van ewige vryheid!
Diegene wat Magna Carta se grootheid in menslike terme erken, behoort in staat te kan wees om te sien dat God en Sy woord – die Bybel – veel groter is, in ontelbare rangordes van belangrikheid. Terwyl die volke van Britse afkoms hulle aandag vestig op die 800ste herdenking van hierdie fundamentele dokument, behoort ons nie liewer baie meer aandag te skenk aan die dokument wat dit onderskraag nie en aan die boodskap van dáárdie dokument wat nie slegs vryheid in hierdie lewe bied nie, maar ook tot in alle ewigheid aan diegene wat glo en handel volgens die verbond wat dit bied?