Hoe verwag u om onthou te word? Watter reputasie sou u wou nalaat? Babas dink net aan hulle eie behoeftes. Namate ons egter ons tienerjare bereik en ouer word, raak ons meer bekommerd oor wat ander mense van ons dink – dit is ook reg so. Ons lees: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is” (Spreuke 20:11).

Ons reputasie word egter nie deur wense gebou nie. Dit word eerder deur ons dade en ons woorde tot stand gebring. Die besluite wat ons neem met betrekking tot wat ons doen en sê, waarvoor ons lag, hoe ons ons tyd deurbring en saam met wie ons dit spandeer reflekteer alles wié ons is. Deur wat word daardie besluite dan bepaal? Hoé neem ons besluite? Het ons enige beheer daaroor?

 

Waarvolgens word u gedagtes gevorm?

U het mense hoor sê: “Kom tot 'n besluit”. U mag soms probeer om “iemand se opinie te verander”. Hoe word opinies dus gevorm en hoe word besluite in die eerste plek “geneem”? Daar is drie basiese boustene daaraan verbonde. Die eerste een is kennis, die tweede een is ervaring en die derde een word gevorm uit ons emosies of gevoelens.

Namate ons liggame ná die babajare ontwikkel, verander ons ook op ander maniere as net die fisiese. Wanneer ons begin kruip, loop en dan hardloop, verander ons verstand ook. Ons leer van die wêreld om ons en hoe ons daarby inpas. Namate ons ouer word, word ons beïnvloed deur die mense rondom ons en hoe ons verstand “bedraad” word. Ons ouers sê vir ons dat die lug blou is en dat gras groen is en dit vorm die konsep van kleur in ons brein. Ons leer dat ons buurvrou honger is en haar werk verloor het en ons sien hoe ons ouers vir haar 'n sak kruideniersware gee – so leer ons die konsep van barmhartigheid.

Ouers wat hulle Godgegewe rol vervul, is die sleutel tot ons vroegste ontwikkeling. God weet dit: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). God wil hê dat ouers hulle kinders in die regte denkwyses sal lei deur hulle die beginsels van die lewe te leer; ons sien dat God die eertydse Israeliete beveel het om Sy weë aan hulle kinders te leer: “... en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronómium 6:7).

Ouers is egter nie die enigste persone wat ons denkwyse beïnvloed nie. Van ons vroegste kinderjare af word ons beïnvloed deur vriende en maats, deur onderwysers en deur die media. Ons verstand gebruik die kennis wat ons uit hierdie verskillende bronne versamel om idees en indrukke te vorm wat ons help om ons wêreld en ons plek daarin te verstaan. Ons vergelyk wat ons hoor en lees met wat ons eerstehands ervaar.

Ons eet 'n suurlemoen en leer wat “suur” is. Ons verstaan van daar af hoe iets wat “suur” is sal smaak. 'n Ouer kan dalk sê: “Moenie aan die stoof raak nie, dit is warm!” Ons hoor die woorde en wanneer ons in elk geval instinktief genoodsaak voel om te eksperimenteer, sal die ervaring om aan 'n warm stoof te raak van daardie dag af in ons gedagtes ingebrand word!

Ons verstand word ook deur ons emosies gevorm. God het die vermoë in die mens se verstand geplaas om 'n reeks gevoelens te ervaar wat ons denke beïnvloed. Ons leer hoe dit voel om opgewonde, gefrustreerd, blymoedig en kwaad te wees. Ons leer om plesier te ervaar wanneer ons smaakknoppies deur roomys geprikkel word. Ons leer van woede wanneer iemand ons waardevolle besittings steel. Ons leer ook van hartseer wanneer ons van vriende en geliefdes geskei is. Al hierdie emosies – hoe ons dit in die daaglikse lewe toepas – het 'n diepgaande invloed op ons geestelike ontwikkeling.

 

Gee aandag aan u keuses

Namate ons van jeug na volwassenheid vorder, ontwikkel ons al hoe meer om onafhanklik te wees. Ons begin om vir onsself te dink en ons eie besluite te neem. Ons besluit watter klere om elke dag te dra, hoe om ons tyd deur te bring en met watter vriende ons tyd wil spandeer. Daardie besluite weerspieël ons vermoë om feite, ervaring en selfs vorige emosies op huidige situasies toe te pas. Namate ons ouer word en ons ouers sien dat ons goeie oordeel kan uitoefen, ontwikkel hulle meer vertroue in ons en het hulle meer vrymoedigheid om ons al hoe meer onafhanklikheid en verantwoordelikheid te gee. Indien ouers hulle werk goed gedoen het en ons ontvanklik daarvoor was, sal ons volwassenheid na vore kom met ons verstand wat opgelei is om nuwe en ander situasies die hoof te bied.

Een belangrike les wat ons leer, is dat ons seker moet wees dat die gesag wat ons denke vorm, afkomstig is van diegene wat “eenders denkend” is en wat ons beste belange op die hart dra. Die profeet Amos het geskryf: “Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (Amos 3:3).

Uiteindelik kom ons as volwassenes voor uitdagings te staan wat meer behels as watter klere om te dra of wat om in ons vrye tyd te doen. Ons neem besluite oor 'n loopbaan en 'n huwelik. Dit is vir ons nodig om besluite te neem oor ons fundamentele oortuigings betreffende God en die doel van menslike lewe. Ons kom te staan voor besluite oor die toepassing van God se Wet in ons daaglikse lewe. Die moontlikheid bestaan dat ons die belangrikheid daarvan oorweeg om 'n permanente verbintenis met God aan te gaan deur die doop. Hoe ons hierdie keuses hanteer, weerspieël uiteindelik die gesteldheid van ons verstand.

 

Die denke van God

Indien u begeer om God met begrip te dien en u voel dat u verstand oopgemaak word vir God se plan vir u, behoort u bewus te wees van die waarskynlikheid dat God u roep. So belangrik soos wat die menslike verstand in ons daaglikse lewens is, sal diegene wat deur God geroep is tot die besef kom dat sónder die Heilige Gees, die menslike verstand op sigself nie voldoende is om die uitdagings van 'n Christen se lewe die hoof te bied nie.

Vanaf die begin van die menslike geskiedenis het die mensdom herhaaldelik weer getoon dat die menslike verstand op sigself nie opgewasse is vir die uitdaging om vrede en voorspoed op aarde te bewerkstellig nie en in werklikheid in stryd is met God. Ons kan baie van die eenvoudige fisiese besluite wat nodig is om te maak self hanteer, maar vir die grootste uitdagings het ons absoluut die denkwyse van God nodig – wat aan ons geopenbaar word deur Sy Woord, die Bybel. Die verstand van God bring liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galásiërs 5:22). Dit is alles eienskappe wat ware geluk en tevredenheid bring en dit is eienskappe van denke wat in harmonie met die verstand van God is. Hoe gouer ons verstand kan ontwikkel wat in harmonie met God se Woord is, hoe gouer sal ons 'n denkwyse ontwikkel wat tot 'n goeie lewe sal lei.

Wie u is en wat u doen, is 'n direkte resultaat van wat u in u denke toelaat. Watter kennis, ervarings en emosies vul u gedagtes? Lees en dink u oor God se woorde? Neem u besluite wat u die vreugde laat ervaar om volgens God se manier te leef? Vra u God om u gedagtes en gevoelens te lei of is u soos 'n marionet aan toutjies van die verbygaande menslike emosies wat hulle pad deur u gedagtes vind? Indien God u roep, wil Hy hê dat u Sy Heilige Gees sal hê om u gedagtes te help lei. Kontak een van ons streekkantore (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) en u sal ons verteenwoordigers vind wat gretig is om verder oor die doop en Christenskap te praat.

Kies om verstandig te wees ten opsigte van u verstand.